René Bohnen

Carina van der Walt. Die lang asem van poësie

Friday, October 19th, 2018

 

Dit is vandag presies ’n jaar gelede dat die Literaire Salon in’t Wevershuisje 2017 plaasgevind het. René Bohnen uit Suid-Afrika, Vicky Francken, Paul Meeuws en Theo Rikken uit Nederland en Miriam van Hee uit België was die gaste. Net soos destyds staan die bosse, parke, tuine en lanings vandag ook in brand. Dit is herfs. Die bome vlam kortstondig op in ’n ode aan die lewe. Hierna sal die blare grond toe dwarrel. Maar op die oomblik brand die skoonheid van verganklikheid helder kolle op die netvlies. “The Poet’s Season” het Bohnen dit genoem. Die uitsluitlike doel van haar kuier in Nederland was poësie. En poësie het dit geword. Maar tussendeur het ons twee boswandelinge gemaak, paddastoele met kameras gejag, paddastoelrisotto geëet, abdybier gedrink, met handskoentjies teen smetvrees (gekoop vir ’n vorige salon) deur Antione de Saint-Exupéry se pop-up boek De kleine prins geblaai en tot ounag toe vir mekaar gedigte van Szymborska voorgelees. Teen dié tyd was die bier ingeruil vir goeie wyn. Saam-saam het ons danksy die Textielmuseum vyf minute se stap van die voordeur af die hele weefgeskiedenis van hierdie wolstad wollewei uitgepluis. Ons het by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gaan kuier en Bohnen het blad geskud met ’n goue Rembrandt voor die Rijksmuseum. By Emma Crebolder in haar herehuis teen die St. Petersberg in Maastricht het ons ook ’n draai gaan maak.

 

 

Die vonk tussen digters wat uitgenooi word na dié wewershuisie se salon toe moet spontaan kom. Hulle is hier om mekaar se werk te verken deur dit te lees en te herlees, te waardeer en as dit goed gaan óók om dit te vertaal. Die salon is ’n ontmoetings- en werksessie vir kollegadigters en daarom nie oop vir die algemene publiek nie. ‘n Vonk ontstaan nie altyd nie. Soms kom en gaan digters sonder om deel te neem. Dit kan nie voorkom word nie. Die besoekende digter se vryheid staan altyd voorop. Sy of haar deelname is “vrijblijvend” – so ’n mooi Nederlandse woord! Maar as die vuurvonk tussen twee digters dáár is, skitter verwondering, inspirasie en kreatiwiteit en mond dit dikwels uit in die verlangde vertalings. Die uiteindelike doel van elke Literaire Salon in’t Wevershuisje is publikasies van vertalings wat uit hierdie ontmoetings kom. Dit is dus meetbaar.

Die skitterendste vlam in 2017 se salon was tussen René Bohnen en Vicky Francken. Daar was ook ’n goeie vuurtong tussen Bohnen en Paul Meeuws met sy bundel De geluiden (2017) wat genomineer was vir die C. Buddingh’-debuutprys. Bohnen se jongste bundel Op die vingerpunte van die heelal was nog warm uit die drukkersoond. Op die agterblad van hierdie bundel staan onder andere: “Dit is ’n bundel oor broosheid, struktuur en verval.” Francken se debuutbundel Róntgenfoto (ook uit 2017) het sommer dadelik vir haar die C. Buddingh’-prys vir die beste debuut besorg. Op haar bundel se agterblad staan: “Een lichaam wordt tegen het licht gehouden. Om te onderzoeken wat eraan schort, om te bepalen waar het licht doorlaat.” Miskien het hierdie gedeelde broosheid in hulle waarnemings vir die kliek gesorg? In die onderstaande vertalings volg ek inhoudelik (hoofsaaklik) ’n lyn met kinders.

 

Vicky Francken

 

Naakte musiek speel in die grotte
en slaap is ’n tempel
waarin ‘n grimmige godheid
teen die mure slaan

laat my uit

ek moet inderhaas en daagliks
‘n skitterende kind baar
my vingers verwond
aan deurskynende vel
geruislose fontanelle

laat my met stilte die seël verbreek
’n voertuig
vir die onderwerp
die pegel en die pekel
in die ystyd wees

uit: Röntgenfotomodel (2017)

 

 

die lug vou homself ’n sakdoek
om ons koppe soos die wind
hom bol in washoltes
ons neurie absurde deuntjies

soos in ou films oor klein dogtertjies
hardloop ons rond met emmertjies
om die reën op te vang
voor ons die jongste

uit die oog verloor, sy met haar
mooiste kapsteweltjies die dam
instap en wonder hoeveel
borrels sy maak op die

watervlak wat oor haar kop
toegaan soos ‘n deur

 

Naweektas vir langer as ’n naweek

Die wasem op ‘n raam van aseming kyk uit
op ‘n tuin waarvan ek weet dat jy my daarin sal sien
staan, jy kan my nie miskyk nie. Ek skryf in sneeu en koue
die letters van ‘n werkwoordsvorm en
die letters van jou naam.

In die klipwit van ‘n kruisbeensit, mag jy briewe lees
wat ek aan jou gaan skryf as ek weg is en dit is waarskynlik
môre. Saam neem ek nie

die deur waardeur ek wegloop
jou moeder se vaas wat vir jou lelik was en wat jy wou stukkend gooi
maar ek jou gekeer het en

die hond nie. Verder by benadering amper alles

 

Paul Meeuws

’n Meetlat wat vir goeie vertalings kan sorg, is dat daar tyd en ruimte vir digters geskep word om in gesprek te tree met hulle gedigte en hulle vertalings. Dit begin tydens die salon, maar kring dikwels uit in e-posgesprekke. So antwoord Meeuws vir Bohnen op 28 Desember 2017 na aanleiding van haar vrae oor die vertaling van sy gedig Watergraf:

“Liempdes klok betekent de kerkklok van het dorpje Liempde, waar het gedicht is gesitueerd. Ik heb daar een mooie werkplek in een historische boerderij met wijds uitzicht op een slingerend riviertje door het weiland. Ik herinner me hoe het gedicht ontstond. Het stond voor mij vast dat ‘O kindje, sluimer zacht’, dat eigenlijk een beetje over the top is, de laatste regel moest zijn. De aanloop daarnaartoe mocht niet te sentimenteel. Het is alsof de dichter zijn tranen moet bedwingen door zakelijke, afstandelijke woorden te gebruiken als ‘stichten’ en ‘bedenken’.”

 

 

De geluiden bestaan uit ’n aantal langerige digsiklusse, byvoorbeeld die siklus U ter nagedagtenis aan sy vader. Bohnen het gekies om uit die siklus Werkplek ’n gedig te vertaal – ’n werkplek met ’n uitsig op die water waarby van die fynste geluide hoorbaar word. Hierdie geluide word versteur.

 

Watergraf

Klein watergraf daar in die gras.
Bo dit tril ’n kindersiel
deur muggies nageboots.

Dan lui opeens die Liemde-klok
die toeval weg net soos jou hand
die muggies wegklap op jou pad.

Jy sit die somer stil soos ’n kapel
vol nonne en skuins lig.
Jy het ‘n heiligdom gestig,

’n rou bedink wat die gedig
meer name as jou eie gee.
O kindjie, sluimer sag.

uit die siklus Werkplek
in De Geluiden (2017)

 

Die Literaire Salon in’t Wevershuisje was miskien literêr gesien die produktiefste ontmoeting vir Bohnen, maar beslis nie die enigste ontmoeting nie. Twee dae na die salon het ons saam ’n program aangebied by Poëziecafé Ongerijmd in Arnhem. Hoewel die publiek by onder ons mense klein was, was die kontak uitstekend. Eén van die waarhede van poësie in vandag se tyd is dat dit nie sommer ’n rekordgetal besoekers trek nie en de goden zijn dank! Poësie is en bly leesstof vir die fynproewer. Die kafee is ’n inisiatief van Hermien Mijnen en word ondersteun die Boekhandel Hijman Ongerijmd en die Poëziecentrum Nederland.

