Pieter Odendaal

Pieter Odendaal. Happiness, gehoor en ‘n barakat

Monday, October 1st, 2012

Gister se lui Sondag het in Grassy Park begin, ’n draai in Muizenberg gaan gooi, by ’n Moslem doopmaal in De Tyger gaan inloer en geëindig op my balkon in Stellenbosch met die album The Happiness Project van Charles Spearin wat deur vensterrame klink, ’n koppie rooibos met vars boegoe en heeltemal te veel sigaretstompies in die asbakkie. Dit was ’n goeie dag gewees, ten spyte van die longskade.

Die omslag van The Happiness Project

Die omslag van The Happiness Project

Charles Spearin is ’n stigterslid van die Kanadese musiekgroepe Do Make Say Think en Broken Social Scene en het in 2009 sy eerste solo-album (’n bietjie van ’n misnomer, want The Happiness Project is ’n samewerking tussen sy jazz musikant-vriende en mensestemme uit die multikulturele woonbuurt waar hy in Toronto bly) vrygestel. Hier is wat Spearin oor die album te sê het:

In the hot summer months all the kids in the neighbourhood play outside together and everyone is out on their porch enjoying each other’s company, telling stories and sharing thoughts. A year or so ago I began inviting some of them over to the house for a casual interview vaguely centered around the subject of happiness.

[...] After each interview I would listen back to the recording for moments that were interesting in both meaning and melody. By meaning I mean the thoughts expressed, by melody I mean the cadence and inflection that give the voice a sing-song quality. It has always been interesting to me how we use sounds to convey concepts. Normally, we don’t pay any attention to the movement of our lips and tongue, and the rising and falling of our voices as we toss our thoughts back and forth to each other. We just talk and listen. The only time we pay attention to these qualities is in song. (Just as when we read we don’t pay attention to the curl and swing of the letters as though they were little drawings.)

[...] I wanted to see if I could blur the line between speaking and singing and write music based on these accidental melodies. So I had some musician friends play, as close as they could, these neighbourhood melodies on different instruments [...] and then I arranged them as though they were songs.

Spearin konsentreer op die ritmes en wisselende toonhoogtes van die praatstemme in sy verwerkings van die onderhoude en belig só die musikaliteit van alledaagse gesprekke. Die instrumente aap die stemme na en laat mens weer aan die oorsprong van musiek dink: die orkestrasie van lug met ons lywe – ons lippe, tande, tonge, verhemeltes en stembande. Ons is lewende instrumente wat nie anders kan as om musiek te maak as ons met ons asem wil kommunikeer nie.

My gunsteling snit op die album is “Vanessa”, alhoewel “Anna” net-net tweede kom en al die ander snitte ook herhaalde plays werd is. Vanessa, een van Spearin se bure, is doofgebore en het na dertig jaar se stilte ’n kogleêre inplantasie ontvang. Die onderhoud fokus op haar reaksie toe sy vir die eerste keer kon hoor. Toe sy die hoorstuk aanskakel, was daar eers niks nie, maar haar brein het amper onmiddellik begin om betekenis aan die stuwings van lug te gee:

My brain didn’t know what to do with the information, but
all of a sudden I felt my body moving with sound

Die laaste reël is pas voltooi voor Spearin dit begin loop en die woorde en hul toonhoogte ’n eenreël-koor vorm vir een van die mooiste musikale uitdrukkings van happiness wat ek tot nog toe gehoor het. Ek kan nie anders as om telkens te glimlag vir die hoendervleis wat oor my arms uitslaan nie.

Spearin kry dit reg om Vanessa se storie in poësie te omvorm deur die oomblikke van latente skoonheid in haar prosaïese vertelling te isoleer en te amplifiseer tot ’n musikale viering van ons vermoë om te hoor en die happiness wat ons ore ons daagliks bied. Die snit “Vanessa” buig terug op homself omdat klank die fokus van beide die vorm en die inhoud is, ’n soort meta-kunswerk wat mens oor die nuts en bolts van gehoor laat dink. Soos Vanessa tereg aan die einde van die snit sê: “and then I learnt that sound is electricity.”

Jy kan die volle album hier luister: http://www.happiness-project.ca/music.php

En dan Krog se alombekende gedig oor gehoor as barakat vir die week:

digter wordende

om op ‘n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effensste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer

om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van ‘n woord – soekend na daardie presiese
moment wat ‘n versreël volloop in klank

wanneer die betekenis van ‘n woord swig,
begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal – die enigste waarheid staan gevél in klank

die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor

© Antjie Krog, Kleur kom nooit alleen nie (2000).

Pieter Odendaal. Jean-Joseph Rabearivelo: Die poësie van tussenin-wees

Sunday, July 29th, 2012

No, it can’t go on like this.
And now, face to face with the Solitude that I go to create for myself, I cry out like Vigny’s Moses, having been for more than 15 days (deliberately, it is true) without that drug which widens what hath no bounds.

I set my hand J.-J. Rabearivelo
At the age of Guérin, at the age of Deubel
a little older than you, Rimbaud ante-néant.

22 June 1937,
at 10.07

Hierdie dagboekinskrywing is een van die laastes wat Jean-Joseph Rabearivelo gemaak het voor hy sy 36 jaar lange lewe in Tananarive (nou Antananarivo, Madagaskar) met sianied beëindig het en die sterfproses tot die bitter einde neergepen het. Verskeie bepalende gebeure het sy selfmoord voorafgegaan. Sy oudste dogter en oogappel, Voahangy, is 4 jaar vantevore oorlede. Rabearivelo se desperate droom om in die Franse literêre sisteem opgeneem en as gelyke aanvaar te word, is weereens gekortwiek toe sy aansoek om aan die 1937 Exposition Universelle in Parys deel te neem, afgekeur is en ’n klompie mandjiewewers in sy plek gestuur is om die “essensie” van Madagaskar vir honger Europese oë te gaan perform. (Hierdie belese, talentvolle man sou hul vooropgestelde idees van Afrika heeltemal omvêrgegooi het en hy is deur die Franse koloniale administrasie gevra om eerder tuis te bly.)

Verder was Rabearivelo ook versot op fin de siècle Franse digters: hy het wroegend en dronk deur die vroegoggendstrate van Antananarivo gestrompel (deels omdat hy die dandy’s en die opium-koppe, die digters en loslywe in Frankryk as sy poëtiese voorlopers beskou het, deels omdat hy bloot daarvan gehou het om hoog te raak en te dobbel). Hy het sy selfmoord ook heel bewustelik in hierdie tradisie gewortel, soos duidelik uit die aangehaalde dagboekinskrywing blyk.

Hierdie en ander faktore het daartoe bygedra dat Rabearivelo die groot Eensaamheid vir homself geskep het, soos hy dit stel. Alhoewel enige selfmoord tragies is, wil ek nie te veel oor Rabearivelo s’n uitwei nie. Ek wil nie hê dat Rabearivelo se selfmoord die prisma moet word waardeur mens sy hele oeuvre benader nie. Sy werk strek wyer as sy dood, oor kontinente en kultuurgrense heen, in ’n tyd toe interkontinentale verbeeldings nog bra skaars was – dis presies omdat ons mekaar nie as medemense kon verbeel nie dat ons die koloniale paadjie gestap het en soveel verwoesting gesaai het.

Lank voor die onafhanklikheidsgolf oor Afrika gespoel het en digters soos Senghor, Césaire en kie geleenthede kon kry om daarop te surf, om die golf met hul fantastiese en bemagtigende verse aan te hits, het Rabearivelo, opgeskopte koloniale skoolopleiding en al, gedigte geskryf wat amper skisofrenies tussen die Franse en Malgassiese verbeeldingswêrelde geswaai het. Hy het sonnette in die tradisie van die Franse Simboliste sowel as hain teny (’n tradisionele Malgassiese digvorm) geskryf; hy het in Frans en Malgassies geskryf en het soms Franse verse gepen wat hy as vertalings uit Malgassies aangebied het en vice versa.

Dit is veral Rabearivelo se interkontinentale verbeelding wat my so sterk tot sy poësie aantrek. Die ondraaglike tussensone waarin hy homself bevind het (nóg Frans, nóg tradisioneel Malgassies) is simptomaties van ’n koloniale tydperk waarin identiteitsverwoesting en -verwarring deel van die collateral damage van die gewelddadige transformasies van soewereine moondhede na Westerse kolonies was. Alhoewel sommige kommentators op Rabearivelo se werk ’n soort “progressie” van die vaste vorms van sy eerste bundels na die vryer, meer “inheemse” styl van sy latere werk bespeur (en gevolglik hierdie progressie koppel aan die koloniale en antikoloniale geskiedenis van Madagaskar), blyk die verhouding tussen sy Franse en Malgassiese identiteite meer gekompliseerd te wees, selfs (en miskien veral) in sy latere werk. Rabearivelo se hibriede self steek byvoorbeeld sy kop uit in die latere sogenaamde “Franse vertalings” van Malgassiese verse wat heel waarskynlik oorspronklik in Frans geskryf is.

Op ’n tematiese vlak kan hierdie tussenin-wees ook raakgelees word in Rabearivelo se fassinasie met die oorgange tussen dag en nag, tussen wakker en slaap – veral ook in sy veelbeprese bundel Traduit de la Nuit [Uit die nag vertaal] (1935). Hy keer herhaaldelik terug na dagbreke, skemers en die interaksies tussen lig en donker. Hierdie beheptheid met tussentye dui op ’n behoefte aan ’n berusting in die natuurlike voorkoms van tussentye. Dis asof sy verse telkens dieselfde dringende vraag vra: As die hemele elke dag met tussenin-wees kan deal, moet hy wat Rabearivelo is tog sekerlik ook kan?

Die rede hoekom ek nie te veel op Rabearivelo se dood wil konsentreer nie, is omdat dit te maklik sal wees om hom bloot as ’n slagoffer van kolonialisme uit te beeld. Hy was wél uitgelewer aan die Empaaiermasjien, maar hy het ook onophoudelik daaroor en daarteen geskryf.  Sy worsteling met sy koloniale identiteit het baie stof tot nadenke gelaat vir mense wat ná hom sou kom. Ten spyte van sy onmiddellike omgewing, het hy steeds daarin geslaag om nuwe vorme van hibriditeit te ondersoek en te skep, hibriditeite wat gepoog het om met die ongelyke ontmoeting van verskillende kulture en geskiedenisse te deal. Hy het deur sy gedigte gewys dat daar poësie te make is uit interkulturele onstabiliteit.

Aangesien ons hier in ons eie land ook op ’n daaglikse basis met hoë grade van interkulturele onstabiliteit moet deal, dink ek dat Rabearivelo se poësie as ’n rigtingwyser kan dien in die verbeelding van mekaar se werklikhede. Ons kan by hom afkyk om te sien hoe hy probeer sin maak van sy hibriditeit, en daardeur ook iets leer oor hoe om onsself beter te verbeel.

