Wicus Luwes

Wicus Luwes. Die metafoor as geneesmiddel

Tuesday, February 28th, 2017

Die geheim lê daarin om die probleem vas te maak aan iets konkreets. Die konkrete entiteit kan aangepak word op konkrete maniere. Digkuns het ‘n spesiale plek in die geneeskuns. Daar is die ritme wat staan teenoor lewensritme; die herhaling wat staan teenoor patrone in ons lewe. Ek wil met hierdie rubriek egter aandag gee aan die belangrikheid van die metafoor. Die metafoor stel een ding gelyk aan ‘n ander. ‘Gelyk aan’ is miskien ‘n sterk stelling. Dit is nie altyd waar dat een ding wat ‘Soos’ ‘n ander is, daaraan gelyk gestel kan word nie. Daar is slegs sekere eienskappe wat ooreenstem.

Die mens as pasiënt wat sielkundig behandel word, het dikwels ‘n sekere manier waarop hul oor die probleem sou praat. Die probleem word ‘n metafoor. Die digkuns kan hier ‘n belangrike rol speel in die interpretasie en behandeling van die metafore. Daar is heelwat informasie op die internet oor behandeling deur middel van poësie. Daar is egter ‘n ander invalshoek wat ek misgekyk het: die geneser kan digkuns gebruik tydens die proses van diagnose. Ek het hierdie moontlikheid misgekyk en dit maak vir my sin, aangesien ‘n geneeskundige soms fisiese en abstrakte grense moet kruis om by die oorsaak van die probleem uit te kom.


Ek (WL) het ‘n paar vrae oor die gebruik van metafore aan Louis Awerbuck (LA), ‘n kliniese sielkundige, gestel. Awerbuck is mede-aanbieder van die radioprogram, ‘Wie is Ek met Louis en Lise’ op RSG. In die program word luisteraarsvrae bespreek.

WL: Hoe kan die gebruik van metafore ‘n mens help om probleme en spesifiek emosionele probleme te identifiseer?
LA:     Mense sukkel oor die algemeen om hulle eie probleme te identifiseer, en meestal is een van die eerste take van ’n psigoterapeut om die persoon te help om die probleem in verstaanbare taal te beskryf.  Dit is dan die taak van terapeut om die persoon se beskrywing te herdefinieer in ’n kliniese beskrywing. So word daar byvoorbeeld in sommige kulture gereeld die metafoor: “my bloed is donker/swart” gebruik om ’n teneergedrukte gemoedstemming te beskryf.  Kliniese definisie: depressie.

WL: Hoe kan die gebruik van metafore ‘n mens help om probleme te behandel?
LA: Baie keer so eenvoudig as deur middel van beelding.  Om byvoorbeeld angs as ’n monster met spesifieke eienskappe te verbeel en te visualiseer, maak dit makliker om jouself byvoorbeeld te visualiseer as superheld wat die  monster oorwin.

WL: Ek hoor dikwels mense sê: “Ek wonder hoekom ‘n sekere probleem oor my pad moes kom.” Hoe kan ‘n mens die ‘pad’-metafoor gebruik om ‘n situasie in iets positiefs te omskep?
LA: Dit is seker een van die mees bekende metafore vir geestelike of sielkundige groei. Daar word daarna verwys as “die pad wat ek moet stap”,of “haar pad wat sy self gekies het”.  ’n Pad-metafoor kan baie keer kragtig gebruik word deur dit as ’n tydlyn van mens se lewe aan te dui (“lewenspad”), en dan van buite af (soos ’n toeskouer) daarna te kyk. Sodra afstand verkry word van die  metafoor is die persoon nie meer deel van die metafoor nie.

WL: Hoe kan ‘n metafoor ‘n mens help om eienaarskap van ‘n probleem te neem?
LA: Deur ’n subjektiewe emosionele ervaring te omskep in een konsep, is om beheer te kan neem. As mens ’n unieke metafoor vir jou lyding kan skep, help dit met die gee van betekenis. Betekenis in sy kern is die fenomenologie van waarom en hoe jy ervaar wat jy ervaar. Wat kan meer eienskap as dit gee?

WL: Kan die skryf van ‘n gedig dieselfde uitwerking hê as ‘n kind wat byvoorbeeld sy omstandighede sou teken?
LA: Verseker. Net soos onbewuste indrukke, word taal ook onbewustelik gevorm.  Die kreatiewe proses van dig leen homself baie sterk tot ’n terapeutiese omgewing, om eerstens afstand te kry om te kan beskryf hoe die self met ’n krisis omgaan, asook om ’n unieke metafoor te skep vir die probleem wat help met eienaarskap.

WL: Watter gedigte of watter digter se werk het al ‘n emosionele impak op u gehad?
LA: Daar is vele, maar sonder om te weet hoekom: Kipling, Watermeyer, gert vlok nel, Breytenbach. Wat is mooier as: “vier sterk mure teen die suiderwind, my swartoog vrou, my blondhaarkind” (Watermeyer)

WL: Watter raad sou u vir mense gee om metafore / digkuns te gebruik om probleme aan te spreek?
LA: Vir die wat vaardig is in digkuns sou die aanbeveling wees om ’n metafoor te skep waarmee objektief en subjektief geïdentifiseer kan word: jy moet dit kan “sien”, maar ook voel.
Ek besef al meer dat die bespreking en skryf van metafore en by implikasie, gedigte, ‘n manier is om die groter prentjie beter te verstaan. Uit de antwoorde het ek as leek geleer dat die losmaak van die metafoor net so belangrik as die vasmaak is. Die afstand tussen die pad-metafoor en die padgebruiker is ‘n groot deel van die genesingsproses. Ek het in die inleiding daarna verwys dat die vasmaak van die metafoor die geheim is en miskien (net miskien) is die losmaak van die metafoor een van die moontlike oplossings van daardie geheim.

 

wat is beweging anders as om verwantskappe
te skep? om te voel daar is landskappe
en omgewing? indien daar iets buite
my kon wees, iets anderkant die ruite
waaraan vingertoppe mag raak om op die lappe

te bring, dan moet dit tog beteken ek bestaan?
gestel ek kan myself verbeel, dan groei en taan
die lewe immers, is daar geverfde skuite
vol laggende mense soos trane teen die ruite
en lees ek my naam soos ‘n wimpel oor die maan.

engel, jy wat as flikker donkerte tussen ooglig en lig
oor getye van die hemelruim vlug met my gesig:

praat met my, laat my as diepleefduiker na die wrak afdaal
om te sien hoe klik en klak woorde kaal soos taal

– deur breyten breytenbach uit ‘die beginsel van stof’ (human & rousseau)

 

 

*** ‘n Groot dankie vir die deelname aan u, Louis Awerback ***

Verdere leesstof:
http://www.wie-is-ek.co.za
http://www.cleanlanguage.co.uk/articles/articles/23/1/Mind-Metaphor-and-Health/Page1.html

 

Bronne:
1. Skildery: Personal Values deur Rene Magritte

Wicus Luwes. Tussen twee vure

Saturday, January 28th, 2017

vuurhoutjie

Vuur is ‘n lewende voorwerp – dit haal asem, dit beweeg en op ‘n sekere vlak plant dit  voort. ‘n Mens moet al hierdie dinge in gedagte neem as dit jou doel is om ‘n vuur te blus. Ek dink terug aan die verwoestende vure in die Noord-Kaap en Vrystaat van ongeveer vyf jaar gelede. Brandslaners het gesê dat hulle moes draf om langs die vuur te bly – die sterk winde en die droë gras, het die vuur gevoed. Die rook het vir twee dae die son uitgedoof in die area waar ek gebly het en die lug bruin gekleur. Laasjaar het ons brandbestryders selfs in Kanada vure gaan probeer blus. Vanjaar is dit die Wes-Kaap wat alles verloor. Ek sien die koerantberigte van al die kultuurskatte, plase en huise wat in vlamme opgegaan het. Die lewensverlies van mens en dier gaan ook nie ongesiens verby nie.