Tien dae na die wewershuisiesalon het Stichting Man in ’n Maan ’n byeenkoms gereël met René Bohnen en twee Belgiese gaste: Delphine Lecompte uit Gent en die jonge Tijl Nuyts uit Leuven, tans in Antwerpen woonagtig. Die harpmusiek van Annemieke Breunisse het naatloos aangesluit by die kooruitvoering van Bohnen se gedig walvisnota. Die publiek het na hulle asem gesnak. So wen sy as digter harte! Theo Rikken van Stichting Man in de Maan is ’n ervare koorsanger. Hy het dadelik daarna Bohnen gepols vir die partituur. Pas was dit nuus dat dieselfde partituur deur ’n groot Duitse bladmusiek besigheid gekoop is vir uitvoering in die Europese musiekmark. Om daarna te luister, kliek hier.

 

 

Die kuiertjie by Emma Crebolder het ’n vervolg gekry. Saam met Vicky Francken sal hulle vertalings van Bohnen se rooidata, Mensboom en wierslaper uit Op die vingerpunte van die heelal en vlamtong uit in die niks alom binnekort in TERRAS gepubliseer word. Crebolder ken die plaaslewe uit haar kindertyd en veral beeste uit haar en haar man se tyd in Kenia. Sy is waarskynlik sélf in staat ’n paar beeste in Swahili aan te jaag! En vermoedelik het vlamtong se eggo’s haar daarom bekoor: en om bulk die beeste / met bruin stemme… (strofe 4) en intaba yami, bid die paters / en die priesters in hulle grotte, om / dans die bok-/ beelde immer / om (strofe 5). Tussen die digter uit Zeeuws-Vlaanderen en die digter uit Kwazulu Natal word die beeste se loeigeluid ’n tyd- en ruimtelose skakel. Alhoewel, Vrancken kom ook uit Zeeuws-Vlaanderen.

 

 

In Tilburg het my en Bohnen se bankieprojek nog nie ’n vervolg gekry nie, maar net soos poësie het dit ’n lang asem. Ek twyfel nie daaraan dat hier iets moois sal uitgroei nie. En ja! Ek is ’n “vrywilliger” van Tilburg met die Literaire salon in’t Wevershuisje vir die vertaling van poësie in Afrikaans en Nederlands. Intussen gaan ek ‘n pot roesbruin krissantjies koop om hierdie herfs te vier. Dit hoort by bokbier as die son se baan al laer oor die horison begin gly en die dae korter word.

 

 

 

René Bohnen. Vicky Francken: Vertaling in Afrikaans

Saturday, June 9th, 2018

Vicky Francken: Vertaling in Afrikaans

Om ’n gedig te vertaal is soos om ’n röntgenfoto van die woorde te probeer ontleed, dink ek terwyl ek hierdie blog beplan. Maar om die voordeel en voorreg te hê van die oorspronklike digter se insette, is soos ’n ekstra golflengte van lig. Jy kan raad vra, agtergrond vra, verduideliking vra, goedkeuring vra. Totdat die X-strale sin maak.

In Oktober 2017 besoek ek Tilburg op uitnodiging van digter en kunsresensent, Carina vd Walt. Hier woon ek die Literaire Wintersalon in’t Wevershuisje by, Carina se eie inisiatief in Nederland. In haar eie woorde: “Die doel van die salon is die uitruiling van kreatiewe energie vir die skryf én vertaal van poësie. Dit gebeur deur ontmoetings en gesprekke; voorlesings van eie werk en vertalings van mekaar se werk. Dit is gekonsentreerde middae en dien as teelaarde vir nuwe idees. Daarom is dit elke jaar geslote byeenkomste.” (https://guillotine.blog/2017/02/01/carina-van-der-walt-literaire-salon-int-wevershuisje-2013-2015/)

In die gesellige wewershuisie in Tilburg, in ‘n sitkamer tjokvol besondere boeke, ontmoet ek benewens ’n aantal ander bekende Nederlandse digters, vir Vicky Francken. Met haar debuutbundel, Röntgenfotomodel, wen Francken in 2017 die C. Buddingh Prys, wat toegeken word vir die beste Nederlandstalige debuut. “De C. Buddingh’-prijs is een Nederlandse poëzieprijs, die jaarlijks wordt toegekend aan het beste debuut in de Nederlandstalige poëzie. De prijs wordt uitgereikt op Poetry International en is vernoemd naar dichter en prozaschrijver C. Buddingh’. “ (https://nl.wikipedia.org/wiki/C._Buddingh%27-prijs)

Francken se verse word onder andere beskryf as musikaal en dat dit ‘n verraderlike ligtheid toon. (: https://www.volkskrant.nl/cultuur-media/wie-kan-spreken-zoals-vicky-francken-kan-alles~bf4a2eb4/)  Saam met die klein gehoor van digters bevind ek my dan ook bekoor deur haar voorlesing en verse.

Hoewel ons nie mekaar se tale magtig is nie, gesels ons in sulke stadige, diagonale lyne land en sand oor poësie, taalverwantskappe en vertalings. Dit was sommer goeie oefening vir wat sou volg, waar ek enkele verse aanpak en probeer vertaal na Afrikaans.

Dit was vir my ‘n nuwe ondervinding om brontaal en teikentaal nie op gelyke vlak te hê in my gereedskapkissie nie (soos byvoorbeeld die geval is met Afrikaans en Engels). Soms lyk die Nederlands bedrieglik na aan Afrikaans en ek moes leer om my nie daardeur te laat mislei nie.

Tydens die vertaalproses was ek gedurig in gesprek met Francken om feite na te gaan en haar te por oor spesifieke betekenis van ‘n beeld of woord in konteks. Ek kon verskillende vertalingsmoontlikhede met haar bespreek. Ek het ook nogmaals besef dat die vertaler van ‘n gedig waarskynlik net so intens betrokke is by die teks as wat die oorspronklike skrywer was – in elk geval soverre dit tegniese aspekte betref. Met vertalings is daar nie ruimte vir wasige interpretasies nie. Veral nie as die digter sélf die finale produk moet goedkeur nie. Vertaling is dus sommer ‘n drilsessie vir stiplees ook.

Hierdie gespreksvoering en wisselwerking tussen digters was vir my ‘n verrykende en diep bevredigende ervaring. Om verantwoordelik om te gaan met ‘n ander digter se woorde verhoog die vertaler se pligsbesef en begrip. Dit laat ‘n mens ook opnuut kyk na die afronding, helderheid en geldigheid van jou eie verse.

Met Vicky Francken se toestemming plaas ek graag twee vertalings, waarmee beide digter en vertaler tevrede is.

Gedigte uit Röntgenfotomodel deur Vicky Francken – vertalings deur René Bohnen

Naweektas vir langer as ‘n naweek

 

Die wasem op ‘n raam van aseming kyk uit

op ‘n tuin waarvan ek weet dat jy my daarin sal sien

staan, jy kan my nie miskyk nie. Ek skryf in sneeu en koue

die letters van ‘n werkwoordsvorm en

die letters van jou naam.

.

In die klipwit van ‘n kruisbeensit, mag jy briewe lees

wat ek aan jou gaan skryf as ek weg is en dit is waarskynlik

môre. Saam neem ek nie

.

die deur waardeur ek wegloop vir ewiger as voorheen

jou moeder se vaas wat vir jou lelik was en wat jy wou stukkend gooi

maar ek jou gekeer het en

.

die hond nie. Verder by benadering amper alles.

.

Weekendtas voor langer dan een weekend

De condens op een raam van ademhalen kijkt uit
op een tuin waarvan ik weet dat je me erin zult zien
staan, je kunt niet naast me kijken. Ik schreef in sneeuw en kou
de letters van een werkwoordsvorm en
de letters van je naam.