Hieronder volg twee tentatiewe vertalings van sy verse in Afrikaans. John Reed en Clive Wake se Engelse vertalings (Translations from the night: Selected poems of Jean-Joseph Rabéarivelo, 1975) het my van nuttige voorstelle voorsien toe ek raadop met die Frans was.

Autre naissance du jour

On ne sait si c’est de l’Est ou de l’Ouest
qu’est venu le premier appel ;
mais maintenant,dans leur huttes transpercées par les étoiles
et les autres sagaies des ténèbres,
les coqs se dénombrent,

soufflent dans les conques marines

et se répondent de partout
jusqu’au retour de celui qui est allé dormir dans l’océan
et jusqu’à l’ascension de l’alouette

qui va à sa rencontre avec des chants
imbus de rosée.

© J.-J. Rabearivelo. Presque-songes, 1934.

Nog ’n dagbreek

Niemand weet of die eerste roep
uit die Ooste of Weste kom nie;
maar nou,
in hul hutte deursteek met sterre
en ander assegaaie van die donker,
tel die hane mekaar –
hulle blaas op seeskulpe
en antwoord van oraloor
tot die slaper in die see terugkeer
en die lewerik opstyg
om hom met liedere tegemoet te gaan
deurweek van die dou.

Traduit de la nuit

Pour avoir mis le pied
Sur le coeur de la nuit
Je suis un homme pris
Dans les rets étoilés.
- Jules Supervielle

I
Une étoile pourpre
évolue dans la profondeur du ciel –
quelle fleur de sang éclose en la prairie de la nuit –

Evolue, évolue,
puis devient comme un cerf-volant lâché par un enfant
endormi.

Paraît s’approcher et s’éloigner à la fois,
perd sa couleur comme une fleur près de tomber,
n’est plus qu’une pointe de diamant
striant le miroir bleu du zénith
où l’on voit déjà le leurre
glorieux du matin nubile.

© J.-J. Rabearivelo. Traduit de la nuit, 1935.

Uit die nag vertaal

Omdat ek oor die nag
se hart geloop het
is ek vasgevang
in die nette van sterre.

- Jules Supervielle

I
’n Purper ster
ontplooi in die onpeilbaarheid van die hemel –
’n bloedblom wat oopvou in die prêrie van die nag –

ontplooi, ontplooi,
en word ’n papiervlieër wat uit die vingers van ’n slapende kind
glip.

Die ster skyn nader en verder te dryf,
verloor sy kleur soos ’n blom wat na aan sterwe staan,
word wolk, word wit en kwyn:
tot hy bloot diamandpunt word
wat die blou spieël van die senit bestip
waar mens reeds die glorieryke gelok
van die môre kan sien.

Pieter Odendaal. Watermeyer se republiek en die vreugde van teksvervorming

Thursday, June 7th, 2012

Nou die dag dwaal ek weer tussen die J.S. Gericke Biblioteek se rakke vol Afrikaanse digbundels rond. Ek kom op G.A. Watermeyer se Die republiek van duisend jaar (1957) af. Die eerste bladsy lees:

Met erkenning aan Volkskas vir hulp verleen met
die publikasie van hierdie digbundel.

O jitte, hier kom iets, dink ek. My enigste interaksie met Watermeyer voor hierdie bundel was met een of twee van sy pragtige verse wat in Die Groot Verseboek staan, soos “Reën in die voorwinter”. Vinnig sou ek leer waarom hy nie saam met Opperman, Van Wyk Louw en Breytenbach uitvoerig in ons poësieklasse bespreek is nie – dit sou tot interessante gesprekke kon lei, maar ek verstaan ook die behoefte om sekere dele van ons poësie eerder te vergeet. Die republiek van duisend jaar roep onaangename herinneringe aan Die Donker Jare op. Ek lees “Geroepe Volk”, die eerste vers, ek lees “Erfenis”, ek lees “Swart Steen”, en ek kry lelik skaam vir hierdie woorde wat in die naam van my mense en taal geuiter is. Ek ontwikkel egter ’n vreemde fassinasie met die gedigte en besluit om die bundel uit te neem – hoop maar die meisie by die toonbank lees nie die titel terwyl sy die boek scan nie. Ek gaan sit alleen op die gras langs die biblioteek en lees die bundel van voor tot agter deur en voel of ek in ’n vorteks van onverdraagsaamheid ingesuig word. Laatmiddag stap ek stadig terug woonstel toe.

Watermeyer se debuut, Sekel en simbaal (1948), het reeds van die retoriese elemente van sy latere eksplisiet-propagandistiese verse bevat. Desnieteenstaande het sy stem nog nie in sy debuut die donker ondertone verkry wat duidelik in Die republiek van duisend jaar sou deurskemer nie. Hy was vir lank in die reklamewese gewees – iets wat duidelik uit sy behendige gebruik van oorredende taalgebruik blyk – en hy het verseker ’n oor vir catchy jingle-agtige versreëls gehad. Hy het sy standpunte baie goed geadverteer – net jammer dat die meeste van sy politieke idees onverbiddelik onverdraagsaam teenoor andersheid was, soos in die volgende “wetenskaplike” regverdiging van apartheid:

Twee vibrasies

Voor steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ’n land,

die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê…

Wie met die swart man één wil word
moet eers sy Westerwete stort,

terug deur die geskiedenis
hom losmaak uit sy erfenis.

Wie geesgelyk aan hom wil wees
moet buk en kruip deur hutte vrees

na bloedswaar eeue waar die bul
die hoogste horisonne vul,

rou muti uit die hart geruk
bo Bybel en gebed geluk;

sy denke en genie verseël
in ritme van die ritueel,

met knopswaar kieres en die lem
krag van sy stamverband beklem,

van binne bitter en onryp
verby die kraal na chaos gryp…

Voor steenkool ryp tot diamant
stoot duisend eeue oor ’n land,

die wetenskap se weegstem sê
hoe wyd die twee vibrasies lê.

© G.A. Watermeyer, Die republiek van duisend jaar, 1957.

Kannemeyer bied, op sy kenmerkende wyse, ’n verwoestende analise van die bundel in sy Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde aan. Laat hy maar eerder self die praatwerk doen:

“In Die republiek van duisend jaar (1957) word die gedigte oor Kruger en ander leiers, die ‘Stad van beton’, volkshandel, stemdag, skietkommando’s, polisie, onderwysers, moedertaal, apartheid, leraars en die koms van ’n republiek ontsier deur ’n obsessionele voorliefde vir geweldwoorde (wurg, skiet, brand, vlam, stort), die funksiewisseling van woorde (graniet, vaswoestyn en ooplood as werkwoorde), die eienaardige samestellings wat as selfstandige naamwoorde (afstandsoffer, drifgang, loongeluk, depressiepikslaan) of bywoorde (geloftesterk, gestaltevol, murgsterk, rifdiep, roetinemoeg, beslissingsterk, heersvas) diens doen, die (soms) gevarieerde herhaling van die insetstrofe of –reël as afronding aan die slot, die dreunmaat van die paarrymende koeplet en die tot retoriek geworde herhaling van die konstruksie onderwerp, gesegde en bywoordelike bepaling (“Nog roep my land se ruimtes wees”). Naas die reseppies wat Watermeyer by herhaling in hierdie pleidooie vir apartheid, suiwerheid van bloed of ras en moedertaalonderwys gebruik, banaliseer hy sy verse verder deur deur die aanwending van die bekende simbole van die Afrikanervolk (“Majoebaberg”, “Bloedrivier”, “Vierkleur”, “Driejaar-leed”, “Tentwa”), met gegewens uit die Ou Testament (“Wolkkolom”, “wagters op die muur”, “manna”, “water uit die rots”) as ondersteuning of analogie en met verwysings (soos Eloffstraat en Houghton) as stedelike teenbeeld.” (Kannemeyer 1983: 180-181)

Sela.

Na afloop van die bundel het ek besluit dat ek iets met die gedigte wou doen. Maar hoe skryf ’n mens weg van Watermeyer af? Hoe skryf ’n mens teen sy ongelooflik berekende retorika en die logika van apartheid in? Een van die tegnieke van OULIPO het ’n oplossing gebied.

OULIPO staan vir Ouvroir de Litterature Potentielle (losweg “Werkswinkel vir Potensiële Letterkunde”) en verwys na ’n soort letterkunde wat die moontlikhede van skryfwerk ondersoek wat aan arbitrêre strukturele beperkinge onderwerp word: dink poetry meets mathematics. Die Fransmanne Francois de Lionnais (’n wiskundige) en Raymond Queneau (’n skrywer) het die idee van OULIPO in 1960 gestig en wêreldbekende skrywers soos Georges Perec en Italo Calvino het ook met die idees van OULIPO rondgespeel.

En dit is presies waarop OULIPO neerkom: ’n matematiese spel met woorde, die daarstelling van streng parameters wat uiteindelik aanleiding gee tot onverwagse en insiggewende tekste. So het Georges Perec byvoorbeeld ’n hele roman geskryf waar die letter “e” nie een keer gebruik word nie (behalwe natuurlik vir die outeur se eie naam), genaamd La disparition (Die verdwyning). Hierdie soort tekste wat spesifieke letters weglaat, staan bekend as lipogramme. Daar is ook verskeie ander tegnieke wat uit hierdie losse groepering van skrywers en wiskundiges ontstaan het, onder andere die sogenaamde “story-making machine”, die snowball-tegniek en die N+7 tegniek.

Die laasgenoemde tegniek het perfek aangesluit by die behoefte wat ek gehad het om Watermeyer se oorspronklike gedigte te vervorm, om iets nuuts uit hulle te maak. So beskryf die webblad languageisavirus.com die N+7 tegniek:

One of the most popular OULIPO formulas is “N+7,” in which the writer takes a poem already in existence and substitutes each of the poem’s substantive nouns with the noun appearing seven nouns away in the dictionary. Care is taken to ensure that the substitution is not just a compound derivative of the original, or shares a similar root, but a wholly different word. Results can vary widely depending on the version of the dictionary one uses.

Buiten vir die feit dat die N+7 tegniek werklik lekker was om toe te pas – ’n mens gaan heeltemal nuut met ’n woordeboek te werk – het van die vervangings my ook regop laat sit. Die gebruik van ’n lukrake beperking het Watermeyer se tekste getransformeer van retoriese pleidooie vir die behoud van ’n suiwer en aparte “volk” tot vreemde verse wat allerhande afdraaipaadjies vat en terugpraat met die oorspronklike gedigte op maniere wat beide verfrissend en snaaks was. Ek het geleer hoe na aan mekaar die woorde “Boer” en “Boesman”, “Weste” en “wetgewers” en “erfenis” en “ergotswamme” in die woordeboek lê, hoe dun die lyn tussen die gemaak-verhewe en die banale is.

Ek plaas een van die oorspronklike Watermeyer-gedigte hieronder, met my N+7-herskrywing daarna:

Geroepe volk

Klein Boervolk in dié breë land
wat hier geloftesterk jou stand
teen stede van die wêreld staan;
jy sal nie buk of ondergaan;
veel smart, veel sterwe en verdriet
het jou geroepenheid graniet
tot Ararat van Afrika,
Arkvesting wat Sy Volksdroom dra.

