annie klopper
|
Annie Klopper (Die Rockjagter) woon in Kaapstad. Sy is redakteur by Protea Boekhuis en is LitNet se musiekkorrespondent. Haar rubriek oor plaaslike musiek op LitNet, getiteld Rockjagter, het gelei tot haar gereelde insetsels op RSG onder dieselfde titel. Annie behaal ‘n B.A. in Geesteswetenskappe asook ‘n Honneurs (cum laude) en ‘n M.A. (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Annie was mede-navorser vir die MK-dokumentêr Johnny en die Maaiers, mede-samesteller van die 2007-heruitgawe van Eugene Marais se Die Siel van die mier (Protea), bydraer tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (Sun Media) en van haar gedigte is opgeneem in Penseel 2007 (Universiteit van Stellenbosch), Versindaba 2008 (Protea) en Nuwe stemme 4 (Tafelberg).
|
ingenieur
vanaand wil ek graag ’n ingenieur blameer
want in hulle siviele hoedanigheid
en obsessie met praktiese funksie,
tyd, geld en somme
onderskat hulle dikwels die ról van brûe
miskien, as ’n ingenieur destyds gedink het
aan die estetiese moontlikhede van ’n brug
miskien as brûe meer flambojant was
het ek gekies om vanaand bloot oor ’n brug
na jou te stap
eerder as om ’n storie oor ingenieurs
hier neer te krap
en mooi woorde te gebruik
om jou te probeer
bereik
© Annie Klopper. Mei 2010
strelitzia
dit was reeds te laat vir verskonings maak
toe mevrou Susan van Breda – enkele sekondes
nadat sy die oggend om stiptelik sewe-uur
met ’n lang sigaret
tussen gladde naels agter die stuur
van haar luukse sedan ingeskuif het –
skielik
geskok
na die linkerkant van haar simmetries
geplaveide siersteenoprit staar
dit was reeds te laat vir verskonings maak,
ja,
maar
dalk
indien sy nie so besig was om
(met die staar saam)
aan verskonings te dínk nie
sou sy dalk ten minste redes kon kop
waarom haar seun haar strelitzia
stukkend sou wou skop
© Annie Klopper. Maart 2010
’n Doos met rose op
in ’n stampvol trein se stampvol hoek
tussen Clocolan en Bloemfontein
staan ’n vrou met ’n doos
met rose op
(haar oë se blou is bruin)
haar waterige oë het glase oor
sy’s vuil en haar voete kaal
haar bruinpienk trui
het hare op
en haar rubbervel is vaal
die mense ken al die roosdoosvrou
tussen Clocolan en Bloemfontein –
in haar vuilpienk doos
met rose op
kriewel daar iets klein
uit ’n roospienk doos in ’n stampvol trein
wat ruk met ’n steenkoolsang
haal die vuilvoetvrou
’n katjie uit
en sy vryf dit teen haar wang
die mense wat kyk na die stinkvoetvrou
in die steenkoolstoom na Bloemfontein
sien ’n vaalpienk vrou
met ’n roosdooskat
en hulle harte word piepklein
gaan soek maar na die vuiltruivrou
tussen Clocolan en Bloemfontein –
in haar vuilpienk doos
met rose op
bêre sy jou pyn
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008