Ek besef verder dat die vuur definitief aan die vereistes van ‘n lewende wese voldoen: dit verwoes. Die vuur maak herinneringe aan die verskroeide-aardebeleid los. Ek het op skool geleer dat dit in die Anglo-Boereoorlog teen die Boere ingespan is. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Rusland vir Hitler tydens sy opmars gestuit deur haar eie oeste en kos aan die brand te steek.

 

3 Maniere om ‘n vuur te blus

Verwyder die voedingsbron

Vuur het suurstof nodig om asem te haal en brandbare items om te verorber. Brandstelsels vervang die suurstof met gas wat nie vlambaar is nie wanneer sensors die vlam of rook optel. Brandbare of ontvlambare items moet ook verwyder word om te verhoed dat vuur ontstaan of verder versprei. Water of brandblussers smoor die vuur se asemhaling.

Die vraag is wat die voedingsbron sou wees vir ‘n vuur wat in die gedagtes van iemand sou woed.

Verwyder die roete waarlangs dit loop

Daar behoort jaarliks brandpaaie gemaak te word. Die probleem is ongelukkig seisoenaal en vlamme hou van droë veld. Deur ‘n pad vir die vlamme te maak kan die roete van vuur so hopelik beheer word. Die plan sou wees dat die vuur homself (of haarself) in ‘n hoek vasloop en so uitwoed. Trekkers word ook gebruik om stukke veld om te ploeg wanneer die vlamme reeds op pad is. Dit sou die roete van die vuur dalk meer hobbelrig maak en dalk veroorsaak dat dit stadiger versprei.

Die vraag is wat die roete van die mens se gedagtevuur sou wees. Dit sou help as ‘n mens dit nie sou stuit nie, maar eerder kanaliseer.

Hou op om ekstra vure te maak

Dit klink eenvoudig en dit is miskien teenstrydig met die maak van voorbrande, maar dit is belangrik om daaraan te dink. Die spreuk lui: ‘fight fire with fire’, maar omdat die vuur ‘n lewe van sy eie het, is dit nie altyd wenslik dat ‘n mens vuur met nog vuur aan moet val nie. Daar is reeds genoeg brandstigters en veels te min brandbestreiders.

Onwillekeurig dink ek terug aan die brand wat Klein Libertas in puin gelê het. Ons kombuistaal se historiese skatte het ook onder die Wes-Kaapse vlamme deurgeloop.

 

 

Die swart kombuis

die swart kombuis het balke
die mure is berook
in ‘n groot gekraakte erdebeker
woon dags die nagskof-spook

die swart kombuis het luike
skeefgetrek en toegesluit
aartappels lê die werf rond
skedels wat loop oog uit

die vensters het geen uitsig
die werf die lug het geflou
die grond is vaal puimpoeier
die aartappels is grou

geen mens beweeg hier binne
geen mens werk op die werf
êrens tussen middag en skemer
het die aarde se lug gesterf

‘n middag hoe lank gelede
die swart kombuis is oud
daar was nooit somer-sonlig
die swart kombuis is koud

daar hang ‘n snaakse skottel
met ‘n riffel-hingsel aan ‘n riffel-rand
en ondertoe twee gate
wat loer aan die een kant

het hekse hier gebak en brou
die swart kombuis die swyg
daar in die hoek lê ‘n kat-skelet
die swart geheim bly dig

deur Sheila Cussons

tarkovsky_mirror_fire1

Indien jy egter nie die vuur geblus kry nie, het jy heel waarskynlik te doen met ‘n onblusbare vuur.

3 Onblusbare Vure

Dit is seker ironies dat ek ‘The Mirror’ gesien het tydens my verlof vroeër die jaar. Dit is ironies omdat ‘vuur’ ‘n onderliggende (of liggewende) tema van die film is. Andrei Tarkovsky se Zerkalo (‘The Mirror’) is egter nie slegs ‘n tradisionele film nie. Dit is wel op film vasgelê, maar dit volg nie die definisie van ‘n tradisionele film of fliek nie. Dit word beskryf as herinneringe. Dit word beskryf as visuele digkuns. Dit is ‘n simbool. In onderhoude is Tarkovsky dikwels gevra na die betekenis of simboliek van vuur in sy films.

Tarkovsky het geantwoord dat alhoewel hy erken dat vuur, water en sneeu dikwels voorkom in sy films, dit nie spesifieke betekenis het nie. Hy het homself ook daarvan weerhou om die beelde of simboliek vir die kyker te interpreteer of te vertaal.

 

I am a candle. I burned at the feast.
Gather my wax when morning arrives
so that this page will remind you
how to be proud and how to weep,
how to give away the last third
of happiness, and how to die with ease—
and beneath a temporary roof
to burn posthumously, like a word.

deur Arseny Tarkovsky

 

Die vuur van jeugtyd-herinneringe

Die eerste groot vuur in ‘The Mirror’ wys hoe ‘n skuur in die platteland afbrand. As agtergrond hiervoor is die Russiese bevolking se vlug na die platteland in ‘n poging om die Sovjet-opstande vry te spring. Dit word ook later duidelik dat dit dieselfde jaar was waartydens die seun, Alexei, se vader die gesin verlaat het. Die sielkunde probeer dikwels huidige probleme koppel aan jeug-gebeure, soos metafore aan die beelde wat dit voorstel. (My eie jeug-vlam neem my terug na die keer wat my Pa my as vyfjarige onder hande geneem het toe ek skelm met vuurhoutjies in my kamer begin speel het.) Die rol van die jeugtyd-vuur is onmiskenbaar. Ek stel dit hier as onblusbaar, maar dit is eintlik nie die waarheid nie. Die vuur is wel blusbaar, maar die blus daarvan op 5-jarige ouderdom of 85-jarige ouderdom kan tot veel meer lei as net die blus van ‘n vlam.

 

Die vuur van geloof

‘n Spreuk uit die Viatka-streek in Rusland lui: ‘n Stoof in die huis is dieselfde as ‘n altaar in die kerk: Brood word daarin gebak. Die Ortodokse Christelike geloof, soos uit die Russiese tradisie, is vol ikone of simboliek. Slawiese tradisie het ‘n prent van Maria, Moeder van God, teenoor die stoof in die huis gehang. Maria sou die ‘moederhart’ wat klop in die ‘vaderhuis’ voorstel. Die boek ‘All Russia is Burning!: A Cultural History of fire and Arson deur Cathy A. Frierson wei meer hieroor uit.

