cas vos
|
Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ’n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ’n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009. |
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf
Père La Chaise, 12 Junie 2009
Onder vlae grys wolke kniel
ek tongstom op ‘n heilige plek
waar skadu’s se voue dooies
in hulle diep slaap bedek.
In ‘n verlate uithoek
waar ‘n boom wortelskiet
lê Abélard en Héloïse
eeuelank in klip gegiet.
Hulle hande vou intiem gebede -
die donker melodie van kerslig.
Op ‘n bed van klip
wieg geliefdes innig.
Verlore tyd
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf by Die Parakleet
Skoelappervlerke vou oop
en toe as die wind sug,
die sterre bly gloeiend
tydloos en onverskillig.
Oor die aarde se rimpelvel
sprei ‘n engel sy vlerk,
klop aan die koue uur
om die stilwees te merk.
In ‘n nes van spikkel sterre
waak kraaie oor afwesigheid.
Wie praat nog oor verborge
verlange na die verlore tyd?
laaste woorde
tussen sterre skryf die maan
met jambes lig en donker
oor eeue wat vergaan
‘n engel kyk na die graf
waar dowwe sterspore lê
en skud die vaal stof af
hy buk oor ‘n grafsteen en lees
‘n laaste versreël:
die opstanding van die vlees
testament
wat nou oorbly
is die natroos
van ‘n vergane lewe
al herinnering
is die ritme van woorde
uit ‘n gansveer se punt
die laaste lig van ‘n vers
die spore van kersrook
my nagelate testament
fragmente
van ‘n intieme afwesigheid
© Cas Vos. Januarie 2010
***
Verlore tyd
’n Skoelapper fladder vlugtig
soos ’n skaduwee verby
terwyl sterre se skittering
tydloos en onverskillig bly.
Oor die aarde se rimpelvel
sprei ’n engel sy vlerk,
klop aan die koue uur
om stilwees te merk.
In ’n nes van spikkel sterre
waak kraaie oor afwesigheid.
Wie praat nog oor verborge
verlange na verlore tyd?
© Cas Vos. September 2009
In die labirint
Vir Lida, 12 September 2009
In die labirint se gang
sien ek vlae newels
uit die donker groei.
Ek raak aan duister
se rimpel gesig
en ruik ‘n engel
met ‘n erdekruik
vol soet asem,
hy fluister
in my oorgange
woorde van lig.
Ek wil wegglip en raak
aan die uitgerafelde soom
van die diepste droom.
Voor U sidder ek naak.
Hou my vas in die labirint
dat ek U volmaak kan vind.
Besoek aan Abélard en Héloïse
by die Parakleet
Skemer vou om die Parakleet
onder die maan se halfgesig,
uit elke wolk se ooglid
val trane oor sy doodsberig.
Ontsluier in sooie, vou op vou
mag sy vergetelheid vind,
in ‘n graf gestroop van drome
vlietend tot stof ontbind.
In die grys koelte sink troos
in volstrekte stilte sonder pyn
sif skadu’s oor hulle soos stof
wat langsaam in die verte verdwyn.
© Cas Vos. September 2009
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf
Père La Chaise, 12 Junie 2009
Onder vlae grys wolke kniel
ek tongstom op ‘n heilige plek
waar skadu’s se voue dooies
in hulle diep slaap bedek.
In ‘n verlate uithoek
waar ‘n boom wortelskiet
lê Abélard en Héloïse
eeuelank in klip gegiet.
Hulle hande vou intiem gebede -
die donker melodie van kerslig.
Op ‘n bed van klip
wieg geliefdes innig.
© Cas Vos. Julie 2009
om af te sluit
vir ‘n flitsende oogblik
skil die maan sy lig af,
sluit jy ‘n geelvergane
verlede oop, huiwer,
kyk na die moeë son
voor jy my nader wink.
my hart bewe in
my keel se noute,
ek staan op heilige grond,
sien die letsel van ‘n wond,
dáár waar ou stof vergaar
en skuld klippe stapel.
siende blind tas ek
na die stof van griewe
op hierogliewe,
stilte se laaste woord.
hou dáárdie deur nou dig
en pluk vir jou ‘n ruiker sterre
om jou pad in donker tye te verlig.
© Cas Vos. Mei 2009
Fragment VI
‘n Klaaglied
Gebaseer op die Gilgamesj-epos.
‘n Nagmerrie jaag Enkidu op hol
toe ‘n man met ‘n donker vlek
soos ‘n sandwolk uit die woestyn
op hom afstorm:
sy oë wreed soos ‘n arend,
sy hande pote van ‘n leeu,
sy naels die kloue van ‘n arend.
Die man se stem is ‘n stortvloed,
sy tong lek vuur,
sy asem is swart.
“Hy gryp my aan die hare
en oorrompel my!
Dit is soos dertien winde
wat teen my opstaan!”
Nie op die slagveld nie,
maar deur ‘n siekte hokgeslaan,
laat Enkidu die lewe los.
Gilgamesj se verdriet en angs
laat bome tot in die wortels sidder,
elke blaar snik van die droefheid.
Wat hy verloor het, dryf tussen wit lelies.
Sugte slaan dofweg teen die heuwelbors vas,
mistroostigheid styg uit die laagtes op
en trek ‘n sluier oor die hemelblou.
Pyn se suur smaak brand sy mond.
“In die maan se spinnerak
spartel sterre verskrik,
want die dood het jou oorrompel.
Bloeisels sal soos klokkies klingel
maar jy sal dit nie hoor nie,
want jy is mos dood.
Die vyeboom sal nooit weer bot nie
en druiwe sal asynsuur smaak.
Die land sal met leë hande staan
en krale sal net ou spore bewaar,
want die dood het jou weggeraap.”
“O, God, my hart is verskeur,
die laaste dae bring bitter seer.
Enkidu, my vriend, is dood.
My tong is lam gekla.
Die wind suig al my trane op.
My tong is rou geskroei.
My trane verdroog in die wind.
Enkidu, my vriend, is dood.
Die laaste dae bring bitter seer,
o, God, my hart is verskeur.”
Gilgamesj draal nog om sy vriend
en bedek
sy gesig met ‘n aswit sluier.
Hy wy aan Enkidu
‘n standbeeld
en geskenke vir sy vaart.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007





