Uncategorized
Wednesday, December 8th, 2010
Op Mont Pelaan, die plekkie tussen Harrismith en Memel waar ek my eerste ses skooljare deurgebring het, is daar elke Desember ‘n “Kersboom” in die Boerevereniging se saal langs die vendusiekrale aangebied. Dit was vir ons, die kinders, die hoogtepunt van die jaar. Meester Olivier se handjie vol plaasskoolleerlinge het dan ook weke voor die groot aand reeds hulle stukke begin oefen vir die Kerskonsert wat plaasgevind het ná die geskenke vroegaand deur Kersvader uitgedeel is.
 naby Memel
Vir ons het die groot dag uiteindelik begin aanbreek wanneer ‘n boom die middag voor die “Kersboom” op Meester se plaas Sunnyside, in die rigting van Memel, gehaal moes word. Gewoonlik was die wêreld daardie tyd van die jaar, teen vroeg-Desember, grasgroen en die Drakensberge sagte, blou kurwes in die verte, met haelwit wolke wat oor die aarde uitblom. Dan het al die seuns agterop die bakkie saamgery en om die verlate ou opstal help soek na ‘n geskikte dennetak om af te saag. Hierdie tak - volgens Marthinus Versfeld een “op die toppie waarvan die Bethlehemster van blinkpapier mooi sal vertoon, met genoeg takkies om presente vas te maak” - is dan by die saal afgelaai waar die vrouens dit die volgende dag tot ‘n behoorlike Kersboom versier het.
Ja, die Kersboom moes ‘n denneboom wees, soos dit in talle lande van die wêreld, veral in Europa, ook gebruiklik is. Ofskoon die sielkundige Carl G. Jung beweer dat talle mense hierdie tradisie navolg sonder dat hulle die ware betekenis van die Kersboom ken, het die Kersboom klaarblyklik sy oorsprong in sekere gebruike deur die Egiptenare, Chinese en Hebreërs gehad. Dit het die ewige lewe versimboliseer. In later jare het die ou volke van Europa op 25 Desember, wanneer die son op sy flouste is, groot vure aangesteek en hulle huise met immergroen plante versier. Hulle het geglo dat die sterwende son deur die vuur tot nuwe lewe opgewek word en die lewe van die verborge saad deur die ritueel van groen takke verseker is.
Die eietydse Kersboomtradisie kan veral na Duitsland teruggevoer word, waar dit teen die begin van die negentiende eeu reeds ‘n instelling was.
 Dennebome
Daar is seker min mense wat nie met nostalgie aan die “Kersbome” uit hulle kinderjare terugdink nie. Maar hoe leef hierdie tradisie vandag voort? Ons samelewing het al hoe meer materialisties geword, en die sakewêreld huiwer nie om ook Kersfees ter wille van finansiële gewin uit te buit nie: dink maar aan die skaamteloos soetsappige klokkies en klingels wat reeds van voor einde Oktober jaarliks aan ons opgedring word. Hierdie uitbuiting word deesdae tog toenemend raakgesien en mense begin hulle hierteen uitspreek.
Maar wat sê Kersfees en die Kersboomtradisie vandag op ekologiese vlak vir ons? Omdat die groen gesprek allesomvattend is, moet ons selfs ons Kersfeesgebruike daaraan toets; ook die boom wat ons vir die geleentheid versier. In Your Guide to Green Living in Southern Africa (1990) beveel Waynne McLintock aan dat ons ‘n Kersboom met wortels, pleks van net ‘n afgesaagde tak, moet koop. Wanneer hierdie boom dan te groot word vir sy pot, kan hy in die tuin geplant word. Sodoende kan daar op dié manier bygedra word tot die aanplant van bome (waardeur lugbesoedeling teëgewerk word) en die verfraaiing van die omgewing.
Andersins, sê McLintock, kan ‘n groot potplant as Kersboom versier word. Is dit darem te onromanties na jou sin? Vra jouself dan af wat meer onromanties is en van ‘n groter vervreemding van die omgewing getuig as die groen (of erger nog, wit-en-silwer) plastiekboompie op sy driepootstaandertjie wat in al hoe meer huise as plaasvervanger vir die ware Jakob moet dien. Wanneer Kersboomherinneringe sou kinders wat hiermee grootword eendag nostalgies aan hulle kinders kan oorvertel?
Om ‘n groen Kersfees in die ware sin van die woord te vier, behoort ‘n mens ‘n regte, egte denneboom of spar in ‘n groot pot te hê: ‘n boom waarvan die reuk van naalde en hars kan meng met die geur van die klam grond in die pot, ‘n boom wat die belewenis van die egtheid en eerlikheid van die natuur in elke huis kan indra. Dan behou die Kersboom ook iets van die oorspronklike betekenis wat hy in die feesvieringe gehad het.
Meester Olivier het waarskynlik ook nie presies geweet wat die “ware betekenis” van die Kersboom is nie, want hy het ons nooit daarvan vertel nie, ook nie wanneer hy jaarliks die Kersverhaal voorgelees het voordat die geskenke uitgedeel is nie. Deurdat hy ons saamgeneem het om ‘n tak te gaan uitsoek en te help afsaag, het hy ons egter die geleentheid gegee om ‘n egte ervaring mee te maak, wat waarskynlik op ons ‘n veel groter en blywender indruk gemaak het as wat ‘n duisend woorde sou.
Miskien sal ons en ons gesinne Kersfees ook veel intenser beleef indien ons dit met egte dinge uit die omgewing, soos ‘n ware Kersboom, kan vier.
Wednesday, December 1st, 2010
Fotobeeld
Lees ook gedigte deur Zandra Bezuidenhout
Album 1 Album 2 Album 3
 Oorhandiging van Ingrid Jonkerprys vir 2001 (Dansmusieke, Suider Kollege Uitgewers, 2000). Daniel Hugo (sameroeper van komitee) & Zandra.
 Nedl. & Afr. Letterkunde-kongres, Dikhololo. 2003/4. Zandra, Eep Francken (van Leiden) en Henk van Woerden.
 Vertalerslypskool, Antwerpen. 2000. Agter van l. na r.: Hennie van Coller, Robert Dorsman, Renée Marais, Heinrich Grebe. Voor: Ilse Groenewald, Zandra Bezuidenhout, Rike Olivier.
 Koopmanskloof, Skrywersaand. 2000. Zandra praat oor Dansmusieke; wyle Ronnie Belcher op agtergrond.
Terug na Album 1
Kopiereg © 2010 Zandra Bezuidenhout
Geen foto’s hier op Fotobeeld/versindaba.co.za mag sonder die skriftelike verlof van die digter gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopieëring of enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of verspreiding nie.
