Bernard Odendaal
|
Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore en word as een van vyf broers op die hoewe Harmonie in die Waterbron-gebied buite Bloemfontein groot.Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat gee hy Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Sedert 1990 is hy dosent in Afrikaans en Nederlands aan sy alma mater, waar hy tans ’n medeprofessor is. Hy skryf gereeld poësieresensies, vakkundige kongresreferate en tydskrifartikels. Sedert 2000 tree hy op as subredakteur van die tydskrif Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging. Gedurende die afgelope twee jaar het hy in samewerking met Naòmi Morgan van die Departement Frans aan die Vrystaatse Universiteit ’n paar dosyn van Jacques Brel se beroemde chansons in Afrikaans vertaal. Naas die publikasie van sy gedigte in literêre tydskrifte is ’n tiental van sy verse opgeneem in nuwe stemme 2 (2001). Sy debuutbundel, Onbedoelde land, verskyn in September 2007 by Tafelberg. |
Onse in my pond*
|
Uitwiskunde
∆ ABC, ewewigtig, heel: gelykbenige geledere gesluit.
Toe: loodlyne uit die ewigheid wat by X, Y, Z te binne klief en konvergeer op middelpunt … EK?
Uit die stippel kringel skrik op skrik verreikend uit na onvoorstelbare kwadrature NIET. |
“Mené, God heeft uw koninkrijk geteld, en Hij heeft het voleind. Tekél, gij zijt in weegschalen gewogen, en gij zijt te licht bevonden. Perés, uw koninkrijk is verdeeld…”
|
“Die jimmel sit oor jou sosse heilige karos en Hy se goetheid sal jou nooit wee los, Hy se waarlike liefde sit wag vi jou en vi jou se nageslag.”
|
|
“soes die Engelsman sê it cuts no ice die Here het gaskommel en die dice het verkeerd gaval vi’ ons daai’s ma al”
|
Soetste, kombuislikste, klaaglikste baas-klaas-taal. Vloek&pleittaal. Rooiborsduifietaal vir allerliefstes. “Een van Suid-Afrika se trotsste veelrassige prestasies.” Bekkige bástertaal. Innieweegskaaltaal. “Draer van ons volle noodlot … Europa én Afrika in hom.” |
Welgeluksalig hierdie oë wat leer sien het jou by olielamp
hierdie ore wat aldagdinge borrelvinke bloedlemoene wonderlik hoor sê word het
en my tong met taalgrepe vir die vlegsel van jou naam en my hande wat nog altyd máák na jou |
|
Vir die digteres was Cardo so ’n “mooi klong” – “mooi genoeg om Engels te praat”.
En daar is ’n meisie in ’n liedjie, “beautiful beyond Afrikaans”.
|
“Hoe verder die kosmiese voorwerpe geleë is, hoe vinniger beweeg hulle weg na die grens van die waarneembare heelal, waar hul resesseersnelhede die snelheid van lig nader. Die ruimte is sodanig gekrom dat elke waarnemer homself in die middelpunt van die heelal waan te weeg.” |
’n Opposisiedeskundige oor gesondheid, in die parlement toe genl. Smuts premier was: “Wat ons nodig het [vir sukses met die arm kinders by die skole] is melk. En ons moet die bul by die horings pak en dit eis.” Hy’t vergeet hoe hang dit alles af! |
|
“In die Naam van Allah, die Barmhartige, die Genadige. Het u iemand gesien wat die Oordeelsdag ontken? Dit is hy wat die weeskind mishandel en die armes nie voed nie. Wee die aanbidders wat op hulle gebede nie ag gee nie! Wat goeddoen om gesien te word, en wat geen barmhartigheid betoon nie.” |
“Is liefhet ’n te ‘groot’ woord vir jou, te lank? Kort ons iets korters, met minder klank? Iets soos min. Min jy my? Of is jy dalk my aan ’t vermy? Een min een, dag ek, maak twee of reken jy een min een maak niks? Iemand minus iemand gee niemand.” |
tsokeomielarsasmktesooleariass ekosmtoreslaisakmoseotslaaesri ekosmtoseriaalstsokeomersliaas stoekomalaeissromektsoarlaises meokstolssieaartsookemeaaslsir eomtoksrleiasastoosemkiaselsar teksoomaaerlsismoeskotileasras omoketsleasairskoometsseiarasl seoktomlseaasristoomekierlasas stomokerleasaissmooketlsiaears |
* O.F. Mentzel, wat van 1733 tot 1741 amptenaar aan die Kaap was, het in ’n boek geskryf dat die taal van die plattelanders ewe min suiwer Hollands was as wat die Duitse boere suiwer Duits praat. As ’n mens die vroue sou vra of hulle ‘n Bybel het, sou hulle antwoord: “Ons heeft geen Bibel.” Vra jy dan hoeveel onse daar op ’n pond is, word hulle rooi van skaamte.
