daniel hugo
|
Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ’n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.
Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou redakteur by Protea Boekhuis. Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, uitgewer en bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke.
|
Ina Rousseau (1926 - 2005)
die lewe het haar voortdurend verras:
met glasskoentjies wat haar uitsluitlik pas
het haar voete in versmaat getinkel
tot een nag ‘n swart koets aangerinkel
kom - toe kry die sprokie ‘n nare kinkel:
hierdie keer is sy deur die dood verras
huil - dit is gepas - oor aspoestertjie se as
© Daniel Hugo. Augustus 2010
Hoor hoe waai die wind
1. Die voortvlugtige
die noordewind leun swaar teen ons muur
soos iemand wat bitter ver moes hardloop -
ons hoor hom hyg en blaas: sy asem
is so koud dat die voordeur sidder
deur ‘n skrefie huil hy - laat my in, o
laat my in - al het ek ‘n ruim hart
moet hierdie asielsoeker buite bly:
die reën en die sneeu is op sy spoor
2. Die geluksmous
die bergwind klop vriendelik aan jou deur
met sy warm glimlag sit hy kort
voor lank in jou sitkamer - hy vertel
gul van die nuwe hemel en aarde
van die geluk en vrede wat wag
op dié wat gereed is vir die weder-
koms - hy is skaars vort of jy bibber weer
van die koue: dit ís immers winter
3. Die woedende
die suidoos hamer aan die agterdeur
soos ‘n man wat die huis verbied is
hy strompel deur die struike en klouter
boontoe, begin aan die dakplate pluk
so hou dit die hele nag aan - tot
sy energie ingee en hy verdwaas
oor die smal dakrand trap - vroegoggend
hark die huisvrou sy laaste asem
én die verwaaide blare op ‘n hoop
sy steek dit aan die brand: sy gee hom hel
© Daniel Hugo. Augustus 2010
Canticleer
as ek in die nag wakkerlê
voel dit of die tyd gaan staan
my hart is ‘n gravitasiekolk
waarin die laaste vonk verslaan
eeue later kraai die haan
wat kant en klaar verkondig:
die môrester flonker êrens
in hierdie verdomde donker
die nag is eindeloos lank
sonder sterre, sonder maan -
die gedig wat met hanekraai
ontstaan, skitter kortstondig
die son verskyn soos ‘n vos:
die haan vlug én die gedig
© Daniel Hugo. Julie 2010
Selfkatkisasie
ek lê in die bed en lees Ina Rousseau
dis haar klankspel wat my wakker hou
wat weet die jong geslag van rym en maatslag?
die kat lê langs my - sy gesnork klink
soos ‘n brommer wat opvlieg en gaan sit
opvlieg en gaan sit - sy pote begin ruk:
daardie brommer gaan hy nou-nou bykom
hy skrik wakker, hoor my grinnik,
sien my blik wat spot - geknou spring hy
van die bed af, loop weg, boos en bekaf
vir my gedrag kry ek skielik skaam:
katte - net soos digters - kan jy maklik krenk
© Daniel Hugo. Julie 2010
Water: variasies
die bewussyn is ‘n troewel poel
met pyn die vis wat vinnig flits
water is verlief op swaartekrag
daarom dat dit kabbel, murmel en klater
elke doudruppel is ‘n miniskule lens
om die son se vuur te vermenigvuldig
die water van die kuil is ‘n spieël
met wolke waarin die visse vlieg
elke put is ‘n diep teleskoop
wat soek na God se gesonke oog
die damvlak rimpel soos sinkplaat:
die dak waarop reëdruppels dans
die bote boots die wolke na:
hulle dryf oor die einder weg.
