daniel hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ’n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.

                Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). In 2011 verskyn Onder die appelboom, Hugo se vertalings  van die gedigte deur Rutger Kopland.  Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou redakteur by Protea Boekhuis. Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke. 

 

 

Loflied op die letterkunde

 

Ek het die Afrikaanse letterkunde lief:

Elke letter het ek lief, die kleinste setfout,

die slap anglisismes, die anachronismes,

elke taalfout en die blatantste plagiaat.

Ek het die dom skrywers lief, die lui redakteurs,

die gesette uitgewers, die skraal kritici

en die analfabetiese boekhandelaars:

Die totale, banale bedryf het ek lief.

Maar bowenal het ek die verpulpers lief:

Van boeke maak hulle bruikbare bokse

waarin jy die hele letterkunde kan pak

vir snelversending na die naaste pulpfabriek.

 

(Uit: Versindaba 2008. Protea Boekhuis, 2008.)

 

Bookmark and Share