Erkenning
Hierdie stapelgedig is geskryf op uitnodiging van die ATKV vir die produksie Skilder met woorde II, wat onder meer op Aardklop 2010 uitgestal is.
Bronne
Bijbel, dat is de gansche Heilige Schrift, bevattende al de canonieke boeken des Ouden en Nieuwen Testaments,door last van de hoog-mog. heeren Staten-Generaal van de Verenigde Nederlanden. Sonder datum. St. John: De Earle Handels en Uitgevers Co.
Blom, Jan (ps. Breyten Breytenbach). 1970. Lotus. Johannesburg. Buren-Uitgewers.
Claassen, George; Muller, Piet; & Van Tonder, Morkel. 2007. Die groot aanhalingsboek. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.
Combrinck, Johan. 1998. Kwinksinnig. Taalskertse. Kaapstad: Tafelberg.
Die Heilige Qur’an. 1981. Durban: Islamic Propagation Centre.
Du Plessis, Hans. 2001. Innie skylte vannie Jirre. Griekwapsalms en ander gedigte. Pretoria: LAPA.
Kamfer, Ronelda. 2008. Noudat slapende honde. Gedigte. Kaapstad: Kwela Boeke.
Nel, Gert Vlok. 1998. Beaufort-Wes se beautiful woorde (laserskyf WILD009). Wildebeest Records.
Small, Adam. 1961. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.
Steyn, J.C. 1988 (eerste druk 1975). Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.
Van Zyl, J.E. 2002 (eerste uitgawe 1993). Ontsluier die heelal. ’n Inleiding tot sterrekunde. Pretoria: Protea Boekhuis.
*
Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog
Sms-haikoes gebaseer op net 14 Volksblad-berigte oor uiterste geweldpleging
A. DINGE
JUWELE TUSSEN ALLANRIDGE & BOTHAVILLE 31/05/2008
stormwatrpyp-
vonds: jweelstuke & vr-
minkte jnkvroulyk
PUTTOILET BY SPITSKOP, BFTN 13/01/2009
‘lyk’ na j gvind
duikrs in ’n puttoilet
brokkis been ’n kind
GEREEDSKAP IN VIERFONTEIN-DISTRIK 30/03/2009
boer mt ystr dood-
gslaan, 2e mt ’n graaf
& toe vee hy stoep
MIELIES BUITE ODENDAALSRUS 02/04/2009
man soos 3talig
bord by grnsdraad dryg, doodg-
moer oor milis steel
KIERIE VAN THABONG, WELKOM 12/05/2009
ouma slat klynkind
toe sy hoenrboud uit pot
gaps mt kiri pap
DOEKSPELD TE DAGBREEKBUURT, WELKOM 21/05/2009
tas mt doekspeld toe-
gsteek by moskee gelos
peutrlyk ‘sielsbom’
B. ADRESSE
3 SERVICES-SPORTKLUB, BFTN 15/12/2008
rowrs vlug mt nix
toe ‘goedhartige’ ná skoot
net oorvloedig bloei
NUWE HUIS IN HALDONWEG, BFTN 08/01/2009
man v str gehuur
as 1 v p-jobwerkies
oumies doodgwrg
CONSTANTIA-MOTORS, WELKOM 24/01/2009
motorhweman
na minstns 10e rooftog:
‘net di angs stan vas’
COMMISSIONERSTRAAT, BETHLEHEM 28/04/2009
‘man met nix’ wat ‘rie-
me dunnr moes leer sny’ keel-
af gsny gkry
H/V MARKGRAAFSTR & NELSON MANDELARLN, BFTN 22/05/2009
‘my ma’t gasêkel
gaslat tot ek hêt galoop
nou sêkel mindr’
ABC-BEGRAAFPLAAS, PAMPIERSTAD, KIMBERLEY 28/03/2009
Ngugu Wapad
op ha krtpad ver-flentr-
krag, vi dood lat lê
SYFERS
VOLKSBLAD 18/03/2009
75
10ertjies p/m vrkrag
in ons GOUDVELD-streek
“SA DIÉ MOORD-HOOFSTAD”, VOLKSBLAD 07/05/2009
v apart-haat-staat
na reënboognasi-land na
misdaad-coup-d’état
© Bernard Odendaal. Julie 2009
*
Chicago*
Varkslagter vir die Wêreld,
Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan,
Werskaffer met Spoorweë en die Nasie se Vragkarweier;
Onstuimig, skor, rumoerig,
Stad met die Bielieskouers:
Jy is boos, sê hulle my, en ek glo dit, omdat ek jou opgeterte hoertjies gesien het,
verloklik onder die gaslampe vir die boertjies uit die omtrek.
En jy is slinks, sê hulle my, en ek antwoord: Ja, dis waar, ek het die
booswigte sien moor en loskom om maar weer te moor.
En jy is wreed, sê hulle my, en dan moet ek sê: Op die gelate van vroue en
kinders het ek die trekke van roekelose honger gesien.
En na ek geantwoord het, kyk ek die wat smaal oor hierdie stad van my, weer aan, en ek
smyt hul smaad terúg en sê:
Kom wys my nóg ’n stad wat kop-omhoog so sing, wat trots so lééf –
ru en fors en vernuftig.
Magnetiese vloeke slinger uit sy swoegery, uit sy werk gestapel op werk – kyk so ’n
skouer-aan-die-wiel-slaner, groot en helder afgeëts teen die klein sagte stede,
Gretig soos ’n hond, hygtong na aksie, slu soos ’n woesteling wat worstel teen
die wildernis,
Kaalkop!
Wat grawe,
Aftakel,
Planne maak,
Bou en breek en herbou,
Onder rookwolke, die stof oor sy smoel geveeg; wat met wit tande lag,
Wat onder die verskriklike juk van die lot lag soos ’n jong man lag,
Onverskillig lag soos ’n bakleier wat nog nooit op sy baadjie gekry het nie,
Wat grootpraat en lag omdat daar op sy pols ’n hartslag klop, en tussen sy ribbes
die polsing van die volk –
Ja, wat lag!
Wat die onstuimige, skor, stoeierige lag van die Jeug lag, halfkaal, swetend,
trots om Varkslagter, Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan, Werskaffer met Spoorweë en Vragkarweier vir die Nasie te wees.
• ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Nandi Venter van Carl Sandburg se gelyknamige gedig.
Die wanhopiges*
Hul strompel aan en aan, versuftheid aan die hand
in reën se grys ou jas, deur stad en dorp en land
hul voetval fluister iets, of sug net in die loop
maar hulleself is stil, die vriende sonder hoop
Hul ken die vaart van val, hul vlerke het verskroei
hul skepe het gestrand, hul weet hoe storms loei
hul keer van liefde terug met hulle oë oop
en daarom is hul stil, die vriende sonder hoop
En ek was ook al in verlatenheid se laan
het meer as honderd maal al driekwartpad gegaan
maar hulle hou net aan van alles af wegloop
en enduit is hul stil, die vriende sonder hoop
En onderdeur ’n brug vloei water diep en stil
’n stiller van die pyn, ’n doofpot vir ’n gil
daar’s afgronde wat wag, of toue in ’n knoop
of pille vir die vaak vir vriende sonder hoop
Laat dié wat beter weet die oordeelswoorde sê
wie beter weet ken dalk van liefhê net die hê
want rondom daardie brug trek daar ’n misbank oop
is weggevaag die val van vriende sonder hoop
• ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Naòmi Morgan van
Jacques Brel se chanson “Les désespérés”. Dis word benut in die
kabaretproduksie “Jacques Brel – die tere oorlog van die liefde”,
met Herman van den Berg in die rol van Brel.
