charl-pierre naudé

 

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé werk as vryskutjoernalis. In 1995 publiseer Tafelberg sy debuut, Die nomadiese oomblik, waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys ontvang. Sy tweede digbundel In die geheim van die dag, waarvoor hy die MNet- en Protea Poësieprys ontvang, verskyn in 2005 by Protea Boekhuis.

’n Bibliofiele uitgawe van sommige van sy gedigte, Sien jy die hemelliggame, verskyn in 2009 by SlibreeksGroot in Nederland. Hierdie beperkte uitgawe bevat die Afrikaanse sowel as die Nederlandse weergawe van elke gedig. Naudé woon en werk tans in Stilbaai.

 

 

 

Uit die Hand van Kondensasie

                                                     Vir Linda en Marc, Antwerpen. Op besoek.

 

’n Pluiserige tabberd

wolke lê oor die stad

 

en silwer en eindeloos

strek die tong

van die rivier plat kabbelend

 

’n rits lispelende note

op Europa se bedding

’n lap oor die klawers

 

uit die Hand van Kondensasie

word ons aardklont gebore

kom ons terug na die voorbedding

 

en gaan weer voort 

uit die Hand van Kondensasie

sing die waters van die heelal

 

in ’n binnehof bulk duiwe

soos koeie op ’n vensterbank

 

die Justisiepaleis het versteen

die gestolde dakvinne

’n opgeklitste seestorm

 

die monoliete

uit die Steentydperk staan gepak

in die velde van Wallonië

onverweer

die eerste tempels was dit heuphoog en plat

 

oral langs die pad

kweekhuisies van glas of plastiek

bewaar nou die geheim

so aandoenlik deursigtig

bidkapelletjies

 

wat staan op kruispaaie

uit die Hand van Kondensasie

kom die trane van Maria

bloedspatsels

 

’n gekoesterde oes aarbeie

 

flits ’n plein vol staande fietse

troppe met hul horings

bymekaar ingehak

bankvas soos singende silwer

 

soos herhaling

 

plons die heilige reënwater

op ons oopgespreide sambreel

met sy geraamte van ’n oerou voël

 

sê die natuurwetenskaplike

mens moet dit probeer onthou

 

oor ’n brug

klaterende notebalk

ver binne-in onsself

 

die koeie

met die geblomde vlekke op

hoe seil die wolke deur hulle

 

die weerhaan

Chagall het dit reeds voorspel

net onderstebo

 

ja fossiele

diep uit die hawe van Antwerpen

kopbeen van die potvis

 

sê ons gids die wetenskaplike

staan ’n oomblikkie stil

doodstil

dis nie net skyn nie

 

uit die Hand van Kondensasie

snel die motor voortstromend

 

deur dorpies vaartbelyn

en kronkelend

stom lê die horison

 

en skitter die lig

soos koepons op die kuite van ’n verbyganger

 

ook op die geribde eksoskelet

van ’n glasdakkoepel wat span

oor ’n verlate straat in CharleRoi

beier die son Sistyns

 

eerstehands en waaragtig

en lê die brûe van Amsterdam

soos knipogende kramme

in die wye Hand

 

van Onse Liewe Heer

Kondensasie

 

en onthou ek die warrelwind in die Karoo

waarin ’n flapperende, verinneweerde uil

vergeefs vastrapplek soek

 

soos ’n klerk wat stort in sy verseëlde Hemel

 

dis lente in die Ardennes en uit die Hand

 

van verdamping

kondenseer alle dinge.

 

 

 

(© Charl-Pierre Naudé. Junie 2010)

 

 

 

NOU

 

So nou het ek jou weer terug,

met jou serienommer toegedraai in watte,

jou gebottelde vlerke,

jou ewigdurende raklewe.

In die migrainebioskoop sien ek al jou molekules

muskiete rondom ’n stralende gloeilamp:

‘n gaassluier vol kraletjies verbloem

‘n aura wat daar staan soos ’n bruid.

Hemel, liewe land, hoe Grieks

is die aarde nie hier waar ek kniel

by die twee deeg-afrodites in jou T-hemp,

gemaak in ’n wêreld waar alle gode bakkers

en selfs die Eenoe kersiekoekies is

geknie, geknie, geknie,

in ’n bleek tweegeveg

van klei, wat ons liefde noem.

Ek kyk nou na my prinses,

waar sy slaap op haar maag,

hoe sy droom op haar ertjie;

omring deur haar foto’s.

Daai ou grypdief en deugniet,

wêreld-in-vaart,

hou darem soms ’n bietjie stiltetyd

 

 

[Uit: Sien jy die hemelliggame, Charl-Pierre Naudé, SlibreeksGroot, 2009.

 

 
 

 

 

 

Bookmark and Share