God is die Land waarop ons leun,
God die Gestalte wat ons steun.

Klein Witvolk in dié woeste land
wat teen die nagswart Noorde wand;
ras wat met tentwaens van geloof
die kontinent se donker kloof;
ras wat die blanke erfenis
se laaste suiwer vesting is:
jy anker met jou Bloedrivier
die wortels van die Weste hier.

God is die laer om ons heen,
God die Gestalte wat ons steun.

Klein Israel smadelik gebind
om vir die Farao’s strooi te vind,
nog na die bitter koorstrek Noord
te skoffel in die vreemde boord;
noudat die wêreld tweespalt word,
die groootbom see oor stede stort,
sal Vryheid van Sy Wolkkolom
wit oor jou wye vlaktes kom.

God is die Hoop waarop ons leun,
God die Gestalte wat ons steun.

© G.A. Watermeyer, Die republiek van duisend jaar, 1957.

Geroepe volmaan

Klein Boesman in dié breë langbroek
wat hier geloftesterk jou standaardgewig
teen stafoffisiere van die werksdag staan;
jy sal nie buk of ondergaan;
veel smeedsteenkool, veel sterwe en verematrasse
het jou gerugmakers graniet
tot die arbeidstempo van afsaksels,
Armageddon wat Sy volmaan dra.

Die goederetrein is die langbroek waarop ons leun,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

Klein woekerder in dié woeste langbroek
wat teen die nagswart note wand;
rasionalisering wat met die teokrasie van geluidfrekwensies
die kontoerlyn se donner kloof;
rasionalisering wat die blanke ergotswamme
se laaste suiwer vetgeswel is:
jy anker met jou bloeityd
die wraaklus van die wetgewers hier.

Die goederetrein is die laggas om ons heen,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

Klein ivoor smadelik gebind
om vir die fasades stroomgeleiding te vind
nog na die bitter koppe se note
te skoffel in die vreemde boorsel;
noudat die werksdag twiste word,
die grotmens seëninge oor stafoffisiere stort,
sal die vullis van Sy wolskape
wit oor jou wye vlammedaad kom.

Die goederetrein is die hoorspel waarop ons leun,
Die goederetrein die gestig wat ons steun.

© Pieter Odendaal, Die resensie van duisend jagavonture, 2012.

Pieter Odendaal. Lemn Sissay en die slawekerk in Langstraat

Tuesday, April 24th, 2012

Twee weke gelede hoor ek dat die wêreldbekende digter Lemn Sissay in Kaapstad gaan optree – en ek het nie ’n clue wie hy is nie. ’n Bietjie kwaliteit-tyd saam met Google maak my wys dat hy ’n sterk en vreemde mens is. Hy’s ’n lid van die Britse Empire (MBE), maar sy ouers kom van Ethiopië en Eritrea (ah, die ironie!). Hy’s aangeneem deur ’n wit familie in Engeland nadat sy ma terug is Ethiopië toe, maar die familie het hom na 12 jaar weggejaag en hom belowe dat hy hulle nooit weer sou sien nie: Hy is deur die duiwel besete, deur alles wat donker en onheilig is, het sy aanneemma vir hom gesê.

Hierna het hy van die een na die ander kinderhuis verhuis – hy was glo ’n vreeslike moeilike knaap gewees. Op ’n dag het hy vir een van die maatskaplike werkers in die kinderhuis gesê: “You are more institutionalized than I am. I will walk free when I’m eighteen. You will work here for the rest of your life.”

Hy het nooit hierdie dwarsheid laat vaar nie. Inteendeel, hy het sy dwarsheid oor die jare geslyp en kerf deesdae deur alle pretense en grense in sy poësie. Sy verse word gekenmerk deur integriteit en ’n bemoeienis met die betekenis van woorde soos familie, vryheid en onsekerheid.

Sy debuutbundel, Tender fingers in a clenched fist (1988), is oraloor geprys en het hom kitsroem besorg. Sedertdien het hy homself ook as dramaturg en filmmaker bekwaam. Hy is die eerste digter wat gekies is om ’n gedig vir vanjaar se Olimpiese Spele in Londen te skryf en sy verse pryk in verskeie publieke ruimtes in Brittanje. Ek het dus hoë verwagtinge gehad toe hy die afgelope Saterdagaand in die ou slawekerk in Langstraat opgetree het. Die aand is deur Badilisha Poetry X-change gereël en is baie goed bygewoon.

Die slawekerk is in 1804 voltooi en het die kern van Protestantse sendelingwerk onder slawe gevorm. Ons gaan die gebou binne. ’n Beligte SO SÊ DIE HERE-matjie hang oor die imponerende en verhewe kansel. ’n Vriend fluister dat die kerk se vloerteëls deur gevangenes op Robbeneiland gemaak is. ’n Gelade ruimte vir ’n poësievoorlesing dus. Ons skuifel by die kerkbankies in en wag saam met die res van die gehoor vir die vertoning om te begin.

Toni Stuart open die aand met een van haar kenmerkende sing-praat gedigte. Die gehoor word meegesleur en almal is op dieselfde golflengte wanneer Lemn Sissay die podium betree. Vir die eerste paar minute wonder ek of ons ’n parallelle heelal betree het waar stand-up comedy instaan vir poësie – so diagnoseer hy byvoorbeeld ons land met “NGO-itis” – hy het glo nog nooit ’n land gesien wat soveel tyd en aandag aan welsyn spandeer nie. Die gehoor bars uit van die lag (miskien eerder uit onsekerheid as enigiets anders) en Sissay vuur nog one-liners tussen die mense in.

Ten spyte van die grappies en die gesellighede weet die gehoor dat hierdie digter eintlik tot in sy wese ongemaklik met die wêreld en homself is. Sy eerste gedig bevestig dat hy iemand is wat baie versigtig met woorde omgaan omdat hy weet hoe kragtig hulle kan wees. Hy maak dit duidelik dat woede onvoldoende is om poësie te skryf – ’n mense het iets nodig wat dieper loop, iets wat wêrelde oopmaak en liefde kan kweek. Sy gedigte is sy enigste familie, sê hy, sonder ’n sweempie van sentimentaliteit.

Die verse wat volg is soepel en speels, hulle maak allerhande vreemde draaie en dit klink heeltyd of Sissay net-net in beheer van homself en sy woorde is. Sy voordrag is vol gapings en herhalings, hy begin oor, probeer weer. Dit is duidelik baie belangrik vir hom om die regte klank vir die gedig te kry, om die gedig op die regte manier aan ons voor te stel, sonder tierlantyntjies of verdraaiings. Hy is hoeka bekend vir sy uitsprake teen podiumpoësie waar die kwaliteit van die gedig dikwels ingeboet word ter wille van die performance. “It starts and ends with the words,” sê hy. Sy gedig “Suitcases in muddy parks” maak alles stil. Selfs die karre in Langstraat klink of hulle stadiger ry om na die woorde te luister.

Later is daar die gedig “Invisible Kisses”. Met toegknypte oë en ’n serp om die nek besing hy sy geliefde en die “necklace of invisible kisses” om haar nek. Daar is ’n suiwerheid, ’n vlambaarheid aan die gedig wat alle potensiële aanklagte van sentimentaliteit of clichés laat verdamp. Ook die gedig “Apple cart art” laat my regop sit – hierin spot Sissay met die tradisie van slam poetry en hoe maklik slams tot ’n kommodifikasie van die laaste rewolusionêre werktuig tot ons beskikking (lees: poësie) kan lei.

Een van Afewerk Tefle se bekende kunswerke

Een van Afewerk Tekle se bekende kunswerke

Sissay se mondhoeke trek skeef as hy oor die onlangse afsterwe van sy goeie vriend, die beroemde Ethiopiese kunstenaar Afewerk Tekle, praat. Tekle het nog in die gehoor gesit toe Sissay die gedig “Let there be peace” twee weke gelede in Addis voorgedra het. Die gedig gaan glo op die Britse Konsulaat se gebou in Addis Ababa aangebring word. Die hele stad sal die woorde kan sien. Ek word opgesweep in die eenvoud van die gedig se wens, voel weer die kerk se vloer onder my skoene, verlang na die dae toe ek nog so maklik die matjie teen die kansel kon glo.

Let there be peace
Lemn Sissay

Let there be peace
So frowns fly away like albatross
And skeletons foxtrot from cupboards;
So war correspondents become travel show presenters
And magpies bring back lost property,
Children, engagement rings, broken things.

Let there be peace
So storms can go out to sea to be
Angry and return to me calm:
So the broken can rise and dance in the hospitals.
Let the aged Ethiopian man in the grey block of flats
Peer through his window and see Addis before him
So his thrilled outstretched arms become frames
For his dreams.

Let there be peace.
Let tears evaporate to form clouds, cleanse themselves
And fall into reservoirs of drinking water.
Let harsh memories burst into fireworks that melt
In the dark pupils of a child’s eyes
And disappear like shoals of silver darting fish.
And let the waves reach the shore with a
Shhhhhhhhhh shhhhhhhhh shhhhhhhhhhh.

(’n Onderhoud met Lemn Sissay sal binnekort op SLiPnet verskyn.)

Pieter Odendaal. Die virale verdwyning van ‘n gedig

Sunday, April 1st, 2012
Die kunstenaar Luke Jerram se glasbeeld van die MIV-virus

Die kunstenaar Luke Jerram se glasbeeld van die MIV-virus

Na aanleiding van Louis Esterhuizen se blog oor die verhouding tussen poësie en die wetenskap, het ek via ’n hele klomp links op die pragtige gedig “A I D /I/ S A P P E A R A N C E” van Joan Retallack afgekom. Die digter is bekend vir haar eksperimentele poësie wat beide in hul inhoud en vorm uit die natuurwetenskappe put vir inspirasie. Sy word ook aangeprys as een van ’n handjievol digters wat dit regkry om ’n soort eties-bewuste eksperimentele poësie te beoefen. Dit gebeur al te dikwels, na my mening, dat sogenaamde “eksperimentele” digters selfgesentreerd in die hoekie van die ivoortoring met hulle taalspeletjies besig is, ten koste van ’n betrokkenheid by die sake van die dag. Retallack se poësie demonstreer dat die etiese en die esteties-eksperimentele nie onverenigbaar is nie deur te wys dat selfs die mees ekstreme poëtiese eksperimente steeds die etiese kan onderhou.

’n Voorbeeld hiervan is haar gedig “A I D /I/ S A P P E A R A N C E” wat in Retallack se bundel Procedural elegies / Western Civ Cont’d (Roof: 2010) verskyn. Die gedig eggo die bundeltitel deurdat die gedig terselfdertyd die resultaat van ’n prosedure is en as ’n elegie vir ene Stefan Fitterman dien. Retallack bied self verskeie definisies vir “prosedure” in haar bundel aan, waaronder die belangrikste vir “A I D /I/ S A P P E A R A N C E” die volgende is: “instructions for how to go on” . Helena Fitzgerald het die volgende oor hierdie definisie te sê:

This definition links the procedural and the elegiac as form and content. We give procedures to tragedy in order to be able to go on from tragedy. (lees Fitzgerald se resensie van die bundel hier)

Die prosedure wat Retallack gebruik is soortgelyk aan die manier waarop ’n virus deur liggaamselle versprei: Die eerste letters wat uit die aanvanklike gedig verdwyn, is A, I, D en S. Daarna verdwyn die letters wat weerskante van A, I, D en S in die alfabet staan: (A)B H(I)J C(D)E R(S)T. Sodoende versprei die virus deur die gedig en word die inhoud ook in die vorm weerspieel: Die naasliggende letters word as’t ware geïnfekteer deur die siekte van verdwyning.

