clinton v du plessis
|
Clinton V. du Plessis publiseer verskeie dig- en kortverhaalbundels, waaronder geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, curriculum vitae, in god’s country: no 2–21, Tussentydse verslag, Kort van draad en Brunch met twee. Van sy werk is ook in ’n hele aantal plaaslike en oorsese bloemlesings opgeneem en hy lees gedigte voor by kunstefeeste, insluitende die Twee tot Twaalf-fees in Nijmegen, Nederland Nadat hy drie en ’n half jaar as rekenmeester in Johannesburg gewerk het, is hy terug op Cradock waar hy voltyds skryf en ook optree as rubriekskrywer vir Rapport en LitNet. |
bestekopname
ek wou nog altyd
so gemaklik en spontaan
soos bukowski skryf
duisende verse
by die veertig of is dit vyftig bundels
met vinding- en verbeeldingryke titels
soos
sometimes you get so alone that it just makes sense
of
the days run away like wild horses over the hills
of
burning in water drowning in flame
of
play the piano drunk like a percussion instrument until the fingers begin to bleed a bit
maar
ek het gans
te versigtig geleef
nooit bedremmeld dronk & weer onvergenoegd nugter geraak
te min pille &
te min lyne gehad
te lank in een werk verstrengel geraak
gans te min die perde gespeel
of
te min my gat gesien
(by/in
hoer, hof, hospitaal & hotel)
te laat my hart verloor
om
’n suksesvolle skrywer te wees
(aldus charles bukowski, die meester)
moes jy geslaap het
by baie vroue,
mooi vroue,
& een of twee
ordentlike liefdesgedigte geskryf het.
ek dink ek is darem al
so halfpad daar.
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006