Wednesday, November 24th, 2010
`n Mens gaan nie sommer net dood as jy `n kat in die woonstel het nie, skryf Szymborska. In haar gedig beklemtoon sy die kat se meerderwaardige posisie en sy eienaar se dienswillige verslawing. In Jonathan Franzen se jongste roman Freedom gaan hy selfs so ver as om katte die psigopate van die diereryk te noem. Tipies, want soos `n goeie vriendin altyd opmerk, `n kat het altyd so `n ag-fok-jou-houding.
Die kat kom weer – nes voëls en honde hulle verskyning maak in onder meer die eietydse prosa van Marlene van Niekerk of Anna Kemp. Die interessantse mens-kat-verhouding sedert Eliot en Lina Spies se werk het ek raakgelees in Hélène Cixous se Stigmata (Routledge Classics, 2005) wat deur Derrida in sy inleiding as `n groot klassieke werk beskou kan word, asook die beste inleiding tot Cixous se korpus van tekste.
Marta Segarra skryf in New Literary History (Winter 2006) dat Cixous nog altyd oor katte, haar eie katte en die kat as die bevoorregte ander van die subjek geskryf het. Honde speel nie so `n belangrike rol in Cixous se werk nie, maar die slothoofstuk in Stigmata getiteld “Stigmata, or Job the dog” handel wel oor honde. In `n enigsins vreemde passasie word die hond verhef tot `n soort martelaarsfiguur en word sy liggaam oortrek met luise “big as chickpeas” (259). Die subjek deel dan die hond se smart en lyding wanneer hy deur hulle gevreet word. Die hond gee sy liggaam om binnegedring te word deur die parasitiese ander en al wat sy eienaar kan doen, is om die goed van hom af te trek en medelye met hom te toon. `n Mens voel of jy terug is in die spreekkamer in Disgrace. Die luisgevrete karkas van die dier as heilige? Die stigmata van luisbyte? Die verheerliking van die bloeiende wond.
Cixous het nie verniet opgemerk aan die begin van The laugh of Medusa (1998) nie:
Woman must write her self: must write about women and bring women to writing, from which they have been driven away as violently as from their bodies. Women must write woman. And man, man.
Want lees mens haar eiesoortige stukke oor diere dan is dit wêrelde verwyder van iemand soos Wendy Woodward s’n. Laasgenoemde is `n plaaslike akademikus wat etlike studies oor diere in die letterkunde al onderneem het.
Cixous begin haar essay “Love of the wolf” met Clarice Lispector en gaan dan op die voetspore gaan van Tsvetaeva en skryf:
Love begins with a cat. A lost, accidental, fuzzy baby appears. A kitten one might think. A kitten par excellence: the found beast, the abandoned creature moving – as in Aeschylus’s Agamemnon. It comes into our home one fine morning, a poignant, mysterious poignant figure of the unplanned child,and without any need of a biological mother, or father for that matter.
This kitten given by nobody, a gracious creature, is loved without being asked its name (116)
Of verder aan vertel sy die verhaal van `n werknemer van Air France wat die lof van haar boeke besing en dan merk sy op dat sy tydens die gesprek besig is om die “soft and ferocious touch of my cat” (188) te streel, net om tot die besef te kom dat die kat haar ook as ‘n kat sien:
Between us no appropriation only moments of grace, without guarantee without security, without a glance thrown toward the moment. This is jouissance. Now.
Dit is egter in die langer sluitstuk van die boek,” Shared at dawn”, waarin sy die relasie tussen haar as denker en haar kat ondersoek. Sy begin selfs praat van “my cat and I” (235) In hierdie besinnende stuk skryf sy oor die vasgevange dooie liggaam van `n voël in die traliewerk van haar woonstel en haar pogings om te keer dat die kat die voël sien en probeer in die hande kry. Wanneer sy dan uiteindelik bewus word van die dooie voël, probeer die spreker alles in haar vermoë om haar weg te kry van die voël af. Ten einde laaste slaag sy daarin, maar dan neem die skuldgevoel oor:
Oh my god,what have I done? I’ve betrayed my counterpart, my betrothed, my little bride with the boundless heart: oh my god if that bird comes back I will give it to her, I swear – yes, it’s better that I swear, surer that way, yes, if it came back, I too would play with its lukewarm little body, I’d give it sharp little blows with my paw and I’d slit its throat cheerfully. (241)
Hier word dit nou amper sprake van “verkatting” (amper soos Cees Nooteboom wat van Ankatzen praat): die filosoof en skrywer word die beminde en bruidegom van haar geliefde troeteldier. Amper `n soort verfatsoenliking van bestuele liefde? Lief dier. Sy word vasgevang in die strik van die verleidelike kat; iets in ooreenstemming met Szymborska se reëls:
Something doesn’t start
at its usual time.
Something doesn’t happen
as it should.
Someone was always, always here,
then suddenly disappeared
and stubbornly stays disapppeared.(“Cat in an empty apartment”)
NS: vir Cixous
waar my kat my krap
merk sy my lyf
met haar stigmata
bloei ek vir bast
Wednesday, November 24th, 2010
’n Mens wil kreet: “Hoera, agteros is ook in die kraal!” Agteros synde die wetenskap, wat ligjare nadat ’n doodgewone mens van die waarheid – die “is” – van iets bewus geword het, dit met groot fanfare “bewys”.
Ek verwys na die berig in Rapport van 21 November waarin met groot gewigtigheid en stelligheid verklaar word dat die wetenskap pas bevind het dat geluk daarin lê om in die hier en nou te lewe. Hierdie massiewe deurbraak is pas in Science, die wêreld se voorste wetenskaptydskrif, gepubliseer. Ons onwetenskaplikes wat dit nog altyd geweet het, kan nou gelukkig sterf in die wete dat ons wete wetenskaplik bewys is.
Die grootste ondiens van die wetenskap is om die mens te laat twyfel aan dít wat hy instinktief weet, om skeptiese monsters te skep wat geen onbewese steen onaangeroer sal laat in hul verbete veldtog om almal tot rasionele masjiene te bekeer nie.
Wanneer gaan die wetenskap bewys dat God bestaan en dat daar lewe ná die dood is? Wel, eintlik is dit al bewys, maar sover ek weet nog nie met Science se stempel van goedkeuring as “wetenskaplike waarheid” bekragtig nie. In die boek There is a God – How the world’s most notorious atheist changed his mind deur Antony Flew lê hy die resultate voor van sy wetenskaplike eksperimente wat hom gelei het tot geloof in God as Skepper en in die werklikheid van lewe ná die dood.