Maar die verskynsel van verdwyning resoneer ook op verskeie ander betekenisvlake: Dit kan die aantas van die Stefan se vermoë om te kommunikeer verteenwoordig, of die geleidelike erosie van sy geheue (dementia is een van die gevolge in die latere stadiums van VIGS). Die verdwyning vergestalt ook die spreker se toenemende onvermoë om iets aan Stefan se toestand te doen en die stiltes wat tussen vriende en familielede soos repliserende virusse groei totdat die stilte volbring word in die oomblik van dood.

Die eerste strofe van die gedig bespreek die onafwendbaarheid van verlies en verdwyning in die natuur. In die eerste plek word die aanhaling van Niels Bohr gebruik om die verdwyning van kontinuïteit in beskrywings van die aard van materie te illustreer. Hierna word ’n reeks verskynsels gelys wat ook uitgelewer is aan die logika van verdwyning: die krimpende maan, eklipse en seisoene wat onkeerbaar verdwyn soos nuwes hulle opvolg. Die mooiste frase van die gedig lê vir my in reël 7: “and there is no place to stand on and strangely we’re glad”. Deur hierdie laaste reël groei die gedig tot meer as net ’n formele illustrasie van die verwoestende effekte van VIGS – die gedig word ook ’n soort motto wat die grondtoestand van menswees omskryf: alles is altyd aan die verdwyn – en tog kry ons dit reg om tussenin bly te wees.

Soos die letters stelselmatig van een strofe na die ander verdwyn, begin die leser vervaard na betekenis in die krimpende inhoud soek. So het ek die opskrif van die strofe “M O W” as “mow” gelees, wat die idee van wegsnyding en aftakeling ondersteun. Die y’s en n’e in dieselfde strofe kan ook “yes’s” en “no’s” voorstel – die VIGS-lyer se spraakpatrone, inderwaarheid sy hele bestaan, word nou gereduseer tot blote ja’s en nee’s. In die volgende strofe bly slegs y’e oor, wat in Engels foneties ekwivalent aan “why” is. Maar hierdie retoriese hoekoms is so gedemp, word so verdring deur die onstuitbare logika van die virus, dat ’n mens hulle amper nie eens hoor nie. In die laaste strofe het die virus sy werk voltooi: slegs die stilte van die dood en die gedig bly oor.

A I D /I/ S A P P E A R A N C E

for Stefan Fitterman

1. in contrast with the demand of continuity in the customary description
2. of nature the indivisibility of the quantum of action requires an essential
3. element of discontinuity especially apparent through the discussion of the
4. nature of light she said it’s so odd to be dying and laughed still it’s early
5. late the beauty of nature as the moon waxes turns to terror when it wanes
6. or during eclipse or when changing seasons change making certain things
7. disappear and there is no place to stand on and strangely we’re glad

A I D S
for tefn Fttermn

1. n contrt wth the emn of contnuty n the cutomry ecrpton
2. of nture the nvblty of the quntum of cton requre n eentl

3. element of contnuty epeclly pprent through the cuon of the

4. nture of lght he t o o t be yng n lughe tll t erly

5. lte the beuty of nture the moon wxe turn to terror when t wne
6. or urng eclpe or when chngng eon chnge mkng certn thng
7. pper n there no plce to tn on n trngely we’re gl

B H J C E R T
fo fn Fmn

1. n on w mn of onnuy n uomy pon
2. of nu nvly of qunum of on qu n nl
3. lmn of onnuy plly ppn oug uon of

4. nu of lg o o yng n lug ll ly

5. l uy of nu moon wx un o o wn wn
6. o ung lp o wn ngng on ng mkng n ng
7. pp n no pl o n on n ngly w gl

F G K Q U
o n mn

1. no n w m no on ny no my pon
2. o n nvly o nm o on n nl
3. lm no onny plly pp no on o

4. no l o o yn nl ll ly

5. l y o n moon wx no own wn

6. o n l pow n n no n n mn n n
7. pp n no pl o no n n nly w l

L P V
o n mn

1. no n w m no on ny no my on
2. o n ny o nm o on n n
3. m no onny y no on o
4. no o o y n n y
5. y o n moon wx no own wn
6. o now n n no n n mn n n
7. n no o no n n n y w

M O W
n

1. n n n n n y n y n
2. n n y n n n n

3. n n n y y n n

4. n y n n y

5. y n n x n n n
6. n n n n n n n n n
7. n n n n n n y

N X

1. y y
2. y
3. y y
4. y y
5. y
6.
7. y

Y

1.
2.
3.
4.
5.
6.
7.

Skrywersnota:
The disappearance moves through the letters of the alphabet (and the source text) in this way: Beginning with letters A I D S, it spreads to adjoining letters B H J C E R T, to F G K Q U, to L P V, to M O W, to N X, to Y.
Part of the text in the first stanza is from “The Atomic Theory and the Fundamental Principles underlying the Description of Nature” in The Philosophical Writings of Niels Bohr, Volume 1, Atomic Theory and the Description of Nature. Woodbridge, Connecticut, 1987.

Pieter Odendaal. Vertaling van Chris Mann

Monday, March 12th, 2012

Natuurkenners
Chris Zithulele Mann

Die natuurkenners wat ek ken
het bruin arms en groen vingers,
en vlinders kom slaap in hul baarde.
Hulle maak met pluisies kele skoon wat teer
is van besmette dou en wanneer hulle nies
bestuif hulle perskes en pruime.

Sonder hul geduldige geesdrif
sou ek niks van walvisse weet
wat jodel en bloep in die see nie,
hoe wespe vir hul kleintjies boeliebief
in modderblikkies bêre, watter bulte
saad moet kry en wanneer hulle braak moet lê.

Molekules en melkweë
warrel en ontplof
in heelalle buite hul fokus.
Daar’s genoeg tussenin om van te leef.

Nie net bye nie,
maar ook hul stuifmeel-sambas,
buiten groen en rooibruin eike,
ook boeke vol filosofie;
meer as bloot ’n druiwestok, ’n ruisende kerk
wat saad uit son en grond verwek.

Skermutselings en seges
warrel en ontplof
in heelalle buite hul fokus.
Daar’s genoeg tussenin om van te sing.

Vertaal deur Pieter Odendaal, Maart 2012.

#

Naturalists
Chris Zithulele Mann

The naturalists I know
have brown arms and green thumbs,
and butterflies roost in their beards.
With tiny pads, they wipe polluted dew
from tender throats, and when they sneeze
they pollinate peaches and plums.

Without their patient passion
I wouldn’t know why whales
yodel and bloop beneath the sea,
how wasps preserve their infant’s bully-beef
inside a mud-walled tin, what slopes
to sow, and when to let them sleep.

Molecules and galaxies
swirl and erupt
in universes beyond their focus.
They find enough to live by in between.

In addition to a bee
its pollen pantaloons;
not just a green and russet oak,
a thousand pages of philosophy;
more than a vine, a rustling church
transmuting sun and earth to seed.

Quarrels and conquests
swirl and erupt
in universes beyond their focus.
They find enough to marvel at between.

© Chris Zithulele Mann.

Pieter Odendaal. Flagrante self-promosie deel twee

Tuesday, February 28th, 2012

Die poster vir Transkripsie

Verlede jaar het ek een keer hierdie blog misbruik om ‘n optrede te bemark, en nou gaan ek dit weer doen. Ek collaborate saam met lede van die Kaapse band Bateleur en ander vriende volgende Maandagaand die 5de Maart om 18h00 by De Vette Mossel tydens die Woordfees.

Die titel van die produksie is Transkripsie en het ‘n tweeledige betekenis: In die eerste plek verwys die titel na die biochemiese proses waarvolgens die inligting wat in DNA gestoor is, gekopieer word en uiteindelik deur ribosome in elke lewende sel gebruik word om proteïene te vervaardig. Transkripsie is dus die eerste stap in die bouproses wat verantwoordelik is vir die oprigting van die lewende geboue wat ons plante en diere noem. En met die dat ek ‘n klap van die natuurwetenskappe weg het, het ek gedink dat die titel ‘n gepaste beskrywing van die skeppingsproses is. Op dieselfde manier wat DNA getranskribeer word om uiteindelik organismes aan die lewe te hou, transkribeer ons ons ervarings om geboorte aan gedigte te gee.

In die tweede plek is transkripsie ook die oorsetting van ’n musiekstuk van een instrument na ’n ander. In my en Bateleur se geval gaan dit oor die transkripsie van die stempartituur van die gedig op die bladsy na die instrumente op die verhoog. Die klankdigte het ontstaan uit verskillende simbiotiese verhoudings tussen woord en klank. So is een van die gedigte geskryf as ‘n direkte respons op een van die musiekstukke, terwyl die musiek by ander tye bloot as ‘n soort omgewing dien waarin die organisme van die gedig kan floreer.

Ek en Annel Pieterse gaan ook van ons vertalings opvoer, naamlik die bekende “City Johannesburg” van Wally Serote wat ek onlangs na Afrikaans getransponeer het en Annel se Engelse vertaling van Mathews Phosa se “Talle tonge het ek”.

Sien julle by die Woordfees.

Pieter Odendaal. Oor toe harte, varke en grensdrade – Nuwejaarsdag 2012

Wednesday, February 1st, 2012

Die tarentale en hadidas kwetter my wakker op Frances-hulle se plaas buite Klapmuts. Tazneem en Bradley het gisteraand voor twaalf hulle goed gepak en gery nadat ’n groep wit skoolmeisies grappies oor hotnotte en meide om die vuur gemaak het. Ons het almal saam gesit toe die woord hotnot oor die vlamme skiet terwyl ek en Bradley besig is om te praat oor sy navorsing oor die Nama kultuur. Hy vertel my hoe hy stories opteken wat dreig om deur die wind weggewaai te word. Daar is die woord weer, onmiskenbaar hierdie keer: hotnot. Die kinders kekkel van die lag – die eienaar van die woord kan nie ouer as veertien wees nie.

Bradley word stil, sy dreads hang oor sy oë. Tazneem probeer om dit te ignoreer en vertel dat sy volgende jaar hajj wil aanpak as deel van haar hernude verbintenis tot Islam.  Die skoolmeisies kom niks agter nie, hou aan gesels oor die meide wat saam hulle in die skool is. Nou word Tazneem ook stil. Sy en Bradley sit nog so ’n ruk, ons kyk  vir die vuur, dan staan hulle op en pak hulle goed in. Ek en Frances probeer hulle oortuig om te bly, vra om verskoning vir die vreemdelinge om die vuur. Maar ons weet almal dat die aand nou verby is.

