Bernard Odendaal

Bernard Odendaal

Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore en word as een van vyf broers op die hoewe Harmonie op die Bainsvlei/Waterbron-vlakte buite Bloemfontein groot. Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat gee hy Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Nadat hy 18 maande lank dosent in Afrikaans en Nederlands aan die toenmalige Durbanse Onderwyskollege was, word hy in 1990 in dieselfde vakgebied aangestel aan die Vrystaatse Universiteit, waar hy in diens bly as mede-professor tot einde 2011. In 2012 word hy die direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom. Hy skryf gereeld poësieresensies, vakkundige kongresreferate en vakwetenskaplike tydskrif- en boekbydraes. Tussen 2000 en 2010 was hy subredakteur van Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging. As liedteksskrywer en -vertaler het hy meegewerk aan die CD’s Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans, Laat my by jou bly – Jacques Brel, Dit is wat dit is (Herman van den Berg), Onthou (Herman van den Berg) en Dawid – die musical. Hy skryf sedert 2012 gereeld rubriekbydraes vir Volksblad en Bloemnuus. Sy debuutdigbundel, Onbedoelde land, het in 2007 by Tafelberg verskyn, en was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys benoem. Gedigte daaruit is opgeneem in die bloemlesings Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

Onse in my pond*

 

Uitwiskunde

 

∆ ABC, ewewigtig, heel:

gelykbenige geledere gesluit.

 

Toe: loodlyne uit die ewigheid

wat by X, Y, Z te binne klief en

konvergeer op middelpunt

… EK?

 

Uit die stippel kringel

skrik op skrik verreikend uit

na onvoorstelbare kwadrature

NIET.

 

 

 

“Mené,

God heeft uw koninkrijk geteld, en Hij heeft het voleind.

Tekél,

gij zijt in weegschalen gewogen, en gij zijt te licht bevonden.

Perés,

uw koninkrijk is verdeeld…”   

 

 

 

 

 

“Die jimmel sit oor jou sosse

                                     heilige karos

en Hy se goetheid sal jou nooit

                                     wee los,

Hy se waarlike liefde sit wag

vi jou en vi jou se nageslag.”

 

 

 

 

“soes die Engelsman sê

it cuts no ice

die Here het gaskommel

en die dice het

verkeerd gaval

vi’ ons

daai’s ma

al”

 

Soetste, kombuislikste, klaaglikste baas-klaas-taal. Vloek&pleittaal. Rooiborsduifietaal vir allerliefstes.

“Een van Suid-Afrika se trotsste veelrassige prestasies.”

Bekkige bástertaal.

Innieweegskaaltaal.

“Draer van ons volle noodlot … Europa én Afrika in hom.”  

Welgeluksalig

hierdie oë wat leer sien het

jou by olielamp

 

hierdie ore wat aldagdinge

borrelvinke bloedlemoene

wonderlik hoor sê word het

 

en my tong met taalgrepe

vir die vlegsel van jou naam

en my hande wat nog altyd

máák na jou

 

Vir die digteres was Cardo so ’n “mooi klong” –  “mooi genoeg om Engels te praat”.

 

 

 

En daar is ’n meisie in ’n liedjie, “beautiful beyond Afrikaans”.

 

“Hoe verder die kosmiese voorwerpe geleë is, hoe vinniger beweeg hulle weg na die grens van die waarneembare heelal, waar hul resesseersnelhede die snelheid van lig nader. Die ruimte is sodanig gekrom dat elke waarnemer homself in die middelpunt van die heelal waan te weeg.”

 

’n Opposisiedeskundige oor gesondheid, in die parlement toe genl. Smuts premier was: “Wat ons nodig het [vir sukses met die arm kinders by die skole] is melk. En ons moet die bul by die horings pak en dit eis.”

Hy’t vergeet hoe hang dit alles af!

“In die Naam van Allah, die Barmhartige, die Genadige. Het u iemand gesien wat die Oordeelsdag ontken? Dit is hy wat die weeskind mishandel en die armes nie voed nie. Wee die aanbidders wat op hulle gebede nie ag gee nie! Wat goeddoen om gesien te word, en wat geen barmhartigheid betoon nie.”

