christine barkhuizen-le roux
|
Christine Barkhuizen-le Roux is op 18 November 1959 in Vryburg gebore. Sy studeer op Stellenbosch en behaal ’n BA-graad met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke. In 2000 verskyn haar debuutdigbundel, dimensie. In 2005 behaal sy ’n Meestersgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. In Maart 2006 verskyn haar prosadebuut, die kortverhaalbundel Waar koek en wyn ontbreek by Lapa, en einde Augustus 2006 verskyn haar tweede digbundel met die titel roset ook by Lapa. In 2006 skryf sy vir ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad in. Sy woon saam met haar man Bertus op ’n plaas 30 km van Barrydale. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.
|
erf
dit was omtrent in hoofstuk sewe
waar ek wou terugblaai om te kyk
hoe dra die donkergroen lukwart
oorkant die heining van die bure
ook vrugte dié kant van die draad
die huis se mure was van glas
deursigtig of dit nooit daar was
die kantgordyn ‘n hersenskim
het een oomblik my ingelaat
om weer die koffiesak en -moer te ruik
die selfbakbrood uit ma se oond
onthou se klein-ure wat roer
maar niks het in die raam gepas
in my verbeelding moes ek tas
na ‘n groen tafelblad van panelite
waar pa die loon in bruinkoevert
in ma se eelthand sit
sy oë sluit onder die lig
en vir sy kinders se geleerdheid bid
eenkant in ‘n vergete hoek
waai net die bloekom oor die werf
gister is ‘n verhole boek
slegs wind is wat die hart vererf
© Christine Barkhuizen le Roux, Mei 2009
(Hierdie gedig was deel van ’n projek van die ATKV: Skilder met woorde. Die gedig is geskryf
ter aansluiting by die kunswerk van Lien Botha: Die huis en alles daarin waai weg.)
somer
laat jou hande
oopgaan oor my
die jong knoppe lê volgebloei
sag aan die vingers van die mond
en langsamer sal jy
uit hierdie kelk die somer drink
die voorspel
tot die najaar klink
laat my
aan jou hand glo
ook oop rose
is mooi
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006




