breyten breytenbach
|
Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 op Bonnievale in die Wes-Kaap gebore. In 1948 verhuis die gesin na Wellington, waar Breyten in 1957 matrikuleer aan die Hoërskool Hugenoot in Wellington, waar hy ook hoofseun was. Ná matriek volg Breytenbach ’n BA-kursus aan die Universiteit van Kaapstad. Hy studeer ook in die jare 1958–1959 aan die Michaelis-kunsskool. Hy vestig hom in Parys, Frankryk, waar hy as skilder bekend word. Hy is getroud met die Viëtnamese Yolande. Na sy debut, Die ysterkoei moet sweet (1964)en Katastrofes (196 ), volg ’n groot aantal digbundels, prosawerke en ander geskrifte.. Hy ontvang verskeie Suid-Afrikaanse en buitelandse pryse vir sy werk , waaronder die CNA-prys vir Kouevuur (1969) en Lotus (1970) en die Lucy B. en C.W. van der Hoogt-prijs wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word. In 2008 het Die windvanger verskyn waarvoor hy die Hertzogprys, die Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk, die WA Hofmeyr-prys en die Protea Poësieprys ontvang het. In 2009 het nog ‘n digbundel by Human & Rouuseau verskyn, te wete Oorblyfsels/Voice over, wat ‘n huldeblyk is aan Breytenbach se digtersvriend Mahmoud Darwish wat verlede jaar oorlede is. [Breytenbach se verse is tydens Versindaba 2007 deur dr. Ampie Coetzee voorgelees.] |
Die duiwe op die sinkdak
Die duiwe op die sinkdak
van die Flamboyant Hotel in Ziguinchor
wat so ritsel en koer nog voor die dag
brander oor apebroodboom en breë rivier
is dieselfde as dié van ’n honderd gedigte gelede
op die sinkdak van Paradys in Montagu
wanneer ’n opkomson oor bergspitse tuimel
en die blare roer. Hulle trippel met eenderse
tjierp-tjierp skraapgeluide, hulle kantel eweneens
die koppies skuins om nuuskierig sku op my
af te kyk waar ek gehurk in die skemerige binnehof wag
op die berig. Oor die donker verlede van honderd nagte
het hulle gevlieg om met vlambelope ogies iets te kom sê.
Maar hoe het hulle geweet waar om my te kry?
op die buitenste grens
op die buitenste grens van die dag berge sneeu
soos brandstapels rokende roospetale, en in die nag
die maan onder ’n kors van sterre
’n halwe gesig wat donker ontbinding oorleef het
wanneer die bosvark die wintertuin omdolwe
op soek na bolle en die eerste tulp soos kleur geskulp
uit die grond kraak, wanneer die seisoen wentel
en die voël se skaduwee soos ’n hond se gedagte
haas oor die pad – dan mondmaak mens woorde
as ’n net om die son mee te vang en mondmak te maak:
hierdie vaandels op straat van ’n vreemde oord
as neerslag van wind, verslae en versvlae vir die engel
wat alles weet en nooit die weë van die mens bewandel:
’n lykgewaad bevlek met die wonder van wonde
(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)
paginamagina
(verjaardagaantekening as ode aan Ampie Coetzee)
Ouboet, ek sit my beste gesig op
om hierdie gedig vir jou te skrywe
want jy, liewe maatjie, word ‘n fris sewentig
(let daarop hoe spoor die rym na gewig)
en wanneer lig en lied ons laat staan
en ons skeef gaan lê met die stil kreet
van protesvreugde in die hart
is ons wat jonk is van dae en nagte
(meesal omdat ons die tyd se gewrigte vergeet het)
dit aan ons weggaan verskuldig
om mekaar van die wal in die sloot te help
en so die koei van verbeelding in die put te versuip
en omdat ek lief vir jou is
kom: ons drink die wyn en eet die brood
en tjoeftjaf is ons albei dood
na hoeveel plafonne het ons gestaar oor die jare
hoeveel bleek bergspitse hoeveel swerms voëls
soos wegvlieglyne aasvreterwoorde wat soek om vers te word
hoeveel verkleurmannietjies in die heining?