Vir my, wat lankal deur my ateïstiese fase is, is dit net sulke vanselfsprekende nuus soos dat geluk in die hier en nou lê.
Nie lank terug nie het ’n pragtige, skaam meisietjie by ’n restaurant waar ek geëet het, kom smous met handgemaakte selfoonsakkies van lap om geld in te samel vir die private Christelike skool waar sy skoolgaan. Ek het ’n sakkie gekoop – te klein vir my knewel van ’n klassieke Nokia – vir die woorde wat in rooi kettingsteek daarop geborduur is: “Live in the moment”.

Uit die mond van die kindertjies. Jong kinders is gelukkig. Hulle leef en speel uitsluitlik in die hier en nou. Moontlik omdat die hier en nou al is wat hulle het – hulle het nog nie ’n verlede om van te praat nie, en het nog te min ervaar om hulle ’n toekoms te verbeel. Of kinders vandag nog gelukkig is, weet ek nie. Televisie en ander elektroniese monsters suig geluk dalk vroeg-vroeg op.
Toe ek kind was, het ons met volle oorgawe in modder gespeel en dit dikwels geëet ook, ons het van mynhope afgegly, mekaar in kruiwaens rondgestoot, kermisse gehou en geglo in die Tandmuis wat saam met sy mede-muise ivoorstede onder die grond bou. Ek meen, ek het die muismis met my eie oë gesien. Kersvader was ’n grootmens-lieg wat enige kind kon uitruik. Hoe kon so ’n dik man in so ’n belaglike pak klere in die middel van die somer deur ’n nie-bestaande skoonsteen gly?
Daar was ’n tyd toe ek sielkundeboeke aandagtig gelees het. Want ek wou myself so graag leer ken. Ek meen, oral en altyd hoor ’n mens: “Wees jouself” / “Be yourself”. My instinktiewe reaksie was nog altyd om te gil: “Maklik vir jou om te sê, maar wíé is ek?!”
Intussen het ek geleer: Dis onmoontlik om jouself – of enige ander mens – te leer ken. Dis altyd maar ten dele. Altyd die toppie van die ysberg. Aanvaar dat jy – en ander mense – selfsugtig, irrasioneel, onlogies, wispelturig, onbetroubaar en plein mal is. Soos Sheldon Kopp lankal in sy “Eschatological Laundry List” verklaar het: “Everyone lies, cheats, pretends (yes, you too, and most certainly I myself).” (Uit: If you meet the Buddha on the road, kill him!)
Niks maak sin nie, wat op ’n manier sin maak. In die chaos lê die orde. In duisternis die lig. En andersom. In die paradoks lê die betekenis. Maak dit die lewe makliker? Wie weet? Elkeen moet op sy eie soeke na sin verdwaal.
En ja, jy’t lankal geweet: om te fokus op die oomblik – hierdie oomblik van tande borsel of ketel aansit of ’n Wilson-toffie kou – is om werklik die lewe te beleef. Maar om iets te weet, is een ding. Om dit toe te pas, is ’n ander ding. Hoeveel mense wil werklik leef? Ons wil almal net die stukkies gemak, die “lekker”, beleef. Vir die res wil ons afskakel met dwelms – sigarette, drank, kos, televisie, internet, kompulsiewe lees en fliek kyk, pille, poeiers. Jy verknoop jouself in dramas en intriges wat jy self skep. Verkies selfs chroniese pyn om weg te kom van die pyn en ongemak van die lewe. Is ek nie bekend daarmee nie?
Om gedigte te skryf, is dit om jouself te bedwelm, om vir ’n rukkie nie in die wêreld te wees nie? Of is dit om met volle aandag in die hier en nou te wees? Om geluk te ervaar? Maar dan is geluk nie altyd aangenaam nie. Dis pynlik om te worstel met jou onvermoë. Jy wéét êrens skuil die perfekte woord, die volmaakte beeld, wat presies sal oordra wat jy voel, wat jy eintlik wil sê, maar dit bly jou net-net ontwyk. Hoe selde smaak jy die vervulling van ’n gedig wat jou tot op die laaste letter bevredig. Maar tog. In die worsteling en strompeling word jy ten volle in beslag geneem deur die skepping van iets in die hier en nou. Al delf jy rond in die as van gister, verbitter of nostalgies, al ly jy by voorbaat aan die potensiële lyding van môre.
Vanmôre toe ek op die agterstoep in die tweedehandse gelapte viniel-Lazyboy sit, ten volle bewus van die rilling van my kaal lyf in die koue windjie, die oggendsonnetjie wat my regterarm en -been warm streel, die kleure klanke van die windklok, toe verlang ek na my ma. My ma wat nooit beskikbaar was nie. My ma met die rubberharnas om alle pyn af te weer. Ek wonder of sy bewus is van my, daar waar sy is. En ek skryf vir haar ’n gedig. Al is die seer van die verlede opgerakel, was dit ’n tydjie van skeppende, bewuste geluk.
Thursday, November 11th, 2010
 Ringmuur by die begraafplaas
Om die groot begraafplaas op Pelindaba is daar ‘n gestapelde ringmuur, wat mens laat vermoed dat die Prellers op ‘n groot nageslag gereken het.
In die suidwestelike hoek van die begraafplaas is die grafte van Debora Pretorius en haar man, Swart Martiens Pretorius, asook die graf van Hannie Preller se moeder, Cornelia Magdalena Pretorius (vrou van Piet Pretorius). Die eerste twee persone is hier herbegrawe toe daar in die 1920’s met die bou van die Hartebeespoortdam begin is en gevrees is dat die grafte daar onder die water sou verdwyn.
Die Preller-grafte is in die noordoostelike hoek van die begraafplaas. ‘n Voetpad loop tussen die bome diagonaal deur die begraafplaas vanaf die Pretorius-grafte. In die Preller-deel van die begraafplaas is Gustav en Hannie begrawe, terwyl die as van twee van hulle drie seuns ook hier geplaas is. Van Gustav en Hannie se kleinkinders se as is ook hier. Enkele van die pottebakker Lindsay Preller, Bob Preller se Jamaikaans gebore vrou, se porseleinduiwe is nog op die (geskende) grafte te sien.
 Gustav en Hannie Preller
In 1922 is ‘n monument van opgestapelde diabaasklippe (of blouysterklip) in die suidwestelike hoek van die begraafplaas vir Swart Martiens en Debora opgerig. Van hier af het ‘n mens ‘n pragtige uitsig op die dam. Die gedenkplaat op Preller se graf is in 1947 onthul.
