danie marais

Danie Marais

Danie Marais

 

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ’n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke.

Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis in Kaapstad. Marais is assistentredakteur van die maandelikse boekebylaag Rapport Boeke, teksredakteur van die tydskrif Visi en skryf ’n gereelde rock-rubriek vir Beeld. Op Bush Radio bied hy die musiekprogram The Unhappy Hour aan saam met Clive Smith, Toast Coetzer en Erns Grundling. Hy het sy vrou, Karlien de Villiers, se eerste grafiese roman, Meine Mutter war eine schöne Frau, in Duits vertaal. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poëzie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand, het in Maart 2009 by Tafelberg verskyn.

 

Nuwe oë

 

Die liefde is nie ’n dokter nie,
maar dis diep narkose –
die natuur se eie date-rape drug –
en ek en jy het eers jare later
in ’n skakelhuisie in Woodstock bygekom
aan ’n geel kombuistafel met ’n kakkerlak
vasgekeer in die digitale horlosie
van die nuwe mikrogolfoond en ’n brommer wat
al teen die al teen die al
teen die kombuisvenster vas.

Jy was besig om girts-girts botter
op jou roosterbrood te smeer en ek kon nie
glo ek het nooit voorheen die gapende swart
Mamma-en-Pappa-groottegat
in jou bors voel suig nie.
Ek het gestaar.
Dit was hipnoties, het gesing –
’n sirene.
Jy het opgekyk en geglimlag nes steke
wat ooptrek.
Jy het op ’n druppel soos my vrou gelyk.

In die kamer het ’n babadogter vir ons
“Mamma!” en “Pappa!”
begin huil

 

 

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden

 

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

 

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

 

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

 

 

 

Metafisika vir beginners

 

Siel is die geheimsinnige een

– niemand weet lekker van Siel nie –

Siel is ’n lugvaring

’n puur onsterflike gedagte

Siel is glo die belangrikste een

Siel is soos potensiaal –

’n blanko tjek, maar onmoontlik om te wissel

Siel se gewig en waarde voel jy eers

wanneer jy Siel reeds verkoop het

 

Hart is ’n hoender

wat dink hy’s Bruce Lee

Hart is ’n mal professor se idee

van ’n vliegmasjien

Hart sien kans vir ontelbaar

Hart is punk-rock

Hart is ’n tydbom in jou bosak

Hart is die wind in sy eie waansinnige seile

Hart is onweerstaanbaar as sy kaal swem

Hart is aantreklik as hy slaap

Hart is ’n verlore saak

Siel is Hart se laaste hoop

 

Verstand sug net oor Hart en Siel

Verstand is iemand wat Rede verstaan

Rede glo heimlik dat Verstand

deur Hart en Siel benewel word

Rede sê Siel is Hart se denkbeeldige maatjie

Verstand sê Rede se grootste probleem

is dat hy nie die behoefte

aan Hart en Siel ernstig opneem nie

dat hy nie die implikasies van Die Onderbewuste verstaan nie

Verstand sê Rede moet ophou om te glo

hy’s Verstand se meerdere

Rede steur hom nie aan Verstand se kinderpraatjies nie

 

Hart en Siel woon

saam met Rede en Verstand

in Mens

Die Onderbewuste kruip in die kelder weg –

tot die tande gewapen

 

Rede sê Mens is ’n woord

wat te hoog mik

Verstand sê Rede projekteer maar net

Hart fluister iets geheimsinnigs

in Siel se oor

Uit die kelder kom ’n moerse lawaai

  

Maar Mens bestaan uit Man en Vrou

“Stil nou!” brul Mens

“Vrou wil vir Man iets sê”

  

En Vrou neem Man se hand en bieg:

“Ek kan nie meer sonder jou lewe nie”

Man gaan op sy knieë en vra:

“Sal jy met my trou?”

Vrou sê oorstelp: “Ja!”

 

“Dis ’n fokop!” sê Rede

en Verstand knik somber sy kop

Hart bestel ’n ronde Tequila

vir hom en sy onsigbare vriend

en stel ’n heildronk in:

“Op Ware Liefde!”

 

In die kelder is dit onheilspellend

stil

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

Bookmark and Share