Andries Bezuidenhout

 

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout

Andries Bezuidenhout is ’n sanger, digter en akademikus. Hy is ʼn lid van die Afrikaanse rockgroep die Brixton Moord & Roof Orkes. Die orkes het twee CD’s vrygestel, Spergebied (2002) en Terug in skubbe (2004). Hy het ook twee solo-CDs, Insomniak se droomalmanak (2003) en Bleek Berus (2009), vrygestel. Hy skryf ’n tweeweeklikse rubriek vir Rapport. Sy debuutdigbundel Retoer is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer en ‘n versameling koerantrubrieke, Toeris in Hillbrow, kom binnekort by Human & Rousseau uit. In die dag werk hy as sosioloog aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

 

 

KWAS

“[R]hetoric is the art of saying well that which may or may not

 be true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.”

- Otto, karakter in Umberto Eco se Baudolino

 

woorde deurnag in terpentyn geweek

onder kraan laaste kleur uitgeklits

hoe ystervark die stele vanoggend

hoe puntig steek hulle verby die oog

hoe brandwag hulle paraat in albaster

om weer kop eerste

in spoeg sweet en saad te dompel

om jou lyf en my lewe

skilderagtig te belaster

 

© Andries Bezuidenhout. Maart 2010 

 

GEREFORMEERDE HEILDRONK

(op Jan Lion-Cachet)

 

as die oggend oopbreek is selfs die winter helder

vlas fladder bo en hier onder is jou beker al koud

die moer die papbord se vet het gestol maak die boek toe

trek die gordyn eenkant voel die son op jou gesig

sê hulle moet die stoof stook sê hulle moet water kook

en as warrelwinde stofwolke opklits dink jy soms terug

onthou jy winters polders meulens wat knars

en beur en pomp teen vog wat in mure muf

onthou jy hoe pa hout in die herd pak die huis kil

en klam lig skuifel flou oor die vloer stil

lê gragte onder gerwe rook teen die lae lug

dit was lank gelede vir jou ʼn skeepsreis ver

na ʼn ander vaster land jou mense altyd op vlug

 

hoe reis jy van die laeland avondland waterland

na hierdie land waar alles bars en los is waar dorings

deur die sole steek en die son die vel se bolwerk breek?

 

hier waar dit oop en droog is die hemel hoog is

hier op die vlaktes van burgersdorp tussen koppies

rantjies waar skape vrank aan bossies kou

en rustenburg waar osse doringbome uit die aarde ruk

vir ploeg en plant en die skemer vlamme uit die klowe pluk

op hiérdie vlaktes het jy stuurs jou stoere kerk kom bou

het jy pen en toga opgeneem gedig en betoog

met totius pannevis en hoogenhout sodat ons moedertaal

gehoor kan word in raad kantoor en skoollokaal

 

seun van salomon lion-cachet en rachel hamburger

seun van ʼn ou en ander diaspora die klokke lui goties

in afrika rig die doppers psalms na bowe:

 

mazel tov oom jan

mazel tov

 

 

Die derde vers verwys na die bewoording op een van die taalmonumente te Burgersdorp, wat lees: “Erkend is nu de Moedertaal in Raad, Kantoor en Schoollokaal. Eerste Yweraars Afrikaanse taal: SJ du Toit, A Pannevis, J Lion Cachet, CP Hoogenhout.”

 

© Andries Bezuidenhout. Junie 2009

 

 

 

MOESON

 

lyf en seil beur teen die wind

die dhou se romp lenig in die see

bring mense en sakke rys aan wal

donkies dra ys in grasmandjies

oor hul rûe vir vishandelaars

vroue met bui-buis loop

op Lamu se promenade

die swart linne bedoel om te hul

maar die wind soen

die lyne van hul lywe

 

lomp span ek die seil

van my tong

om die winde van Afrika

se ander bastertaal

vas te vang –

 

Ee Mungu nguvu yetu

Ilete baraka kwetu.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

Bookmark and Share