barend toerien

Barend Toerien

Barend Toerien

Barend J. Toerien (1921-2009) se eerste bundel gedigte het in 1960 verskyn. Sy werk het van vroeg af “anders” geklink as dié van sy tydgenote, waarskynlik omdat hy reeds in 1947 op 26-jarige ouderdom die land verlaat het.

 

Toerien woon die grootste deel van sy lewe in die VSA. Benewens nostalgiese verse oor sy jeugwêreld – die plaas Steenwerp teen die berg suid van Porterville- skryf hy unieke natuurverse oor die Catskill-streek van die staat New York. Die hoogtepunt van sy werk is die bundel ‘n Plek op die land. Catskillverse (1985). (‘n Mens sou hom ‘n Afrikaanse Robert Frost kon noem.) Verder val sy gedigte op deur ‘n speels-satiriese toon en aweregse erotiek.

Toerien beoefen ‘n groot verskeidenheid versvorme. Hy is ‘n bedrewe beoefenaar van die vrye vers en die “praatvers”, maar hy skryf ook rymende formele versvorme soos die limerick en sonnet. In die bundel Illusies, elegieë, oorveë, transfusies van 1975 staan daar ‘n indrukwekkende reeks sosiaal-kritiese “Shakespeariaanse sonnette”.  ‘n Keur van sy werk, Om te onthou, verskyn in 2006 by Protea Boekhuis. Toerien is op 4 September 2009 oorlede.

 

 

LAASTE GEDIGTE (2007-2009)

 

 

Laagwater

 

Laagwater. En die seun soek vondse met sy voete,

vroetel met sy tone deur die wier

en alikreukels, periwinkels,

met die glip van klipvissies oor die bloumossels.

 

Wat het van daardie kind geword

waar hy daar sit in die son

en stip staar na sy vingers rumatiekerig krom?

Klipvissies met slap stertjies

bly gly gewoonweg in die rotssplete rond

met laagwater.

 

 

Animal Planet

 

Die luiperd wat die wildsbok neertrek,

die keel afbyt, bly sierlik pragtig met sy kolle,

sy medaljes, wat moord mooi laat lyk.

 

 

Fractured Afrikaans

 

deursigtig X glass door

heeltemal X much too crazy

vantevore X Dutch name

voorspel X foreplay

rugbaar X bare back

inbors X flat boobs

rondborstig X big boobs

onsigbaar X unsightly

in der minne X in love

hartlam X heart attack

baldadig X sexually active

bevraagteken X question mark

 

 

Hiersein ist herrlich

 

Die oggend spoel oor die berg

‘n blou golf

in ‘n almagtige mooi

As die oorstelping tot bedaring kom

sal die nugter ontnugter

en smag na ‘n ietwat geel

en ‘n bietjie mal

dat die heerlikheid van hierwees

beperkinge het ‘n hol kol

(eksepsies soos gestipuleer)

 

 

Vir die wis en die onwis

 

Om te weet dat jy weet wat jy weet

en dat jy nie weet wat jy nie weet nie, dit

is om ware kennis te besit.

As jy nie weet wat jy nie weet nie

en weet wat jy wel weet

kan jy met volgehoue toewyding

altyd sterk geConfuus bly

met wat jy weet en wat jy nie weet nie

en so kennis te verkry;

maar as jy nie weet nie en nie weet

wat jy wel weet is jy ongefokus geConfuus

en sal met onvoldoende wete bly.

 

 

Vonds

 

Die mooi en die oop oggend maak die berg glinster;

wil dat jy ook. Maar die herfsblare dan,

daardie futlose gefladder? Hul moeë gebare

wil jou toegooi onder neerslag in ‘n seeppot

van die aanmekaar soek na die ou,

die oubaas, die allesweter wat

al hierdie val glo sag in sy hande hou.

En hoe verder? Aanhou soek dan

en hom vind? Of maak dat jy hom vind?

Is die vind nodig/nuttig

met die berge so blou

die berge so blou, die groen kokkewiet

 

Die vind, die vonds net in woorde dan

in die klanke

ja, ja in die klanke net

in die net van klanke, ja, ja!

 

 

Bome
“… a nest of robins in her hair …”

 

Ai tog. Wat is daar nog te sê oor bome.

Hulle wat so diep in die aardkors vroetel,

op soek, met harige vingers, met blaarpunte

weggedraai om die wind glo nie seer te maak nie.

Wat my aangesê het, Gaan!

Weg van hier. Weg uit hierdie

blêkwortelboomlaan en die onderdrukking

van hier, die hierdie se onderdompeling.

Nou, na so baie jare terug al en met die bome

se volhou van stu en stoot die lug op

en onderlangs se soek in die grond rond

vra ek hulle, hulle met die glinster op die blare,

glimlagge van die blare, Wat kan julle sê,

julle wat klein boompies onderdruk en versmoor.

Praat. Asof julle kan praat.

Ek hoor. Julle wat my kon vermaan.

Praat.

 

 

[Hierdie gedigte het onder meer in Die Burger verskyn. -Red.]

 

Van swem in die rivier

 

Die rivier moet agter die berg wees, ‘n bergstroom

met kliprante

en orals is tolbos, kanette, waboom

en suikerbekkies opgewen tot ewigdurende beweging

om silwer-dons suikerkan aan weerskante

die dag-as-die-son-reg-bo-gaan-staan-lang.

 

Maar dis nie genoeg nie. Daar moet heide wees:

Wit, pienk en wit-en-swart;

hoogsomer verg dit en ‘n waterhondjie-settees

op die omgekeerde plafonskildery op die water.

Ook moet daar disas wees, “die rooi hart

druppend langs die soom.” En ‘n mierleeukrater.

 

Dan moet die klipwalle so effe oopmaak

tot ‘n strand

van die helderste wit sand wat jou oë seermaak

met vrede-voëlspoortjies en ‘n suikerkan vir skaduwee

en besembos en slangbos al om die kant.

En iewers is boegoe en ‘n sonbesie.

 

Trek jou dan vinnig uit, voel heling

deur jou voete styg;

en duik nou af deur die helder bruin water – die opwelling

van borrels soos soene op jou lyf – tot jou longe

skree Lug! en jy die oppervlakte breek, hyg,

en neerval op die sand, en in jou are, Lofsange! Lofsange!

 

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share