carina stander

Carina Stander

Carina Stander

Carina Stander was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan verskeie uitstallings, oa Sasol Nuwe Handtekeninge by Pretoria Kunsmuseum, PPC-Jong Beeldhouer uitstalling by Pretoria Kunsvereninging, FNB Vita Awards by African Window gallery en ‘n solokunsuitstalling by die Breytenbach Sentrum in Wellington. As vryskutjoernalis by vyf tydskrifte, was sy finalis vir ‘n AKTV-Mediaveertjie en twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf. Van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Ná ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk van die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg, 2006), wat genomineer is vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys. Daarna gevolg deur woud van nege en negentig vlerke  (Tafelberg, 2009). Gedigte uit dié bundel is getoonset deur Herman van den Berg en die Nederlandse musiekgroep, Souldada.

Haar debuutroman, Wildvreemd (Tafelberg, 2011) word op 27 Oktober bekendgestel by Lanzerac, Stellenbosch. Dieselfde aand open haar kunsuitstalling van karakters uit dié boek. [http://www.carinastander.com]

Carina woon saam met haar man en seuns in die Tsitsikamma.

 

‘n Kind het uit my uit gegaan

 

1.

jou brein op die sonarfoto:

‘n oopvlerkvlinder

in ‘n woud van water

 

2.

nuwejaarsdag op die plaas

toe ons vir jou oupa en ouma,

jou ooms tannies en niggies

in die middagrivier vertel

jy skopswem in ‘n skulp

onder die kamers van my hart

 

het ‘n blote woord vlees geword

en tussen ons kom woon

 

3.

dertien weke genaelstring

word my lyf oornag ‘n graf

ineengekrimp

soos ‘n spinnekop onder ‘n stewel

(jou pa op sy knieë bid lewe bid lig)

 

toe jy dae later kom

is ons vreemd-verbaas

oor hoe heel, hoe handgroot ‘n poppie

klein akkedissie, pensie na bo

met tien kleeftone en vingers

ribbes kaak volkome skulpie-oor

 

paddatjie in ‘n poel van bloed

 

4.

in die hospitaalbed langs die see

tussen drukmeter en drup

soek ‘n verpleegster na ‘n aar

soek ‘n vrou wat soos ek lyk na ‘n enkele traan

 

maar dis die bloedigste dag in die Baai –

daar is geen druppel vog in die lug

 

5.

skemer terug by die huis

in die hangmat op die stoep

vlieg ooglede oop en toe

geluidloos

die bloedvlerk van ‘n loerie

bo die leë waterbak

 

6.

vanaand teken jou boetie met blou kryte

in die bad waar jy vanmore was

 

wat is dit tog, wat kan dit wees?

nie die snelskrif van ‘n slang in ‘n stroompie nie

nog minder die hoofweë van slakke teen ‘n stam

 

dit is ‘n waterval

wat stol

 

7.

kind wat ek nooit sal ken nie

my eie my ek

hoe swaar is verlies?

die gewig van ‘n dogtertjie in die palm van my hand

 

8.

Asof jy hier is

vou ek jou toe in die bakhand van my bloederige gebede

en jy bestaan weer.

Soos rou.

 

9.

om in ‘n blinde spieël te bid –

die beeld van ‘n boom op ‘n windverwoeste meer

om God uit ‘n donker wond te aanbid –

sien nie voel nie hoor Hom nie

maar glo oor ek Hom weet

weet Hom soos ‘n son in die nag

‘n berg onder die voet wanneer dit mistig is

en ons jou in Maart tussen fynbos begrawe

asgrys soos ‘n saad

wanneer herfs kom met sy spinnedrade vol dou

mishorings oor die see en seevoëlskelette

kén ek die landskap van verskriklike liefhê

waar als ineens Één is: asem én bloed

ken Hom helderder as hemel

asof “glo” ‘n eenmaal aardse voorreg is

die liefdesverklaring van ‘n leeftyd

soos geboorte

soos komete

soos herinnering

glo totdat die laaste grond onder my voete uitloop

 

  • Vers nr 8 by die lees van Barend J. Toerien se “‘n Wit berk het in die bos gestaan.”
  • © Carina Stander. Mei 2010

 

 

KRUISBEEN KUIER

vir Anna-Carien

 

Kruisbeen kuier ons met kunsoorpakke en al

op die Art Deco bank van jou suburban huis.

Druifpers kussing agter die rug en ‘n droë rosé

in die glas, lag jy moesie bo die mond en vertel

 

dat jy laasnag weer jou rooikopreus verlei het.

“My ouma Antjie was ook ‘n ou flirt,” seg jy.

Ek onthou hoe jy as student jou potlode lek

om die kleur te versterk – jou tekeninge vry.

 

Op agtien ry ons giggelend oor Mosambiek se grens – 

bra’s wapper bont bo die wiel. Sou ons meisielywe tóé kon dink

hoe flink ‘n man sy vuursap skink? Hoe ovaal die moederskootvrug?

Hoe trots ‘n trossie eie seuns? Vandag vonkel en verf ons voort

 

hier waar ons met skildergoed kuier onder jou druifprieel.