Toe ek die eerste keer die begraafplaas saam met Francis Galloway en Martjie Bosman besoek het, het Martjie ‘n kobraslang by die diabasklippe gesien. Ek het daaroor ‘n gedig in Plaaslike kennis (2004) geskryf:
Kerkhof
Pelindaba
Die klipmuur om die kerkhof
bewaar verskuilde grafte
teen betreders van die tyd
soos ons wat gru vir klitse
in die kouse as ons waad
deur gras in die oorgroeide
pad, en blare en peule
van raas- en appelblaar pluk
om in bottels te bêre.
In een hoek lê ‘n kleipot,
porseleinduiwe, ‘n klip,
en is die as uitgestrooi.
Min begryp ons van die slang
wat hom hier skuilhou en ons
listig na die dood wil rig.
Sunday, November 7th, 2010
Die rondawelhuis op Pelindaba is in 1924 deur die Prellers in die Transvaalse styl as naweekhuis gebou. Eugène N. Marais het voor sy laaste verhuising hierheen heelparty kere hier gewoon. Dit is ook die plek waar hy sy laaste nag deurgebring het. Die argitek Albrecht Holm maak die volgende interessante opmerking oor hierdie huis:
“Die huis se vorm het ‘n interessante ooreenkoms met Eugene Marais se waarneming oor die termietnes (Siel van die Mier). Hy het vasgestel dat die geheel, naamlik die termietnes, die organisme is. Die enkele termite in die nes is slegs onderdeeltjies wat funsioneel gebind maar nie fisies saamgegroei is sodat hulle saam die eenheid vorm en alleen saam as eenheid kan bestaan maar tog nog visueel onderskei kan word. Met hierdie ontdekking het Marais wêreldgeskiedenis gemaak. Die rondawelhuis (en ander soortgelyke rondawelhuise) bestaan ook uit herkenbare rondawels, maar saam maak hulle die huis.”
Die rondawelhuis is in 1973 saam met die Preller-huis gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Bron
Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.
Thursday, November 4th, 2010
 Gustav S. Preller
In 1932 word Ons Vaderland, waarvan Gustav S. Preller eienaar en redakteur was, na ingryping deur genl. J.B.M. Hertzog om die koerant van finansiële ondergang te red, deur die Noordelike Drukpers Maatskappy oorgeneem en die naam word na Die Vaderland verander. Preller bly tot aan die einde van Februarie 1936 hoofredakteur, maar eintlik net in naam, aangesien sy besluitnemingsmag aansienlik ingekort is.
Ná Preller se uittrede het die gesin besluit om hulle huis in Blackwoodstraat te verhuur en permanent op Pelindaba te gaan woon waar Gustav as geskiedkundige navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargief kon voortsit. Lood Pretorius en sy seun was in daardie stadium reeds besig om die huis wat Gustav en Hannie in die Transvaalse styl ontwerp het, te bou. Aangesien die Prellers die huis op 19 Maart wou betrek, is Lood aangepor om vinniger te werk.
Die “Transvaalse styl” (kyk Holm, 2005a) is aangevoor deur argitekte W. de Swaan, F. Soff, J. Burg, G. Moerdijk en andere wat hul bewustelik deur die plaaslike klimaat, omgewing, materiaal, kultuur en tradisie laat lei het. Hierdie argitektuur het hom ook onderskei van die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl wat in die 1920’s mode geword het, asook van die Edwardeaanse en ander Europese style. Van die opvallendste kenmerke was:
■ Oriëntasie volgens die son en die landskap.
■ Stoepe en dakoorhange wat die mure in die somer koel hou.
■ Die gebruik van plaaslike materiale soos klip en gras en bosveldhout, maar ook vindingryke gebruik van eenvoudige materiaal soos papiervloere, klei van verskillende kleure, afvalhout, ensovoorts.
■ Handgemaakte detail eerder as fabriekvervaardigde detail.
■ Die afwesigheid van “klassieke” versierings soos byvoorbeeld Griekse, Romeinse, Toskaanse en ander kapitele, ensovoorts.
■ “Aardse” of natuurlike kleure eerder as witgekalkte mure en geverfde hout.
■ Die gebruik van rondawels of samevoegings van ronde geboue of geboudele.
■ Die groepering van geboue en die skepping van leefruimtes rondom en tussen geboue.
Laasgenoemde twee elemente asook stoepe en lapas is bewustelik afgelei van die boukuns van die swart volke. Baie van hierdie elemente is reeds vroeër deur die Voortrekkers en pioniers as “leengoed” in die blanke volksboukuns ingevoer.
 Hannes Meiring
In 1973 is die Preller-huis deur die Atoomenergiekorporasie (AEK) onder toesig van die argitek Hannes Meiring en die kultuurhistorikus Elize Labuschagne gerestoureer en as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die oorspronklike kaggel wat nog gesien kan word, het weer agter pleister te voorskyn gekom en is ooreenkomstig ‘n oorspronklike tekening van Lood Pretorius se seun herstel. Die leiklipblad voor die huis is ook herstel en die oorspronklike sinknok is op die grasdak teruggeplaas. Die kombuis is verander om aan die vereistes van ‘n restourant te voldoen, maar die kelder is ongelukkig toegegooi.
Volgens oorlewering is die trap na die dakkamer smal gebou om te keer dat Hannie Preller daar kan opgaan wanneer die mans daar gekuier het. Interessant is die wêreldkaart in die dakkamer wat deur J.H. Pierneef geskilder is en waarop Bob Preller, die vlieёnier, se vlugte aangemerk is soos wat berig van sy bewegings ontvang is. Bob het glo ‘n keer onderdeur die treinbrug oor die Krokodilrivier stroomop van die Hartebeespoortdam gevlieg.
 Skildery van Pierneef
Preller se vriendekring het invloedryke politici, digters, skrywers en kunstenaars soos Frans Oerder, Erich Mayer, Pierneef en Coert Steynberg ingesluit wat gereeld hier besoek afgelê het. Pelindaba het sodoende ‘n integrale deel van die Afrikaner se geskiedenis en kultuur geword.
Bron
Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.
Monday, November 1st, 2010
 Pelindaba
Die roete wat ons uit Pretoria na Pelindaba neem, gaan min of meer dieselfde roete wees wat Eugène N. Marais waarskynlik self ‘n hele aantal kere na Pelindaba geneem het. Die ou pad tussen Pretora en Pelindaba wat verby heelparty kleinhoewes loop, is sedertdien geteer en het na alle waarskynlikheid hier en daar ‘n ander koers as in Marais se tyd ingeslaan. Ons ry met die snelweg om tyd te bespaar en omdat ons in elk geval van die snelweg af die ou pad sal kan sien wat parallel met die snelweg loop.