‘n donker kolk is die dood:
die siel verdamp soos ‘n wolk
© Daniel Hugo. Junie 2010
Sonnet
snags in ons slaap dans ons
‘n onderwaterballet
‘n trae pas de deux
van gesinchroniseerde
bewegings - soms breek
een weg in ‘n staccato dans
tot ‘n sagte aanraking
die bose gees belet
die donker stroom om ons,
spoel ons heen en weer:
loom wiere in ‘n droom
uit die onbewuste
hou die dood ons dop:
van dromer tot skelet
Haikoe: variasies
as ek daaraan dink
hoor ek die stilte dawer
agter dooimansdeur
as ek daaraan dink
raak my verstand verduister -
die dood se skadu
as ek daaraan dink
dryf daar ‘n lyk in my kop -
koue dodekus
as ek daaraan dink
loop ek in ‘n hinderlaag -
dis doodsakker dié
© Daniel Hugo. Feb. 2010
Nuus
vanoggend toe ek die voordeur oop-
maak om die koerant te kry
wag daar ‘n krap vir my
met knypers paraat - dadelik snap
ek sy boodskap: laat vaar alle hoop
niemand spring die noodlot vry
kwaadaardig is hierdie krap
ek lig my voet om hom te trap:
die tyd vir ons het uitgeloop
31 Desember 2009
Kortsluiting
my senuwees: ‘n vertakte weerligstraal
‘n blits uit die wolkmassa van die brein:
van kop tot tone knetter die elektrone
ek leef ‘n elektries gelaaide lewe
en skok elkeen wat my te na kom:
donder of bliksem is om ‘t ewe
© Daniel Hugo. Jan. 2010
Hanekraai
klokslag met dagbreek steek
‘n morning glory sy kop uit
saam met al die ander lig-
gevoelige organe wat geur
op hierdie lengtegraad
stel jou voor: triljoene ereksies
wat verskyn, weer verdwyn
en in ‘n Meksikaanse golf
reg rondom die aardbol dein
teen vyftien grade per uur
die aarde draai om die son
ter wille van ‘n voyeur
© Daniel Hugo. November 2009
Dekonstruksie
die digter filosofeer:
trek ‘n streep deur stilte
dan het jy woorde
trek ‘n streep deur nag
dan is dit dag
trek ‘n streep deur dood
dan is daar lewe
trek ‘n streep deur streep
om die kansellasie te kanselleer
en daar is nag, dood en stilte weer
trek ‘n streep deur digter
© Daniel Hugo, September 2009
Greyton
Water uit die bloute van die berg
stroom na die Riviersonderend
en voed - deur middel van ‘n sluis -
leivore van die dommelende dorp
waar die wêreld vir my ontwaak het.
Vroeg in my lewe het ek hier geleer:
energie verdwyn maklik in die niet
maar kan getem word om iets te skep -
‘n groentetuin, ‘n vrugteboord
of sommer net ‘n vywer met ‘n vis.
Wat my nou - ná jare - interesseer
is daardie sluis en hoe mens dit beheer.
© Daniel Hugo, Junie 2009
(Vir Carina)
jy ken die koördinate
van al my doen en late
jy is die landmeter van my liggaam
die kartograaf van my gees
jy is die een wat my bereken en beraam
sonder jou voel ek verlate
raak ek verstrik in cliché’s
sonder jou verloor ek my naam
is ek alleen in die wildernis van hierwees
© Daniel Hugo, Junie 2009
Poskaarte
I
die stad begin soggens eggo
as klein hondjies met durf
die diep kele wakker kef - o
die klokke van Salzburg!
II
die studentekorps van Krakof glo
nog steeds aan ‘n klaslose bestaan
daarom dat hulle dag en nag so
onbeheers kameraadskaplik bras
III
die natuurlewe in Pole
benodig dringend hulp:
ek het ‘n voël gehoor -
één voël wat éénmaal tjilp
IV
stralerlinte deurkruis die koue lug
bokant dorpies vas teen mekaar gedruk:
die Vlaminge praat met roomsagte g’s
in ‘n sjokoladedoos toegestrik
© Daniel Hugo, Junie 2009
Loflied op die letterkunde
Ek het die Afrikaanse letterkunde lief:
Elke letter het ek lief, die kleinste setfout,
die slap anglisismes, die anachronismes,
elke taalfout en die blatantste plagiaat.
Ek het die dom skrywers lief, die lui redakteurs,
die gesette uitgewers, die skraal kritici
en die analfabetiese boekhandelaars:
Die totale, banale bedryf het ek lief.
Maar bowenal het ek die verpulpers lief:
Van boeke maak hulle bruikbare bokse
waarin jy die hele letterkunde kan pak
vir snelversending na die naaste pulpfabriek.
(Uit: Versindaba 2008. Protea Boekhuis, 2008.)