“Is liefhet  ’n te ‘groot’ woord vir jou, te lank? Kort ons iets korters, met minder klank? Iets soos min. Min jy my? Of is jy dalk my aan ’t vermy? Een min een, dag ek, maak twee of reken jy een min een maak niks? Iemand minus iemand gee niemand.”

tsokeomielarsasmktesooleariass

ekosmtoreslaisakmoseotslaaesri

ekosmtoseriaalstsokeomersliaas

stoekomalaeissromektsoarlaises

meokstolssieaartsookemeaaslsir

eomtoksrleiasastoosemkiaselsar

teksoomaaerlsismoeskotileasras

omoketsleasairskoometsseiarasl

seoktomlseaasristoomekierlasas

stomokerleasaissmooketlsiaears

 

* O.F. Mentzel, wat van 1733 tot 1741 amptenaar aan die Kaap was, het in ’n boek geskryf dat die taal van die plattelanders ewe min suiwer Hollands was as wat die Duitse boere suiwer Duits praat. As ’n mens die vroue sou vra of hulle ‘n Bybel het, sou hulle antwoord: “Ons heeft geen Bibel.” Vra jy dan hoeveel onse daar op ’n pond is, word hulle rooi van skaamte.

 

Erkenning

Hierdie stapelgedig is geskryf op uitnodiging van die ATKV vir die produksie Skilder met woorde II, wat onder meer op Aardklop 2010 uitgestal is.

 

Bronne

Bijbel, dat  is de gansche Heilige Schrift, bevattende al de canonieke boeken des Ouden en Nieuwen Testaments,door last van de hoog-mog. heeren Staten-Generaal van de Verenigde Nederlanden. Sonder datum. St. John: De Earle Handels en Uitgevers Co.

 Blom, Jan (ps. Breyten Breytenbach). 1970. Lotus. Johannesburg. Buren-Uitgewers.

Claassen, George; Muller, Piet; & Van Tonder, Morkel. 2007. Die groot aanhalingsboek. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.

Combrinck, Johan. 1998. Kwinksinnig. Taalskertse. Kaapstad: Tafelberg.

Die Heilige Qur’an. 1981. Durban: Islamic Propagation Centre.

Du Plessis, Hans. 2001. Innie skylte vannie Jirre. Griekwapsalms en ander gedigte. Pretoria: LAPA.

Kamfer, Ronelda. 2008. Noudat slapende honde. Gedigte. Kaapstad: Kwela Boeke.

Nel, Gert Vlok. 1998. Beaufort-Wes se beautiful woorde (laserskyf WILD009). Wildebeest Records.

Small, Adam. 1961. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.

Steyn, J.C. 1988 (eerste druk 1975). Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.

Van Zyl, J.E. 2002 (eerste uitgawe 1993). Ontsluier die heelal. ’n Inleiding tot sterrekunde. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

*

 

Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog

Sms-haikoes gebaseer op net 14 Volksblad-berigte oor uiterste geweldpleging

 

A.      DINGE

 

JUWELE TUSSEN ALLANRIDGE & BOTHAVILLE 31/05/2008

 

stormwatrpyp-

vonds: jweelstuke & vr-

minkte jnkvroulyk

 

PUTTOILET BY SPITSKOP, BFTN 13/01/2009

 

‘lyk’ na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been ’n kind

 

GEREEDSKAP IN VIERFONTEIN-DISTRIK 30/03/2009

 

boer mt ystr dood-

gslaan, 2e mt ’n graaf

& toe vee hy stoep

 

MIELIES BUITE ODENDAALSRUS 02/04/2009

 

man soos 3talig

bord by grnsdraad dryg, doodg-

moer oor milis steel

 

KIERIE VAN THABONG, WELKOM 12/05/2009

 

ouma slat klynkind

toe sy hoenrboud uit pot

gaps mt kiri pap

 

DOEKSPELD TE DAGBREEKBUURT, WELKOM 21/05/2009

 

tas mt doekspeld toe-

gsteek by moskee gelos

peutrlyk ‘sielsbom’

 

 

B.      ADRESSE

 

3 SERVICES-SPORTKLUB, BFTN 15/12/2008

 

rowrs vlug mt nix

toe ‘goedhartige’ ná skoot

net oorvloedig bloei

 

NUWE HUIS IN HALDONWEG, BFTN 08/01/2009

 

man v str gehuur

as 1 v p-jobwerkies

oumies doodgwrg

 

CONSTANTIA-MOTORS, WELKOM 24/01/2009

 

motorhweman

na minstns 10e rooftog:

 ‘net di angs stan vas’

 

COMMISSIONERSTRAAT, BETHLEHEM 28/04/2009

 