Vroeër die aand het ons die lig teen die walle van die plaasdam laat dans soos ons heen en weer geswem het.

Kinds of water drown us. Kinds of water do not.  […] A pool of thoughts tilts this way and that in me. Sokrates, after bathing, came back to his cell unhurriedly and drank the hemlock. The others wept. Swans swam in around him. And he began to talk about the coming journey, to an unknown place far from their tears, which he did not understand. People really understand very little of one another.

© Anne Carson , Plainwater, 1995.

Later stuur ek en Frances saam die familie Chinese lanterns die lug in, ons vriende kwyt. Ek bly dink aan die meisies en hulle toe harte terwyl die lanterns klein soos sterre in die nag word. Hulle sal seker nooit weet of omgee wat Nama of hajj is nie, fluister Frances. Ons gaan die nuwe jaar uitsigloos binne.

*

Ons staan op en gaan drink Ricoffee op die stoep, sigaret in die hand. Die plaas lê geilgroen in die nuwejaarson. Frances se pa vra my om te help met ’n siek otjie. Hy het penisillien nodig. Die vark het homself gisteraand bemis en lê op sy sy, bied geen weerstand teen die naald wat tussen die gladde, kleurlose haartjies sy lyfie binnedring nie. Hy staan so effe op as ons klaar is, wend ’n halfhartige poging aan om weg te kom mits daar nog naalde in die oom se sak is. Hy’t dae laas geëet – die vel hang los soos ’n kombers oor sy kruis.

Later kom laai Tebu en Khanyi ons met sy Mazda-bakkie op. Ek en Frances sit agterin, gebruik ’n knopkierie om die canopy oop te hou sodat ons vars lug kan kry. Ons tel Tebu se neef in Kayamandi op en skiet deur Strand toe om saam Khanyi se Sotho-familie te gaan kuier. Duisende gesinne span uit op die strand en al langs die Eersterivier, reg in die suburbs in waar tannies met krulle en ooms met boereboepe die kaperjolle aangluur. Hulle sê niks nie, kyk net afkeurend toe. Daar’s ‘n kortsluiting in hulle koppe as hulle vir my en Frances sien. Ek wil my vervies vir hulle oë, maar los dit eerder.

Ons stap af see toe om lafenis in die water te soek. Ek en Frances is die enigste witmense op die strand. ’n Jong lat skree vir my in Xhosa tussen die branders deur: “Julle mlungus moenie my besteel nie!” Ek lag en duik agteroor die golwe in. Die meeue sweef met kraalogies oor die skare. My longe trek vol osoon en my vingers verstok van die koue.

oorvertel 2
Februarie 2010

hier het ’n vrou gebly Mal Maria sy’t geloop met ’n lang tou om die
nek met haar huissluitels aan een nag toe dood sy met die sluitels
om die nek die wind het haar nek gebreek

julle Kaapse mense sê mos die son sien alles
hierso sien die mense alles

ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor
van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik
maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin
te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie
en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is
wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie slams of boesman
in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die
oorvertel

die see spook by jou al trek jy tot teenaan die woestyn

die see is ’n teef met rooi skoene aan 

© Ronelda Kamfer. grond/Santekraam, 2011.

Terug by die uitspanplek op ’n leë erf langs die rivier, seën Khanyi se tannie ons oorvloediglik met kos: pap en gesmelte kaas, tjops, wors, chakalaka. Een van haar neefs leer my ’n paar pantsula-passies aan, waarna Ta Vusi en sy broer (die twee vorste in die familie) my uitnooi om langs hulle te kom sit. Hy stel homself uitvoerig voor: Hy werk by Portnet aan die Weskus en vertel van grensdrade wat makliker gespan word as wat hulle geknip word. Hy en sy vrou wil ’n erfie aan die Weskus koop waar hulle vir die see kan kyk as hul lywe begin ingee.  

Hulle kleinseun, Kunle, huil as ek met hom begin speel – hy’s glo vreeslik bang vir ’n lae gegggggggrom, vra sy ouma om verskoning, maar Khanyi grap dat hy maar net skrik omdat hy nog nooit ’n albino gesien het nie. Sy spot altyd dat sy my in olie gaan doop en onder haar bed gaan wegsteek as die lang messe hul skadu’s teen die hoë mure van estates begin gooi.

Ta Vusi skiet ’n bottel sjampanje oop om die nuwe jaar en sy vrou se komende studiereis na Londen te vier. Tebu laat die meisies lag en gooi elke nou en dan ’n paar moves op die dansvloer. Jack Parow bulder onverwags uit die kombi se luidsprekers en almal begin saamsing. 

*

Vroegaand skiet ons konvooi deur Gugulethu toe. Ons ry verby ’n omgekeerde taxi. Tebu verstaan nie hoekom hulle so jaag nie en klik sy tong oor die weggooibaarheid van lewens. Sy nefie chip in dat hy baie veiliger in Kayamandi voel – hulle skiet glo te veel hier. Ons braai tot vroegoggend in Khanyi se agterplaas. Orals om ons blêr klankstelsels die lugruim in. Frances se pa laat weet dat die siek otjie dit toe nie gemaak het nie en dat ons moet kom help om die ou grensdrade te knip. Die varkies se kampie is te klein. Hulle het meer spasie nodig, anders gaan hulle aanhou siekraak. 

They lied to us

They lied to us.
They told us: we shall die, wiped out in wars.
Ever since I can remember, they said: Our blood will be shed.
We ate and drank and didn’t die tomorrow,
We squandered all we had saved, flowers for example, grass…

And in this spring I sometimes think,
What did you mean when you told me, “I’ll give you
Only one night.” Did you think
That all the days of our lives are nights, night,
Or did you say it out of the great dread.

They lied to us. I told my students everything
My teachers taught me. In great haste I told them,
So I would be free a bit for myself in the end.
They lied to us:
The unshed blood
Screams louder
Than the shed. 

© Yehuda Amichai. Uit Poems of Akhziv. Vertaal deur Benjamin en Barbara Harshav

Pieter Odendaal. Oor Kamfer, Van Zyl en kleur wat nooit alleen kom nie

Friday, January 13th, 2012

Hierdie blog het aanvanklik as ’n kommentaar op Charl-Pierre Naudé se kommentaar op Yves T’Sjoen se essay oor die resepsie van Ronelda Kamfer in die Lae Lande begin. Hoe meer ek getik het, hoe meer het ek egter besef dat my kommentaar die konvensies van die genre van aanlynkommentare begin oorskry – ek wou te veel sê en later het dit nie meer soseer oor Charl-Pierre Naudé se kommentaar gegaan nie – daarom die blog.  Naudé het onder andere verwys na die sogenaamde “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” wat dikwels die ontvangs van ’n bepaalde digter se werk beïnvloed. Ek stem saam wat betref sy opmerking oor die behoefte aan ’n meta-kritiese blik op literêre kritiek in Suid-Afrika wat fokus op die wyses waarop die identiteit van die outeur dikwels ’n deurslaggewende invloed het op die resepsie van sy/haar werk. Ek dink dit is die geval in beide die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse literatuursisteme (ek weet nie genoeg van wat in die Xhosa en Zulu letterkunde op die oomblik aangaan nie, maar hierdie afgeskeepte poeletjies loop net soveel gevaar). Dit is seker iets waarvoor enige letterkunde versigtig moet wees.

noudat slapende honde

noudat slapende honde

Waaroor ek wonder, is die “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” waarna Naudé verwys (en ek neem aan dat dit juis hierdie oorwegings is wat Naudé meen veroorsaak dat Ronelda Kamfer eerder as Jasper van Zyl se werk aansien in Nederland geniet). Bedoel hy dat Kamfer ’n “kleurling” is en Jasper ’n “whitey” (ek plaas hierdie etikette in aanhalings om hulle as etikette te merk)? Indien dit die geval is, verstaan ek nie hoekom Naudé dit nie net sê nie – dit voel of hy heeltemal te versigtig is. En ek verstaan dat mense skrikkerig is om prontuit oor etikette te praat, maar dit is presies hierdie soort dapper gesprekke wat Kamfer, glo ek, oopskryf in haar poësie.

 

Ek dink hier ook aan die gedempte menings wat sekere mense het rakende die gedeelde toekenning van die Jonker-prys aan Kamfer én Marais – dat dit ’n soort troosprys vir Kamfer is, dat Marais dit glo eintlik meer verdien het en dat hierdie gebaar herinner aan die jaarlikse top matriekpresteerder-toekennings waar “voorheen benadeeldes” dieselfde erkenning geniet (met swakker uitslae) as die wit uitblinkers van privaatskole. Ek wonder soms hoeveel lesers agter bleek en geslote deure voel dat Marais die Jonker-prys meer as Kamfer verdien het.

Maar terug by Naudé se kommentaar en sy voorstel om te kyk na die verskil in resepsies van Kamfer en Van Zyl se werk in Nederland. Ek is ’n bloeitjie wat die poësie aanbetref, maar ek dink tog dat ek ’n opinie wil waag. Ek het reikhalsend na Jasper se bundel uitgesien nadat ek hier en daar van sy verse te lese gekry het, maar die bundel het my so ’n bietjie teleurgestel. Dit het onder andere vir my gevoel of daar min gegewens in die bundel is wat die gedigte anker in ’n Suid-Afrikaanse werklikheid en wanneer daar wél ‘n eksplisiete verwysing na hierdie plek en tyd is, is dit na my mening ’n redelik eendimensionele en beperkte werklikheid wat beskryf word.

Die lewe tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne

Maar waarteen ek dit eintlik het, is die bundelomslag. Ek weet dat die bundelomslag nie altyd in die digter se hande is nie, maar ’n goeie omslag spreek letterlik boekdele – dit berei die leser voor op dit wat gaan volg. Die enkeling in volkleur bell-bottoms wat omring word deur grys sakemanne (die enkeling wat tussen pikkewyne probeer leef) vergestalt vir my Van Zyl se mymerende individualisme en gedeeltelike opgesmuktheid. Nie dat daar enigiets verkeerd is met ’n ek-gesentreerde digter nie – een van die wonderlike aspekte van die poësie is juis die rare toegang wat dit ons tot die binnekamer van ’n ander mens bied.