‘n Prominente beeld in die film wys hoe Alexei se moeder haar hare was in ‘n emmer. Die kyker word bewus dat dit eerder ‘n droombeeld is wanneer stukke van die plafon begin val en water van die dak af instroom. Sy moeder kyk ook vir haarself in ‘n spieël en sien later ‘n ouer dame. Ek het eers vermoed dat hierdie beeld die vrou se veroudering / verval of fisiese agteruitgang sou voorstel, maar die vlam het my gepla. My internet-soektog na die betekenis het my na die Russiese Ortodokse tradisies geneem. Wat my egter die meeste opval is dat die Kommunistiese regering die film befonds het. Hulle het ook enige films met geestelike inhoud verbied. Die vuur in Torkevsky se film tart sonder twyfel die regering en bring geestelike simboliek na vore sonder om direk daarna te verwys. ‘The Mirror’ is aan die ander kant ‘n soort outobiografiese film en miskien moet ek meer kyk na die beeld as ‘n persoonlike ervaring van Tarkovsky as vorm van uittarting. Hoe dit ookal sy: Ons almal weet tog dat die beste wegsteekplek juis reg onder die neus is van die wat daarna soek.

tarkovsky_moder_vuur

Skermskoot uit ‘The Mirror’ met die moederhart wat klop in die vaderhuis (vlam in agtergrond en in spieël)

 

Andrei Tarkovsky se vader was ‘n digter en sy digkuns kry ‘n prominente plek in die film. Die vader, Arseny Tarkovsky, lees dan ook sy gedigte en bind die film, net soos die vlam, op simboliese wyse saam. Die outobiografiese aard van die film word gebou om kern-gedagtes / geheue uit Andrei Tarkovsky se lewe, maar eers by die lees van die gedigte het ek die film beter verstaan. Dit het my weer laat besef watter impak digkuns het op die manier hoe ons ook ons eie lewens onthou.

Die liefdesvuur

‘The Mirror’ wys ook hoe die hoofkarakter as seun verlief raak op ‘n rooikopdogter. Die tema is waarskynlik eersteliefde, maar die klein rooikopmeisie verskyn deur die film in verskillende tonele en haar beeld verskyn later in ‘n spieël as herinnering. Op ‘n sekere vlak wys die spieël hiermee elke kyker op sy of haar eerste liefde.

De(kon)struksie van vuur
Ons hou van die vlam, maar is bang vir die vuur. Ons hou ons hand uit na die vlam as ons koud kry in die winter. Ek is dankbaar vir die vlammetjie wat Tarkovsky se visuele poësie in my siel aangesteek het. Ek volg die Andrei Tarkovsky-garingdraad deur middel van die vuur. My gunsteling deel van ‘n vuur is die groen blare wat deurbreek wanneer alles dood en verwoes lê.

tarkovsky_vuur_hand_

Skermskoot uit ‘The Mirror’

Fire

Clear smoke,
a fire in the far off
haze of summer,
burning somewhere.

What is
a lonely heart for
if not
for itself alone.

Do the questions
answer themselves,
all wonder
brought to a reckoning?

When you are done,
I am done,
then it seems that
one by one

we can leave it all,
to go on.

deur Robert Creeley

Bronne:
1. Cussons, S. 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg
2. Internet. https://readalittlepoetry.wordpress.com/2012/05/05/fire-by-robert-creeley/
3. Metres, P. & Psurtsev, D. 2015. I Burned at the Feast: Selected Poems of Arseny Tarkovsky. Cleveland University Poetry Center

Wicus Luwes. 3 Seuns

Saturday, December 24th, 2016

kutlwano

Plattelandse Pietà
vir Kutlwano Garesape van Jan Kempdorp

ek wonder hoeveel gebreekte bottel
hul uit jou klein lyf moes haal –
stukke glas wat ‘n mal man
deur jou gesteek het

jy wat jou ma teen die
bottel en die stok verdedig het
is in klein gebreekte stukke
deur my gedagtes gesteek

jy vra vir ‘n laaste soen
en sterf
bebloed
in die arms van jou ma

aylankurdi
Waterdoop

die see is ‘n doopvont
wat jou naam
saam met die water
oor jou voorkop vee
soos ‘n predikant
se hand in die oggenddiens

ek doop jou Aylan Kurdi
in die laagwater
ek doop jou vlugteling
in die hoogty
van die oorlog
ek doop jou brander van sirië
wat uitspoel aan die kus van turkye

jy is ‘n bloeisel
en ‘n opslagloot
aan die bome
van die arabiese lente

manger
El Niño

‘n leë krip
altyd vol dou
in tye van droogte

 

Bronne:
http://www.sabc.co.za/wps/portal/news/main/tag?tag=Kutlwano%20Garesape
http://www.biblelandhistory.com/israel/manger-stone.html
http: //www.robertsharp.co.uk/2015/09/05/photo-aylan-kurdi/photo-04-09-2015-22-46-39/

Wicus Luwes. Art Deco in die reën

Friday, December 16th, 2016

surrey1

Ons ry deur Durban op soek na geboue wat in die Art Deco-styl gebou is. Daar is talle voorbeelde in die middestad. Daar is ook talle geboue wat steeds van die tweede vloer af boontoe die Art Deco-styl verteenwoordig, maar met nuwe funksionaliteit van spaza-winkels aan die onderkant. Art Deco het meestal tussen 1920 en 1940 hoogty gevier. Art Deco verteenwoordig post-Eerste Wêreldoorlog. Art Deco is ook die Groot Depressie. Art Deco is die pre-Tweede Wêreldoorlog. Art Deco is die Charleston. Art Deco is die Oscars.

surrey2

Foto: Surrey Mansions. Die gebou word deur baie mense as die kroonjuweel van Durban se Art Deco-styl beskou. Die woonstelblok het ‘n basis, middel en kroongedeelte wat baie ooreenstem met New York se trapsgewyse interpretasie van die styl. Die gebou is roomkleurig geverf, met rooi en groen pastelkleure wat die patrone uit laat staan.

 

Ou Gebou

Verweerde gebou, onbeskut op ‘n besige hoek,
leun ek agteroor met blouspieëlende oë,
weerloos teen die aantog van voetganger en motoris.

Liefs neem ek die lewe in breë trekke waar. Motors
in roomyskleure om skewe kerke. Vragmotors
belaai met karkasse of kopkool. Konvooie loteringe.
Bewyse van welvaart. Soms in parke
‘n somerstorm van stuiptrekkende plante. Daagliks
die kontrapunt van skoppelmaaie. Bewys van vrede.

Afkyk het ek afgeleer: net wie nog jonk is,
kyk met durf in die gesigte van mense.

A, dat die stropers kom om my oë uit te slaan!
Genoeg het ek gesien. Oorbodige bepeinsinge
bewaar in my kamers, ek, argief van gistergerigtheid,
oumensbewend onder my dun laag dagha.

deur Wilma Stockenstrom uit ‘Vir die Bysiende Leser’

 

bereacourt1

bereacourt2

Foto: ‘Berea Court’.  Die gebou is deur dieselfde span ontwerp as Surrey Mansions. Berea bied egter ‘n meer huislike en ruim gevoel. Die voordeure van die wooneenhede maak oop in ‘n ruim binnehof en het loodglaswerk wat tipiese Durban-tonele uitbeeld. Die sekuriteitshekke, wat later bygevoeg is, het die boustyl probeer handhaaf. Baie van die oorspronklike ligtoebehore is steeds in gebruik.