In het steenwit van een kleermakerszit, mag je de brieven lezen
die ik je schrijven ga als ik weg ben en dat is waarschijnlijk
morgen.  Niet mee neem ik

de deur waardoor ik wegloop voor eeuwiger dan even,
de vaas van je moeder die je lelijk vond en kapot wilde gooien
maar ik hield je tegen en

de hond. Verder bij benadering zo bijna alles.

***

 .

(Ongetiteld)

.

die lug vou homself ‘n

sakdoek om ons koppe

soos die wind hom bol

in washoltes, ons

neurie absurde deuntjies

.

soos in ou films oor klein

dogtertjies hardloop ons rond met

emmertjies om die reën op te vang

voor ons die jongste uit die

.

oog verloor, sy met haar

mooiste kapsteweltjies die dam

instap en wonder hoeveel

borrels sy maak op die

.

watervlak wat oor haar kop

toegaan soos ‘n deur

.

(Ongetiteld)

.

de lucht vouwt zich een
zakdoek om onze hoofden
zoals de wind zich bolt
in de holten van was, we
neuriën absurde melodietjes

zoals in oude films van kleine
meisjes rennen we rond met
emmertjes om de regen op te vangen
voordat we de jongste uit het

oog verliezen, zij met haar
mooiste kaplaarsjes de vijver
instapt en zich afvraagt hoeveel
belletjes ze maakt op het

wateroppervlak dat zich boven
haar hoofd als een deur sluit

.

Meer inligting oor die Vicky Francken en Röntgenfotomodel:

“In Röntgenfotomodel wordt een lichaam tegen het licht gehouden. Om te onderzoeken wat eraan schort, om te bepalen waar het licht doorlaat. Het lijf blijkt sterker dan gedacht. De huid een dunne wand die in volharding niet onderdoet voor zelfhelend beton. In tastende zinnen schrijft Vicky Francken over zowel de zintuiglijke ervaring als het abstracte denken dat daarmee gepaard gaat. Soms is het lichaam een anker, andere keren zit het in de weg, maar steeds is het een instrument waaraan we veel kunnen aflezen.” (https://www.bol.com/nl/f/rontgenfotomodel/9200000060895338/)

Onderhoud met die digter: https://www.nrc.nl/nieuws/2017/06/01/het-voelt-echter-als-het-een-gedicht-is-10883918-a1561461

Vanaf die uitgewer: https://www.debezigebij.nl/auteurs/vicky-francken/

 

Carina van der Walt. Hoe om ‘n framboos te pluk

Tuesday, December 12th, 2017

 

Die titel van die blog hou direk verband met die vierde Literaire Salon in’t Wevershuisje wat op 19 Oktober in Tilburg plaasgevind het. René Bohnen, hoofgas uit Suid-Afrika, was al in die Europese lugruim toe ek soggens vroeg hierdie brose framboos in my tuin ontdek. Die vruggie het op die punt van afval gehang. Framboostyd was eintlik verby. Die herfs het in al sy glorie aangebreek.

 

Soos dit altyd met die voorbereidings vir die salon gaan, was ek amper klaar om my in te lees in soveel moontlike poësie van al die uitgenodigde gaste: behalwe Bohnen ook Miriam van Hee, Paul Meeuws en Vicky Francken. By Meeuws en Francken was dit maklik, want dit was van elkeen slegs hulle debuutbundels wat albei genomineer was vir die C. Buddinghprys 2017: De geluiden in die geval van Meeuws en Rőntgenfotomodel van Francken. Van Bohnen het ek op daardie stadium nog het haar eerste twee bundels onder oë gehad, want Op die punte van die heelal was toe pas bekendgestel in Suid-Afrika. Maar dit was Van Hee se uitgebreide oeuvre wat my goed besig gehou het. En dit was Van Hee se gedig de bramenpluk uit haar gelyknamige bundel van 2002 wat my by my eie frambosie laat vassteek het. Vermoedelik lees elkeen ’n gedig anders, want daardie Engelse spreekwoord “beauty is in the eye of the beholder” geld ook vir poësie. Persoonlik lees ek stadig, proe-proe, reëltjie vir reëltjie en nogal assosiatief. Die volgende twee strofes in de bramenpluk tref my soos ‘n sagte vuishou tussen die oë:

 

ga dan en pluk de rijpste bessen,

die glanzend zwart zijn, zwaar

en lobbig, die zich gewillig geven

laat de tegendraadse hangen,

hun tijd kom later

 

en laat, wat onbereikbaar lijkt

zo blijven, want alles heeft een prijs:

je kunt je huid verwonden

aan de doornen, je kunt een adder

wekken uit de slaap, je kunt

je mandje laten vallen

 

Die geswolle fragmentjies van Van Hee se brame en die framboos in my tuin is identies. Hulle deel ’n kwesbaarheid. Tweedens geld die beginsel van loslaat wat my betref nie net vir ’n ryp braam nie, maar ook vir alle ma’s (en pa’s?) wie se kuikens die nes verlaat en op hulle eie die gevaarlike grootmenswêreld betree. Of wie se kinders besluit het om te emigreer. Loslaat is moeilik! En daardie koppige braam wat nié gepluk wil word nie is vir my die gedig waarvan die afronding nog agterweë bly. Dit is die gedig wat nie geforseerd die leserswêreld wil ingaan nie. Die digter moet wag dat dit ryp word. Die gevare wat ’n rypgedrukte gedig vir sy maker inhou, is volgens Van Hee “doornen”, “adders”,, en “ je kunt / je mandje laten vallen”.

 

Brame en frambose is tegelykertyd ook bessiesoorte wat eintlik vreemd is vir die meeste Suid-Afrikaners. Ek besluit terstond dat Bohen my leeservaring konkreet moet deel. Sy moet hierdie framboos kom pluk en vóél hoe dit loslaat of weerstand bied. Ook al sal ons laat van Schiphol af terugkom in Tilburg. Van Hee se poësie is so fyn, so gerig op klein, persoonlike ervarings dat dit Bohnen miskien sal help om dit beter te verstaan, het ek gedink. En nog voor middernag het Bohnen die framboos gaan pluk. Met haar fyn-fyn vingers pluk sy sonder om te weet hoekom sy pluk. Minstens twee frambosies – ’n stramme en ’n sagte – en saam-saam ontleed ons die geheim van loslaat onder die kombuislig. Die kern van loslaat vir ’n framboos is ’n groot, sagte hart. Dit laat ’n gat, ’n gemis, agter in die lyf van die frambosie.

 

 

Tot my groot verrassing vertel Bohnen so bo-oor die frambose dat sy ter voorbereiding van die salon Daniel Hugo se vertaalwerk van Van Hee gelees het. Sy herken die inhoud van de bramenpluk vaagweg. Hugo se vertaalwerk is gebundel in die Afrikaanse bloemlesing In plaas van die stilte, maar sy het dit ongelukkig nie saamgebring nie. Ek was glad nie bewus van die gebundelde Afrikaanse vertalings nie. So lyk Hugo se vertaling op p. 99:

 

brame pluk

 

kies ’n warm dag begin september

met gloeiende populiere, met lig

wat deur ’n gaas van stof val,

met al die vensters oop

 

dié middag, as die buurman rus

in die skadu van die neutboom

en sy blik oor die dal laat dwaal

asof hy na ’n film kyk: daar vlieg

voëls, verder as wat ons kan sien

maar hulle verdwyn nie

 

gaan dan en pluk die rypste brame

dié wat blinkswart is, groot

en knobbelrig, dié wat gewillig is

laat die halsstarriges hang,

hulle tyd kom later

 

en laat dié wat onbereikbaar lyk

so bly, want alles het ’n prys:

jy kan jou seermaak

aan die dorings, jy kan ‘n adder

wek uit sy slap, jy kan

jou mandjie laat val

 

gebruik dus jou tyd, kom dikwels terug

op jou spore, sing vir die wespe

liedere, stel hulle gerus

 

en as jy dink dat jy kan bly

gaan terug na waar die tyd

verbygaan en die lig van kleur

verander, waar die yskas aanskakel

waar iemand gate in die muur boor

waar die wind vannag nog opsteek,

die herfs begin, waar iemand

vir jou wag

 

Inderdaad! Die herfs breek in al sy glorie aan terwyl Bohnen in Tilburg, Amsterdam, Arnhem, Maastricht en Eindhoven kuier. Haar besoek word omarm deur twee boswandelings in die omgewing van Tilburg. Framboostyd maak plek vir paddastoeltyd. Die bos ruik na lieflike verganklikheid en kreun van sponsige groeiseltjies in allerhande vorms en kleure. En na die eerste boswandeling eet ons dieselfde aand sommer ook paddastoelrisotto. Maar Bohen se eerste prioriteit was die Literaire Salon in’t Wevershuisje en sy ontmoet Van Hee: ’n skugter vrou, maar dwingend ernstig wanneer dit oor poësie gaan. En dít deel Bohnen en Van Hee en al die ander wat uitgenooi is. Poësie is ons erns, ons lus en ons las.

