cas vos

Cas Vos

Cas Vos

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ’n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ’n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

 

Besoek aan Abélard en Héloïse se graf

Père La Chaise, 12 Junie 2009

 

Onder vlae grys wolke kniel

ek tongstom op ‘n heilige plek

waar skadu’s se voue dooies

in hulle diep slaap bedek.

 

In ‘n verlate uithoek

waar ‘n boom wortelskiet

lê Abélard en Héloïse

eeuelank in klip gegiet.

 

Hulle hande vou intiem gebede -

die donker melodie van kerslig.

Op ‘n bed van klip

wieg geliefdes innig.

 

Verlore tyd

Besoek aan Abélard en Héloïse se graf by Die Parakleet

 

Skoelappervlerke vou oop

en toe as die wind sug,

die sterre bly gloeiend

tydloos en onverskillig.

 

Oor die aarde se rimpelvel

sprei ‘n engel sy vlerk,

klop aan die koue uur

om die stilwees te merk.

 

In ‘n nes van spikkel sterre

waak kraaie oor afwesigheid.

Wie praat nog oor verborge

verlange na die verlore tyd?

 

laaste woorde

 

tussen sterre skryf die maan

met jambes lig en donker

oor eeue wat vergaan

 

‘n engel kyk na die graf

waar dowwe sterspore lê

en skud die vaal stof af

 

hy buk oor ‘n grafsteen en lees

‘n laaste versreël:

die opstanding van die vlees

 

testament

 

wat nou oorbly

is die natroos

van ‘n vergane lewe

 

al herinnering

is die ritme van woorde

uit ‘n gansveer se punt

die laaste lig van ‘n vers

die spore van kersrook

 

my nagelate testament

fragmente

van ‘n intieme afwesigheid

 

© Cas Vos. Januarie 2010

 ***

 

Verlore tyd

 

’n Skoelapper fladder vlugtig

soos ’n skaduwee verby

terwyl sterre se skittering

tydloos en onverskillig bly.

 

Oor die aarde se rimpelvel

sprei ’n engel sy vlerk,

klop aan die koue uur

om stilwees te merk.

 

In ’n nes van spikkel sterre

waak kraaie oor afwesigheid.

Wie praat nog oor verborge

verlange na verlore tyd?

 

© Cas Vos. September 2009

 

In die labirint

Vir Lida, 12 September 2009

 

In die labirint se gang

sien ek vlae newels

uit die donker groei.

Ek raak aan duister

se rimpel gesig

en ruik ‘n engel

met ‘n erdekruik

vol soet asem,

hy fluister

in my oorgange

woorde van lig.

 

Ek wil wegglip en raak

aan die uitgerafelde soom

van die diepste droom.

 

Voor U sidder ek naak.

Hou my vas in die labirint

dat ek U volmaak kan vind.

 

 

Besoek aan Abélard en Héloïse

by die Parakleet

 

Skemer vou om die Parakleet

onder die maan se halfgesig,

uit elke wolk se ooglid

val trane oor sy doodsberig.

 

Ontsluier in sooie, vou op vou

mag sy vergetelheid vind,

in ‘n graf gestroop van drome

vlietend tot stof ontbind.

 

In die grys koelte sink troos

in volstrekte stilte sonder pyn

sif skadu’s oor hulle soos stof

wat langsaam in die verte verdwyn. 

 

© Cas Vos. September 2009

 

Besoek aan Abélard en Héloïse se graf

Père La Chaise, 12 Junie 2009

 

Onder vlae grys wolke kniel

ek tongstom op ‘n heilige plek

waar skadu’s se voue dooies

in hulle diep slaap bedek.

 

In ‘n verlate uithoek

waar ‘n boom wortelskiet

lê Abélard en Héloïse

eeuelank in klip gegiet.

 

Hulle hande vou intiem gebede -

die donker melodie van kerslig.

Op ‘n bed van klip

wieg geliefdes innig.

 

 

©  Cas Vos. Julie 2009

 

om af te sluit

 

vir ‘n flitsende oogblik

skil die maan sy lig af,

sluit jy ‘n geelvergane

verlede oop, huiwer,

kyk na die moeë son

voor jy my nader wink.

 

my hart bewe in

my keel se noute,

ek staan op heilige grond,

sien die letsel van ‘n wond,

dáár waar ou stof vergaar

en skuld klippe stapel.

siende blind tas ek

na die stof van griewe

op hierogliewe,

stilte se laaste woord.

 

hou dáárdie deur nou dig

en pluk vir jou ‘n ruiker sterre

om jou pad in donker tye te verlig.

 

 

©  Cas Vos. Mei 2009

 

 

Fragment VI

‘n Klaaglied

Gebaseer op die Gilgamesj-epos.

 

 

‘n Nagmerrie jaag Enkidu op hol

toe ‘n man met ‘n donker vlek

soos ‘n sandwolk uit die woestyn

op hom afstorm:

sy oë wreed soos ‘n arend,

sy hande pote van ‘n leeu,

sy naels die kloue van ‘n arend.

Die man se stem is ‘n stortvloed,

sy tong lek vuur,

sy asem is swart.

 

                “Hy gryp my aan die hare

                en oorrompel my!

                Dit is soos dertien winde

                wat teen my opstaan!”

 

Nie op die slagveld nie,

maar deur ‘n siekte hokgeslaan,

laat Enkidu die lewe los.

 

Gilgamesj se verdriet en angs

laat bome tot in die wortels sidder,

elke blaar snik van die droefheid.

Wat hy verloor het, dryf tussen wit lelies.

Sugte slaan dofweg teen die heuwelbors vas,

mistroostigheid styg uit die laagtes op

en trek ‘n sluier oor die hemelblou.                

Pyn se suur smaak brand sy mond.

 

                “In die maan se spinnerak

                spartel sterre verskrik,

                want die dood het jou oorrompel.

                Bloeisels sal soos klokkies klingel

                maar jy sal dit nie hoor nie,

                want jy is mos dood.

                Die vyeboom sal nooit weer bot nie

                en druiwe sal asynsuur smaak.

                Die land sal met leë hande staan

                en krale sal net ou spore bewaar,

                want die dood het jou weggeraap.”

 

                “O, God, my hart is verskeur,

                die laaste dae bring bitter seer.

                Enkidu, my vriend, is dood.

                My tong is lam gekla.

                Die wind suig al my trane op.

                My tong is rou geskroei.

                My trane verdroog in die wind.

                Enkidu, my vriend, is dood.

                Die laaste dae bring bitter seer,

                o, God, my hart is verskeur.”

 

Gilgamesj draal nog om sy vriend

en bedek

sy gesig met ‘n aswit sluier.

 

Hy wy aan Enkidu

‘n standbeeld

en geskenke vir sy vaart.

 

 

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

 
 

 

 

 

 

Bookmark and Share