 

Hierteenoor skryf Ronelda Kamfer oor alles behalwe haarself – sy skryf buitentoe. En ek dink dat dit presies om hierdie rede is dat haar werk soveel aandag in die Lae Lande geniet. Sy skryf verskeie onsigbares se werklikhede oop (onsigbaar in die Afrikaanse letterkunde, onsigbaar in die daaglikse gestamp en gestoot) en dien dus as ’n soort optekenaar van die onopgetekendes. Beide Noudat slapende honde en grond/Santekraam dien as poëtikale argiewe van die hede en is daarom ook veral relevant vir buitestaanders wat (nes ons) probeer om hierdie vreemde land te verstaan – hierom, dink ek, dat Kamfer ook in die Lae Lande gelees word. Derek Walcott stel dit die beste in ’n aanhaling wat ook as motto vir Kamfer se debuutbundel dien:

[she’s] just a red nigger, who love the sea,
[she] had a sound colonial education,
[she has] Dutch, nigger and English in [her],
and either [she’s] nobody, or [she’s] a nation …

 - The Schooner Flight, Derek Walcott

Laastens wil ek reageer op T’Sjoen se observasie (en Naudé se beaming) dat Alfred Schaffer & kie ’n groot invloed op Kamfer se resepsie in Nederland gehad het. Schaffer & kie kan ook net soveel doen om Kamfer se werk oorsee te herlei – daarna moet haar gedigte self die praatwerk doen. En hulle is besig om ’n helse bohaai op te skop, as ek die saak so kyk. Dis ook goed so: dis hoog tyd dat ons ’n jong Afrikaanse digter kry wat so wyd en presies oor die vreemde hede kan skryf.  En in hierdie sin is die inhoud van haar verse, tesame met die off-hand delivery, vuishou laaste reëls en sonoriteit van haar poësie, presies die literêre oorwegings (en nie die sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings waarna Naudé verwys nie) wat maak dat Kamfer vertaal word en dat haar verse so geredelik op beide Suid-Afrikaners en Nederlanders se lippe gaan lê. Sy, meer as Jasper van Zyl, is besig om ons te leer om onsself en die mense om ons wyer en presieser te verstaan.

Pieter Odendaal. Oor gesteelde laptops, Dumbledore se “pensieve” en storte

Tuesday, January 10th, 2012

Een van die faktore wat bygedra het tot my afwesigheid op dié webwerf, is die feit dat my laptop twee weke gelede in Bloemfontein gesteel is. My ouers en sussie was in die huis gewees terwyl iemand sy honger hand deur die diefwering van my venster gesteek en die rekenaar opgeëis het. Ek weet dat die elfde gebod “Maak backups van jou werk” is, maar ek is ’n bietjie afvallig as dit kom by reëls gehoorsaam, veral as dit impliseer dat ek meer stroombelyn moet lewe. Dit laat my soos ’n sagtewareprogram voel.

Om ’n mens se laptop te verloor is soos om ’n deel van jou brein te laat verwyder. Ek het nog altyd gedink dat Dumbledore se pensieve in die Harry Potter-boeke ’n metafoor vir ’n rekenaar is: Jy trek die drade van jou gedagtes een vir een uit en laat hulle in die swart gat van ene en nulle val om daar bewaar te bly. Die hardeskyf onthou al die goed waarvoor jy nie plek in jou kop het nie. En nou is my brein-anneks weg. So verduidelik Dumbledore die penseive:

I use the Pensieve. One simply siphons the excess thoughts from one’s mind, pours them into the basin, and examines them at one’s leisure. It becomes easier to spot patterns and links, you understand, when they are in this form.

Ek het my foto’s, musiekversameling, gedigte en ander skryfsels op ’n soortgelyke manier aan die einde van 2010 prysgegee toe my laptop uit my vriend se kar gesteel is. Net ’n donkie stamp twee keer sy kop teen dieselfde klip. Toe ek op my leë lessenaar in Bloemfontein afkom, kon ek voel hoe my ore langer word en my asem ’n vreemde balk-ondertoon ontwikkel.

En ek het gewonder hoeveel ander skribas hul skryfsels al op dergelike wyse kwytgeraak het. Nie dat ek dink enigiemand is werklik slegter daartoe af dat ’n handjievol van my verse weg is nie. Ek sou egter die gesig in my venster wou smeek om my net twee minute te gee om die belangrikste files te kopieer. Al my foto’s van Tanzanië en Zanzibar is daarmee heen. Die versamelde werke van onder andere Phillip Glass, Sigur Ros, Liszt en Sufjan Stevens. Enkele Larkin en Hughes vertalings.  ’n Versaakte toneelstuk oor fotografie. ’n Biblioteek vol e-boeke oor sisteembiologie en neurowetenskap wat prof. Hofmeyr goedhartiglik aan my geskenk het.

Gelukkig het ek ’n Blackberry waarop ek ook soms idees stoor – dis gewoonlik waar ’n gedig begin. So het ek Maandag die 5de Desember tussen 19:26 en 19:40 op my ouerhuis in Bloemfontein se dak gesit en sommer net gespeel – ek het probeer om te luister na wat om my aangaan en dit op my foon gestoor:

Die dak verdof onder my voete soos die vuur in die weste gaan sak. Kraaie en swaels crescendo verby. Doer sis die N1 met onderwegtes wat nie die vlaktes sien soos hulle na Kurt Darren luister nie. Sesotho dryf in die straat verby. Straatligte verplaas die dag en antennas vang America’s got talent op. ’n Trein blaas agter my. My labrador (sy mond skeef na die beroerte) lek sy ouderdom weg in die geel bak onder die kraan. Water stroom ondergronds deur die straat. Ek dink aan Calvino se storie oor ’n stad wat net uit pype bestaan en waar die dooies heeldag stort. Krieke begin kriek. ’n Kort-kort kriek en ‘n hoë getjirrr. ’n Kort-kort kriek en ’n hoë getjirrr. Die dooies draai hul stortkrane oop.


Sent from my BlackBerry® wireless device

Pieter Odendaal. Wainaina se opstokery

Thursday, December 22nd, 2011

So ’n maand gelede bars daar ’n virtuele storm op die Britse Guardian se webwerf los nadat berig is dat die Keniaanse outeur Binyavanga Wainaina beweer dat Britse fiksie insulêr is en dat skrywers uit Afrika sukkel om blootstelling in die Noorde te kry as hulle nie stories oor die morele en sosio-ekonomiese verval van ons kontinent skryf nie. Uit die kommentare op die artikel blyk dit dat bitter min van die mense die moeite gedoen het om na die opname te gaan luister (die artikel is in ieder geval ’n redelik gebrekkige opsomming van die oorspronklike podcast, waarna jy hier kan luister): Op die podcast toon Wainaina se stem duidelik dat hy besig is om die rol van opstoker, slaaikrapper en hofnar te speel –’n rol wat deur die blou streaks in sy hare bevestig word.

Wainaina se blou streaks

Wainaina se blou streaks

Die meeste kommentare het op die volgende uitlating gefokus:

“We are not interested in Oxfam, we are not interested in Tony Blair, we are not interested in what Oxfam is doing for Africa, we are not interested in what aid donors are doing, we are not interested in the partnership those people have with global media to be the voice of Africa to the world. We never have been. We don’t talk about it, we don’t discuss it.”

Wainaina hou vol dat die grootste kwessies in Afrika die alledaagse is, “that people laugh, people fuck, people kiss, people speak, people have priorities and it’s the [same all over]”, en dat hierdie alledaagse werklikheid agter in die tou moet staan as dit kom by die uitdeel van publikasieregte in die Noorde.

Maar baie van die kommentators op die webblad sit die pot lelik mis en kry terselfdertyd dit reg om hul onderrokke lelik te laat uithang. So reageer jarndyceandjarndyce byvoorbeeld: “Great – we can stop wasting billions on aid then. Jesus, the fucking ingratitude!!” of Floatingvote01 se reaksie: “WTF, why do we care about this guy? He sounds very Afro-centric and with limited ability to step into others shoes. What a non-story.”

Die kommentare rafel lekker uit soos die “gesprek” aangaan (aanlyn kommentare leen hulself so maklik tot pseudo-dialoog, terwyl kommentators gewoonlik bloot besig is om die reuk van hulle eie poep so akkuraat moontlik te beskryf) – dit word ‘n “gesprek” oor die “ethics of aid”, hoe gatvol mense vir die geween oor “British cultural imperialism” is, en, en, en.

Ontploffings soos die bogenoemde lei selde tot kopskuiwe (so ook van die blafsessies wat al op Versindaba en Litnet plaasgevind het), maar ek dink dat ouens soos Wainaina ‘n belangrike funksie vervul omdat hulle help om die vuilgoed onder die mat uit te vee en bloot te lê. Wainaina impliseer belangrike vrae in sy podcast: Waaroor kan/moet die nuwe generasie skrywers uit Afrika skryf? Watter kwessies kleef aan Afrika-outeurs wat in Engels skryf? Vir wie skryf Engelse skrywers in die globale township? Waar lê die lyn tussen die private en die politieke in die letterkunde? Van die vrae is nuut, van die vrae is ou koeie wat weier om in die sloot te gaan lê.

Dit is veral die las van representasie waaroor Wainaina dit het, die beelde oor “Afrika” wat in die Noorde gebore word en hier ter plaatse deur die internet, koerante, televisie en radio versprei word.  Het Afrika-skrywers die verantwoordelikheid om teen hierdie modderstorting van die Noordelike media te skryf? En indien wel, waar begin ’n mens? Wainaina se bemoeienis met die kwessie van representasie word die beste in sy beroemde satiriese essay How to write about Africa verwoord (die titel is glo na How not to write about Africa vir VSA-lesers verander omdat hulle die ironie dalk sou mislees). Hieronder volg ’n uittreksel:

Readers will be put off if you don’t mention the light in Africa. And sunsets, the African sunset is a must. It is always big and red. There is always a big sky. Wide empty spaces and game are critical—Africa is the Land of Wide Empty Spaces. When writing about the plight of flora and fauna, make sure you mention that Africa is overpopulated. When your main character is in a desert or jungle living with indigenous peoples (anybody short) it is okay to mention that Africa has been severely depopulated by Aids and War (use caps).

Wainaina vertel elders hoe lekker hy gelag het toe mense, na die publikasie van How to write about Africa, manuskripte aan hom begin stuur het vir goedkeuring, vir ’n klop op die skouer wat sê “Mooi so, jy skryf Afrika-vriendelik, jy verval nie in dieselfde retoriek as ander nie”. Maar hierdie reaksie van ander skrywers op How to write about Africa onthul ’n dieper en kommerwekkende onvermoë om die probleme met die Noorde se representasie van Afrika raak te sien.

En hier op eie bodem? Tot watter mate kyk ons Suid-Afrikaners deur die brille van die Noorde na Afrika? Hoeveel van ons weet waar Siërra-Leone is, of wat in 2008 na die Keniaanse verkiesings gebeur het? Dis seker belangriker om te vra waarom ons so min weet en hoekom en hoe ons hierdie onkundigheid moet teëwerk.

Ek wou nog oor Afrikaans se las van representasie post-1994 gesels, maar dis vakansie en ek’s nie nou lus vir ’n oor-en-weer-gepoepery nie. Miskien sien ek in die nuwe jaar kans om die Afrikanerbul by die horings te pak.