 

Miriam van Hee en René Bohnen – Literaire Salon in’t Wevershuisje 2017

 

Na die tweede boswandeling is Bohnen so meegesleur deur die Nederlandse “poet’s season” dat sy begin vertaal aan Van Hee se gedig paddastoelen – ‘n gedig wat opgedra is aan Rugter Kopland. Vaagweg wonder sy of Hugo dit ook vertaal het, maar die inspirasie van die paddastoele in die bos wen die oorhand en die woorde “het zijn oortjes van vlees / waar de aarde mee luistert / naar de muziek van het woud” roep al harder. Sonder om defintief te weet of Hugo hierdie gedig ook vertaal het, voltooi Bohnen haar vertaling in Tilburg onder haar loseerkamer se dakraam. Sy doen haar eie ding, hoewel nie onbevange nie. Ek stel haar gerus. Só het dit ook in 2014 gegaan met Charl-Pierre Naudé se gedig Bobotie toe drie ander digters onwetend van mekaar die gedig in Nederlands vertaal het. Dis nie ’n kompetisie nie! Hoe meer siele, hoe meer vreugde kan maklik ook oorgedra word op hoe meer vertalings, hoe méér en ryker Afrikaans. Hier volg Bohnen se vertaling:

 

paddastoele

(vir r. kopland)

 

hulle is oortjies van vlees

waarmee die aarde luister

na die musiek van die woud

oor stilte, oneindigheid

of hoe dit is as die voëls

vertrek het

 

hulle groei wanneer niemand sien nie

vroeg in die oggend of snags

oor kastaiings, beuke

in sagte beddings heide

en mos, op plekke waar sonlig

tussen bome kan

deurdring tot in die gras

 

en dit hang weer af

van die wind, want dit is tog hy

wat die blare skud

en die wolke uitmekaar dryf

net wanneer hy wil

 

Miriam van Hee

uit: buitenland (2007)

vertaling: René Bohnen

Literaire Salon in’t Wevershuisje (2017)

 

 

En hoe ek ook al sélf geïnspireer is deur Van Hee se gedig de bramenpluk lei dit nie tot ’n vertaling nie, maar tot ’n kort gediggie. Waar digters saamkom, deel hulle ’n gemeenskaplike taal. Poësie. Wat hulle in ’n internasionale konteks van mekaar onderskei, is hulle moedertaal. Moedertale is eintlik instrumente in diens van poësie. Daarmee word mekaar se werk verken en waardeer. Boonop sal ’n framboos nooit sommerso in ’n Suid-Afrikaaanse tuin groei nie. Ek skryf dit in Nederland in Nederlands:

 

vanochtend ontdek ik in mijn tuin een rijpe framboos:

zal ze haar adem nog inhouden nog even vasthouden

 

vanavond zullen we samen naar het struikje gaan

als de tijd er rijp voor is willen we met een zaklamp

het raadsel van haar loslaten ontdekken

 

@Carina van der Walt

Literaire Salon in’t Wevershuisje 2017

 

 

René Bohnen. Sondag en Sol Plaatje

Monday, October 10th, 2016

VI6Dit is 9 Oktober en Sol Plaatje se verjaarsdag. Dubbeld spesiaal, dus, dat die 2016 Sol Plaatje Poetry Anthology vandag vrygestel word en die wengedig aangekondig word. Die geleentheid vind plaas by Sci-Bono in Newtown en ons word verwelkom met koffie, eetgoed en ʼn versameling boeke te koop. Ek is bankrot nog voor die verrigtinge begin.

Hierdie is die 6de jaar dat die Sol Plaatje European Union Poetry Award toegeken word en die gehoor bestaan uit enkele langlysdigters, kinders, akademici, uitgewers en ander belangstellendes vroeg op ʼn Sondagoggend. Ons is almal duidelik in ons noppies om in die bloemlesing opgeneem te wees en in die oggend te deel.Die bloemlesing is mooi versorg en vir my is die voorblad besonder treffend, met ʼn foto deur Lindeka Qampi.

VI 1

Dit is die eerste keer dat die Mail & Guardian LitFest deel is van die Sol Plaatje toekenning en daar word ook aangekondig dat die Nirox Foundation ʼn drieweeklange kunstenaarsverblyf aan die wendigter skenk. Die EU Ambassadeur, Marcus Cornaro, verduidelik die EU se betrokkenheid by die toekenning en die borg van die prysgeld. Die blootstelling van digterstemme in al elf landstale word geprys, tesame met die boodskap van die strewe na kohesie en begrip. Die beoordelaars, vertalers, Jacana Uitgewers en almal betrokke word aan ons voorgestel en daar is vanselfsprekend opgewondenheid rondom die teenwoordigheid van Mongane Wally Serote, ikoniese digter en hoofbeoordelaar.

VI2 VI3

Verskeie digters dra van hulle gedigte voor en ek kry vir die eerste keer kans om Pieter Odendaal van InZync faam te hoor en agterna te ontmoet. Pieter het ook die Engelse vertalings van die Afrikaanse gedigte behartig. Die Johannesburg-gedigte is nogal sterk teenwoordig en sekere frases bly steek in die geheue – “piesangs en bloed in jou strate” en “who gets mugged on the Nelson Mandela bridge”, daar is ook vele verwysings na die goudbedryf, die abnormale arbeidssituasies en armoede (“a hungry stomach has no ears”). Slam-poetry word verteenwoordig, asook die tema van feminisme en huishoudelike geweld. Dit is duidelik dat digters steeds betrokke skryf en dat die struggle op vele fronte voortduur, al sy dit in ʼn gewysigde gedaante met addisionele brandpunte. Ek leer nuwe gesigte ken, probeer nog almal onthou en name by my foto’s pas. Ek sit langs vriendin en mede-digter Lara Kirsten, ons is kort-kort taamlik emosioneel oor wat voorgedra word. Ons kies ook vinnig met groot binneplesier onderlangs ons eie wenner uit die kandidate.

Siphokazi Jonas beïndruk met haar voordrag van Mambhele’s Harvest  en is dan ook uiteindelik die wenner van die Tweede Prys. Die 2016 wenner van die Sol Plaatje Award is ook 2015 se wenner, Athol Williams, wat onmiddelik ná die geleentheid terugkeer na Oxford waar hy ʼn oggendlesing moet bywoon. Die Derde Prys wenner is Charles Marriott van Kaapstad. Ek het net ʼn baie klein kameratjie byderhand, maar neem nogtans foto’s.