 

Art Deco is meer as net geboue. Dit is ‘n verkorte weergawe van Art Décoratifs. Art Deco is meubels. Art Deco is muurpapier. Ek sien dit dikwels in ontwerp-tydskrifte, maar nie meer so baie in gebou-ontwerpe nie. Deesdae probeer die ontwerpe wegkruip en saamsmelt agter plante en sonpanele. Ek sien ook baie boustyle en dakke wat by Japan leen. Die Suncoast Casino en vermaaklikheids-kompleks is wel ‘n nuwe gebou in Durban wat die Art Deco-styl laat voortleef. Daar het selfs onlangs ‘n groep uit Duitsland na die Suncoast Casino-kompleks kom kyk as deel van hul belangstelling in die besonderse boustyl. Durbandeco, ‘n groep wat hul belangstelling in Art Deco laat voortleef, dien as belangrike skakel om bewusmaking lewend te hou. Hulle het ‘n paar roetes deur Durban uitgelê om ander belangstellendes op die regte spoor te plaas. Ons het juis een van hierdie roetes probeer volg, maar is ‘n bietjie ingeperk deur die reënweer. Natuurlik kla ons nie oor reën in tye van droogte nie en ons het probeer om dit eerder tot ons voordeel te laat meewerk.

reen1

The Rain

All night the sound had
come back again,
and again falls
this quiet, persistent rain.

What am I to myself
that must be remembered,
insisted upon
so often? Is it

that never the ease,
even the hardness,
of rain falling
will have for me

something other than this,
something not so insistent—
am I to be locked in this
final uneasiness.

Love, if you love me,
lie next to me.
Be for me, like rain,
the getting out

of the tiredness, the fatuousness, the semi-
lust of intentional indifference.
Be wet
with a decent happiness.

deur Robert Creeley

gainsborough

Durban is ‘n fokuspunt vir Art Deco in Suid-Afrika, maar daar is ook ander plekke in die land waar heelwat in die Deco-styl gebou is. Springs is ‘n voorbeeld. Een artikel noem dit die weggooikind van Art Deco in Suid-Afrika. Ek vermoed dat talle stede of plekke wat tussen 1920 en 1940 ‘n opbloeitydperk beleef het, dalk met ‘n paar sulke geboue sou kon spog. Deco was/is ‘n internasionale beweging wat sy styl by baie plekke geleen het. Die opgrawings in Egipte en ontdekking van die Inka-kulture het ‘n invloed op die dekoratiewe elemente van Art Deco gehad. Staal-konstruksie, vervoer en meganisasie het Deco geïnspireer, maar is op sy beurt deur Deco beïnvloed.

Durban verteenwoordig verskillende metafore vir verskillende mense. Durban is Victoriaans. Durban is Art Deco. Durban is elke styl wat daarop gevolg het.  Durban is ‘n warm blyplek vir boemelaars in die winter. Durban is seevakansies.  Durban is Gandhi. Durban is die Britse Empire. Durban is Zoeloeland. Durban is ‘n hawestad. Baie skepe doen in Durban aan om vragte op te laai en om hul vragte agter te laat.

westvilleswembad

Foto: Art Deco-hek by die Westville publieke swembad

cheviotcourt

Foto: Cheviot-gebou

manhattancourt

Foto: Manhattan Mansions. Manhattan is ‘n voorbeeld van ‘Style Moderne’. Die gevoel van ‘n masjien, passasierskip en trein word geskep deur die chroom-afwerkings en patryspoort-vensters.

 

Vir my verteenwoordig Art Deco die mens se innerlike konflik tussen funksionaliteit en dekoratiewe elemente. Dit is ‘n soort konflik wat egter die beste in ons na vore bring. Terwyl ons deur die stad ry, sien ons selfs ‘n paar Art Deco-woonhuise. Ek wonder hoe historici ons huidige leefruimte en boustyle gaan beskryf as hul ‘n paar jaar van nou af daaroor gaan besin. Art Deco is ‘n kombisasie van verskeie invloede en was nie bang om nuwe dekoratiewe elemente aan ou style te hang nie. Die konflik tussen funksionaliteit en dekor woed ook tussen ontwerper en bouer. Ek dink die grootste geskenk wat ‘n ontwerper kan kry, is ‘n bouer wat sy droombeeld in ‘n realiteit kan omskep.

 

Poetry is not only dream and vision; it is the skeleton architecture of our lives. It lays the foundation for a future of change, a bridge across our fears of what has never been before. – Audre Lorde

 

Spelreëls

Elke landskap het sy eie aard
sy eie onverbiddelike reëls.
Weet dit vooraf, reisiger:
jy’s altyd ontoereikend toebedeel.

Vir vuur uit spuwende vulkane,
vir eindeloosheid op die vlak.
Jou stamina, jou krag is minder
as die hoogtes en die dieptes
van plekke wat gemaak is,
wat gemerk is deur orkane.

Jy, een van mindere statuur,
hou tog by jou postuur!
Besoek liefs die domeine
wat mense self gemaak het,
dié wat herkenbaar is in woorde,
kleure, klanke en in lyne.

Ook hierdie landskap het sy eie aard
sy eie onverbiddelike reëls.
Ek, reisiger, weet regdeur:
ek is altyd ontoereikend toebedeel.

deur Heilna du Plooy dui ‘In die Landskap Ingelyf’

 

Bronnelys
1. Internet. http://users.iafrica.com/a/an/andryn/index.htm
2. Internet. http://www.durbandeco.org.za
3. Internet. https://www.poetryfoundation.org/poems-and-poets/poems/detail/42837

Wicus Luwes. Koorsang as behandeling vir vals stemme

Sunday, December 4th, 2016

koor

Ek het onlangs op ‘n interessante woord afgekom. Die woord het aan die een kant te doen met sang en aan die ander kant met beurte. Ons besef nie eintlik dat baie van ons daagliks daarby betrokke is nie. Dit klink miskien ‘n bietjie vreemd, aangesien dit nie algemeen gebruik word nie. Die woord, antifoon, het ek in ‘n woordeboek raakgeblaai. Ek het al gehoor van koorsang en beurtsang. Ek het al verskillende name vir ‘n koor gehoor: Cantata of Ensemble. Duo, Trio of Kwintet dui die hoeveelheid lede van ‘n groepie musikante of koorlede aan. Koorgroep, musiekgroep of sommer net groep. Die naam van sulke groepe bly somtyds deur geslagte onveranderd.

Die woord, antifoon, verwys na ‘n vorm van beurtsang. As ek ‘n prentjie van antifoon-beurtsang in my kop sou skets, dink ek terug aan my skooldae. Die onderwyser of skoolhoof sou tydens saalbyeenkomste ‘n inleiding gee en ons as leerlinge sou dan die skool se leuse soos ‘n spreekkoor opsê. Miskien selfs die skoollied of volkslied wat sonder aankondiging daarna sou volg. Dit is belangrik vir ‘n spreekkoor om gelyk te praat. Dit beteken eintlik dat die koor die oomblike van stilte of pouse reg moet kan hanteer. ‘n Spreekkoor kan goed werk as deel van beurtsang. Die definisie van beurtsang sou seker wou hê dat die een groep of sanger om die beurt moet sing terwyl die ander stil moet bly. Beurte is mos maar ‘n snaakse ding. Ons hou daarvan om uit ons beurt te praat.