Pieter Odendaal. Oor anti-biblioteke, Tumi en Bittereinder

Monday, November 28th, 2011

En daar sien 2011 toe ook sy gat. Die hoeveelheid ongeleesde boeke op my boekrak het eksponensieel toegeneem hierdie jaar, te danke aan die feit dat ek vir die eerste keer in my lewe ’n vaste salaris verdien. Dis soms moeilik om tussen kos en boeke te kies, veral as daardie keuse in ’n boekwinkel gemaak word. (Ek maak die pap ’n bietjie dik hier aan, Ma, moenie worry nie.) Ek vermoed ook ek het hierdie jaar die onomkeerbare punt verbygesteek waar die hoeveelheid boeke wat ek besit altyd meer sal wees as die hoeveelheid boeke wat ek al gelees het. Ek het nou amptelik met my anti-biblioteek begin, soos Umberto Eco dit sou stel.

Ten spyte van die feit dat my nuwe B.Sc.-graad en my werk by SLiPnet my soms na waters-waar-daar-rus-is laat smag het, was hierdie jaar ook ’n jaar van ontdekkings. Die enigste jaar wat by 2011 kan kers vashou wat betref die uitdy van horisonne, is sekerlik die jaar toe ek taal begin gebruik het om my wêreld te verbeel. Ek is vanjaar Tanzanië en Zanzibar toe, ek het my eerste joernaalartikel gepubliseer, ek het geleer hoe Dolly gekloon is, hoe neurone met mekaar chat, hoekom ons ore skulpvormig is en hoe plante die son eet en suiker uitspoeg.

Een van die lekkerste verrassings van 2011 was egter my reis deur die landskap van Suid-Afrikaanse rap. Ek het grootgeword met Liszt, Rachmaninoff en Beethoven in my ore, so ek is lugtig vir populêre musiek (dikwels tot my eie nadeel – veral as my onkunde lelik kop uitsteek in gesprekke met vriende). Alhoewel ek steeds bra min van rap af weet, het twee emcees my kiertsregop laat sit vanjaar, naamlik Tumi Molekane van Tumi and the Volume en Jaco van der Merwe van Bittereinder.

Tumi and the Volume

Tumi and the Volume

Tumi Molekane is in Tanzanië gebore, maar hy en sy gesin het in 1992 Soweto toe getrek om hier ‘n rusplek te vind. Sy lirieke is meerduidig, vars en vlymskerp en die musikante wat hom ondersteun is almal maestro’s in eie reg: Paulo Chibanga klap die dromme dat jy nie weet waar sy lyf ophou en die klank begin nie, Dave Bergmann sing met sy baskitaar en Tiago C Paulo en Kyla Rose Smith (van Freshlyground) verf onderskeidelik op die elektriese kitaar en viool. Daar is min goed so lekker as om ’n nuwe klankprojek te ontdek wat jou nekhare laat rys:

76
Tumi Molekane

It was 76, the street blew in ebony mist
I’m treading it swift, and running past where Hector got hit
Bullets rang, several kids ran, better not flinch I catch a glimpse
Of this bastard running past us with a gas mask

Chucking teargas cans that hit you like anthrax
I carry a brick load of black wrapped in my stats
Hit him with the slab, he drops his rifle and flashlight
Walk towards him, he’s bleeding, my face hardens

Grab his gun, as the crowd’s overlooking, take it from him
The place is humming, this mother is going to pay for something
For chasing and gunning, and making martyrs out of young ones
We stare for a while with murder in our eyes

If he’s never seen it before, then he heard it in our cries
I drift to a time when we was in a line
My only dad was a prison visitor, bird caged in its prime,
Pain ancient as time, like shells aimed at your spine

My soul, waiting to find mercy
Wait, but am I worthy?
Hate can divide early. Based on divine birds, we
Chased to find where’s we supposed to be
‘Cause the last days are close to we
Eyes wide close to see

Past the smoke scenery, I drift back to see him bleed
Cocked the rifle, shot him, to silence his misery
Crowd dispersed after the gun powder burst
Life escapes him, I’m well alive
But I still got it worse

Gun my ook die geleentheid om Bittereinder se beuel so ’n bietjie te blaas. Louis Esterhuizen praat hoeka nou die dag oor die heersende “cult of mediocrity” en hoe min oases daar in hierdie woestyntyd is. Wel, daar’s ’n nuwe groenigheid op die horison te bespeur en hulle naam is Bittereinder. Die emcee, Jaco van der Merwe, het eers as Ajax in Pretoria se onderwêreld verse in Engels gespit, maar na ’n soort Damaskus-ervaring het hy besef dat hy nie sommerso sy rug op die taal waarin hy droom kan draai nie. Die gevolg was Bittereinder: Peach van Pletzen is in beheer van die perkussie (Peach het ook al saam met Tumi gewerk, terloops) en Louis Minnaar is die band se visuele maestro (hy sing ook hier en daar saam op Bittereinder se debuut-CD, ‘n Ware Verhaal). Gaan kyk gerus na die groep se webblad: www.bittereinder.com.

Bittereinder - Jaco van der Merwe is links bo in die hoek

Bittereinder - Jaco van der Merwe verskyn links bo en ek dink dis sy naeltjie wat onbeskaamd in die hoekie pryk.

Op grond van my beperkte luisterwydte verteenwoordig Bittereinder, saam met Jitsvinger, die beste rap wat Afrikaans myns insiens tans bied. (Hou egter jou ore oop vir Rimestein – ’n woordmeester van Mitchell’s Plein wat in gedigte praat.) Van der Merwe se lirieke – hy noem dit rympies – is soepel en sterk verhalend en ten spyte van die Engelse sintaksis wat hier en daar sy kop uitsteek, is die rymkeuses verfrissend. Sy verse getuig ook van ’n uiters sensitiewe oor wat die natuurlike ritmes en klankeffekte van gesprekstaal amplifiseer en omdig tot lirieke. Op ’n tematiese vlak klink Bittereinder se woorde na ‘n minder anarchistiese weergawe van Fokofpolisiekar. Jaco is ’n Hunter Kennedy wat minder skree en meer luister – hy’s een van die min Afrikaanse kunstenaars wat op ’n deernisvolle en ingeligte wyse omgaan met die kwessie van Afrikaanswees in hierdie droë, wit seisoen. Gaan luister gerus na “Penwor(s)tel” om te hoor wat ek bedoel. Een van my gunstelinge is “Die waarskuwing” - ’n allegorie met verskeie interpretasiemoontlikhede:

Die waarskuwing
Jaco van der Merwe

na die tyd was daar mense wat gesê het dat hulle dit verwag het
hulle was nog kwaad en bitter oor al die mense wat vir hulle gelag het
maar selfs ’n doemprofeet kon hierdie skade nie voorspel nie
die hele aarde aan die brand soos ’n voorsmaak van hel, die
vuur was onblusbaar, kontinente uitgewis
en mens moes mettertyd mooi soek vir tekens van die oorlewendes
asemhaal was onmoontlik tussen die vlamme van vertering
elke woud was vernietig, elke stad verwoes vir ewig
hele spesies het verdwyn in die eerste paar minute
die greep van die vuur het orals uitgesprei soos ’n siekte
in die verte was ’n berg met sy skouers in die wolke
en die mensdom se oorblyfsels mik toe daarvoor in die donker
tussen die hittegolwe en die vlaktes van verwoesting
drom hulle toe saam soos miertjies uit elke rigting
en vind verligting teen die kranse en die skadu’s van die laaste berg
en vir die eerste keer besef hulle wat oorlewing hulle gaan verg

en hulle klim toe al hoe hoër om skoner suurstof te vind
uiteindelik op die bergpiek gewaar hulle ’n vreemde Adamskind
wat alleen in die wind staan en oor die brandende aarde gluur
hy dra ’n lang donker jas en in sy oë weerkaats die vuur
“hy’s een van daai vreemdes!” roep ’n stem uit die skare
en met agterdogtige gedagtes begin hulle om hom vergader
“wat weet jy van die vuur?” begin hulle soos een stem fluister
“wat maak jou soort hier? ons dink dis tyd dat jy vir ons luister
jy was nog nooit regtig welkom nie, jy en jou vreemdelingmense
ons vermoed nog altyd julle’t vir ons net die donkerste wense”
en waarlik, net soos die lus vir wraak ondraagbaar raak
sien hulle die bewys wat van alles net ’n warrelwind maak:
in sy regterhand hou die vreemdeling ‘n vuurhoutjie wat nog rook
en in ’n woedende massa skreeu hulle saam soos ’n doodskoor:

ons het probeer om jou te waarsku

die sirkel word al stywer soos die massa saamdrom
en hulle dors vir bloed raak net dieper hoe nader hulle aan hom kom
maar skielik maak die vreemde man sy mond oop en begin praat
en soos die oog van ’n storm is dit asof alles net stil raak
en die woorde van sy storie weergalm die verte in
en die kalmte in sy stem vertel van lig en oorbegin
hy vertel hoe hy en sy mense nog altyd geweet het van die vuur
en hoe hulle vir jare probeer het om ons te help en om ons te waarsku
hy vertel van klein dorpies waar hulle hom in die modder gesleep het
en in die kroeë van die stede waar hulle hom met bierbottels gebreek het
en hoe niemand wou luister nie, en hy in die nagte net kon huil
en hoe hy vir een meisie in ’n eetplek gesê het hy sou plekke met haar ruil
en sy’t hom aangeval voor almal en met haar vurk hom oopgesteek
en in haar oë het hy skielik verstaan hy sou ’n ander plan moes kweek
hy en sy mense het toe vergader en na hierdie selfde berg kom kyk
dit het vir hulle begin om soos die enigste oplossing te lyk

en ons almal wat nou hier staan is die vrugte van daai plan
hulle’t ’n kring van vuur begin met die vuurhoutjie in sy hand
en op die manier die vuur geblus in ’n sirkel wat kon terugveg
’n kring van vuur wat soos ’n muur staan met sy arms om die berg
en net soos ons besef wat die vreemdes vir ons gegee het
sien ons skaduwees in die wolke waarmee die berg hom beklee het
en die vreemdeling begin self om in die lug op te dryf
en soos hy styg hoor ons stemme wat ons troos en ook dreig
en hulle sing nou ’n lied wat ons herken in ’n oomblik
en ons harte begin skud soos die woorde ons oopruk:

ons het probeer om jou te waarsku

Pieter Odendaal. Meer as wat enigiemand kan verbeel

Thursday, October 27th, 2011

Imagine Africa, 2011.

Onlangs stop een van my vriende ’n kopie van Imagine Africa in my hand, ’n versameling tekste byeengebring deur die Pirogue Collective, die kreatiewe vergestalting van die Gorée Instituut in Senegal. In die voorwoord sê Breyten Breytenbach, die sameroeper van die collective, dat die dryfkrag agter die boek is om te wys dat Afrika steeds magies lééf, ten spyte van die diktators, die kindersoldate, die pseudo-state, die gulsige hande en die lostrek van some; dat die geboorteplek van die mens meer magies en wonderlik is as wat enigiemand kan verbeel.

