antjie krog

Antjie Krog

Antjie Krog

Antjie Krog is digter, joernalis en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het elf Afrikaanse digbundels en twee bundels kinderverse gepubliseer. Haar drie niefiksiewerke, Country of my skull (1998) en A change of tongue (2003) en Begging to be Black (2009) verskyn in Engels.  

Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse ontvang: die Eugene Marais-prys (1973), die Rapport-prys (1987), die Hertzogprys (1990), die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003. Gedigte van Krog is in Engels, Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal. In 2009 verskyn ‘n keur uit haar werk, Digter wordende , by Human & Rousseau.

 

Abecedarium vir Afrika

 

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis

Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis

Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot

Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop

Eekhoring Engelvis Elsie Eland

Feniks Fiskaal Flamink Fisant

Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok

Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod

Ietermago Impala iMpevu Ibis

Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis

Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan

Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan

Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe

Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe

Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou

Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou

Quagga Quil snuif op Engels aan die lot

Ratel Roerdomp Rinkhals Rot

Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael

Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal

Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)

Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis

Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond

Xhama laat in Xhosa spore op die grond

Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark

Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard

 

Ja alles van hier van huis en van haard

Alles wat kruip volgens suidelike kaart

Alles wat fladder, doodle of dool

Wag reikhalsend op die koms

     van die Amazi-voël

 

(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)

 

 

dit rammel sag

 

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.

vanuit die binnevlerk van wolke veer

die donderweer al met die stil verhemeltes

van berge langs. ‘n tiptol stip die mees

 

intieme plek aan in die esdoringboom –

die plek waar die stam die stilste boomwees hou.

o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom

uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

 

vel oopsnou na die geur van dragte vol

geloftes. in haar hare bloei die rose.

haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

 

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy

so karig, so alleen, of het sy so

gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

 

 

die blikbul van lavigny

van borsspiere bult is hy uitgeput. sy lyf

van onverganklik jonkwees gedaan

sy verwende borskas sak diep tussen

sy pote in as hy die blonde koringveld

 

opwaarts swiep in ‘n vaag-onthoude snak

van geluk – wanneer laas is sy sjarme

metafories betas? roerloos roes sy

bal. sy lieste ril beskermend teen soet vergane

 

geilheid vas. wat moet word van hierdie

on-ejakulerende jagse bul? sy horing hang. sy

stert tril nog om solitêre swier maar sy lyf is

een opgehoopte dom vrag vrees … hy weet die groot

 

inmekaarstort kom en druk sy kwylbek vir

oulaas vrypostig tussen persblou pruime in.

 

(Uit: Verweerskrif, Umuzi, 2006, opgeneem in Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006)

 

 

Klein vrede

 

Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie

5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak

vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm

voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel

Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï

haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit …

Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ‘n omgesoomde meelsak

hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur

Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek

sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.

In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in

tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.

 

© Antjie Krog. (Uit: Mannin, H & R, 1975)

Bookmark and Share