Die feit dat die pad destyds nie geteer was nie en Pelindaba dus vir alle praktiese doeleindes relatief gesproke “verder” was as vandag, is wel van belang indien ons die gebeure daardie laaste klompie ure in Marais se lewe in oёnskou neem. Dit het in Maart 1936 buitengewoon baie gereёn, sodat dit glad nie maklik sou wees om daardie laaste naweek van Maart 1936 met die grondpad tussen Pretoria en Pelindaba te reis nie.
Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg nadat sy besittings reeds meer as ‘n week vantevore per ossewa saam met die Prellers se trek na Pelindaba geneem is.
Monday, November 1st, 2010
 Die groot verlange
Hoewel Marais ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde was en lank as beide advokaat én as prokureur gepraktiseer het, het hy nooit die regte as sy belangrikste nering of roeping beskou nie. Dit was dan ook nie altyd vir hom moontlik om ‘n vaste inkomste uit hierdie professie te verdien nie. In die tydperk tussen 1917 en 1927, toe Marais as advokaat en prokureur gepraktiseer het, was hy nie besonder suksesvol nie en moes hy verskeie kere van praktyk verwissel en selfs op verskillende dorpe gaan woon. Marais se verdediging in 1932 van die vier teer-en-veerders van H.P. Lamont, die skrywer van die destyds opspraakwekkende roman War, wine and women, is as ‘n fiasko beskou (kyk Leon Rousseau, Die groot verlange, 1974, pp. 434-440).
Marais se regsboek, Deeds Office Practice of the Transvaal, dra die subtitel The Deeds Office Proclamations, and Deeds Office Regulations with full Notes and later Amendments, Stamp Act, Authentication Proclamation, etc. Onder Marais se naam word sy titel aangegee as “Of the Inner Temple, Barrister-at-Law, Advocate of the Supreme Court of the Transvaal”. Die boek is in 1903 deur die “‘Land en Volk’ Office” in Pretoria gedruk en gepubliseer.
Wednesday, October 27th, 2010
Dis Oktober, die mooiste, mooiste maand – nog ’n paar dae – en dus mag ’n normaalweg siniese mens nie te veel verkwalik word as sy oor die liefde skryf nie.
Ek kry die bundel Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier, ter hand gestop deur “daardie god wat hom verlustig in verandering” (Peter Blum, “jou sintuie wil ek toesluit een vir een”, Steenbok tot poolsee). Ek maak die bundel lukraak oop, soos dit hoort.
Dit val oop by TT Cloete se “uniseks”:
ons het mekaar
se tagtig plus jaar
lief sonder onderskeid
van man- en vroulikheid
sonder sterkste en eerste
sonder taaiste of teerste
of mooiste ons yl hare is ewe lank:
en dun ons roosblaarhuid is ewe blank
en gevrat nooit vantevore só nie seer
seker het ons mekaar só liefgehad nie en nooit meer
en meer getrou as nou nie as een nou moet doodgaan
hou die ander een sommer op om te bestaan
albei se arms is vlerkewyd gebak
vir mekaar om mekaar in te haak
as een se voet nou sou swik
is die ander een ook gewrik
ons gaan eensgesind geklee
die eenders is altwee
Net nou die dag sê ek vir iemand: “Die liefde is dood – dalk nie die ouer-kind-liefde nie – maar die ander soort. Die mens is die mees wispelturige, onbetroubare wese wat ooit geskep is, tot die dood toe nie in staat tot durende liefde nie. Ek sluit myself daarby in.”
Maar nou lees ek die teendeel. Liefde tot in die grysheid toe, verby liggaam en ego, ydelheid en die sug na anders en nuut.
Vandag sien ek hoe grysheid nuwe lewe liefhet. In die koemkwatboompie het twee kwikstertjies ’n nessie saamgeflans, van bo beskerm deur ’n paar varsnuwe blare. Ek klim tot op die boonste sport van die trapleer en loer in. Daar lê die drie bondeltjies, skaars herkenbaar as toekomstige parmantige kwikkies. En waarop lê hulle? ’n Snoesige onderlaken van grys hare. Sommer ’n klomp hare, nie net hier of daar ingevleg nie. Die pa- en ma-kwikkie moes omtrent in hul skik gewees het met hul vonds – waar hulle dit ook al opgespoor het. Die hare lyk afgeknip en nie soos ’n bondel wat uit ’n borsel getrek is nie – waar sou mense nou hul hare stort indien nie reguit in ’n vullisblik nie? Glo mense nie meer aan toordery nie?
 Op hul harige onderlaken, skaars herkenbaar as toekomstige kwikkies.
Die hare laat my toe dink aan my eerste ernstige kêrel, VL, wat op op ’n haar na Woody Allen gelyk het en inderdaad deur mense in die straat gegroet is as “Mister Allen”. Hy het dieselfde ernstige Joodse neuroses as Mister Allen gehad … maar net so pittig daarby.
My Woody het ’n ding oor hare gehad. Gelukkig net sy eies – nie soos die ander Joodse kêrel wat ereksies oor my goue beenhare gekry het en alle skeermesse in ons woonstel verbied het nie. (Hy’t ook ’n fobie oor skuim gehad, maar dis ’n skinder vir later.)
Die eerste keer toe ek VL se hand vashou – op ’n bus, ons was albei joernaliste op pad terug van ’n funksie – kon ek nie verstaan waarom hy agterstevoor eelte het nie. Later het ek talle demonstrasies van die ontstaan van die verskynsel van agterstevoor eelte aanskou, tot malwordens toe. Hy het naamlik vuis in die mond gesit en al die haartjies aan die agterkant van sy vingers afgebyt totdat rooi, skubbige eelte gevorm het.
Die ander hare aan sy vreemde wese was ook nie bestand teen sy aanslae nie. Hy het orals kaal kolle op sy kop gehad waar hy sy mooi kastaiingbruin hare in orgies van neurotiese denke uitgepluk het. Hy het dikwels voor die spieël van die badkamerkassie gaan staan, sy onnatuurlike en natuurlike blesse betrag en dan gelamenteer: “As ek die dag hieroor gaan begin skree, sal die Here self moet afkom en my moet vashou.” Ter kalmering druk hy dan sy neusporieë uit.
Ek skinder nou lelik en aanhoudend, maar hy het ook dikwels hand in die hemp gesit, Napoleon-styl, en die hare op sy bors gemolesteer. Elke boek of tydskrif wat hy gelees het, het boekmerke van hare gehad.