VI4

Die pryse word deur Mongane Wally Serote oorhandig, ons verdaag om verder tee te drink en dalk die “after party” in Troyeville by te woon. Maar eers hang almal bietjie rond in die gange van die Sci-Bono gebou en groet, maak vriende, belowe om kontak te behou, drentel al geselsend uit in die Newtown sonlig, groetend, glimlaggend met ʼn gekweste hart en onthou die gedagte dat ons almal moet skryf en leef om nie net mense uit die skaduwees te kry of die skaduwees te verklein nie, maar om daarna te streef dat almal eendag in die lig kan leef.

VI9

Volledige persverklaring hier: https://gallery.mailchimp.com/13a0d1ec92f556db796ceb35b/files/Sol_Plaatje_Winners_PR.01.pdf

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

René Bohnen. Ronkedoor by Noag se Ark

Friday, July 18th, 2014

Party mense sê sinkronisiteit is bloot net die verhoogde bewuswording van prikkels as gevolg van gebeurtenisse in mens se persoonlike lewe. Indien dit die waarheid is, het Versindaba hierdie maand op besondere wyse daarin geslaag om kragte met my onderbewuste te snoer en het die samewerking mooi boeke op my pad gebring.

Ek was onbewus van die bundel Ronkedoor, toe loop ek dit twee keer in een week op die internet raak. Eers in Gisela Ulyatt se mooi blog oor vaders  http://versindaba.co.za/2014/06/02/gisela-ullyatt-vir-n-pa/ en toe op Joan Hambidge se “Woorde wat Weeg”, wat begin met Johann de Lange se vers “Die digter as ronkedoor”. (http://joanhambidge.blogspot.com/2014/07/joan-hambidge-n-klein-nota-by-n.html)

Hou ek impulsief een kristalkoue Johannesburg-oggend stil by Noah’s Ark, ‘n pandjieswinkel in Randburg. Ek weet nie wat ek daar wou soek nie, maar digbundels was nie my verwagting nie! In ‘n ark moet daar egter mos iets van alles wees en ek is verheug met my aankope: 14 bundels vir R60.

Daar is die Ronkedoor!  ‘n Eenkantolifant. Alleenloperbul. (is daar ‘n ronkedoor in Kringe in die Bos?) In die koerant was daar onlangs ʼn foto van ‘n Knysna-olifant soos ‘n skim vasgevang op versteekte kameras. Dit lyk soos die spookfoto’s van my kinderjare, toe deursigtige dogtertjies op armchairs glimlagloos vasgelê is in swart en wit.

                  (foto vanaf: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/olifant-opgemerk-knysna-woud/)

Ek blaai Ronkedoor lukraak oop, lees bladsy 54:

Vloed

Vertak deur oë, hart en nier

vloei ongesiens die Grootrivier,

dryfhout van gety op gety

pak saam, kolk in my

tot die verlossende stroming

wat opdrifsels geruisloos see toe bring;

gereed vir die ontvangenis

voel ek alreeds in díe klein moer

die ronde fetus

van ʼn aarde roer.

Getref deur die aktualiteit van hierdie vers soos gesien in die lig van “ingeplaaste skryf” (vergelyk Susan Smith se artikel http://susansmithdotcom.wordpress.com/2014/07/12/plek-die-digter-mens-die-digter/ ) kan ek ook nie help om herinner te word aan die weerloosheid van alles nie (Lucebert se woorde eggo maar altyd).Die afgelope week se wêreldgebeure skree hierdie weerloosheid uit in koerantopskrifte. Gewone mense is saam met ʼn vliegtuig afgeskiet in die lugruim van die Swartsee-gebied. In my pakkie bundels is ook Bloedsteen van Wilhelm Knobel. Die derde keer hierdie jaar lees ek die Salvatore Quasimodo-aanhaling en vertaling wat voorin verskyn:

“Ognuno sta solo sul cuor della terra

traffitto da un raggio dí sole:

ed è sùbito sera.”

Elkeen staan alleen op die hart van die aarde

deur ʼn straal van die son deurboor:

en skielik is dit aand.

Wat is die Afrikaans vir poignant? Die woorde in my Pharos voel nie reg nie. Ons begin almal dra aan die wonde van die heelal. Of dalk net van die planeet. Of van mekaar.

“Sy wond bloei nou in my

die sweer wil net nie heel

onder die gekraakte rofie

bly dit etterig en geel”

(uit “Wond”, bl.33 in Ronkedoor deur Betsie van Niekerk)

Die ligblou boekie deur M. Buys het ek gekoop omdat ek dit onthou uit ons klein dorpsbiblioteek in my kinderjare. Die Kruistogte  staan daar. Daan Retief Uitgewers.En omdat ek oorlog nou maar eenmaal nie verstaan nie, trek ek my eie verbande waar ek voel emosies soos sirkels sny. Vier seuns in Gaza word doodgeskiet terwyl hulle ‘n bal skop op die strand. Foto’s op facebook. Petisies. Die woorde Israel en Palestyne in die hoofberigte. En mense wat in Afrikaans baklei oor wie reg is en wie verkeerd. Op bladsy 37 van die blou boekie word vertel van die Kinderkruistog van 1212. “Die kinderkruistogte was twee baie droewige kruistogte”. Was daar werklik iemand wat gedink het dit kan enigsens ánders wees, wonder ek. Of word die mens op ʼn spesiale manier verblind deur geloof? Ja, skielik is dit aand. Donkereeue, amper. Daar was seker kinders op die Maleisiese vliegtuig wat afgeskiet is ook.

By Noag se Ark het ek ook ʼn geisja-boek gekoop. Sowaar! Amanda Lourens se heerlike blog (http://versindaba.co.za/2014/07/15/skadus-skoonheid-die-liefde-en-die-tanka/#comment-333216) het my seker opnuut vatbaar gemaak vir dáárdie prikkel. Dit is die verhaal van Murasaki Shikibu, wat in die 11de eeu die roman The Tale of Genji geskryf het. Dit word beskou as een van die vroegste romans in die wêreld. Murasaki se pa het haar die opvoeding gegee wat net seuns van daardie tyd beskore was. Dit het beteken dat sy die Kanji- letters kon skryf. Hier is meer inligting oor haar: http://en.wikipedia.org/wiki/Murasaki_Shikibu

Murasaki Shikibu het een kind gehad – ʼn dogter. Sy het ‘n digter geword.

In The Tale of Murasaki (geskryf deur Liz Dalby, ‘n antropoloog wat blykbaar een van die enigste Westerlinge is wat ‘n geisja geword het) lees ek “the seventh month is known as the Poem-composing month” en aangesien Julie óns sewende maand is, lees ek bietjie oor die waka en ek sien ook hierdie gedig van Murasaki raak:

“In the cove at Iso the crane cries as I cry; who can it be she yearns for?”

The sorrow of human existence, “Mono no aware” word ongveer ‘n duisend keer gebruik in The tale of Genji. Die tema word beskryf as: the fragility of life.

 

René Bohnen. Boomklim

Monday, June 9th, 2014

Google is ʼn bietjie soos boomklim. Voetjie op hierdie tak, voetjie op daardie tak. Effe regs, effe hoër, dan weer effe links. Binnekort sit jy op ‘n onbeplande plek met ʼn uitsig. Meestal weet jy nie mooi hoe jy daar gekom het nie. Of hoe om weer af te klim nie. Dan maar laat los en spring. Quit. Escape. Soiets.

Daar is ook maar verskillende maniere van laat los. Soms besef mens mos so vreeslik konkreet dat jy jou mees Suidelike gedigte skryf in ʼn moontlik sterwende taal. Partykeer dink ek so. Die bekende wete dat ek onbelangrik is en niks het om te verloor nie, I may as well lose face, laat my, vreemd aan my aard, iets impulsief doen. Soms.

So beland ek laasmaand by Lawrence Ferlinghetti. A Coney Island of the mind. Nie dat ek dit nog nooit gelees het nie, maar intussen het ek mos baie ouer geword. En Ferlinghetti is 95, daar in San Francisco. Ek was nog nooit in San Francisco nie. Die kanse lyk ook maar skraal tot zero. Nogtans, in April, resoneer woorde uit die ou gedigte hard en duidelik.

