Carel Antonissen

Carel Antonissen

Carel is gebore in die Hantam op die dorp Calvinia  waar hy sy kinderjare deurgebring en uiteindelik in 1964 gematrikuleer het. Na ‘n jaar militêre diensplig in die Vloot het hy in 1966 met studies aan die Universiteit van Stellenbosch begin. Na die voltooing van sy Teologiese studies, asook die verwerwing van ‘n Meestergraad in Filosofie, het hy drie gemeentes in die NG Kerk as leraar bedien – in Somerset-Oos (1975-179), Aasvoëlkop, Johannesburg (1979-1983) en die NG Studentekerk in Stellenbosch (1984-2005).

Tydens sy tyd op Stellenbosch het hy ‘n doktorgraad oor die teologie van die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer voltooi. Hiervoor het hy o.a. ‘n studietyd van 8 maande in Heidelberg, Duitsland deurgebring. In 2005 is hy deur die Sentrum van Christelike Spiritualiteit, wat in 1986 deur die afgetrede Biskop Desmond Tutu begin is, genader om hulle eerste Afrikaans-sprekende Direkteur te word – ‘n pos wat hy tot aan die einde van 2017 beklee het.

Tans doen hy steeds die werk van die Sentrum op Stellenbosch deur o.a. die aanbied van verskeie kursusse  oor die uitdaginge van die sg. middeljare, die mistieke spiritualiteit,  geestelike begeleiding ens. Deel van sy huidige werk is ook die hou van ‘n weeklikse Kontemplatiewe Diens in die Kapel van die Fakulteit vir Teologie. Die diens bied tans vir baie ‘n ruimte vir stilte, gemeenskap en estetiese belewing en staaf  ‘n groeiende behoefte aan hierdie waardes in ons samelewing.

Carel het reeds van vroeg, grootliks vanweë die invloed van sy ouers,  ‘n liefde vir lees en skryf ontwikkel.  Sy ma met die van McClelland, ‘n Engelse vrou met Ierse bloed in haar are, en sy pa, ‘n boerseun uit die distrik, was albei lief vir letterkunde en ywerige lesers . Sy pa was o.a. die redakteur van Calvinia en die omstreke se plaaslike koerant, Die Noordwester.  Reeds as skolier het Carel sporadiese sketse vir die koerant geskryf, terwyl hy dikwels sy huiswerk eenkant moes skuif om die sporadiese gedig wat hom aangemeld het, neer te pen. Hierdie drang om in poëtiese vorm uitdrukking te gee aan gevoelens en waarnemings was regdeur sy lewe voelbaar, soos ‘n diep polsende stroom, hoewel hy hom in dié tyd nie doelbewus daarheen gekeer het nie. In ‘n sin was dié op daardie stadium, soos met Jung se “skaduwee”, ‘n verskole en selfs onderdrukte deel van sy lewe.

Dit was eers tydens sy studietyd in Duitsland in 1990-91 waar hy vir agt maande alleen tussen Duitse studente en vriende geleef het, dat die poëtiese impuls op ‘n dramatiese manier – byna soos ‘n vulkaan wat onkeerbaar uitgebars het – na vore gekom en sy ontwaking as digter en kunstenaar, asook ‘n “tweede” soort geboorte as mens, aangekondig het. Soos met enige geboorte het hy ook hierdie wêreld van die digtende kunstenaar skreeuend, huilend, skoppend en uiters verward, maar tog ook diep bewoë, betree.

By sy terugkeer het Carel verskeie gesprekke met o.a. Amanda Botha, Cecile Cilliers en Marlene van Niekerk oor hierdie dramatiese ontwaking gevoer. Veral laasgenoemde het die proses volledig verstaan en veel gehelp om Carel se “verwarring” te help vertolk en ook te besweer – ook om hom verder op die pad van digterskap met raad en ondersteuning by te staan.

In dié tyd toe hy hom meer doelbewus begin draai het na hierdie “daydreaming capacity of the mind“, het sy pad toevallig met die skrywer-digter,  Patricia Schonstein, gekruis wat  besig was met die saamstel van vier lywige bloemlesings oor Afrika. Sy het gehou van sy gedigte sodat hy in 2012 in Engels gedebuteer het met verdere bydraes in 2014 en 2016. In 2014 is een van sy Afrikaanse gedigte, “Die pad na Klipfontein”  ook geranglys vir die Sol Plaatje kompetisie waarna dit in die volgende jaar gepubliseer is. Hierdie geskiedenis sou uiteindelik as motivering dien om ‘n bundel voor te berei wat na twee jaar se intensiewe werk saam met Amanda Lourens (lektrise by Afrikaans Nederlands, US) in 2017 onder die titel Vuurvas verskyn het.