Rustfonteindam
kyk hoe lê hy in die oggendson plaveiselstil en -uitgestrek
hoe bot en vaal lê hy ’n sandsteenmeer in die ewe vale veld
kyk die hengelaars twee drie van hulle aan sy verre some bakentjies
geduld en bleshoenders rimpelinge aan die sleep
netnou kom ’n bries kom bolmakiesie slaan in die slap seile
twee drie skuite wat losraak uit die piere wind-in en -af
begin laveer die koerse peil soos altyd weer elke dag
se najaag jillende motorbote later skiërs agterna lopers
op die water wat altyd weer moet sink in
skuiminge golwe buitelend oppervlak-
baljaardery op ongeraakte dieptes op
hom vlekkie
vaal
onder oseáne hemelblou met wolkeilandjies wat wyk
laatmiddag lê die wind lê bote uitgesleep die deinings kabbelings
geword aandwolk ’n gloedargipél ’n lawaryk gestapel en ver-
stroom goudliggietery geriffelkaats op hom tot
hy loodgrys word leiklipstil
en -swart
net die vuurtjies van die hengelaars
kyk een of twee van hulle
kon hul iets vang om dalk te braai?
skimme aan sy some
© Bernard Odendaal. 2010
|
Hebban olla vogala nestas bigunnan hinase hic enda thu,wat unbidan we nu
Alle vogeltjes hebben nestjes begonnen, behalve ik en jij. Waar wachten wij nu op?
Al wat voël is, het nes begin te bou – behalwe ek en jy. Wat wag ons nog! |
Die woord trek soos ’n lint los uit die gesprek: paradysvlieëvanger! – En ’n klein vuurpyl duik – stert en vlerke wapperende vlamme – áf, stuit, en swenk óp in ’n lus, na waar ’n insek vlug – dodelike siervliegwerk, roes-oranje, teen savannedwababessiebos. Kavango, S.W.A., Januarie ’85.
Al praat ons hóé vergeetlik politiek. |
|
eensame
oseaan
graf
vallende
al
|
daarsonder verval erfplase in ons geheue was daar nooit ’n ou transvaal nie of ’n voël bowe in eensame vlug
die geblaf van die verlede die honde van apartheid word nimmer stil gepaai anders as in naakte, beskaamde afrikaans nie |
|
daai mouterbaaik skeur koerdoekery die môre esse en o’s soos die buurseun repe gil wat straatlangs lê perskeblos katjiepieringsnuf notisies aan die hemel met sy homerduiwe… Ek ruk my sinne reg: Woord vir woord kus en keur ek geur en kleur ’n oggend aanmekaar. |
verraderlik “traduttore, treditore”
“de taal behoort aan de vogels de mens schuilt weg in het woord –” taal is vir die voëls mens ’n woord |
|
’n veer vanwaar? wat weifel- traag val, asem- sag : rimpelende lig- en skaduringe in ’n middag |
|
Wat vergeet word, het vergaan
© Bernard Odendaal 2009
Harmonie, distrik Bloemfontein
Die herkontoerde pad
trek ’n snelstreep deur die ou kontrei.
Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer
by hoewes onder denne en karee
(windpompe briek-briek teen ’n nukkerige wind);
BAIE
STADIG
DEAD
SLOW
aangedoen by skool, kerk, kerkhof;
’n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte
en ’n laaste myl op die bordjie afgepyl:
HARMONIE
HOENDERBOERDERY.
Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …
Pa was ’n man van dade:
Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.
Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf
(helaas droomverlore)
seuns.
Langsaan was die mooi plaas Elim,
kompleet met blonde meisiemens.
En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …
adresse op die einders,
onder die woesteny van sterre en stiltes –
plasies op die rand van die niet.
Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,
Harmonie tot drie maal toe verkoop,
die Sotho’s vort na plakkerstatte.
En ek en my broers
op soek na so ’n droomadres
tussen al die êrense, en nêrens.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007