Omdat hy ook so ’n ontevrede man was, het ek ’n kortverhaal geskryf met die titel “Die man wat aan ontevredenheid gely het en wat met hom gebeur het (’n moderne sprokie)”. Inderdaad het die ontevrede man aan ’n aaklige einde gekom, soos dit in ongesensorde, bloeddorstige sprokies hoort.
Elke oggend skud sy lankmoedige vrou sy beddegoed uit – hulle het natuurlik teen dié tyd al apart geslaap weens haar aanstootlike gewoonte om asem te haal wanneer sy slaap. Dit het die ontevrede man baie gepla. Wanneer sy dan nou soggens haar man se beddegoed op die gras uitskud, wag die voëls haar in. Orals glinster oë op takke en tussen struike. Wanneer die vrou na die huis terugstap, sak ’n piepende en krysende wolk op die gras neer. Gevegte ontstaan te midde van oorvloed. Gou staan die grasperk bekend onder die stad se voëls as die eldorado van nesmateriaal.
Sien, hier’s ek nou terug by die kwikstertjies en hul harige onderlaken.
O, en wat het verder gebeur met die Woody Allen-kloon? Hy was ook in my “Gal-ery van gewese geliefdes” (in my bundel Bloot mens), maar ek het dit voor publikasie uitgehaal. Te veel, te veel. Ek meen, hoeveel aaklige refleksies op jouself kan ’n mens hanteer? Hier’s die einde dan – die laaste paar strofes van nog ’n lang epos sonder helde of heldinne:
Ek wou jou trou,
maar die woord het jou
in diarree laat borrel en brou:
dan op knieë Imodium-grou
het jy gesmeek: Ek moet jou hou.
Hoe het dit geëindig dan
die storie van die Dopper en die Joodman?
Ironies soos net die lewe kan,
word hy ’n Jew for Jesus, ’n nuwe man:
en ek word na die kombuis geban.
My twee woordjies: “Love you”
was ter afskeid: “Fuck you”.
Tien jaar later sien ek jou toevallig
in Vishoek: vet en onbevallig
pankop onderstebo kou jy jou vingers swartgallig
langs vroutjie in tentrok voltallig.
Goddank ek’s jou gespaar: ontoevallig.
Maar daar’s nog ’n paar dae van Oktober oor … laat ek dus nou op die pers noot van die eerste jakarandabloeisels eindig. Dis mos mooi as iemand vir jou skryf: “Ek wil nog vir jou slaaptydstories lees uit vergete kinderboeke ek wil nog vir jou oordadig kook en wyn skink kruisbeen langs jou sit voor ’n kaggelvuur met winter buite ek wil nog saam met jou loop en stap tot ons beenmoeg is ek wil nog saam met jou foto’s neem wat my asem wegslaan ek wil saam met jou lag en huil oor stories en mensdinge ek wil nog deel van jou lewe wees, ek wil nog.”
Sunday, October 24th, 2010
 Paul Kruger
Daar is getuienis dat Eugène N. Marais se siening oor Paul Kruger ná die Anglo-Boereoorlog meer positief was. Dit blyk onder meer uit die skets “‘n Vonnis van Paul Kruger” in Spore in die sand en ander vertellings (1949). In dié skets vertel Marais dat hy “‘n versameling van grappe en wyse gesegdes” van Kruger opgestel het. Marais vertel verder hoe Kruger in “daardie stormagtige tyd” tydens ‘n krygsraadsitting in die Raadzaal die Engelse handelaar en “geestige grapmaker” James Broderick, wat van hoogverraad aangekla is, met sy slim redeneervermoё uitoorlê het. Marais se koerant Land en Volk het ook ‘n krans na Kruger se begrafnis op 16 Desember 1904 gestuur, hoewel die koerant onder Marais “een van Kruger se mees verbete vooroorlogse kritici” was, aldus Paul Zietsman in Paul Kruger se laaste jare: 1899-1904 (2006).
Sunday, October 24th, 2010
 Die Ou Raadsaal op Kerkplein in Pretoria
Pretoria het as ‘t ware om Kerkplein ontstaan, waar daar reeds voor 1854 ‘n markplein was. Die eerste strooidakkerk is in 1856 daar gebou. Na hierdie plein en die strooidakkerk het boere vir Nagmaal gekom en met hulle tente en waens uitgekamp. Lank daarna sou die plein nog as belangrike bymekaarkomplek dien en talle belangrike gebeure sou op of om die plein plaasvind: Die Vierkleur is die eerste keer hier gehys, pres. Paul Kruger het die eerste keer in 1883 en drie keer daarna die eed as president hier afgelê, dit was die toneel van pres. Kruger se begrafnis op 16 Desember 1904, Uniewording is op 31 Mei 1910 hier geproklameer, adv. C.R. Swart is op 31 Mei 1961 hier as die Republiek van Suid-Afrika se eerste staatspresident ingehuldig, pres. Nelson Mandela en ander is in 1964 tydens die Rivonia-verhoor in die Paleis van Justisie tronkstraf opgelê en die digter Breyten Breytenbach is twee keer daar verhoor en die eerste keer tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis.
Tans is daar nog heelwat van die geboue te sien wat reeds in Eugène N. Marais se tyd opgerig is. Die Ou Raadzaal, waar Marais as verslaggewer vir Land en Volk in die persbank gesit en dikwels met pres. Kruger gebots het, is reeds teen 1890 voltooi en is steeds ‘n indrukwekkende gebou. Volgens Hannes Meiring (in Pretoria 125, 1980) sou hierdie gebou, wat deur Sytse Wopkes Wierda in die vroeё Renaissance- of Italiaanse styl ontwerp is, in enige ander stad van die wêreld ‘n indrukwekkende parlementsgebou kon wees. Voorts is daar aan die oostekant van Kerkplein die Tudor Chambers wat in neo-Gotiese styl gebou is en uit 1904 dateer. Nog geboue wat Marais sou geken het, is die Paleis van Justisie wat tussen 1888 en 1910 opgerig is, die Standard Bank-gebou wat in die vroeё 1930’s opgerig is, die Law Chambers, die ou Hoofposkantoor, die Nederlandse Bank- en Muntgebou en die Café Riche. Die Café Riche word tans graag deur toeriste besoek en bied gereeld diepsinnige besprekings aan. Terloops, die standbeeld van Paul Kruger is in 1913 in Prinsepark opgerig, in 1925 na die stasie verskuif en eers in 1954 op Kerkplein gevestig.