Ouboet, indien ons die almanak van dae
op hierdie aarde kon onthou
wat sou in tekens behoue bly?
sekerlik die wind as die kind se hand
wat versinde bergtoppe aai
en ’n kraai soos ’n oogknip van verganklikheid
die sneeu so ’n koue asem tussen bome
die nat as van laatsomernagte
die teer binneboudsvlees van die vrou
en dan van watter sin sou die letterspoeling wees
wanneer die hand van die kind
blind opgemaakte bergtoppe aai
en kraai die boomkruine kraak
soos ’n dooie skarnier tussen lewe en grond?
mik niks
maar wag stadig
kom ons drink die wyn en eet die brood
tjoeftjaf is ons albei dood
baie is aan ons gegee
voëlsang die maan
bo die nag se soom verse van Oom Wyk en Opperman
wors by die slagter en beskuit uit die oond
en af en toe ’n slukkie wyn in vergoeding vir voorbeeldigheid
op die dansbaan met die hemp oopgeslaan
oor die baadjiekraag het ons skaars ’n voet verkeerd gesit
met brylcreem in die hare was ons blink van boekgeleerdheid
kombuiskennis katelvaardigheid bekvernuf
hoe heerliker die passies van drank en idealisme
hoe meer kak het ons gepraat
en baie het ons weggegooi
ou baadjies en baaisiekels
dooie katte en historiese aandadigheid
en die gekyf en gekekkel van hulle
wat o so cool as tweetaaljakkalse
(maar ene gat)
op awesome agterente skuiwe
ons het die tafel vir mekaar gedek
met lig-gestyselde servette en glase vol son
op genadige dae ook ’n vleisie daarby
en deur die ruite gesien hoe bewe
die lewe in woordblare buite
hoe vlies binnelandswolke bo die spits
en die stof en muisdrolletjes nie raakgesien
die skaduwees in hoeke van kamers nie gewaar
onder beddens waar voorsterwers die tyd vasgelê het
op voorgestoeltes het ons gesit
en in agterbanke
en soms in die deur gestaan
vir aankoms of vertrek
of sommer om ’n ogie in die seil te hou
vir die bakleiery op straat
en gereis
of dan getrewwel
om op vreemde kuste uit te waggel
lotuseters en boknaaiers papierswape
en skeefskutters en perskediewe
in dese en gene wéét ons
hoé om op ’n stoep te sit onder ’n bloeisel
vuurspuwende naghemel
niks is uiteindelik ons s’n nie
en nêrens is ons tuis
want as die maan ’n misverstand is
is die son immers verstand
en daar is hoeka geen grond om op te staan
behalwe in dit wat verby is
droom is nagskrywe
wanneer die lyf
in ondergrondse riviere
van melancholie dryf
en die beelderyk ’n sintuig word
(maar ons eet die brood en drink die wyn
want tjoeftjaf gaan ons albei verdwyn)
ons oudstryders van ’n patetiese droom
gebleikte Afrikane
(in Tanzanië word albinos opgekerf vir muti)
moedswillig en moeg en stompsinnig gestruggle vir ‘n taal
wat eens geweet het van koekemakrankas en liewenheersbesies
om nou weg te syfer soos die water
wat mens in ’n sif aandra vir die donkie
wat klippers vreet in die Karoo
met woorde het ons skanse teen die smet van dood probeer bou
en toe het bevryding die land oorspoel
totdat ons krom soos brandsiek brakke
vir ons eie skaduwee moes loop koggel
natuurlik het ons kennis van alles geneem
en toe weer vergeet en die sin van ons wees
op die wêreld
het ’n duistere onsin geword
vir die skape van ons kennis
het ons ou stomp broodmesse in ruil gekry
want die lewe skil mens soos ’n ui
totdat daar niks oorbly
behalwe ’n waterigheid in die oog
kyk ons sal die kadawers van ons wysheid
oorlaat aan die alleswetendheid van wurms
en met die een goeie oog ’n laaste keer korrel
deur die trapdeur se sleutelgat
af in die kelder van ewigheid
maar fok hulle né Ouboet
die ou en die nuwe kapitaliste
vernaam gepoephol in hulle stralers en Mercedesse
die voorbankers en die kripvrate
die rassiste van weleer die huigelaars en die heiliges
en die werfbobbejane en die gatgabbas
die polisie en veral die veiligheidspolisie
(fok hulle)
en die bevryders met die botox gewetens
en dié wat anonieme briewe skrywe
fok die politici
fok baie spesiaal die staat
ek haal my bril af
maak die notaboek oop
sal ek geboordjie en gedas
pampoenwense vir jou skryf op papier?