Pity the nation whose people are sheep
And whose shepherds mislead them
Pity the nation whose leaders are liars
Whose sages are silence

                                 (uit: Pity the Nation)

en ook:

And which side are you on
sang the birds
Oh which side are you on
in the Third World War
the war against the Third World?

(uit: Song of the Third World Birds)

Maar die gedig wat my toe ʼn vertalingsbevlieging gee, is “In Goya’s greatest scenes we seem to see”. Alhoewel ek die artikels oor vertaling hier op Versindaba (en elders) getrou volg, en ernstig bedink, is ek nie ‘n gesoute of sistematiese vertaler nie. Dit is nie eers iets waaraan ek my toewy nie – dis letterlik altyd bevliegings vir spesifieke gedigte. Dan vertaal ek blitsig en hersien stadig. So was dit met bogenoemde Goya-vers. Hoor hom terwyl ek in spitverkeer sit, laat dit insink, wonder, wonder oor nuanses en klanke, oor direktheid en oor interpretasie. Vertaal ek vry of streng direk? Waar grens dit te veel aan omdigting? (Tussendeur verskyn De Waal Venter se blog  (http://versindaba.co.za/2014/06/02/de-waal-venter-vertaal-herskep/) en dit bevestig vir my sekere dinge wat ek dink (dankie, De Waal!). Ek onthou ook gedagtes en notas van Daniel Hugo en Henning Pieterse. Verder probeer ek luister wat die gedig fluister. Uiteindelik is daar ʼn weergawe wat begin bevredig, hoewel dit nie volmaak is nie.

Dis toé dat ek uit die boom val. Eers lees ek die (Afrikaanse) vertaling hardop en neem dit op met ʼn klein diktafoontjie. Toe stuur ek beide die teks en die klankgreep vir Lawrence Ferlinghetti by ‘n e-adres. Ek vertel hom ‘n klein bietjie van hoe ek waar te werk gegaan het, wat my idee was met bv “mal haantjie”. Hoe ek sy alliterasies probeer behou het, selfs tydens interpretasie. Hoekom “slagvere” aansluit by “cocks” en geweerhane. Hoekom slag ‘n geweldadige woord is.

Wat dink hy daarvan? Ek weet nie. Maar ek weet daar is ʼn Afrikaanse gedig/vertaling in City Lights Books. In San Francisco. (Al was ek nog nie daar nie, het ek darem ʼn T-shirt (glimlag). Hierso gekry http://www.citylights.com/ferlinghetti/ )

Hier is Ferlinghetti se oorspronklike vers:

   In Goya’s greatest scenes we seem to see

   In Goya’s greatest scenes we seem to see

                                           the people of the world   

       exactly at the moment when

             they first attained the title of

                                                             ‘suffering humanity’   

          They writhe upon the page

                                        in a veritable rage

                                                                of adversity   

          Heaped up

                     groaning with babies and bayonets

                                                       under cement skies   

            in an abstract landscape of blasted trees

                  bent statues bats wings and beaks

                               slippery gibbets

                  cadavers and carnivorous cocks

            and all the final hollering monsters

                  of the

                           ‘imagination of disaster’

            they are so bloody real

                                        it is as if they really still existed

 

    And they do

 

                  Only the landscape is changed

 

They still are ranged along the roads   

          plagued by legionnaires

                     false windmills and demented roosters

They are the same people

                                     only further from home

      on freeways fifty lanes wide

                              on a concrete continent

                                        spaced with bland billboards   

                        illustrating imbecile illusions of happiness

                       

                        The scene shows fewer tumbrils

                                                but more strung-out citizens

                                                                     in painted cars

                               and they have strange license plates   

                           and engines

                                           that devour America

                                                  (Lawrence Ferlinghetti)

So lyk my vertaling:

In Goya se grootste tonele sien ons skynbaar

In Goya se grootstetonele sien ons skynbaar

                                                  die mense van die wêreld

       presies wanneer hulle vir die eerste keer

                                 vir die titel ‘ lydende mensdom’

                                                          kwalifiseer  

          Hulle worstel op die bladsy

                                       wanhopigverwoed

                                             in onweerlegbare beproewing

Opgehoop

               kreunend by babas en bajonette

                                                             onder betonhemele

         in ʼn abstrakte landskap met gebarste bome

     gebuigde beelde vlermuise vlerke en snawels

                                      gladde galge

                             kadawers en slagvere

         en die laaste gillende gedrogte

             van die

                      ‘verbeelding van rampspoed’

hulle is so vervloeks werklik

                                  asof hulle regtig leef

 

En werklik hulle leef

 

                    Slegs die landskap het verander

 

Hulle swerf nog op die paaie

        verpes deur vegters

                  gewaande windmeulens en mal haantjies

Dis dieselfde mense

                        net verder van die huis af

          op breë vyftiglaan-snelweë

                    op ʼn sement kontinent

                           uitgemeet in afgesaagde advertensieborde

                         wat imbesiele illusies van geluk illustreer

 

           Die toneel toon minder lykskarre

                                   maar meer bevange burgers

                                               in geverfde vuurwaens

               en hulle het vreemde nommerplate

en enjins                                         

                   wat Amerika verteer


Ek wonder nog steeds oor enkele woorde. Reël 19, byvoorbeeld. Moet ek sê: hulle is so verdomp werklik of is vervloeks goed genoeg? Is leggionnaires ridders of soldate of vegters, in die konteks van die gedig, die tydsverplasing en my taal? Het ek die balans behou tussen vryvertaling en nie te ver afwyk van die oorspronklike nie? Is werklik ʼn beter woord as eg? Ek dink nog daaroor.

Maar terwyl ek toe nou in die Google-boom rondklouter op Goya-takke, probeer ek sommer Andrei Voznesensky se gedig ook:

I am Goya

I am Goya
of the bare field, by the enemy’s beak gouged
till the craters of my eyes gape
I am grief

I am the tongue
of war, the embers of cities
on the snows of the year 1941
I am hunger

I am the gullet
of a woman hanged whose body like a bell
tolled over a blank square
I am Goya

O grapes of wrath!
I have hurled westward
the ashes of the uninvited guest!
and hammered stars into the unforgetting sky – like nails
I am Goya

                  (Andrei Voznesensky)

My vertaling:

Ek is Goya

Ek is Goya
van die verlate vlakte, deur vyandsnawels gepik
totdat my oogkaste oopkrater
Ek is smart

Ek is die tong
van oorlog, die sintels van stede
in 1941 se sneeu
Ek is hongersnood

Ek is die gorrelpyp
van ʼn gehangde vrou wie se lyk
beier soos ‘n klok oor die oop plein
Ek is Goya

O vrugte van vergelding!
Weswaarts werp ek
die ongenooide gas se as!
en kap sterre soos spykers in
die hemel se lang geheue
Ek is Goya

Ek sukkel nog met die vrou se lyk wat “beier” en “gehangde” voel ook nie heeltemal reg nie. Geen van die alternatiewe werk nog vir my nie.

Ek dink ek hou nogal van “vrugte van vergelding

Daarna het ek my eie Goya gedig ook geskryf. Maar ek weet nog nie hoe ek daaroor voel nie. Daai vruggie sit nog aan die tak vas.

René Bohnen. Sonder skroewe – ʼn kort beskrywing.

Sunday, April 6th, 2014

In 2011 is ‘n “Site Specific” in Plettenbergbaai aangebied deur stigterslede Strijdom van der Merwe en Anni Snyman –  die eerste van ʼn projek wat nou wyer blootstelling (en hopelik borgskappe) kry. Die goeie nuus is dat dit die status van ʼn biênnale sal aanneem en ʼn redelike hupstoot deur sakekamers sal kry. Die borg van die eerste Site Specific, getitel “The Land is the Canvas”, was die Beacon Island oord en hulle het na afloop van die projek die BASA prys gekry vir steun aan die kunste en die omgewing. In 2013 is die tweede Site Specific in Plettenbergbaai aangebied, onder die titel “Sculpting the Earth”. Hieruit het ʼn publikasie vir Strijdom van der Merwe voorgevloei – ʼn versameling foto’s wat deur Protea Boekehuis in boekvorm uitgegee is.