 ‘man met nix’ wat ‘rie-

me dunnr moes leer sny’ keel-

af gsny gkry

 

H/V MARKGRAAFSTR & NELSON MANDELARLN, BFTN 22/05/2009

 

‘my ma’t gasêkel

gaslat tot ek hêt galoop

nou sêkel mindr’

 

ABC-BEGRAAFPLAAS, PAMPIERSTAD, KIMBERLEY 28/03/2009

 

Ngugu Wapad

op ha krtpad ver-flentr-

krag, vi dood lat lê

 

 

SYFERS

 

VOLKSBLAD 18/03/2009

 

75

10ertjies p/m vrkrag

in ons GOUDVELD-streek

 

 

“SA DIÉ MOORD-HOOFSTAD”, VOLKSBLAD 07/05/2009

 

v apart-haat-staat

na reënboognasi-land na

misdaad-coup-d’état

 

© Bernard Odendaal. Julie 2009

*

 

Chicago*

 

                Varkslagter vir die Wêreld,

                Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan,

                Werskaffer met Spoorweë en die Nasie se Vragkarweier;

                Onstuimig, skor, rumoerig,

                Stad met die Bielieskouers:

 

Jy is boos, sê hulle my, en ek glo dit, omdat ek jou opgeterte hoertjies gesien het,

verloklik onder die gaslampe vir die boertjies uit die omtrek.

En jy is slinks, sê hulle my, en ek antwoord: Ja, dis waar, ek het die

booswigte sien moor en loskom om maar weer te moor.

En jy is wreed, sê hulle my, en dan moet ek sê: Op die gelate van vroue en

kinders het ek die trekke van roekelose honger gesien.

En na ek geantwoord het, kyk ek die wat smaal oor hierdie stad van my, weer aan, en ek

smyt hul smaad terúg en sê:

Kom wys my nóg ’n stad wat kop-omhoog so sing, wat trots so lééf –

ru en fors en vernuftig.

Magnetiese vloeke slinger uit sy swoegery, uit sy werk gestapel op werk – kyk so ’n

skouer-aan-die-wiel-slaner, groot en helder afgeëts teen die klein sagte stede,

Gretig soos ’n hond, hygtong na aksie, slu soos ’n woesteling wat worstel teen

die wildernis,

   Kaalkop!

   Wat grawe,

   Aftakel,

   Planne maak,

   Bou en breek en herbou,

Onder rookwolke, die stof oor sy smoel geveeg; wat met wit tande lag,

Wat onder die verskriklike juk van die lot lag soos ’n jong man lag,

Onverskillig lag soos ’n bakleier wat nog nooit op sy baadjie gekry het nie,

Wat grootpraat en lag omdat daar op sy pols ’n hartslag klop, en tussen sy ribbes

            die polsing van die volk –

   Ja, wat lag!

Wat die onstuimige, skor, stoeierige lag van die Jeug lag, halfkaal, swetend,

trots om Varkslagter, Gereedskapmaker, Stapelaar van Sakke Graan, Werskaffer met Spoorweë en Vragkarweier vir die Nasie te wees.

 

         ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Nandi Venter van Carl Sandburg se gelyknamige gedig.

 

 

 

Die wanhopiges*

 

Hul strompel aan en aan, versuftheid aan die hand

in reën se grys ou jas, deur stad en dorp en land

hul voetval fluister iets, of sug net in die loop

maar hulleself is stil, die vriende sonder hoop

 

Hul ken die vaart van val, hul vlerke het verskroei

hul skepe het gestrand, hul weet hoe storms loei

hul keer van liefde terug met hulle oë oop

en daarom is hul stil, die vriende sonder hoop

 

En ek was ook al in verlatenheid se laan

het meer as honderd maal al driekwartpad gegaan

maar hulle hou net aan van alles af wegloop

en enduit is hul stil, die vriende sonder hoop

 

En onderdeur ’n brug vloei water diep en stil

’n stiller van die pyn, ’n doofpot vir ’n gil

daar’s afgronde wat wag, of toue in ’n knoop

of pille vir die vaak vir vriende sonder hoop

 

Laat dié wat beter weet die oordeelswoorde sê

wie beter weet ken dalk van liefhê net die hê

want rondom daardie brug trek daar ’n misbank oop

is weggevaag die val van vriende sonder hoop

 

          ’n Vertaling deur Bernard Odendaal en Naòmi Morgan van

Jacques Brel se chanson “Les désespérés”. Dis word benut in die

kabaretproduksie “Jacques Brel – die tere oorlog van die liefde”,

met Herman van den Berg in die rol van Brel.