Ek probeer ook dink of beurtsang op ander maniere plaas kan vind. Ek was nou al in ‘n paar kore gewees, nie omdat ek mooi sing nie. Dit is maar net die ding met klein dorpies – jy raak betrokke by kore en fondsinsamelings voordat jy ‘ensemble’ kan sê. Die basiese indeling van stemme is as volg: soprane, alte, tenore en basse. My kennis van koormusiek is maar gebrekkig, maar ek gaan in my leketaal die opset probeer verduidelik: Soprane sing gewoonlik die wysie van die lied. Alte harmoniseer. Tenore en basse sing weer variasies op die wysie. Daar is dele waar die koor amper dieselfde wysie sou sing en ander plekke waar die kontras die fokuspunt sou wees. Die basse kan egter nie die soprane se note sing nie. Net so kan die soprane nie die basse se note sing nie. Alte en tenore se note kan met tye ooreenstem, maar daar is tog maar ‘n verskil. Dit bring my by die rede hoekom ek dink dat gewone koorsang ‘n element van beurtsang bevat. Al vier verskillende stemme, soprane reg deur tot by die basse, sing eintlik maar hul eie wysie. Hulle beurt vind wel gelyktydig plaas, maar ek dink by myself dat elkeen steeds hul eie beurt het. Dit bring my by die eerste gevolgtrekking: koorsang is miskien die enigste vorm van beurtsang waar almal gelyktydig kan praat en steeds die mooiste musiek kan voortbring.

Terug by die klein dorpies word ek per geleentheid genooi om mense met my kitaar in sang te begelei. Die geleentheid was ‘n plaaslike kinderhuis se naweek-geleentheid waar kinders en ouers bymekaar kon kom. Daar was opleidingsessies oor hoe om as familie saam te leef. Die geleentheid het my oë oop laat gaan en was beide opbouend en vreeslik hartseer. Buitestaanders, soos ek, is met tye onbewus dat die meeste kinders in die kinderhuise, of soortgelyke plekke van versorging, steeds ouers het. Dit gebeur maar net dat geld, drank, geweld, dwelms en ander dinge uit hul beurt praat. Die eenstemmigheid van die koor word somtyds deur die stiltes ontwrig. Dit was ‘n voorreg om saam met die families bekende liedjies en onbekende liedjies in gebroke akkoorde te kon sing.

Ek volg die ontknoping van hierdie jaar se ’16 dae van geen geweld teen vroue en kinders’-veldtog. Sommige sprekers is moeg om die vorige jaar se kerse uit die kas te haal en aan te steek. Hulle soek iets nuuts. Niemand is seker wat die vernuwing behels nie. Een rubriek loof die ‘goeie ouens’ of die ‘doodgewone ouens’ wat dag na dag getrou bly. Ander mense reken dat die veldtog geen verskil maak nie.  Ek voel ook gedeeltelik soos die wat moeg is vir dieselfde kerse en dieselfde brosjures, maar ek wonder of ‘n mens nie eerder moet fokus op die positiewe nie. In plaas van ‘n veldtog ‘teen’ iets, kan daar miskien ‘n veldtog ‘vir’ iets plaasvind. Ek dink weer terug aan daardie sang-aand by die kinderhuis. Ek dink weer aan die gesinne wat al moeilike tye beleef het. Miskien moet die gesaghebbers meer op gesinne fokus.  Meer op families. Familie-geleenthede by skole. Piekniek-dae waar bekende sangers optree – die kaartjies kan dan gratis vir families van drie of meer aangebied word. Sulke funksies sal natuurlik nie vir elke geleentheid werk nie, maar daar kan ‘n mark daarvoor geskep word. Die individuele aard van die tegnologie-gedrewe omgewing laat ons te veel op onsself fokus. Sportklubs kan gratis of goedkoop familie-dae hou – sulke geleenthede het in elk geval groter moontlikhede vir bemarking of ruimte vir skole en klubs om lede te werf.

Die belangrikste vir my is om al die stemme saam te laat sing, want die soprane kan nie die tenore se wysie sing nie. Die basse kan nie die alte se wysie sing nie. Sonder die een stem, klink dit of daar iets skort met die wysie. Die definisie van ‘n antifoon is nie noodwendig om op beurte te wag nie. Beurtsang word nie gebruik om die verskillende stemme in kampe te verdeel nie. Koorsang en beurtsang harmoniseer die stiltes met die stemme. Koorsang is op sy mooiste as al die stemme saam kan sing, al sing party van die koorlede vals. Koorsang is miskien juis vir die wat vals sing, want die koor as geheel sal die vals stemme intrek eerder as laat uitstaan.

 

lied

dis ‘n bergterras
wat ek my verbeel:
‘n boweland geplavei
met struike en sering
waar die vrou alleen staan
en ‘n lied van sviridov
as versugting sing
met die teensang
van ‘n waterval
en alle klank
simuleer ander klank
vleg soepel soos linte
deur water
porseleinwit
breekbaar
al hoe verder
deur rankende sproei –
spoorsny dan oor
maanblom en klip
al hoe stiller
die tinte
van haar stem
in ‘n rivier
wat kloof
na die ruspunt toe
en lank daarna
steeds eggo
in die leegte
van my
oor

deur Marlise Joubert

 

Bronne:
1. Internet. http://www.buxmontuu.org
2. Joubert M. bladspieël. Human & Rousseau. Kaapstad. 2015

Wicus Luwes. Jou naam as metafoor

Thursday, November 24th, 2016

jane-austen-names-small

Sy name was Andries Lodewicus Stefanus, maar die mense het hom Boet genoem. Ek verwys nou hiermee na my oupa – die een na wie ek vernoem is. Ek dink dikwels daaraan dat ek ook Andries gedoop kon gewees het, of Stefanus. Natuurlik kon ek ook Dries, Stefan, Stef of Boet geword het. Ek het op ‘n stadium baie met mense se ID-dokumente gewerk. Tant Sannie se naam is eintlik Francina Jacomina volgens haar ID-boek. Kleinjan se name is eintlik Jan-Hendrik. Daar is tye wanneer ek bly is dat ek net een naam het. Dit is nou veral wanneer ek vorms invul. Daar is altyd oop blokkies op die vorms wat ek in moet vul. ‘n Spasie waar ‘n naam kon gewees het. Ek dra nie swaar aan my naam nie. Ek wonder of my kleinkinders, indien die tyd sou kom, ook Lodewicus of Wicus gedoop sou word. Miskien is ons op daardie tydstip slegs nommers of IP adresse. Miskien hou my kinders meer van ‘n ander naam op daardie stadium of word geen seun in die volgende geslag gebore nie.