Tydens die 2013 projek, het Chris Reinders ʼn landkunskursus van Simon Max Bannister bygewoon en daarna besluit dat hy ʼn landkunsgebeurtenis in Johannesburg wou aanbied. Hierdie gedagte het nou gestalte gekry in die vorm van Site Specific Jozi Land Art wat die afgelope week in die Emmarentia Botaniese Tuin plaasgevind het.

Soos sinkronisiteit dit wou hê, lees ek vroegoggend aan Susan Smith se pas verskene artikel oor aspekte van eko-poësie, voor ek die pad vat in die rigting van Emmarentia. (Lees hier: http://www.litnet.co.za/Article/ekokritiek-en-die-nuwe-materialisme-n-ondersoek-na-die-nuwe-materialisme-in-enkele-gedigte)

 Die kunstenaars het maar pas begin toe ek in die park aankom – ek moes ook soek na hulle, want die groter, lawaaeriger aktiwiteit is die aanbou van verhoog, toiletgeriewe, tente en allerlei vir die UB40-konsert wat ook in aantog is. Maar die paadjies lei my na stiller grasperke, waar ek die eerste kunstenaar raakloop: Blessing Ngobeni, wat besig is om ʼn totemagtige grasgodin te maak. Sy het vyf bene. Ons raak aan die gesels, Blessing vertel my dat die mens te verwyderd van die natuur is en ek probeer Susan Smith se artikel vir hom parafraseer (ʼn onbegonne taak, aangesien ek a bear with very little brain is). Dit tref my dat Landkuns en eko-poësie so langs dieselfde voetpaadjies enerse dinge bedryf. Aangesien almal in die park se kunswerke nog in wording is, veroorloof ek my onklaar verse in my gedagtes – verse wat seker maar onklaar sal bly:

Every building is a barrier

between me and my mother,

every brick is a burning bridge

Walking in a botanical garden

amongst swallows and sculptors

each tree becomes a cord

back to an umbilical

beginning

 Mense het nie vrye toegang tot die natuur nie, sê Blessing Ngobeni. Nee, beslis nie in die stad en in Sandton nie, stem ons saam. Alles is toe onder teer en sement. Die res is toe onder misdaad. Maar Blessing se godin met die vyf voete haal tog iewers asem onder die grond. Aan haar meterslange arms hang grassfere en dennebolle, sy het vere vir hare. Sy nooi jou om weer deel te word van die woud.

Mense het mekaar nodig, net soveel as wat hulle die omgewing nodig het – trouens, mense is mekaar se omgewings; mens en omgewing is een groot objek; mens en plek is een groot objek; mens en natuur is een groot objek.” skryf Susan Smith in haar reeds genoemde artikel. “Ekologiese denke gaan nie net oor niemenslike objekte nie, maar het te doen met my en jou. Ons is gewoond daaraan om te sê dat ons in die wêreld woon, en ons sien die wêreld en realiteit as die agtergrond van die toneel waarin ons self die hoofrol speel. Ons praat oor die natuur as iets wat elders is, waarheen ons moet gaan. Wat nodig is, is dat ons onsself begin sien as deel van die objek, as die objek self. Ons leef binne-in ’n objek, ons bevind ons in ’n massiewe, gedurig veranderende, bewegende objek, waarin alle dinge saambestaan.”

Landkuns is vandag  ietwat beter bekend as twee dekades gelede toe ek deur Strijdom van der Merwe daarvan uitgevind het. Ook neem al hoe meer kunstenaars wêreldwyd op die een of ander wyse deel aan installerings en uitstallings wat Landkuns bevorder of daarmee in gesprek tree.

 Anni Snyman neem ook aan hierdie Jozi se Site Specific deel. Ek kry haar ʼn hele ent van Blessing af, waar sy noukeurig bou aan ʼn Janfrederik van gekleurde blare. Die geel, bruin, rooierige en swart blare is opgetel oral in die Emmarentia tuin en word gepak om soos vere te lyk. Sommer net omdat daar ʼn janfrederikwyfie is wat in daardie kolletjie onder die bome haar tuiste gemaak het – om sodoende die “site specific”-gedeelte gestand te doen. Thaga’s Place, noem sy haar blaartekening. Later het die “guerilla kunstenaar”, Jesse Doucha, die woorde “This too shall pass” bygevoeg.

Plant

‘n gedig van gras

tussen bottels en papier

van gister se pieknieks en bier

Anni Snyman se Thaga’s Place

Een van die aspekte van Landkuns is dat slegs natuurlike materiaal gewoonlik gebruik word in die konstruksie van die kunswerk. Algaande verweer en verdwyn die kunswerk dan ook, soos tyd en die natuur sy (haar?) gang gaan. Anni gebruik ʼn gompasta van suiker en meelblom om die blare bietjie te anker sodat die geringste briesie nie die onvoltooide voëllyfie wegwaai nie. Die suikermengsel sal ook insekte lok wat op hul beurt ekstra kos verskaf aan die voëls wat op die grond wei.

Woordpolle is wurmkos

sillabes op stingels

wyk voor

kiewietkuikens

Ek kry Moira McMurray woes aan die opdraande uitstap met reuse blare (Delicious Monsters – bly maar ʼn heerlike naam vir ʼn plant) en piekniekmandjie. Twee dae later sou ek haar kunswerk sien: ‘n Vrou met ‘n groen romp en hande soos saadbakkies waaruit die volêls reeds eet. Met oop arms staan sy daar, hoër as die baba-geelhoute, gereed om een te word met die herfsdag.

Op Angus Taylor se reuse kop van dekgras – hoër as wat ek lank is – het kraaie ook alreeds begin nesmaak. “Belated Wake II”, heet hierdie kunswerk. Dit is aan die Emmarentia tuin geskenk en is deel van Taylor se groep werke wat bestaan uit reuse figure wat vanuit die grond “verskyn” of “voortkom”. Verder aan, in gedeeltelike skaduwee, wei hadidas rustig saam met Gordon Froud se lewensgrootte grasrenoster. Dit laat my by die huis gaan loer in Diorama van Johann Lodewyk Marais:

SWARTRENOSTER

Diceros Bicornis

 

Die heel vroegste sien van die renoster

is telkens in fyn besonderhede

en met verwondering beskryf en só

staan Ian Player se eerste eenhoring

groot en grys in die oop bosveld en stap

verder weg uit herinnering se wei.

 Van die soliede na die eteriese – Izanne Wiid se rooi vlinders wat teen die bome se stamme opdwarrel, heelwat verder weg van die res, waar dit al heel stil raak. Izanne het navraag gedoen oor die bas van bome en hoe die afstroop daarvan lewe en dood beïnvloed. In die Antieke Grieks is die woord vir skoenlapper “psyche”, vertel Izanne my. En daarom, sonder om té akademies te wil raak of té veel betekenislae te wil inwerk, het sy besluit om hierdie stukkie van die tuin te omskep in ʼn “secret garden” vir elke persoon se eie interpretasie en genieting. Versigtig verwyder Izanne baie dun lagies bas in die vorm van ‘n vlinder, met ‘n klein boortjie (dit help seker dat sy in haar “ander lewe” ‘n tandarts is!). Hierdie vlindervormpies word dan rooi gekleur. Dit is stadige, rugbrekende werk, maar hoe wonderlik om die totale eenwording van kuns en boom waar te neem, so skielik, onverwags, waar vlamrooi vlinders jou omring as jy tussen die grys stamme stilstaan.