 

 

 

Rustfonteindam

 

kyk hoe lê hy in die oggendson   plaveiselstil en -uitgestrek

hoe bot en vaal lê hy   ’n sandsteenmeer   in die ewe vale veld

kyk die hengelaars   twee drie van hulle aan sy verre some   bakentjies

geduld   en bleshoenders   rimpelinge aan die sleep

 

netnou kom ’n bries   kom bolmakiesie slaan in die slap seile

twee drie skuite wat losraak uit die piere   wind-in en -af

begin laveer   die koerse peil soos altyd weer   elke dag

se najaag   jillende motorbote later   skiërs agterna   lopers

op die water   wat altyd weer moet sink in

skuiminge   golwe buitelend   oppervlak-

baljaardery op ongeraakte dieptes   op

hom   vlekkie

vaal

 

onder oseáne hemelblou        met wolkeilandjies          wat wyk

 

laatmiddag lê die wind   lê bote uitgesleep   die deinings kabbelings

geword   aandwolk ’n gloedargipél   ’n lawaryk gestapel en ver-

stroom   goudliggietery   geriffelkaats op hom   tot

hy loodgrys word   leiklipstil

en -swart

 

net die vuurtjies van die hengelaars

kyk   een of twee van hulle

kon hul iets vang om dalk te braai?

skimme aan sy some

 

© Bernard Odendaal. 2010

 

 

Hebban olla vogala nestas bigunnan

hinase hic enda thu,wat unbidan we nu

 

Alle vogeltjes hebben nestjes begonnen,

behalve ik en jij.

Waar wachten wij nu op?

 

Al wat voël is, het nes begin te bou –

behalwe ek en jy.

Wat wag ons nog!

Die woord trek soos ’n lint los

uit die gesprek: paradysvlieëvanger!

– En ’n klein vuurpyl duik – stert en

vlerke wapperende vlamme – áf,

stuit, en swenk óp in ’n lus, na waar

’n insek vlug – dodelike siervliegwerk,

roes-oranje, teen savannedwababessiebos.

Kavango, S.W.A., Januarie ’85.

 

Al praat ons hóé vergeetlik politiek.

 

                             eensame

 

oseaan

 

graf

 

vallende

 

    al

 

daarsonder

verval erfplase in ons geheue

was daar nooit ’n ou transvaal nie

of ’n voël bowe in eensame vlug

 

die geblaf van die verlede

die honde van apartheid

word nimmer stil gepaai

anders as in naakte, beskaamde

afrikaans nie

daai mouterbaaik skeur koerdoekery die

môre esse en o’s soos die buurseun

repe gil wat straatlangs lê perskeblos

katjiepieringsnuf notisies aan die hemel

met sy homerduiwe… Ek ruk

my sinne reg: Woord vir woord

kus en keur ek geur en kleur

’n oggend aanmekaar.

verraderlik

            “traduttore, treditore”

 

“de taal behoort aan de vogels

de mens schuilt weg in het woord –”

taal is vir die voëls

mens ’n woord

’n

veer

vanwaar?

wat weifel-

traag val,

asem-

sag

:

rimpelende lig- en skaduringe in ’n middag

 

 

Wat vergeet word, het vergaan

 

 

© Bernard Odendaal 2009

 

 

 

 

Harmonie, distrik Bloemfontein

 

Die herkontoerde pad

trek ’n snelstreep deur die ou kontrei.

 

Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer

by hoewes onder denne en karee

(windpompe briek-briek teen ’n nukkerige wind);

BAIE

STADIG

DEAD

SLOW

aangedoen by skool, kerk, kerkhof;

’n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte

en ’n laaste myl op die bordjie afgepyl:

HARMONIE

HOENDERBOERDERY.

 

Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …

Pa was ’n man van dade:

Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.

Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf

(helaas droomverlore)

seuns.

 

Langsaan was die mooi plaas Elim,

kompleet met blonde meisiemens.

En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …

adresse op die einders,

onder die woesteny van sterre en stiltes –

plasies op die rand van die niet.

 

Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,

Harmonie tot drie maal toe verkoop,

die Sotho’s vort na plakkerstatte.

 

En ek en my broers

op soek na so ’n droomadres

tussen al die êrense, en nêrens.

 

 

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

 

Bookmark and Share