Andy Fierens - vertaling in Afrikaans
Wednesday, January 11th, 2012Andy Fierens - vertaal deur/ vertaald door Francois Le Roux
nooit word ons êrens uitgenooi
nooit word ons êrens uitgenooi en as mense ons wel ʼn keer vra
dan gaan ons nie, ons is so anders, ons droom van anemone wat suig
aan die houtbeen van ahab, aan sukkelaars wat krummels gooi
na ‘n sleutelhouer-eendjie, quizmeesters en werkersmiere
wil ons i.k. van ons weet, en ons antwoord dat ons nie die vraag verstaan nie
ons weet slegs dat enige-een wat ons huis binnekom hul streng moet hou
by interne orde-regulasies
ons het gillend vanuit die lig geval, is omring deur starende konyne
wat suurmelk drink uit ‘n harige bak, onder die wanindruk van alleenheid
besnuffel hulle hulself, en as hulle bedruk raak is daar altyd iemand
wat ons pret bederf deur met hulle te begin speel
misterieuse oorgewig meisies stap daagliks voor ons vensters verby
hulle hoop op rampe, katslingers in hul diepste wese, en let tog op
die geruis van a’s en o’s, gerugsteun deur ‘n simfonie van kwaakdiere
as hulle lang sinne praat oor die vernietigingsmeganisme van ‘n wolk
hulle is die soort wat die reeksnommers van hul borsinplantings invul op hul
lottokaartjies, die soort met ʼn volmaakte skoptegniek wat dan eerder tennis speel
hulle is die armes wat die vet jare namaak met ‘n opblaaspens en dis hulle
wat sê london bridge is falling down, so jammer jy kon nie daaronder staan
maar ons oordeel hulle nie, ons sê maar net dat die beste psigoloë sweer by nekskoot-terapie
ek voel so alleen, sê elkeen wat ons teëkom (die pa’s en die tieners
en die skaamspleetboelies) - kyk, ons is geen pseudo-moraliste wat hul wederhelwe
bedrieg met ‘n transseksuele lookalike nie, ons is geen diewe in die nag wat met knuppels invaar
in die hoenderhok van armsalige wedergeborenes nie, ons sê gewoon dat solank
‘n inwoner van doosdrif ‘n doosdrifter is, dat solank daar onskuldige idiote
met onskuldige idioot-verdriet is, ons sê eintlik maar net dat die wat die laaste van die mohikane
was miskien heroïes en cool lyk, maar die feit bly dat hy elke aand sy eie skottelgoed moet was
ons laat ons nie bestraal daar waar geen kanker kan bykom nie, ons vlieg
nie na die maan om die aarde te kan sien nie, ons is geen freaks wat voor die oë
van hul kinders die wêreldrekord vir paaseiervangste verbreek nie, ons is geen
boere-blondines wat in mendeljev se tabel verskyn as element
sonder eienskappe nie, ons is geen kulturele praatjiesmakers wat uit
volle bors laat roep liewer ‘n muitery op die bounty dan verveling op ‘n veerboot
o, ons vergader bedoelinge, o ons vergader liefde en haat en seemansliedjies
en dit is nie dat ons nie met u wil praat nie maar ons lustetabernakel moet dringend
in vir reparasies, nee ons gaan nie daaroor lieg nie, ons spandeer liewer
die res van ons dae om ons leë plastieksakke mooi reg te sit as wat mense gedurig
na ons verwys as draadtrek-drilsersante al kloekende rondom lustige hol-tes, of nog erger: as
haarkappers met handkrampe, ons moet slaan en salf, slaan en salf, veral slaan
daar is hulle wat hulle cd’s in koffiefilters bêre, daar is hulle wat nie kan oorleef
sonder suiganarol of lekamydose nie, en daar is hulle wat hoog en laag sweer
dat klankdigte onderbroeke ook geur verbeur en daar is hulle wat voet in die hoek sit
op deurnat paaie, hosanna skree op skerpe draaie maar ons spreek geen oordeel
daaroor uit, ons sê slegs stilte! hier speel mense lugkitaar
altyd dieselfde aan jou deur: die spoegbelopenes met die geswolle bene
die meester van atmosfeerbederf, die verneukte huismuis met haar kettingrokende
geskeide boesemvriendin, ons praat maar net, ons is in die modus van suip
ons konsulteer die dame met die tarotkaarte en die dame met die tarotkaarte
sê die lewe is ʼn wonder, en dié van julle stink van onder
ons oorleef op brandweerwater en vulkaanas, met wonderbra’s en pepersproei
hou ons onsself omhoog, nie-wetend hoeveel kilowatt geduld ons versprei
aan vriende op hul terugkeer maar dit was baie en met toerisme op sigself
skort daar niks nie, maar ons het onsself groot vrae afgevra toe die viëtnamese gids
aan ons voorstel om teen ‘n lekker afslaggie met ‘n bazoeka die koeie
van sy buurman af te maai
ons gooi ‘n fantoombom in ‘n see van mense, die resultaat is popcorn
wat knetter in ‘n skedelpan, ons stuur fanmail na swaarlywiges wat
op dieet gesit word en ‘n rookwors wegsteek tussen hul vetrolle
ons dink na oor die rooi, die geel en die bruin gevaar waaruit ons
luidkeels aflei dat die dodo glad nie so ver gefaal het
toe hy van die gaan-en-vermenigvuldig-pad afgedwaal het
daar is diegene wat sê volksmoord is geen doodsake nie, dis statistiek
daar is diegene wat met ‘n luiskammetjie gestolde pasta uit die hare van
hul tandeborsel kneuter, daar is vroue wat wil sterf sodat
hul mans die defibrivibrator kan toets en daar is hulle wat fantaseer oor
