dolf van niekerk

Dolf van Niekerk

Dolf van Niekerk

Dolf van Niekerk is op Edenburg in die Vrystaat gebore, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi. Hy studeer aan verskeie universiteite en behaal in 1982 ’n doktorsgraad in Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria. Hy begin sy loopbaan by die SAUK as omroeper/regisseur. Hy raak betrokke by die Departement van Landbou se radiodiens (Landbouradio) en word later Direkteur van die Departement se Inligtingsdiens, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1994 beklee.

Aanvanklik skryf Van Niekerk hoorspele en hoorbeelde vir die radio. Sy eerste gedigte verskyn in 1953 in Standpunte. Sy eerste prosawerk, Gannavlei, verskyn in 1958. Sy oeuvre bestryk al die genres: prosa, poësie en drama. Benewens toekennings vir sy radiowerk het Van Niekerk ook die Eugène Marais-prys, die Scheepersprys en die M.E.R.-prys ontvang. Die bundel Lang reis na Ithaka, het in 2009 by Protea Boekhuis verskyn. Sy jongste bundel,  Berigte uit die skemerland, verskyn by Imprimatur, 2019

’n Skerfie glas tussen bitterbosse.
In die veld weerkaats tye van rooigrassade
in die wind voor aarde se verbittering;
witneusskape teen die hang,
korhane roep die skemer op,
bleshoenders roer die water
in hul vaart; rimpelinge
uit die diepte laat gedagtes vloei
oor kom en gaan, die ritme van beweeg
en ruspunt: gletsers en lawa in die Karoo,
’n meer om Drie Susters se hals,
Swartberg se geheime in die skemer
waar orakels in die gleuwe waarheid soek
en hy op ’n antwoord uit die aarde wag,
maar weet dit sal uiteindelik
in sy gesplete wese lê

{Uit: Berigte uit die skemerland, 2019}

*

Volmaan dwaal my gees
in strate van my jeug
op soek na gestaltes
uit drome en verlange
tot ek hom sien:
die kind wat op ’n miershoop
vir skape preek en snags
na verlore lammers soek
met gedagtes elders,
maar uiteindelik gedoem
tot snyer van pakke en manelle;
en klerestof wat algaande
op die longe pak en hom
oplaas versmoor dat hy
vyf jaar lank in skemer leef
tot hy een volmaan
in my arms sterf

{Uit: Berigte uit die skemerland, 2019}

*

Was dit sluiers

of membrane waardeur ek

na die lig moes beur;

of dalk ’n muur, ’n heg

van dorings, ’n DNS-struktuur;

of was dit mensehande met ’n tang

wat die spinsel in die moederskoot

moes breek? Want iets daarvan

skemer steeds deur die bestaan:

ruimtenood en onrus, verwondering

dat dood so digby lewe lê.

En nou dié liefde wat die bekende

onmag laat herleef, só verweef

dat ek nogmaals nie weet

maar soek na vorm, iewers om heen

te swem, te kruip – ’n luik wat open

na ’n dag se sekerheid.

Of moet ek leer dat tussen

mens en mens en man en vrou

die geheim in die gedaante

van versperrings lê: geprojekteerde

beeld, gewaande wese,

die spanning tussen gister en nou.

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea boekhuis, 2007     

 

 

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share