danie marais

Danie Marais

Danie Marais

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ‘n B.Com-graad met regsvakke. Hy studeer in die onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, wiskunde en filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis en -skrywer in Stellenbosch. Marais is ‘n boekjoernalis en skryf ‘n gereelde rock-rubriek vir Beeld en Die Burger. Hy is ‘n draaiboekskrywer vir Binneland sub judice en op Bush Radio bied hy die musiekprogram The Unhappy Hour aan saam met Clive Smith, Toast Coetzer en Erns Grundling. Hy het sy vrou, Karlien de Villiers, se eerste grafiese roman, Meine Mutter war eine schöne Frau, in Duits vertaal. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus:Poezie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ‘n misverstand, het in 2009 by Tafelberg verskyn. Hy het ook die bloemlesing As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe (Tafelberg, 2009) saamgestel, ‘n versameling van essays, briewe, kortverhale en strippe oor ervarings van emigrasie en of verblyf in die buiteland. In Maart 2010 word Nuwe stemme 4 (Tafelberg) gepubliseer – ‘n bloemlesing met gedigte van belowende, voorheen ongepubliseerde digters wat Marais saam met Ronel de Goede saamgestel het.

 

Stellenbosch Revisited

 
Stellenbosch is kastig ‘n classic,
maar ek het haar 20 jaar gelede
by die venster uitgesmyt –
“hopeloos oorskat” het ek gesê,

soos On the Road, Parys of die 60’s.
Liewer grinterig lewe en na hartelus vergaan
as ‘n versuikerde pilletjie elke dag
in dié aftree-oord van drome, dankie.

Maar dis 20 jaar later en ek weet nie meer lekker
waaroor ons provinsiale stryd destyds was nie.
Ek wantrou steeds Hollywood, Frankryk en kerkmusiek –
alles wat te geslepe, mooi of monumentaal is,

maar o, Stellenbosch, dis 20 subversiewe jare later en ek is besig
om weer ‘n swak te ontwikkel vir jou
bleddie beautiful Bolandse lentes jou teatrale
sonsondergange, jou selfingenome berge.

Jy lyk wragtig nie ‘n dag ouer nie, inteendeel,
jy’t laat werk aan jou gesig jou cappuccino’s
stoom onverstoord geborge
in die blaaie van ‘n Lonely Planet-gids.

Stellenbosch, bokkie, I’m not okay
and you’re not okay
maar dis oukei –
wat jy sien, is wat jy kry

en ek kyk nou sonder verwagtings,
sonder wanhoop of verweer na jou lanings,
jou akkers, jou wingerde, jou blakende, weselose studente
al jou edel sentimente.

Jy was eintlik onskuldig,
intellektueel misbruik soos meeste simbole
‘n magtige lugspieëling, erfsonde
van ‘n hulpelose rykmanskind.

Stellenbosch, on second thoughts,
jy is ‘n verkragte classic –
‘n bergie met ‘n gewel uit 1840
vir ‘n hoed, ‘n Picasso met ore
vir oë en monde vir ore; ‘n meer tragiese
verstrengeling van lig en donker, ‘n beter balans
tussen waarheid en digting
sal jy kwalik kry, maar ek bly

die period piece, ek is verby

nou eers kan ek jou argitektuur
in die skemering bewonder, nou eers
gaan ek vredig lê soos stof
om die fyngetrekte Kaaps-Hollandse lyne

van jou brose, jou wrede ou, barbaarse beskawing.

 

© Danie Marais. Okt 2010

 

 

 

 

Nuwe oë

 

Die liefde is nie ’n dokter nie,
maar dis diep narkose –
die natuur se eie date-rape drug –
en ek en jy het eers jare later
in ’n skakelhuisie in Woodstock bygekom
aan ’n geel kombuistafel met ’n kakkerlak
vasgekeer in die digitale horlosie
van die nuwe mikrogolfoond en ’n brommer wat
al teen die al teen die al
teen die kombuisvenster vas.

Jy was besig om girts-girts botter
op jou roosterbrood te smeer en ek kon nie
glo ek het nooit voorheen die gapende swart
Mamma-en-Pappa-groottegat
in jou bors voel suig nie.
Ek het gestaar.
Dit was hipnoties, het gesing –
’n sirene.
Jy het opgekyk en geglimlag nes steke
wat ooptrek.
Jy het op ’n druppel soos my vrou gelyk.

In die kamer het ’n babadogter vir ons
“Mamma!” en “Pappa!”
begin huil

 

 

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden

 

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

 

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

 

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

 

 

 

Metafisika vir beginners

 

Siel is die geheimsinnige een

– niemand weet lekker van Siel nie –

Siel is ’n lugvaring

’n puur onsterflike gedagte

Siel is glo die belangrikste een

Siel is soos potensiaal –

’n blanko tjek, maar onmoontlik om te wissel

Siel se gewig en waarde voel jy eers

wanneer jy Siel reeds verkoop het

 

Hart is ’n hoender

wat dink hy’s Bruce Lee

Hart is ’n mal professor se idee

van ’n vliegmasjien

Hart sien kans vir ontelbaar

Hart is punk-rock

Hart is ’n tydbom in jou bosak

Hart is die wind in sy eie waansinnige seile

Hart is onweerstaanbaar as sy kaal swem

Hart is aantreklik as hy slaap

Hart is ’n verlore saak

Siel is Hart se laaste hoop

 

Verstand sug net oor Hart en Siel

Verstand is iemand wat Rede verstaan

Rede glo heimlik dat Verstand

deur Hart en Siel benewel word

Rede sê Siel is Hart se denkbeeldige maatjie

Verstand sê Rede se grootste probleem

is dat hy nie die behoefte

aan Hart en Siel ernstig opneem nie

dat hy nie die implikasies van Die Onderbewuste verstaan nie

Verstand sê Rede moet ophou om te glo

hy’s Verstand se meerdere

Rede steur hom nie aan Verstand se kinderpraatjies nie

 

Hart en Siel woon

saam met Rede en Verstand

in Mens

Die Onderbewuste kruip in die kelder weg –

tot die tande gewapen

 

Rede sê Mens is ’n woord

wat te hoog mik

Verstand sê Rede projekteer maar net

Hart fluister iets geheimsinnigs

in Siel se oor

Uit die kelder kom ’n moerse lawaai

  

Maar Mens bestaan uit Man en Vrou

“Stil nou!” brul Mens

“Vrou wil vir Man iets sê”

  

En Vrou neem Man se hand en bieg:

“Ek kan nie meer sonder jou lewe nie”

Man gaan op sy knieë en vra:

“Sal jy met my trou?”

Vrou sê oorstelp: “Ja!”

 

“Dis ’n fokop!” sê Rede

en Verstand knik somber sy kop

Hart bestel ’n ronde Tequila

vir hom en sy onsigbare vriend

en stel ’n heildronk in:

“Op Ware Liefde!”

 

In die kelder is dit onheilspellend

stil

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

Bookmark and Share