spontane selfontbranding maar ons spreek geen oordeel daaroor uit nie
ons sê alleen dat swyg soms erger is as moord, ons sê gewoon
soms moet jy soos ʼn speg ‘n kompromis te lyf gaan
ons met ons front row tickets, ons wat soveel waarde heg aan
verteringsgerief, ons wat so ‘n hekel het aan kommuniste wat
beweer dat die opwarming van die aarde ‘n gevolg is van die kapitalistiese
uitbuiting van die seisoene, ons met ons kinkhoes in kabouterland, ons
tel die sirkels van kandinsky en die vere in volière, ons oortree nie
die reëls nie, daarvoor is ons harsings te streng, ons lig ons duime vir
vermoeide helde aan die daeraad van ‘n nuwe shoot out en
tussen ons gesê en verswyg: eens het ons maande gebid dat dit moet ophou
reën maar toe dit eindelik opklaar word ons aangestaar
deur ‘n eindelose kille bloue leegte
o carmina carburator, ons is geen lid van vissersklub moed & geduld
ons is geen lid van gimnastiekklub lenig en snel, ons is geen
homoseksuele homohaters, ons is geen deur vrou en god verlate
bystandstrekkers wat pretensievol die bundel 10 poems that will get you laid
gaan sit en lees op die onderklere-afdeling van truworths nie, ons is geen
kulinêre stommerik wat kla omdat die gazpacho koud is nie, ons is geen
esoteriese handsakgrypers wat hulself vandag uitsonderlik in toom
hou omdat mercurius sy marskante bestraal nie
ons mag nie kla nie, daar was mooi dae en elke sentimeter tel
en as julle dit werklik wil weet, die mooiste oomblik was toe die kiss and ride
onderbroke blyk te wees en ons inderdaad oorweeg het om gewoon aan te hou ry
ons is die cadavre exquis, dit is ons droom: in polonaise verlaat
ons die brandende paleis, duik ons die water in met laventel tussen
die tande, styg ons uit die diepste weer op en lanseer ons onsself
soos ‘n vuurwerk deur die spuitgat van die wit walvis om daarna soos ʼn bruisfabriek
van geure bo die oseane te sweef indigo ligroos geel grasgroen rooi
dit is die droom
daar is diegene wat tot rus kom by die gezoem van die magnetron, daar is diegene
wat seesiek word by die gedagte aan ‘n lekkende kraan, daar is diegene wat
swem in haaivinsop om gevaar te bowe te kom, daar is diegene wat
jou blomme skenk en jou daarna te lyf gaan met die vaas, daar is diegene
wie se regterhand lid is van ‘n selfhelpgroep, daar is diegene wat as kleingeld
dien vir haremlose manne, daar is diegene wie se lieflingsdiere getekende
diere is, daar is diegene wat sê dat ʼn melaatse beskou kan word as ʼn heilige
maar ook as ‘n legkaart van 1000 stukkies, daar is diegene wat glo dat alles
beter word deur die lees van boeke met titels soos die wonderbaarlike
facelift en 99 ander moderne mirakels, daar is diegene wat leef volgens die leuse
the groove is on the move & die wêreld draai rond & stuur tog groete
aan jou katelwonde, daar is diegene wat ‘n bekerhouer op ‘n kanon vasmaak
om met die terugslag na die skoot bierskuim te kan kry
daar is diegene wat van koerasie smulgeluide begin maak,
daar is diegene wat opgetjaarts word deur geriatriese divas, daar is diegene
wat beweer dat oordaad baat, daar is diegene wat kug
totdat hul derms soos ‘n lasso uit hul bekke vlieg, daar is diegene wat sê
liefde is om totaal futlose weerstand te bied, daar is diegene wat bid vir
die heil van die wêreld, daar is diegene wat bid vir ‘n goed funksionerende
maagklep, daar is diegene wat hul deur botox laat inpomp met ʼn tuinslang
en daar is diegene wat ure lank jou knaend kan beklets sonder om iets sinvol te sê
terwyl jy eintlik dringend op pad moet wees maar na wie jy tog bly luister
uit simpatie of ter wille van ‘n sekere vorm van medelye want nie selde
betrek dit op sosiaal geïsoleerdes nie en omdat jy dink dat dit uiteindelik wel êrens
heen sal lei bly jy kalm, maar tog blyk dit op die einde altyd weer
dat daar geen punt is aan hul verhaal nie, geen einde, geen boodskap, nada, niks
slegs verlore tyd, daaroor spreek ons geen oordeel uit nie, maar as ons ewenwel
mag saamvat, ons bedoel gewoon, ons wil maar net sê, nooit
word ons êrens uitgenooi en as mense ons wel ʼn keer vra dan gaan ons nie
Vertaling van die gedig NOOIT WORDEN WIJ ERGENS UITGENODIGD
deur Andy Fierens
(Vert. Francois Le Roux, 2012)
|
Andy Fierens is dichter en performer. Zijn hilarische en genadeloze teksten, zijn voordracht hamerend als het ritme van een repeteergeweer, hebben cultstatus van België tot Japan.
Hij bezit het brulgehalte van Johnny The Selfkicker, de absurde levensvisie van Gust Gils en de punk power van John Cooper Clarke. Zowel solo als met zijn groep Andy & the Androids overrompelt hij de toeschouwer met zijn verbale oerkracht. Zijn bundel ‘Grote Smerige Vlinder’ werd bekroond met de Herman de Coninckprijs voor het Beste Debuut. Uit het juryverslag: ‘Potige testosteronpoëzie van een dichter die wijdbeens in het leven staat en met een glimlach in de klerezooi stapt.’ Romantiek op zijn Fierens’. Dichter zonder vrees! |














