dolf van niekerk
|
Dolf van Niekerk is op Edenburg in die Vrystaat gebore, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi. Hy studeer aan verskeie universiteite en behaal in 1982 ’n doktorsgraad in Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria. Hy begin sy loopbaan by die SAUK as omroeper/regisseur. Hy raak betrokke by die Departement van Landbou se radiodiens (Landbouradio) en word later Direkteur van die Departement se Inligtingsdiens, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1994 beklee. Aanvanklik skryf Van Niekerk hoorspele en hoorbeelde vir die radio. Sy eerste gedigte verskyn in 1953 in Standpunte. Sy eerste prosawerk, Gannavlei, verskyn in 1958. Sy oeuvre bestryk al die genres: prosa, poësie en drama. Benewens toekennings vir sy radiowerk het Van Niekerk ook die Eugène Marais-prys, die Scheepersprys en die M.E.R.-prys ontvang. Die jongste van vier digbundels, Lang reis na Ithaka, het in 2009 by Protea Boekhuis verskyn. |
|
Luister na hierdie video-greep van ’n voorlesing uit Nag op ‘n kaal plein, deur Dolf van Niekerk [Protea Boekhuis, 2006]. Die opname is gemaak tydens Versindaba 2007. |
Was dit sluiers
of membrane waardeur ek
na die lig moes beur;
of dalk ’n muur, ’n heg
van dorings, ’n DNS-struktuur;
of was dit mensehande met ’n tang
wat die spinsel in die moederskoot
moes breek? Want iets daarvan
skemer steeds deur die bestaan:
ruimtenood en onrus, verwondering
dat dood so digby lewe lê.
En nou dié liefde wat die bekende
onmag laat herleef, só verweef
dat ek nogmaals nie weet
maar soek na vorm, iewers om heen
te swem, te kruip – ’n luik wat open
na ’n dag se sekerheid.
Of moet ek leer dat tussen
mens en mens en man en vrou
die geheim in die gedaante
van versperrings lê: geprojekteerde
beeld, gewaande wese,
die spanning tussen gister en nou.