Die akteur, Michael Caine, het onlangs sy naam verander. Sy doopname was Maurice Micklewhite, maar dit het lughawebeamptes, wat Al-Kaïda of ISIS probeer vastrek, gereeld snuf in die neus gegee. Hy moes al ure lank by lughawens vertoef terwyl amptenare sy identiteit verifieer. Maurice het Michael geword en sodoende die verhoognaam as sy eie geneem. Dit is in ‘n sekere sin ‘n identiteit wat hy vir homself opgebou het. Hy het sy ander naam of tweede naam dus self gekies. Hy is eintlik al van die 50’s af Michael Caine, maar het dit eers op 83-jarige ouderdom offisieël gemaak

Aan die anderkant van die see was daar weer die Amerikaners wat op ‘n stadium slegs voorletters vir tweede name gebruik het, sonder dat daar werklik ‘n naam vir die voorletter sou wees. President Harry S Truman se ouers kon nie besluit watter grootouer om klein Harry na te vernoem nie en aangesien beide grootouers se name die letter ‘S’ ingehad het, het hul besluit om slegs ‘S’ te gebruik as plekhouer vir beide name. Die skrywer F Scott Fitzgerald, gebruik ‘n karakter wie se naam hom ver vooruitloop in die boek, the Great Gatsby. Die naam bou sy eie identiteit op, intrige deur middel van ‘n naam. Die leser word stelselmatig ingetrek deur ‘n karakter wie ‘n nuwe naam (of tweede naam) en ‘n nuwe identiteit aangeneem het. Etienne Leroux het ‘n soortgelyke intrige geskep met sy Salome Silberstein-karakter, maar die ontmaskering of bekendstelling van Salome laat meer vrae as antwoorde.

Ek het op ‘n stadium ‘n vriendin gehad met ‘n selfoon-adreslys sonder gelyke. Daar was net name soos Vleis of Stokkies of Meerkat op haar kontak- of adreslys. Ek moet byvoeg dat dit in die dae was toe jy slegs agt of tien karakters op selfone kon stoor, maar ek het dit nogal interessant gevind. Ek het ook al gehoor dat party skole die Graad Agts of ou Standerd Sesse byname gee. Party van hierdie byname bly daarna lewenslank by ‘n mens en die klasmaats en vriende van ‘Stokkies’ weet partymaal nie eers wat die persoon se ‘regte’ naam is nie. Vir ‘n oomblik wonder ek of my naam as ‘Stokkies’ of ‘Vleis’ of ‘Brilletjies’ op iemand anders se selfoon gestoor is.

Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?” “My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.” – Markus 5:9

Op party adreslyste is ek dalk ‘Wicus Lift’ of ‘Tennis Wicus’. Ek vermoed ek is ‘Vikus’, ‘Wikus’ of ‘Wickus’ op heelpartyjie fone se adreslyste. Ek vermoed ook dat geen burgerregte-organisasies gaan veg vir my ou of nuwe name nie. Daar is tweede name op jou rybewys, maar dis nie noodwendig die naam wat mense vir jou gebruik nie. Jy het meer as een naam, sonder dat jy altyd doelbewus daaraan dink. Die probleem is dat jy nie altyd beheer het oor daardie naam nie. Miskien het jy teen die tyd besef dat jy nie veel sê gehad het in die besluit oor die eerste naam wat jy gekry het nie.

Baie van die oorspronklike Kaapse slawe het hul van of tweede name gekry deur middel van die maand waarin hul in die Kaap via skip gearriveer het. Ek het onlangs ‘n interessante radioprogram oor slawegeskiedenis geluister. So het party mense met die van ‘February’ in Februarie-maand ‘n nuwe identiteit kom kry met die gee van ‘n van of tweede naam. Hulle het ook ‘n nuwe gedeelde identiteit met mense gekry wat voorheen nie hul familie was nie. Al die ‘February’ arriveerders was tog nie van dieselfde familie nie, maar hulle het op ‘n tydstip saam aan ‘n lot of juk begin dra.

Vir die wat my nie ken nie:
Aangename kennis, my naam is Wicus.
Somtyds definieer ek my naam en ander kere word ek deur my naam gedefinieer.
Somtyds is ‘n naam die metafoor en ander kere word die metafoor ‘n naam.

Probeer gerus die volgende eksperiment saam met my:
Sit eers jou digtershoed op.
Wat is die vanne wat by die volgende name pas?
Andries, Johann, Louis
Sit nou ‘n sportkritikus se hoed en dink weer watter vanne by die name sal pas.
Herhaal ook met ‘n vriendskapshoed?
Het die vanne dieselfde gebly of het dit verander?

Ek het gewonder oor die naam as metafoor terwyl ek aan die volgende gedig gewerk het.
(As jy as leser ook met ‘n naam as metafoor wil eksperimenteer, sal ek dit graag wil lees.)

 

 

Mzansi as ‘n sprokie

Mzansi is Alice se haastonnel
wat krimp met ‘n Krog-mondspoel
en groei met elke Adriaan Vlok-was.
‘n teeparty waar koningin Mbete
haar Grinnik-kat streel
ten aanskoue van ‘n hoedmaker
in ‘n rooi beret

Mzansi is ‘n Grimm-maaltyd
wat te warm is om te kou
mea culpa sê die baba beer
terwyl die lepel val
mea culpa sê sy moeder
terwyl sy ‘n lap gaan haal
mea culpa sê Gouelokkies
terwyl sy gereed maak om te vlug
maar pappa beer bly stil
terwyl hy die pot styf
in sy kloue hou

 

Bron van prent:
Internet. http://www.babynamewizard.com/archives/2014/7/the-jane-austen-name-report

Wicus Luwes. Oktoberfest in Münchenistan

Saturday, November 12th, 2016

oktoberfest-logo
Die ‘craft’-bier fenomeen is nog altyd vir my interessant. Ek maak ‘n punt daarvan om ‘n restaurant se eie bier te drink, of ten minste te proe, wanneer ek by plekke aandoen wat ‘n tuisbrouery of in-huis brouery het. As student het my vriende hulle eie bier probeer brou in klein Sputnik-wasmasjiene. Die Sputnik-wasmasjien was ‘n klein hand-aangedrewe wasmasjien wat drukking opgebou het deur ‘n slinger te draai. Die Sputnik-bier was ongelukkig nie ‘n groot sukses nie. (Die drukking in die wasmasjien het opgebou tot op die punt dat die wasmasjien gekraak het.) Jy kry ook die ‘craft’-bier ouens by feeste en ander geleenthede. Ek het by een so fees ‘n man ontmoet wat drie verskillende biere gebrou het. Hy het trots oor die toonbank kliënte nadergeroep. Ek het ‘n gesprek aangeknoop met die man en hy het my die geskiedenis van elke soort bier probeer verduidelik. Jy kan sien wanneer dit iemand se eie besigheid is en wanneer daar slegs iemand aangestel is om ‘n stalletjie te beman. Baie van die ‘craft’-biere is bedoel as ‘n ekstra inkomste. Ek het ook nou al oor die jare geleer dat die term ‘brouery’ eintlik kodetaal is vir ‘garage’ of ‘tuinstoor’ – nie dat dit iets aan die kwaliteit of smaak verander nie. Inteendeel, wanneer die bier verkoop word, moet dit gereeld deur Doeane en Aksyns getoets word. Ek wonder altyd wat ‘n goeie Afrikaanse woord vir ‘craft’-biere is, want tuisbier of tuisgemaakte bier laat my te veel aan gemmerbier dink. Daar moet iets van die ‘craft’ vasgevang word, want dit is ‘n soort kuns om ‘n goeie bier te maak.