Marais sou Kerkplein baie goed geken het. As pas gekwalifiseerde regsgeleerde het hy hom in 1902, kort ná die Anglo-Boereoorlog, as advolaat in ‘n gehuurde kantoor in die ou Nederlandse Bank-gebou op Kerkplein gevestig. In later jare sou Marais meermale oor Kerkplein stap om by die Peacock-apteek net anderkant die Café Riche sy morfien te koop; ‘n mens het jare later nog die inskrywings in die register kon sien. Die apteek het, soos talle apteke in die middestad van Pretoria, enkele jare gelede gesluit en tans het ‘n Indiёr-geneesheer sy spreekkamer daar.
Saturday, October 23rd, 2010
Afrikaans heeft pas echt betekenis voor mij gekregen als voertuig voor vriendschap. Omdat de vrienden schrijvers waren, volgde een safari door de Afrikaanse letterkunde (eigenlijk meer een willekeurige reeks droppings, uitgelokt door vertaalwerk, correspondentie en het verzoek van het Nederlandse webschrift Meander om recensies te schrijven van Zuidafrikaanse dichtbundels.) Zo is het voor mij ook voertuig voor vermaak geworden. Taal is natuurlijk niet alleen een communicatiemiddel. Het is een middel waarmee we onder woorden brengen wat onze zintuigen ons doorseinen. We proberen er het tastbare en ontastbare mee te vangen, maar we scheppen er ook een nieuwe werkelijkheid mee. Misschien liepen er ooit alleen films in onze hersenen met een klankenstroom als begeleiding. Zoals de walvissen zingen. Tot de stromen zich langzaam splitsten in een woordenstroom en een klankenstroom en de film zowel achtergrondgeluid als ondertiteling kreeg. Waarna de woordenstroom zich verder van de onmiddellijke werkelijkheid verwijderde en in de hersenen een eigen zelfstandige werkelijkheid vormde. De zee van de verbeelding. Geboorte van de literatuur, al was het eerst nog alleen mondeling. Elke clan zijn eigen taal. Bij ontmoetingen tussen verwijderde clans werden de verbindingstalen, de scheepstalen, markttalen en de dieventalen noodzakelijk. Taal als afzonderingsmiddel en bindmiddel. Taal als onderdrukkingsmiddel (zie Viktor Klemperer: LTI, de taal van het Derde Rijk, aangehaald in http://www.groene.nl/2010/39/taal-is-niet-stom ) en bevrijdingsmiddel (de taal van Schwitters en de herleefde dialecten als verzet tegen de centrale macht - Baskisch versus Spaans.)
Ik had er nooit over nagedacht, maar wat voor taal is Afrikaans? In beginsel natuurlijk gelijk aan alle andere talen. Bevrijdingstaal. Bindingstaal. Helaas een tijd lang apartheidstaal, waarmee de kleurloze overheersers hun onderlinge verbondenheid (=trotse nationalisme) wilden uitdrukken, maar hun taal tegelijkertijd gebruikten om het onderscheid met gekleurden te benadrukken. Dit is wat elites doen. Ze gebruiken er hun taalkundigen, juristen, pr-mensen en spindoctors voor. Geef ze teveel macht en hun taal wordt commando- en propagandamiddel.
De apartheid kwam ten einde en in het begin leek er in de regenboognatie ruimte genoeg voor een regen van talen. Maar het oud zeer was daarmee natuurlijk nog lang niet genezen. Afrikaans werd alleen nog bindingstaal voor de Afrikaans sprekende burgers, vooral omdat Engels als nationale taal werd gekozen. Een bittere pil misschien, maar uit neutraal oogpunt een logische, verstandige keus. Ieder mens op aarde zou minimaal twee talen moeten beheersen: zijn eigen taal en een wereldtaal. Anders praten we letterlijk langs elkaar heen. Engels is de wereldtaal van dit moment - handelstaal, popmuziektaal, filmtaal en wetenschappelijke taal. Een probleem is dat die taal voor velen ook weer onderdrukkerstaal is en bovendien gebruikt wordt in een overheersingsstrijd. Laten we het de cocacolonisatie van de wereld noemen (begrip hoorde ik in 1966 voor het eerst van A. den Hollander, hoogleraar Amerikanistiek in Amsterdam.) Het is niet prettig, maar wel praktisch. Je went er aan.
Betekent dit dat andere talen dan maar moeten verdwijnen? In Europa is de vijandschap van vroeger aan het verdwijnen. Dat heeft lang geduurd, maar nu is het besef gegroeid, dat een taal en de daarmee verbonden literatuur kwetsbare cultuurgoederen zijn. Ze zouden voor verdwijning moeten worden behoed. Het verschil tussen Europa en Zuid-Afrika is, dat Europa uit autonome landen bestaat, die elk hun eigen taal willen behouden. Elk land heeft een eigen regering, die de eigen taal beschermt. Zuid-Afrika is één land, met één regering en die gebruikt haar macht niet om alle talen te behouden. In Europa zijn er speciale programma’s en wetgeving gekomen om het voortbestaan van talen te bevorderen. Die gaan zelfs zover dat kleine, niet-officiële talen toch worden beschermd. We zouden het voorlopig als uitwerking van de vrijheid van meningsuiting kunnen beschouwen, maar ook als uitwerking van legaliteit. De documenten van de Europese unie worden in al die talen geschreven, omdat de burgers anders niet in staat zijn de wetten te kennen. Dat is het resultaat van een politieke strijd, die overigens nooit zal ophouden. In deze dagen is in Nederland een conservatief-populistische regering gevormd, die de noodzaak van bezuinigingen heeft aangegrepen om een kennelijk bij sommigen bestaand ressentiment tegen Hogere Cultuur om te zetten in een volkomen krankzinnig voornemen om onder andere vier van de beste muziekgezelschappen van de wereld om zeep te helpen. Daarover misschien nog eens een andere keer. Hetzelfde kan gemakkelijk ook met taalprogramma’s gebeuren. Alles van waarde is weerloos, immers. En de waarde van een andere dan een eigen taal wordt door mensen die niet geïnteresseerd zijn in andere wereldbeelden en denkwerelden dan hun eigen beperkt-nationalistische al snel volkomen over het hoofd gezien. Sterker nog: hun ressentiment kan omslaan in regelrechte vernielzucht, waar de diversiteit van geloof, cultuur, kunst, taal het doelwit van wordt. Gegeneraliseerd: populisten, nationalisten en andere egoïsten geloven alleen in het eigene en bestrijden het andere, het anders-zijn. Op dezelfde manier als een Nederlandse lokale politicus die in het trotse bezit van één werkende hersencel is, een orkest, dat al bijna een eeuw een cultureel monument is, ‘een clubje tromboneblazers’ noemt, kan gemakkelijk een taal worden afgedaan als onnuttig en van generlei waarde. Dat daarmee ook de mensen, die in en door die muziek of taal leven met hun muziek of literatuur, bij het grootvuil worden gezet, wordt door zulke politici vergeten. Daarom maak ik mij grote zorgen om het Afrikaans. Op dit moment belooft het politieke klimaat in Zuid Afrika weinig goeds, lijkt mij.
