diana ferrus

 

Diana Ferrus

Diana Ferrus

Diana Ferrus voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Esselenpark. Sy begin in 1973 aan die Universiteit van Weskaapland studeer, maar gaan werk nadat die universiteit sluit. Sy begin deeltyds studeer en behaal ‘n honneursgraad in Vrouestudies. Haar eerste verhaal, Die Kind word gepubliseer in 1994 in Die Suid-Afrikaan. Sy het sedertien gedigte en kortverhale in verskeie bundels gepubliseer. Diana is egter meer bekend vir haar gedig wat aan Sara Baartman opgedra is. Hierdie gedig het deel van ‘n Franse senator, Nicholas About se vertoë gevorm in sy poging om die oorskot van Sara Baartman terug in Suid-Afrika te kry. Die gedig is in Frans vertaal en vorm deel van die wetgewing wat die terugkeer van Sara Baartman moontlik gemaak het. In 2006 verskyn haar eerste digbundel, Ons Komvandaan, en ‘n kortverhaalbundel, Slaan vir my ‘n masker, VaderSy het ook die storie van Ansela van de Caab, ‘n slavin, met musiek-begeleiding vertel.

 

 

 ‘ n skielike verlange

(vir Boeta, Boy, Derrick, Abe en Gerald)

 

vlam op, vuur gedagtes  

helder verlig verby

my geestesoog.                                    

Jy is nie as verbrand

of verlore nie.                            

‘n Vlietende oomblik                                                      

vleg ineen met die ewigheid.

In ‘n skielike verlange                                        

het jy my nooit verlaat

 

 

Vergete verlange

 

Vergete verlange

val tussen die gange

van berge se hange.

Vergange se verlange

word verdorde drange

 

 

Plagiaat

 

Ek soek na woorde wat ek nie kan baar,

sien die spruite van ander meelopers

en reik uit,

druk in my sak sonder dat iemand sien

maar die ding hier op my skouer

sit te na aan my oor.

Ek kry ‘n angs, val myself aan

en net daar dop ek my sakke om.

My lyf word hoendervleis,

ek ly vir twee dae lank

Die derde dag staan ek op

en vaar weer die strate in.

Ek gryp wat ek kan kry,

my hande is in onskuld gewas –

woorde is ouerloos.

 

 

Vir Jan van Eyck

 

Die jare het wyd gelê

soos vlaktes

droog en rooi.

Voetspore het perfek geval

in paadjies uitgekerf

maar net een paar

het geduldig mee gedraf

 

Die toekoms lê oop

soos valleie,

vrugbaar en groen.

Voetspore word verdring

in paadjies wat vertak

want duisende siele

hardloop gretig saam

 

© Diana Ferrus

 

 

Ons Komvandaan

 

Was dit my ma se ma se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa, se pa, se pa, se pa

in boeie,

vasgemaak

en diep onder

in ‘n skip gegooi,

en nagte lank en dagte lank

gevoel het hoe waters hard

aan hulle ore slaan?

Wat was hul gedagtes?

Het hulle gehuil?

Het hulle gevrees?

Het hulle gebid

vir die dood om te kom?

 

Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa, se pa, se pa, se pa?

 

En toe hulle hier land,

ver van familieband –

wat was hulle gedagtes?

Het hulle verlang?

Het hulle getreur

of

het hulle aanvaar?

 

Was dit my ma se ma, se ma, se ma, se ma

of

haar pa se pa se pa, se pa, se pa?

 

Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,

Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier.

Maar iewers, lank gelede,

baie ver van hier

het ons ons feeste

onder ‘n ander naam gevier!

 

Uit: Versindaba 2006, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share