Ek wonder verder of die deursnit Suid-Afrikaner se voorliefde vir bier by ons Duitse voorouers begin het. Duitsland en spesifiek München is bekend om die jaarlikse Oktoberfest. Die eerste ding wat my altyd opval omtrent die fees, is dat dit grotendeels in September val. Dinge soos die Russiese Oktober-revolusie wat in November val, pla my omtrent op dieselfde vlak, maar in die Russiese geval kan ‘n mens dit verstaan, aangesien hul kalender deur die jare verander het. Hoe dit ookal sy, die Oktoberfest vind jaarliks in Munchen plaas.

Die Rand/Dollar wisselkoers vorseer die meeste mense, wat die Oktoberfest persoonlik wil beleef, om eers ‘n bietjie te spaar. Terwyl jy en ou vriende spaar vir die geleentheid kan julle jul gedagtes laat gaan en inleef in ‘n soort tuis Oktoberfest – ‘n soort eksperiment van die gedagtes. Voorbeelde van gedagte-eksperimente is Schrödinger se kat en meer onlangs ons eie (uittredende) Eskom-hoof, Brian Molefe, se Saxonwold Sjebien. Die sjebien, indien dit bestaan, is die perfekte plek om ‘n Suid-Afrikaanse Oktoberfest in te vier. Dit sou goed wees om al die sintuie te betrek vir die gedagte-eksperiment en hiervoor is die reuk en gevoel van ‘n Lederhosen (tradisionele Duitse kort leerbroek) onmisbaar. Ek het ‘n paar tweedehandse Lederhosen op ‘n Suid-Afrikaanse webwinkel te koop gesien, indien jy daarvoor kans sou sien. Die volgende sintuig om te betrek, sal die gehoor wees. Gewilde liedjies sluit die volgende in: Ein Prosit (‘I salute you’) is gewild en help die gees (en verkope) ‘n bietjie aan. Jy kan jou Youtube, iTunes of Simfy-speellys hiervoor inspan. Aan die einde sou die orkes afsluit met Ziggy Zocky Ziggy Zocky en die gehoor antwoord met Oi Oi Oi. Nog liedjies vir die speellys is Fliegerlied (The Flyer Song) en 99 Luftballons. Laastens kan jy die gedagte-eksperiment afsluit met ‘n bietjie Eisbein en roomerige Sauerkraut.

Deur die loop van September en Oktober het ek het ‘n paar advertensies vir ‘n Pecanwood Oktoberfest in die Kwazulu Natalse Middellande gesien. Hierdie fees lok jaarliks ongeveer 6000 mense en kombineer bier met sportaktiwiteite. Daar is ‘n bergfietsresies, hardloop-kompetisies en 4×4-ritte om die uitstappie ‘n ekstra dimensie te gee. Ek kan insien hoe bier ‘n mens se dors kan les na die fietsry of hardloop, maar die 4×4-ritte is ‘n ander storie.

Om terug te keer na die Oktoberfest, is die vraag altyd of die bier wat jy gaan kry koud of warm is. Verskillende wêrelddele drink hul bier teen verskillende temperature, maar volgens my ongeleerde bronne, moet die bier nie yskoud wees nie. Die ideale temperatuur is volgens hierdie ongeleerde bronne ongeveer 8 grade Celcius.

Die Oktoberfest is natuurlik die ideale geleentheid om van ‘n ander kultuur te leer en ek wonder hoe die inwoners in Munchen se immigrantekamp die Oktoberfest sien. Die immigrante is natuurlik meestal Moslem en word verbied om alkohol te drink. Dit behoort eintlik nie ‘n probleem te wees nie, want daar is heelwat bekende brouerye wat alkoholvrye biere produseer. Oorwegende Moslemlande, soos Maleisië, gebruik hierdie biere in veral die toerismemark. Daar is ook produseerders wat die Moslemmark as ‘n potensiële braakland sien vir hul alkoholvrye produkte. Die eersteprys in so ‘n mark, sou die Halaalsertifikaat wees. Daar is egter ‘n paar dinge wat in die pad van die sertifikaat staat: eerstens word die alkoholvrye bier in dieselfde plek as sy alkoholiese broers gemaak. Tweedens lyk die bottels en verpakking amper identies in beide gevalle.

‘n Kompromis sou seker een alkoholvrye tent by die Oktoberfest wees, maar die wêreld is op die oomblik nie ten gunste van kompromieë nie. Die skuiwe wat op die oomblik in die wêreld aan die gang is, laat my eerder wonder of ons in die toekoms nog alkoholiese bier in party van die tente sal kan koop. Daar is dalk in ‘n dekade of twee ‘n volledige alkoholvrye Oktoberfest in ‘n plek genaamd Münchenistan. Die meeste mense vrees onsekerheid: ‘n Donald Trump in Amerika, immigrante in Europa, nuwe koue oorloë. Die era van politieke korrektheid het die afgelope tyd ‘n paar houe op die ken gekry. Die seisoene verander en die mens moet ongelukkig daarby aanpas. ‘n Brosjure vir toeriste raai besoekers aan die Oktoberfest aan om ‘n baadjie saam te neem, want Oktober is definitief nie meer somer nie en die aande kan soms koud raak.

halal-beer-malaysia-image-from-malaysian-digest

Woordverklaring

Kaar. ‘n Mooi ou Dietse woord
vir iets waarin mens kan vergaar
heuning, vis, yswater; in ‘n skuit
‘n bak vir lewendige paling
of ‘n byekoft gevleg van spaanse riet,
stingels brem en langstrooirog;
‘n nis deur sneeu uit ‘n spits geslyt
aan die bopunt van ‘n gletsergeut
met onderaan ‘n keteldal
waar, op ‘n vloer van swerfsteen,
‘n dorp kan aanslib teen ‘n meer.
‘n Tregter sonder voet
waardeur die koring
op die meulsteen stroom;
ook die mond van Sint Ambrosius
as kind waar die bye in- en uitravot
soos stille aforismes –
de bono mortis, de fuga saeculi.

‘n Vers, dink ek, waarvan mens deur
die vlegwerk loer, deur deksel,
wolke, dooie neerslag –
om voor die wyn, die brood,
die droë vis, die kiem,
die gis, die suur te kry; die gevaar
van vinne, ander spore, vars verskrik
soos van Gervasius en Protasius
of van ‘n klank soos minne, orewoet,
douput en furore. In ‘n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.

deur Marlene van Niekerk uit ‘Kaar’ (Human & Rousseau, 2013)

Wicus Luwes. ‘n Taal op die Aardsdrempel

Monday, October 24th, 2016

aardsdrempel2

Ek het uiteindelik die dokumentêre film, Boere op die Aardsdrempel / The Boers at the End of the World, hierdie maand te siene gekry. Dit is puik gemaak, skep dikwels balans in sy stellings / gewaarwording en laat net genoeg onbeantwoorde vrae vir die kyker wat oor die saak wil nadink. Dit neem die kyker na die Afrikaanse gemeenskap in Patagonië, Argentinië. Honderde ‘Boere’- gesinne het na afloop van die Anglo-Boereoorlog tussen 1902 en 1908 besluit om Argentinië toe te verhuis. Die destydse Argentynse regering het plase aan belangstellendes gegee. Die Afrikaans wat die nasate van die oorspronklike ‘Boere’ praat, het min verander van die taal wat ‘n honderd jaar gelede gepraat is. Dit gee die kyker / navorser eintlik ‘n soort voorbeeld of deursnit-kykie na hoe die taal verander of dieselfde gebly het.