Izanne Wiid

Die tuin is groot en daar is baie kunswerke. Volstruiseiers hang soos klein bleek ruimtetuie aan ‘n eksotiese boom. Binne-in elke eier is ‘n handjievol inheemse saad. Wanneer die eiers eendag afval en breek, sal daardie saadjies hopelik op vrugbare grond van en begin groei om sodoende die inheemse plantegroei te herstel.

Uiteindelik word ons bewus van die wêreld om ons juis wanneer ons op die punt is om dit te verloor; ons ken en herken dit wanneer dit verlore is.” skryf Susan Smith. En in Diorama vind ek weer:

 “What were you looking for? On this landscape?

You were the most audacious species!”

 

Tot hierdie stof sal ek terugkeer.

                                               (“RIV” uit Diorama, Johann Lodewyk Marais)

 Oor die grense van verskillende mediums heen vind die dialoog plaas. Strijdom van der Merwe het homself in gesprek met Reney Warrington as volg uitgedruk:  “Kommentaar op die samelewing” moet miskien gedefinieer word. In Suid-Afrika sal dit altyd gesien word as politieke kommentaar en indien jy nie deelneem aan “struggle”-kuns of simpatie het daarvoor nie, dan word jou werk gewoonlik nie as kommentaar-lewerend gesien nie. My “stem” is dus nie een wat praat van politiek of armoede of rassekwessies nie. Tog sien ek landskapkuns soos dit vandag beoefen word, beslis as kommentaar op ekologiese en natuurkwessies. Ek stal nie ’n pasboek van die sewentiger jare uit nie, maar die subtiele hantering van die natuur as kunsmateriaal en -medium het wel ’n baie definitiewe, diepliggende boodskap. (Lees die volledige ondergoud hier: http://www.litnet.co.za/Article/strijdom-van-der-merwe-gesels-oor-site-specific-landkuns)

 Hierdie sentiment word weer en weer ge-eggo, in baie lande: Landkunst brengt land, stad, natuur, erfgoed, cultuurhistorie en hedendaagse kunst samen. Op eigentijdse en historische ontmoetingsplekken, op plaatsen waar bewoners en bezoekers, recreanten en passanten elkaar tegenkomen.”  (lees gerus wat in die Brabant gedoen word  : http://www.bkkc.nl/bkkc/nieuws/februari-2012/landkunst-in-bidbook-2018brabant) 

Huis toe voor die spitsverkeer ernstige afmetings aanneem – ek ry met onklaar gedagtes en onvoltooide verse, foto’s van vere en ‘n janfrederikkie. Want alles is organies. Soos kompos.

René Bohnen. Nuwe boek, nuwe besem, New Coin.

Thursday, November 14th, 2013

Off-ramp ISBN 978-0-9869982-3-2

Die virus tref haar tussen twee verkeersligte naby Wespark. Sy sweet en bestuur, sweet en bestuur, konsentreer deur die spitsverkeer en die yskoue prikkels in haar voete en hande. Genadiglik maak sy dit tot by die parkeer-area, sluit die motor en storm dramaties verby die wit tafels met die wynglase, verby die silwer ysemmer en camembert-broodjies, tot by die badkamer. Hoe lank bly sy daar, nee sy weet nie – deur die venster hoor sy vaagweg hoe lag en gesels die gaste wat nou reeds aangekom het vir die boekbekendstelling. ʼn Skoonmaker kom in met emmer en mop, verbaas om ʼn vrou op die vloer te sien lê naby die wasbak. Is daar fout, wil sy weet. Nee, antwoord die vrou, ek is doodreg, ek het kom foto’s neem. Ek voel soos ʼn karakter in ‘n film van David Lynch, dink sy. Of in een van Gary Cummiskey se kortverhale.

Die digter, Arja Salafranca, voer gesprek met die digter Gary Cummiskey oor sy eerste prosaversameling, Off-ramp.(Ten spyte van die weer, is ons ʼn boekwinkeltjie vol mense. Net ʼn paar het op die nippertjie laat weet hulle kan ongelukkig nie meer kom nie, hulle en die kinders en die eggonote is die hele wêreld vol naar. Jip, dink ek.) Hoe maak ʼn digter die sprong na die skryf van kortverhale, wil Arja by Gary weet. Sy antwoorde is insiggewend en hy bieg dat hy moet terugskarrel van sy gevleuelde woorde elf jaar tevore, toe hy verkondig het dat digters moet wegbly van prosa skryf.( Ek tel ses ander digters in die gehoor. Hulle is ook diegene wat later vrae vra tydens die “oop mikrofoon”.)

Gary vertel dat hy aangetrokke is tot die “onvertelde” in ʼn kortverhaal – dit was juis nie op die bladsy verskyn nie. Hy deel sy siening van alternatiewe realiteite, wat afspeel in die paadjies net langs die snelweg van die lewe. Vandaar dan ook die titel van hierdie versameling kortverhale van hom. Een verhaal is gekonstrueer rondom ʼn man wat droom dat hy ʼn moord gepleeg het. Wanneer hy wakker word is hy beangs omdat hy nie kan onthou of dit alk werklik gebeur het nie – hy besef dat hy die vorige nag in besope of bedwelmde toestand deurgebring het. Naderhand weet die leser ook nie meer of die moord werklik is nie en die spanning bou op… In ander verhale is daar dalk ‘n bom op die bus, hou afloerders iemand dop, val ‘n kind deur wit lug.

Arja Salafranca en Gary Cummiskey

Cummiskey is bekend vir sy surrealistiese aanslag in sy gedigte en daardie aangetrokkenheid is ook in sy prosa te bespeur. Hy erken ook dat Lynch en Antonioni van sy gunsteling fliekmakers is, dat hyself sekere outobiografiese inligting tot die uiterste grense druk met die invoeg van bisarre, maar moontlike, verbeelde insidente en karakters.

Off-ramp mag dalk die begin wees van ʼn langer reis met prosa, voorspel Arja Salafranca, voordat sy aankondig dat die nuus pas ontvang is: Gary is aangestel as die nuwe redakteur van New Coin, die poësiepublikasie van Rodes Universiteit. Die raad reik die volgende verklaring uit: “New Coin was founded in 1965 by Guy Butler and Ruth Harnett and is published twice a year by the Institute for the Study of English in Africa (ISEA) at Rhodes University. Cummiskey will work with an editorial board made up of the four poets who teach on the Rhodes MA in Creative Writing course: Mxolisi Nyezwa, Brian Walter, Joan Metelerkamp and Robert Berold – the latter two past editors of New Coin.”  Berold, die vorige redakteur, sê ook: “Gary Cummiskey has a good grasp of the range of voices and sub-cultures that make up South African poetry in English. His approach to publishing is the only way to keep poetry vital. His appointment is good news for South African poetry.”

Die Junie en Desember 2013 uitgawes van New Coin is nou aan intekenare beskikbaar teen R170 vir albei. Teken in by die e-pos adres:  isea@ru.ac.za of bel 046 603 8565. Ek blaai deur een van die eksemplare op die winkelboekrak en ek sien ook Afrikaanse werk daarin. Ek weet dat Cummiskey se verse deur ander digters vertaal is in Frans en in Grieks, vir versamelbundels in daardie lande en dat hy ook ingesluit is by publikasies wat in 2013 in Indië verskyn het. Sy bereidwilligheid om oor grense heen te werk is nie net ʼn element van sy prosa nie, dit is ook deel van sy lewensinstelling en een wat hy sekerlik sal deurvoer in sy redakteurskap van ʼn poësiejoernaal.

Mense staan in groepies rondom die wyn en southappies, maar ek en ʼn blondekopvrou trek ons skoene uit en hardloop deur poele water uit na ons motors toe. Dan ry ek die tien, vyftien killometer huis toe. Die storm is elektries. Dit reën, dit hael. Aanhoudende weerligstrale dans teatraal oor die stad. Ek voel alweer verskriklik naar. Al die motors ry baie stadig. Dit is so ʼn soort nag. Enigiets kan gebeur.