De Waal Venter

De Waal Venter

De Waal Venter

De Waal Venter is op 7 Mei 1942 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer in 1959 aan Monument Hoërskool. In 1963 verlaat hy die universiteit om hom by die staatsdiens as klerk aan te sluit. In daardie jaar word die Staatsprys vir Poësie aan hom toegeken vir sy eerste bundel, Kiem. In 1965 word hy aangestel as assistentredakteur van SARP en in 1968 aanvaar hy ‘n betrekking in Johannesburg as reklameskrywer en verhuis na die Goudstad. Die jaar daarna word hy ‘n omroeper-regisseur by die Afrikaanse Diens van die SAUK, waar hy werk tot 1970, toe hy besluit om weer by die reklamewêreld aan te sluit. In 1990 het hy die ATKV-reklameprys gewen. In 2000 het hy uitgetree as skeppende direkteur en onafhanklik begin werk. De Waal is getroud met Erla Louw, ‘n arbeidsterapeut en hulle het vier kinders en vyf kleinkinders. Hulle woon in Krugersdorp.
In 1966 gee De Waal saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert die literêre tydskrif WURM uit. Hy skryf lirieke, gebaseer op bekende musiekstukke soos “Recuerdos de la Alhambra” van Franciso Tarrega. In Afrikaans het dit “O my vaal Karoo” geword. Hierdie lirieke en komposisies het ‘n nuwe wending aan Afrikaanse ligte musiek help gee. In die twaalf jaar tussen Kiem se verskyning en die publikasie van De Waal se tweede bundel, Pols, in 1977, word Klawer in 1966 gepubliseer, waarin gedigte van De Waal saam met dié van Menno Stenvert en DPM Botes verskyn. Hy skryf ook verskeie jeugwerke, radiodramas, vervolgverhale en draaiboeke waarvan hulle met Idem-pryse bekroon word. Wat dan? is in 1988 met die Idem-prys vir radiodrama bekroon.

Hoewel De Waal steeds gedigte in Afrikaans skryf het hy in 2010 ‘n  Engelse digbundel, Entangling states of mind, by Lulu.com gepubliseer. De Waal doen heelwat vertalings van digters in ander tale na Afrikaans en hy is tans besig met ‘n projek om algaande die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer se gedigte uit Sweeds in Afrikaans te vertaal. ‘n Volledige skrywersalbum van Venter verskyn op LitNet.

 

 

Die wêreld aan minnaars openbaar

 

Eers kyk hulle

hoe die stootskrapers oorvlieg,

staalvlerke klap  kragtig

om die massiewe goed in die lug te hou.

 

Die gedruis van die stootskrapers vervaag

maar toe begin ‘n geweldige hyging

naderswel en groei tot ‘n oorweldigende gegrom

soos die reuse vragmotors

oorgeswerm kom, toetende

enorme meganiese ganse

skaars in die lug gehou

op hulle kort, vibrerende vlerkies.

‘n Skerp reuk van diesel en petrol

druk die geur eenkant toe

van die bloeiende kanferfoelie.

 

Die minnaars waai glimlaggend

vir ‘n vragmotorbestuurder

wat ondertoe loer oor sy toebroodjie.

 

Stadig verdoof die gedruis van die trop vragmotors.

Skril gilletjies

wat klink soos kinders op ‘n speelgrond

splinter die lug in,

vlermuise gooi hulleself rond

in hoeke met verpletterende g-kragte.

 

Die minnaars staan en kyk

hoe die maan

ontvou uit die horison

nog nat van die baarmoeder.

 

Wat hulle sien

kan net minnaars sien.

 

 

Die teoretiese fisikus skilder

 

Naakte olifante

trappe-trappe-trone oor die rand

van die skilder se verbeelding;

hulle word gevolg deur ses eiervrugte

wat skielik regs draai

op die esel af,

hulle oorryp groen en pers

bevlekte gesigte vol skaam verwagting.

 

Die lug sak in die middel

afgedruk deur

die ruim beliggaamde naakfiguur

wat haar oggendtee

en oranje druiwe geniet.

 

Die skilder verf die hele doek

vol wit verf,

terwyl hy die drang onderdruk

om die buis oop te maak

waarin ‘n verstommende rooi

woes stoei om uit te kom.

 

Voor daar kleur was

was daar niks,

beduie die skilder aan die eiervrugte

saamgedrom om hom.

 

Dan verf hy versigtig

‘n donker kolletjie

êrens in die middel van die bekende heelal.

 

 

Rigiede denkpatrone in flarde

 

Soos die bul

in die gangetjie af loop

mis die punte van sy horings

rakelings die delikate koppies op die rakke.