Die grense van my taal is die grense van my wêreld

– Ludwig Wittgenstein

 

O Land van Sonlig en van Sterre

O land van sonlig en van sterre,
van onbegrensde, wye velde –
o wilde wêreld van natuur,
o dierb’re grond van Afrika,

waar twee geweldige oseane,
hul branders op die rotse donder,
en langs die breedgerekte kuste
die witte seesand bruis en sketter!

deur Gustav Preller

Preller het geskryf in ‘n oorgangstyd vir Suid-Afrika – 1896 tot 1904. Dit was ‘n tyd toe Afrikaanse digkuns die sprong van blote rymelary tot vers met dieper insig beleef het. Dit is dus moontlik dat die oorspronklike reisigers na Argentinië hierdie gedig deur Preller kon gelees het. Dit gee miskien iets weg van die manier hoe die Afrikaners van 1900 gevoel het (en miskien steeds voel).

 

Universiteite word dikwels vergelyk met ‘n soort mikrokosmos. Universiteite verteenwoordig ‘n deursnit van die samelewing waarin dit staan. By implikasie kan ‘n mens dus verwag dat die dinge wat in so ‘n mikrokosmos gebeur, ook in die res van kosmos kan of sal gebeur. ‘n Verdere implikasie van die mikrokosmos-model, is dat oplossings vir die probleme van so ‘n mikrokosmos ook oplossings vir die res kan wees. Dit is die ideale model of implikasie van die mikrokosmos. Die ander interessantheid van die mikrokosmos, is dat gebeure op kleiner skaal sou plaasvind. Die grense van die universiteitkampus, is redelik afgebaken. Die groter kosmos het baie meer ingange en uitgange. Die grense word ook baie moeiliker bepaal en beskerm. Onstabiliteit of chaos in die universiteitkosmos laat ook gewoonlik ander kollaterale skade. Diegene wat dink dat fooie vir universiteit die enigste teiken is, hoef maar net te kyk na die slagspreuke wat deur die protesteerders gebruik word.

Aan die begin van die Aardsdrempel-film staar twee neefs oor die oseaan uit – een in Suid-Afrika, een in Argentinië. Die seegrens is wyd en lank. Hulle het mekaar nog nooit gesien nie. Afrikaans word deur ongeveer dertig van die nasate gepraat, maar word nie meer geskryf nie. Hul het ook nooit formele opleiding in Afrikaans gehad nie. Die taal sal na alle verwagting uitsterf saam met die praters/gebruikers daarvan. Die kinders van hierdie mense praat slegs Spaans. Die ontdekking van olie het die ekonomie van Argentinië verander. (Die Afrikaanse gemeenskap het bygedra tot die ontdekking van die olie.) Die kinders van die huidige plaasbewoners het stad toe getrek en bewerk en bewoon nie meer die grond nie. Dit dra deels by tot die verminderde getalle mense wat die taal praat.

Daar is ooreenkomste met die Afrikaanse mikrokosmos in Argentinië en die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika. Die ontvolking van die platteland is een van die punte wat my opval. Miskien is dit meer ‘n geneigdheid tot verstedeliking. ‘n Verskil is dat niemand in Argentinië die Afrikaanse gemeenskap van hul taal probeer ontneem nie, maar die integrasie by die omgewing vind natuurlik plaas. Dit help natuurlik nie dat ‘n groot groep Afrikaans-sprekendes in 1938 teruggekeer het na Suid-Afrika toe nie. Dit het die getalle wat die taal praat aansienlik minder gemaak. Die seer van die konsentrasiekampe en oorlog het miskien ‘n bietjie vervaag. Die oud-Afrikaners het maar net te veel na Afrika verlang.

Die dinge wat ons as Suid-Afrikaanse Afrikaners / Afrikaanses aan die Argentynse Afrikaners koppel, is natuurlik die taal. Daar is ook ‘n paar familiebande. Miskien speel daar dalk ‘n Argentynse Van Der Merwe een van die dae vir die Argentynse Nasionale Rugbyspan. Die vraag is verder of die Argentynse mikrokosmos ons iets kan leer oor Afrikaans as taal. ‘n Professor in Taal, Prof Andries Coetzee van die Universiteit van Michigan, het as deel van die dokumentêr ook ondersoek na die taal kom instel. Sy studie verwys spesifiek na die taal en dit lyk nie vir my of dit ander politieke of filosofiese invalshoeke gaan opvolg nie.
Hier is ‘n skakel na sy eerste bevindings: https://www.internationalphoneticassociation.org/icphs-proceedings/ICPhS2015/Papers/ICPHS0911.pdf

Ek het as deel van my navorsing vir die rubriek probeer uitvind of die Afrikaanse gemeenskap enige gunsteling digkuns of verskuns, oud of nuut, het. Die gebrek aan mense wat Afrikaans kan lees speel natuurlik ‘n rol in so ‘n vraag. Die mense in die film sing tradisionele liedjies soos ‘Sarie Marais’ en ‘Tannie met die Rooi Rokkie’. Dit wil voorkom of die tradisionele liedjies ongelukig die somtotaal van ‘n enige vorm van digkuns / verskuns blyk te wees. Aan die een kant is dit ongelukkig, maar aan die anderkant wys dit hoe belangrik projekte is, wat wysies aan bekende gedigte gee. Toonsetting en digkuns behoort meer dikwels te ontmoet.

Die huidige onstabiliteit in die tersiêre onderwys, sal natuurlik ook ‘n dwaalkoeël na Afrikaans as taal skiet. Miskien sal daar ook direk daarop geskiet word, deur te sê dat befondsing nie beskikbaar daarvoor gemaak sal (kan) word nie. Die mense sê dikwels dat Afrikaans veilig is as sy mense nog die taal praat. Die Argentynse mikrokosmos wys miskien die kortsigtigheid van so ‘n stelling uit.

‘n Taal is nie net ‘n werktuig nie – nie net kleingeld om mee te koop en te verkoop nie. Dit is ook ‘n naelstring.
– NP van Wyk Louw uit “Werktuig of naelstring”, Standpunte, Okt. 1963

 

Eer jou taal

Friese, eer jou taal
erfstuk wat voorvaders nagelaat het;
kinders van haar liefde en haar trou
beeld van haar deug en krag;
afdruk van haar siel en haar sin
dan standvastig soos ‘n eik uit die Woude
dan weer soos gras langs die poel
buigbaar en lieflik en sag.

Laat sy klink, jou taal
soos ‘n vrye geluid om jou heen;
as ‘n mens in leed wegsink
soek dan in jou taal weer troos;
wees lief vir jou taal soos vir ‘n moeder
wat jou gevoed het met bloed uit haar are;
hy, wat homself vry noem as ‘n Fries
bly veral Fries in sy taal!

deur Carina van der Walt

 

*** Baie dankie vir Kelly Scott van ‘Good Work Pictures’ vir die hulp by die insamel van inligting vir die rubriek

Bronne:
* Martin W & Van der Walt C. Amalgaam. Uitgeverij IJzer, Utrecht. 2015
* Nienaber PJ. Digters en Digkuns. Afrikaanse Pers-Boekhandel. 1962