Want veranderde de verhouding tussen wit, zwart en bruin? Wel waar het weldenkende mensen betreft. Maar nog lang niet genoeg om de angel uit het probleem te halen. Ik durf te wedden dat er heel veel witmense zijn, die er niet eens een seconde over nadenken, hoe bedenkelijk het is dat ze door swartmense nog steeds met ‘baas’ worden aangesproken. Het overkwam mij regelmatig toen ik in Zuid Afrika was en het woord sloeg me telkens als een sjambok in het gezicht. Baas? Omdat ik een blanke ben? Ik ben uw baas niet, ik kan het niet zijn en ik wil het niet zijn. In dat woord ‘baas’ liggen afstand, misverstand, wrok en haat besloten.
Diep tragisch vind ik dit, want Afrikaans is de taal van mijn vrienden, die voor hen van levensbelang is. Het is deel van de identiteit van miljoenen mensen, het is een voertuig voor kunstbeoefening, middel voor scheppen van schoonheid, het is een uniek cultuurgoed van grote betekenis, net als elke taal. Taal wordt deel van ons, we laten horen dat we leven met de eerste kreten en we spreken laatste woorden uit. Daartussen ademen we woorden. Wie ons onze taal ontneemt, verstikt ons.
Er moet iets gebeuren. Zo lang de talen in SA immers niet worden losgezongen van de nog zo verse vete, zolang ze niet als een cultuurgoed in zichzelf worden gezien, van levensbelang voor de sprekers van die taal, zal het niet goed aflopen, vrees ik.
Het wezenlijke probleem is, dat de zwarte bevolking eeuwen lang stelselmatig ontmenselijkt is, behandeld zoals je je hond nog niet zou behandelen, vertrapt, verjaagd van zijn land, gedwongen tot bittere armoede. Daardoor is ook hun besef van de waarde van het leven van anderen verdwenen. Als je maar lang genoeg als minderwaardig beest wordt behandeld, ga je je ook als minderwaardig beest gedragen. Je hebt geen kans gekregen, jezelf als volwaardig mens te ontwikkelen. Je hebt de kennis niet kunnen vergaren en je bent van je waarden en waardigheid ontdaan. Komen daar niet vele van de excessen uit voort waar iedereen in Zuid-Afrika onder lijdt, elke dag weer? Is dat niet de voornaamste reden voor het verlies van status van het Afrikaans en voor het geleidelijk verstikken van die taal door de ANC-regering?
Ik las ‘Kitaar my Kruis’ nadat ik dit had opgeschreven. Ik zocht naar een gedicht om dit betoog mee af te sluiten. Dat vind ik niet in de bundel van Adam Small, omdat het niet ‘die Here is, die het gaskommel’, maar ‘die mens die het geblaps’. Het lot van Afrikaans ligt in handen van mensen. Het is in gevaar als gevolg van blunders van mensen. Het wordt tijd voor een tweede verzoeningscommissie.
Tuesday, October 19th, 2010
 Die Brandwag
Eugène N. Marais het sy werk in ‘n verskeidenheid koerante en tydskrifte gepubliseer, naamlik Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Brandwag, Ons/Die Vaderland, Die Volkstem, Die Burger en The Star. Sy verbintenis met Ons Vaderland het veral verstewig nadat hy uit Heidelberg teruggekeer en hom in Pretoria gevestig het. Gustav S. Preller, wat die hoofredakteur van die koerant was en ‘n hoë dunk van Marais gehad het, het hom oor sy vriend ontferm en Marais in Februarie 1928 as subredakteur by Ons Vaderland aangestel. ‘n Jaar later het die koerant ‘n dagblad geword. Benewens die skryf van verhale en artikels (soos die reeks “Burgers van die berge”, wat tussen 26 Maart en 4 Junie 1932 in die koerant geplaas is en in 1938 onder dieselfde titel in boekvorm verskyn het), was dit Marais se taak om nuusberigte van die Duitse nuusdiens Transozean te vertaal en te verwerk. Marais se betrokkenheid by Die Vaderland onder Preller se redakteurskap het ten einde geloop toe sy verhaal “Spore in die sand” omstreeks Maart 1935 deur die assistentredakteur, Willem van Heerden, vir publikasie geweier is.
As gevolg van Marais se morfienverslawing en swak gesondheidstoestand het sy skryfwerk dikwels in uiters ongunstige omstandighede ontstaan. A.M. van Schoor het die volgende vertel:
“So gereeld soos klokslag het dit gebeur dat ons die hele koerant, die hoofnuusblad inkluis, klaar gegiet het en dat die vervolgverhaalblad op die steen lê en wag terwyl ons oom Eugène na die werklikheid probeer terugroep. Male sonder tal het hy dan op die steen die hoofstuk klaar geskryf. Dit is dan feitlik sin vir sin van die skryfblok afgeskeur en in aller yl geset.”
 Die Huisgenoot
In Die Huisgenoot publiseer Marais in 1925, 1926 en 1931 sy reeks artikels wat later as Die siel van die mier in boekvorm uitgegee is. Op die hakke van dié sukses publiseer hy ook ‘n reeks artikels oor bobbejane, getiteld “Die siel van die aap” (later opgeneem in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte). In dié jare het Die Huisgenoot onder redakteurskap van slegs twee redakteurs, naamlik H.G. Viljoen (1923-1931) en J.M.H. (Markus) Viljoen (1931-1949), gestaan. Volgens C.F.J. Muller het Die Huisgenoot in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu die Afrikaner só gehelp om te lees “dat hy sy kulturele en intellektuele horison aansienlik verruim het”. Die publikasie van talle artikels met ‘n leersame en/of opvoedkundige strekking het grootliks hiertoe bygedra. Die hedendaagse navorser merk benewens die groot aantal geskiedkundige artikels ook ‘n beduidende aantal bydraes van ‘n natuurwetenskaplike aard op. Benewens die artikels van Marais verskyn daar ook bydraes soos dié van die entomoloë A.J. Hesse en S.H. Skaife en die herpetoloog F.W. FitzSimons. Marais se werk word saam met ander wetenskaplikes s’n gepubliseer en nie as kuriositeite of “rubrieke” oor allerlei wetenswaardighede soos dié wat later meermale in die Afrikaanse pers sou verskyn nie.
‘n Groot deel van Marais se werk het ontstaan toe die vestiging en standaardisering van Afrikaans hoë voorkeur geniet het.
|
|