 

Hy draai links,

kantel sy kop

om sy horings verby

die fragiele herderinnetjies te stuur

en hulle oor

sagte blou teestelle te swiep.

 

Hy stop voor ‘n oop glaskas

met vase wat skaars

die gewig kan dra

van drie rose elk.

 

Die stomende asem uit sy neusgate

roer die verkoopsdame se rok:

ek’s hier om ‘n punt te maak,

rommel sy stem uit sy diep bors,

en ek wil ‘n porselein-ring hê,

versier met ‘n ontwerp van Delft.

 

Met sy neusring aan,

stap die bul uit die winkel;

agter hom

lê daar ‘n cliché in skerwe.

 

 

Neem ‘n asperien, byvoorbeeld

 

Die twee ouer filosowe

wandel op die strand,

kaalvoet met hulle langbroeke

opgerol tot by hulle knieë.

Die een weet omtrent alles,

die ander en amper niks.

 

Neem taal, byvoorbeeld, sê die een,

ons weet presies wat dit is

en hoe dit werk.

Ek weet nie, antwoord die ander een skugter.

 

Jy weet nie? Wat taal is nie?

roep die ander een geamuseerd verbaas uit.

My liewe kêrel, dit is wat ons nou gebruik!

Ja, ek weet, maar wat is dit nou eintlik?

Man, dis mos … neem Chomsky …

of Lacan, of Derrida, stel die ander een voor.

Ja, maar daar is fundamentele …

onderbreek die kundige filosoof en stap aan,

fronsend, besig om sy gedagtes agtermekaar te kry

sodat hy sy vriend uit sy onkunde kan verlos;

sy hande is in ‘n pynlike  greep agter sy rug,

sy kakebeen roer onrustig.

 

Dis voor die hand liggend, is dit nie? mompel hy uiteindelik.

Die onkundige filosoof antwoord nadenkend,

ek kan jou ‘n asperien aanbied,

maar ek weet nie wat dit is nie.

 

 

Ontmoeting van minnaars

 

Sir Talkalot was ‘n vrek aantreklike ridder,

sy heuningblonde snor

het neergekrul

soos ‘n perkamentrol beskrewe met ‘n meesleurende roman.

 

Hy ry op ‘n dag na die draak se lêplek

(op sy perd,  natuurlik)

pluk sy nommer een swaard uit

en steek haar op die boud.

 

Eina! gil sy.

Haar warm asem

brand Sir Talkalot

se linkersnor skoon weg.

 

Kyk nou wat het jy aangevang!

raas sy, vrywend oor haar boud.

Nou’s ek op hitte!

Die diep bastone

van ‘n draak se paringslied

klink in die verte,

maar kom vinnig nader.

 

Sir Talkalot was koudgeskrik,

hy wou wraggies nie

Kupido speel nie,

die ventjie is ver van heldhaftig;

hy’t soos ‘n skaap gevoel.

 

Gou! sê die draakdame,

wikkel voor Godfrey

jou in ‘n burger verander,

die soort wat hy eet.

Sy stop haastig ‘n diamanthalssnoer

en ‘n handvol pêrels en robyne

in sy hande.

Vir jou meisie, sê sy,

sê haar jy’t ‘n gelukkie getref …

ag ek meen ‘n draak.

 

En daar gaan Sir Talkalot

vroetelende aan sy gebrande snor.

Die draakdame begin haastig lipstiffie aansit –

die tyd was min,

sy het ‘n volle drie meter-lange lip gehad.

 

 

Die wetenskaplike en die fee

 

Voëls gaan tekere

in die bome van die agtertuin

waar die sosioloog

met ‘n vergrootglas

‘n paar sandaaltjies bestudeer

so groot soos druiwepitte.

 

‘n Fee skiet deur ‘n streep sonlig

en land op die tafel

naby die man se kneukel.

Haar vlerkies glinster

en verdwyn dan amper heeltemal

toe die lig verander.

 

Sy dra jeans

oop op die knieë,

‘n neusring amper te klein om te sien

en ‘n skilpadraam bril.

 

Die fee stap nader

en leun teen die sosioloog se duim,

arms gevou. Sy is kaalvoet.

 

Hy staar net, bang om te roer.

Jy’t my sandale, sê die fee.

Die sosioloog knik sy kop versigtig

terwyl die fee plat gaan sit

en haar sandale aantrek.

 

Wat’s jou gevolgtrekking? vra die fee

en vryf haar neus met effens opgetrekte bolip.

Die sosioloog skraap senuweeagtig sy keel:

jy bestaan nie.

 

Jou voet man!

antwoord die fee vrolik.

Sy klap die man se duim

soos sy ‘n ryperd se boud sou klap

en vlieg die sonlig in,

skielik soos ‘n skrikgemaakte vlieg.

 

*

Bookmark and Share