Waarom Carel dig? Die kort antwoord is gewoon: omdat hy nie anders kan nie; omdat die drang om te skryf en te dig ‘n gawe bly wat dikwels onverwags en onkeerbaar, byna soos ‘n openbaring of epifanie, oor jou kom en in jou gebeur. Die filosoof  Frederick Nietzsche het dit alles geweet toe hy iewers oor die misterieuse aard van hierdie soort inspirasie geskryf het:

“…one could hardly reject  altogether the idea that one is merely incarnation, merely mouthpiece, merely a medium of overpowering forces. The concept of revelation – in the sense that suddenly, with indescribable certainty and subtlety, something becomes visible, audible, something that shakes one to the last depths and throws one down – that merely describes the facts. One hears, one does not seek; one accepts, one does not ask who gives; like lightning, a thought flashes up, with necessity, without hesitation regarding its form – I never had a choice.”

By Carel het die digkuns op soortgelyke manier ‘n wonderlike kanaal geword waardeur hy sy kreatiewe kern kon verken en ontgin, vrye teuels kon gee aan sy verbeelding en sy liefde vir taal en so uitdrukking kon gee aan sy belangrikste, maar dikwels verborge (en selfs onderdrukte) herinneringe, waarnemings, verlangens, drome en emosies. Die digkuns het ‘n middel geword om die lank verwaarloosde deel van sy bestaan ook heilsaam te integreer met die res van sy lewe. Of soos een digter dit skalks getel het: “To create a capsule in which to wrap my own embarrassing and punishable secrets.

Vir Carel was sy digkuns egter altyd ook meer as net ‘n reis na binne. Gegee dat sy gedigte op ‘n beskeie manier ook altyd iets probeer vertolk van die dilemmas en uitdaginge van ons bewoë samelewing en wêreld het dit ook ‘n sosiaal- en selfs religieus-kritiese kant – ‘n folus of blik wat nie net die lewe met al sy vreemde paradokse, ironieë, vreugdes en skandes wil blootlê nie, maar daardeur ook wil  help bou aan ‘n beter, meer beskaafde en menslike wêreld – een waarin waardes soos eenvoud, skoonheid, vreugde, dissipline, geduld, konneksie, liefde en egte gemeenskap kan floreer.

Ten slotte, iets oor Carel se belangstellings.  Hy het reeds van skooljare ‘n belangstelling in sport gehad. Hoewel dit deesdae ‘n groot finansiële en vermaaklikheidsbedryf met baie slaggate geword het, het dit in Carel se geval ‘n positiewe rol gespeel.  Synde iemand wat self  aktief aan sport deelgeneem en presteer het – hy het o.a. in die eerste Cravenweek vir Boland rugby gespeel, asook later op provinsiale en veterane vlak dieselfde provinsie op die tennisbaan verteenwoordig – het hy die sosiale en ontspanningswaarde daarvan, asook die toewyding en dissipline wat dit vereis, altyd waardeer.

Naas sy liefde vir sport is Carel ook ‘n entoesiastiese fliek -en teaterganger en luister hy graag na veral klassieke en opera-musiek. Hy is lief vir goeie stemme (die Sweedse sangeres, Anne Sofie von Otter, is ‘n gunsteling) en het self vir ‘n jaar in die Libertaskoor gesing. Soos die beroemde Joodse klarinetspeler, Giora Feidman, glo Carel: “That good music is like prayer without religion.”

Ten slotte oor sy familie: Carel is getroud met Christine, ‘n afgetrede professor in Algemene Taalwetenskap by US.  Hulle het vier kinders: Carel (Ingenieur), Marianne (Argitek), Lise (Kliniese sielkundige en kunstenaar) en Chris (Geoloog)

 

Twee ongepubliseerde gedigte

 

karoo-reis

 

‘n mens moet dikwels ver en

gly-gly reis om grond te vat en

huis te haal

 

soms deur dik sneeu teen ‘n

steil berg op

 

totdat die wit greep verslap en

jy afsak in die maanlandskap

van ‘n nat karoo

 

met modderpoele en ysterklip

wat die ewewig en velling

heelpad dreig

 

die nag se gordel stywer om

jou span op ‘n pad wat eindeloos

strek

 

tot skielik sy stem:- dat niks

hier onbekend of onberese is

nie

 

dat elke poel en klip, hoek en

draai met eie voet getoets is

 

geen vreemde ster die uitvaart

kan versteur

 

‘n 1956 Pontiac steeds met ‘n

yslike brul die laaste bult sal

 

oorbeur

 

*

WhatsUp

 

ons teksboodskappe raak al hoe

langer sonder enige ekskuus

 

met tussen die lyne ‘n terloopse

vraag, ‘n los gedagte, ‘n brokkie

nuus

 

oor waar jou skoonsus woon

wie ek jarelank vermis?

 

dat, as ek reg onthou, jou kinders

almal oorkant die water is?

 

die lug by ons, ondanks stof en

droogte, nog vars bly

 

die sterre steeds helder en mooi

asof aan die gode gewy

 

almal kodes wat skroomvallig

versug: skryf as jy kans kry tog

terug!

 

en só, algaande, breek ons rypwit

wêrelde weer oop

 

word alles wat grys en versteen

was langsaam gesloop

 

en in-weerwil-van herdoop.

 

© Carel Antonissen / 2019

Bookmark and Share