Dié dat Breytenbach Olfert Dapper se 17de-eeuse Description of Africa onbeskaamd approprieer: Ja, ons het koplose mense met oë op hul mae; ja, daar is mense wat vinniger as die wind kan hol en hul koppe teen die son met die skadu’s van hul voete beskerm; ja, daar is ’n onuitputbare bron van kreatiwiteit en magie op hierdie kontinent. Breytenbach plaas die Pirogue Collective se skryfsels knus langs hierdie eksotiese voorstellings van Afrikane. Afrika leef! proklameer hy saam met die ander skrywers in imagine africa, Ons beteken meer as wat enigiemand kan verbeel!

Dis haas onmoontlik om ’n geheelindruk van die boek weer te gee: Die bydraes sing in te veel verskillende toonaarde, verf in te veel kleure: Van ’n berekende herskrywing van Afrika se onlangse geskiedenis deur Stephen Ellis, tot die liriese kwashale van die Kaap Verdiese digter Corsino Fortes; van die fantastiese Adam Small vertalings deur Mick Dickman, tot Éduard Glissant en Patrick Chamoiseau se poëtiese liefdesverklarings aan President Barack Obama en argipels; van Eben Venter se talmende kortverhaal tot Ngũgĩ wa Thiongo se novelle oor ’n wetenskaplike wat in ’n voël verander en Afrika deurkruis om die wysies van al die stories te leer sing sodat hy uiteindelik kan begin om te verstaan waarom ons kontinent so hinkepink loop.

My persoonlike gunstelinge is egter Charl Pierre Naudé se essay oor vertaling, genaamd “A road going both ways”, die Keniaanse digter Shailja Patel se meesleurende verse en André Naffis-Sahely se fabels oor die ontstaan van die woestyn en waarom katte so ’n wrok teen muise koester.

Naudé konsentreer op vertaling as ’n kreatiewe, transformerende handeling wat as bloedsomloopstelsel kan dien om Afrika aan die lewe te hou (dis nie hoe hy dit stel nie, maar ek hou van die beeld). In die besonder kyk hy na Afrikaans as ’n taal wat aan haarself vertaal moet word om te verseker dat sy nie uitsterf nie – sy het deur vertaling tot stand gekom en moet deur vertaling aan die lewe gehou word. Die volgende uittreksel is vir my een van die mooiste en hartseerste beskrywings wat ek al van my hartstaal gelees het:

“[Afrikaans’] most noticeable – and most denied – facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got separated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I feel like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (49)

Die ironie dat die essay in Engels geskryf is tersyde, sou ek eintlik die hele essay hier wou aanhaal omdat ek nog nie so ’n raak en aandoenlike beskrywing van Afrikaans gelees het nie. Niemand wat vandag nog Afrikaans praat (uitgesluit die hoër middelklas Afrikaners wat dink Engels beteken meer vir hul kinders, kleurlingouers wat weier om hul kinders die taal van die onderdrukker te leer, die linkses wat om dieselfde rede nie Afrikaans in hul monde wil laat lê nie) mag kommunikeer sonder om voortdurend Naudé se argument ingedagte te hou nie. Nog ’n paar sinne:

“Embrace: Some language historians say the traits of simplification in structures that created the Afrikaans language had to do with people of different languages urgently having to communicate without a linking language at their disposal, having to meet one another halfway in the dark. The Dutch naval officer and the Malay slave girl, say. Realising too late that the transaction had become love. Was bound to, so far away from home for both. And then rooted in that lightning, on the spot. Metamorphosised – in translation.” (51)

En dan is daar Shailja Patel se gedigte wat soos bloeiende jakarandabome in die geil landskap van die bundel staan. Die onderstaande gedig is in 2007 geskryf, vyf weke voor die korrupte nasionale verkiesing wat die dood van meer as 1500 Keniane tot gevolg gehad het:

Jacaranda time

I’d choose to meet my world in jacaranda time,
its shifting dappled light across my face
that tessellates the blossoms into rhyme.

Rain churns Nairobi roadsides into slime
littered with purple flowers like torn lace.
Five-week countdown to election time.

As if this villanelle were the sublime
reweaving of our fractured, looted space,
I trudge gluey mud, I grope for rhymes.

Kalonzo, Raila, Kibaki tena – pantomime
of sumo wrestlers threatens to efface
thirty-six million silenced. When’s their time?

And maybe this is love: hope wrapped in grime.
Relinquish all the might-have-beens. Embrace
each tiny possible, each less-than-perfect rhyme.

So I will choose this lilac song. Now I’m
unfurled to small epiphanies of grace
in bloody struggle. Joy, in jacaranda time,
her lips curved, gentle, round the missing rhyme.

Die digter is versigtig hoopvol dat die saamweef van haar rymwoorde ’n vooruitwysing na ’n hegter, minder bloederige Kenia kan wees. Die deernis waarmee sy haar werk as digter/versoener uitbeeld het my in die maag getref. Dit word bykans ondraaglik om die vraag aan die einde van strofe 4 te antwoord in die lig van die nadraai van die verkiesing. En dan is daar onvervangbare woorde soos “tessellates” en “unfurled”, wat ondubbelsinnig bewys dat wat ’n bekwame versmaker Patel is.

Hierdie bloginskrywing raak nou lank. Ek gaan maar afsluit met ’n uittreksel uit een van Naffis-Sahely se fabels, “How the desert was made”, wat nes baie ander skryfsels in die versameling wys hoeveel magiese potensiaal in ons kontinent en ons koppe opgesluit lê:

One day, a great gust of wind brought a swarm of butterflies to a strange and desolate land. Unsure of their future, many of them bunched on a berry-less bush and waited; hour by hour, one would fly off and disappear. Each time a branch on that bush was abandoned, a tiny mound of gold powder would trickle down onto the ground. By the time all the butterflies had finally vanished, they had left behind them an ocean of fine, yellow sand. “And that’s how the desert was made,” a camel explained to her young calf. (179)

* ‘n Resensie van Imagine Africa deur Grace Musila is beskikbaar op SLiPnet: http://slipnet.co.za/view/reviews/an-invitation-to-imagine-africa-otherwise/
Die boek kan by Protea Boekhuis aangeskaf word.

Pieter Odendaal. Hoekom neutrino’s belangrik is

Thursday, October 6th, 2011

So twee weke gelede versprei die nuus soos ’n mini-veldbrand oor die web heen dat fisici in Italië bevind het dat neutrino’s vinniger as die spoed van lig kan beweeg. Ek sê mini-veldbrand, want hierdie radikale resultaat het maar gesukkel om opslae te maak tussendeur ons politici se newspeak, die bokke wat ons trots maak in Nieu-Seeland en Palestina se pleidooi vir onafhanklikheid.

Die neutrino detektor by die Gran Sasso Nasionale Laboratorium in Italië

Die neutrino-detektor by die Gran Sasso Nasionale Laboratorium in Italië

Hier’s basies wat gebeur het: wetenskaplikes by CERN het via partikelversnellers ’n straal neutrino’s 732km vêr na ’n laboratorium in Italië geskiet. Neutrino’s is sub-atomiese deeltjies met bykans geen massa nie wat ongehinderd deur materie kan beweeg – biljoene neutrino’s reën deur jou terwyl jy hierdie woorde lees. Die wetenskaplikes by die Gran Sasso Laboratorium in Italië het superakkurate lesings versamel van die tyd wat die neutrino’s geneem het om die 732km na Italië af te lê. Met hierdie data kon hulle die spoed waarteen die neutrino’s tussen atome deur voortsnel met ’n hoë statistiese sekerheid bereken. Hul gevolgtrekking: neutrino’s beweeg teen 60 nanosekondes vinniger as die spoed van lig in ’n vakuum.

(Lig reis teen 299 792 458 meter per sekonde. Om jou ’n idee te gee van hierdie breinbrekende spoed, verbeel jou jy vuur ’n koeël parallel met die aardoppervlakte af wat teen 300 miljoen kilometer per sekonde trek. As jy die effek van swaartekrag ignoreer, sal daardie koeël sewe maal om die aarde reis en dus sewe keer deur jou bors skiet voor een sekonde verby is.)

Goed, terug by die eksperiment: Die resultate is ongelooflik, letterlik. Danksy Einstein word die snelheid van lig die afgelope eeu lank beskou as die maksimum snelheid waarteen enigiets in die heelal kan beweeg. Einstein se onsterflike vergelyking E=mc2 berus op hierdie aanname. Maar dit lyk nie of neutrino’s hul veel aan Einstein skeel nie. Die Italiaanse eksperiment is radikaal omdat dit heelalskuddende implikasies kan hê vir hoe ons oor die nuts en bolts van materie dink.

Dié dat fisici regoor die wêreld gelos het waarmee hulle ook al besig was om die resultaat van die eksperiment te check en te double check en te triple check. Sommige siniese omies beweer die eksperiment moet eenvoudig foutief wees; ander het reeds begin spekuleer oor wat die presiese implikasies van die eksperiment mag wees. Die bevinding kan dalk help om string theory reg te bewys; dit kan dalk Schrödinger se kat van die limbo van lewendood red en sodoende kwantummeganika op sy kop keer. Hoe presies hierdie implikasies uit die resultate van die eksperiment volg, sal jy vir mense met ’n doktorsgraad in fisika moet vra.

En alhoewel die resultate nie noodwendig enigiets aan ons daaglikse doen en late gaan verander nie, kan hierdie eksperiment moontlik ’n hoofkarakter word in die verhaal wat ons vir mekaar oor die heelal vertel. Wat ’n jammerte dat baie van ons meer belangstel in die spookasemstories van anoreksiese akteurs of die uiteinde van een of ander bloeddorstige gewedywer om ’n eiervormige bal as die stories waaruit sterre bestaan.

Ten laaste, twee gedigte wat ons verbintenis met en kennis oor die heelal vier. Die eerste vers is geskryf deur Julian Huxley, ’n belangrike bioloog en Aldous Huxley se kleinsein. Die tweede gedig is oorgelewer deur //Kabbo, getranskribeer deur Bleek en Lloyd en oorgedig in Afrikaans deur Antjie Krog.

God and Man

The world of things entered your infant mind
To populate that crystal cabinet.
Within its walls the strangest partners met,
And things turned thoughts did propagate their kind.
For, once within, corporeal fact could find
A spirit. Fact and you in mutual debt
Built there your little microcosm – which yet
Had hugest tasks to its small self assigned.

Dead men can live there, and converse with stars:
Equator speaks with pole, and night with day:
Spirit dissolves the world’s material bars –
A million isolations burn away.
The Universe can live and work and plan,
At last made God within the mind of man.

© Julian Huxley, 1932. Essays of a biologist.

die dogter van die eerste mense wat sterre gemaak het
(fragment)

die vuur-as van die houtkole wat hier lê moet die Melkweg word
dit moet wit lê al langs die lug
dat die sterre buite die Melkweg staan terwyl die Melkweg
die Melkweg is
sodat die sterre voortseil langs die Melkweg verby
seil in hulle voetspore
die lug lê stil
dit is die sterre wat draai terwyl hulle seil al met die voetspore langs
die sterre word wit as die son uitkom
as die nag kom word hulle rooi
dan begin die Melkweg saggies gloei
en die aarde lê soos as in die lig

© //Kabbo, vertaal deur Antjie Krog, 2002. Met woorde soos met kerse.