Breek die brood, drink die wyn. Sien kinders rinkel en rank en prut

in die middaggloed. My kunsvriendin, sal ons ooit kan skep

iets só vlees van ons vlees, bloed van ons bloed?

 

 

Gedig geskryf in opdrag van Mont du Toit-wynkelder en DEKAT – 2009.)

 

 

nagswem

Malangane, Mosambiek

 

op een en twintig

wou ons nag lank swem

na die hemel daarbo 

die aarde hieronder

en einders van die see

 

op ‘n mensvry strand

was ons meerminne  

met wiere in slierthare  

‘n skare planete

uit die niet gepluk

en min of meer

sewe seesterre

in die uitspansel

se regterhand

rangskik

 

saam het ons gesnorkel 

oor kartel-alg en purperslak

steekmossel se vlerk 

 

daar was kapers op die kus

en gerugte van roofvis

as ‘n skip ter haaie gaan

maar ons bloublasieharte

het nakend gebons

 

sluiervlies wat spelend plons

oor die maagdwit glimlag

van ‘n maan

 

Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.

 

 

sondoop

Malawi

 

jou hare en voete

was die kleur van naeltjies

 

in die flou lig van die son

wat glip deur die kombuis

was moeders soos kalbasse

rond aan’t klots en klets

op gebreide boerbokvel

 

iemand het die werf

met ‘n stokbesem gevee

en die rietmat oopgerol

 

‘n ouvrou met blaartjies

in hoë wange gekerf

het grondbone vir ons gegee

en kookeiers vir die langpad

 

haar oogwitte ‘n dooiergeel

 

die mense het gesê

jy is die klip by die spruit

waar donkies drink en roofvoëls bad –

bidsprinkaan tussen jou tone

geitjies wat op jou voorarm paar

 

die wagters het gevloek

toe jy die bok-ooi losknoop

sodat sy vry kon wei

 

maar ons het weggehol

verby ses seuntjies in ‘n kring

wat ‘n groen papaja deel

en ‘n man met asvaal knieë 

het derms oor ‘n vuur gebraai

 

my woorde was te jonk

vir die suigeling wat rits

op sy ma se rug 

– brommers tros om die oë –

en die twaalfjaarkind

met haar baba Chinsinsi  

wie se skuins mond saggies skel

toe ons vra dat sy vertel

waarom die naam dan Geheim is

  

ons het handeviervoet

oor Nkhomaberg geklim

en afgekyk na mielielande

se verwaaide klossiesbaard 

en swenkende paaie

en na die wolke en die wind

 

Katri, is God in dié wolk?

het jy skielik gevra

toe dit lyk of iemand hemel toe is

 

die laaste oggend langs die meer

het ons gehoor in die ooste

is ‘n Man vermoor

en op die horison

het die bloedspoor verraai

dat Hy eeue om die aarde loop

in die hoop dat die vissers in die skuite

of die visarende of skare

hulself soos jy

in die son sal doop 

 

Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.

 

 

om op die rug van ‘n donkie in die see te swem

 

om op die rug van ‘n donkie in die see te swem

deur ‘n land bo die wolke

oor landskappe van droom

‘n pen soos ‘n staf in die hand

 

om bloots op ‘n esel oor ‘n golf te galop

warrel in die hare

Stormmeeu op die skouer

se vlerk gesprei teen die strale

 

om saam met ‘n hings deur seë te ry

voorkop rug voetbrug gesout

teen die brand van blindwit branders

 

om borsdiep in ‘n woord te toer

die walvis ‘n inkvlek op blou papier

wanneer die Windmaker se asem

die water stadig roer

 

om veerlig te dryf

verse te skryf

die son ‘n engelkop

vanaf ‘n eselrug aanskou

 

om die heelal en hemel só dop te hou:

laat my reise voortaan eenvoudig wees

 

© Carina Stander – Maart 2009

 

 

wildernis

Bergfontein, Limpopo 1968

 

op twee en dertig gee ma liefde

soos ‘n storieboek

vir pa

 

sy slaap onder skerpioene

en ander sterrespansels

 

een-een in die nag

bekruip luiperds

met kolle soos rose

op flanke rangskik

die kraal

kraak kalwerskedels

wat pa tweehonderd myl van hier

wei-wei te perd gaan haal het

 

na ‘n knal sterf die skor hoes

op die berg –

ma erf twee welpies

uit die pens van ‘n roofdier

 

die huis is onklaar

and any tree a lavatory

maar saans by kerslig

in ‘n sterretjieskombuis

merk sy opstelle

in Afrikaans en Duits –

broei verse soos kuikens

in gehekelde komberse

 

met haar skoolgeld messel hulle

leiklipvloer tot houtplafon

‘n haard

steeds wyk die makheid

 

onder die slingerfoon sis

‘n swart mamba op eiers:

voorlyf orent, bek gesper

die kop lank en plat

soos ‘n doodskis

 

ma skryf briewe vir haar ma:

welpies, geitjies en die akkedis

rus smiddae op die voorstoep

al digter teen haar voete

 

sy vermoed dat ook sy

‘n paringsmaat gevind het

 

agt jaar later word ‘n kind gebore

uit die woorde van ‘n ma

en die wildheid van ‘n pa

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis

Bookmark and Share