nee! jy ken tog die metafoor
as stoorkamer van toor en van goël
waar die engel soos ’n voël wat wil nes bou
die wurms van betekenisvertering opgaar
’n wieg van oogverblindende sterrereise
teen die hemel se dak wanneer die nag so stil is
dat jy die donker kan hoor knetter
die oorstelpende wolkestapeling
waarvan ons woordstopseltjes maak
om die skoonheid te rook
totdat ons gedagtes soos voëlvlug vervaag
die berg se blou deining
die bome van kremetart tot flambojant
tot bloekom verby hoekom
(vinke wat fokol weet van die vergaanvolk
los visitekaartjes op die vensterbank
en vee hulle vere af aan die vat-so
sonder om ’n ooglid te verroer)
mens skryf gedigte
sodat die woorde
met mekaar kan praat
wie sê die ark is ’n wrak?
wie gee voor Noag was ’n vark
in Palestina te gesuip om te hoor
hoe swaar dra die brak waters
aan die vrag verdronktes
toe dit nog nat soos nag was oor die aarde?
og og dis tog net strontstories by die trog
hulde hulde
vrot van skulde
skilpaddop is eerliker
die lewe is ’n tweede vrou, Ouboet
jy ontdek haar eers later
raak tot oor jou ore verstrik in haar sjarme
jy dra vir haar soetkoek aan
skarlaken lak vir haar toonnaels
’n kettinkie van Koptiese goud
om haar middel in geheime te lyf
maar in die nag voel jy soms
haar trane teen jou beaarde hand
kom agter sy begin staar na haar gesig in winkelglas
dat sy ’n geheue dra aan parfuum wat jy nie ken nie
en wanneer jy na ’n wêreldreis
voor dooiemansdeur te staan klop
wéét jy sy het lankal ’n ander minnaar
Ouboet, solank ek nog die een woord
agter die ander kan pas
en jy nog voldoende die aanlas-las
van lees kan bemeester
ter wille van ontlasting
sal ons onthou
om die rug teen die wind te keer
want ons het geen ander keuse
as om te maak met oog en hand
dankbaar om soos die slang
nog net beweging te wees
grawe jy solank die kortpad oop
en ek sal al agter jou loop
want ons drink die wyn en eet die brood
en tjoeftjaf is ons albei dood
maar intussen maak ek staan
as enigste klip bo die gat van die maan
hierdie glasie steen
en kyk hoe span die skip haar seile!
vryheid broer vryheid!
26 Junie 2009
© Breyten Breytenbach. Julie 2009
belydenis
ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods
al vlieg ek gereeld die wêreld vol,
ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk
in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber
maar was nooit die matroos
wat teen takelwerk uitklouter
om die son aan te sien vir ’n vasteland nie
Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta
vir my gekook
met olie soos deursigtige semen besprinkel
en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol
maar ek het nie met haar gevry nie
.
ek het nooit voor die volk gestaan
om die koers deur die woestyn aan te dui
met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie
al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter
totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou
ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers
en ’n swembad vir naakte gaste besit nie
maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte
en die neersif van jare se fyn swart besoedeling
ek het hoog en laag probeer preek
teen armoede en onreg
maar op die ou einde was ook dit
slegs selfbevlekkende romantisme
en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie
die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het
het my tien jaar later nie meer herken nie
alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan
om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog
sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie
en buitenste duisternis sal hom verblind
ek het God nooit geken
die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind
nog enige van sy of haar klone
al het ek op my tone op die tafel mog kyk
na die dolosse en die repe vlees van kadawers
my verstand het versand in begrippe van orde
en niks het uiteindelik sin gemaak
en daar was geen verskil tussen bo en onder nie
en die blêrende skaap buite het vir fokol gevrek
ek was ’n soepel singende stryder
om die horison binne te haal:
in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou
ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart
met sang en vervoering om kon praat
maar my enkele lesers is ou wrakke
wat met week en stywe oog
die losgetorringde voering van my betoog
my toga van klagte
tussen vers en kapittel kwytraak
ek het probeer
ek het hard probeer
om ’n groot gedig te skryf
en soms darem dit opgebring
wat in die plek daarvan kon staan
o liewe roubetonende biegleser:
die reisiger van my aard en kondisie
het baie maniere om kak aan te jaag
maar die grootste strontspul van alles
is om op pad huis toe te sterwe
Uit:My ousie is ’n blom ,Charl-Pierre Naudé [samesteller], Snail Press.




