Emma Bekker

Emma Bekker

Emma Bekker

Emma Bekker het in Bulawayo, Newcastle en Standerton grootgeword en aan UP gestudeer. Sy woon tans in Johannesburg met haar gesin. Sy het as televisieteksskrywer en ‑televisieregisseur gewerk en het ’n hele aantal kabarettekste op haar kerfstok. Tans bedryf sy haar eie masseerterapiesaak. Skryn  is haar eerste digbundel. (Protea Boekhuis, 2015)

 

een nag op ’n trein na pretoria

september 1975

 

in die nag stop die trein in gaborone

en ek en my krytblik met die tas mahaal

en mamma met haar groot maag

gaan soek die stasie se toilette

daar is klein swart torretjies

en ’n gaatjiesfrokkie in die hoek wat stink

ons wil nie sit nie

kieme met spiese

bly op die toiletsitplek

my piepie vries

“Ek wonder of hierdie water veilig is vir drink.”

buite verkoop ’n vriendelike swart man vrugte

goeters wat ek nie ken nie

“Appelkose! Hoe lus was ek al!”

in die donker eet ons oupakose

oranje vrugte met hulle eie proe

nie soos mango of papaja

in wankie of bulawayo nie

hulle proe soos ’n mooi nuwe woord

“Kom ons bid en slaap.”

liewe jesus wees met pappa by die huis

ons trein ry weg van terroriste af

na plekke waar oupakose groei

en die oumas en die oupas bly

ek en my krytblik met die tas mahaal

en mamma met haar groot maag

op die middelste bed die baba skop

ek proe nog oupakose onder tandepasta

“You have travelled very far.”

’n man wat snaaks engels praat

eet saam met ons ontbyt

hy lyk vuilerig maar hy is gaaf

ek en mamma met haar maag en haar naar

en my krytblik met die tas mahaal

“Rhodesia is so beautiful and the ruins of Zimbabwe.”

ja, ons ken die groot toring

die stukkende huisies

dit is ’n bietjie lelik

mens kry koud in die gangetjies

daar is landmyne en terroriste

ek eet my oats en kyk na my krytblik

“The Taj is all magnificent marble.”

klein meisies met groot ore

ek soek sy stories

oor die groot paleis van albasters

milkies vir sjah jahan en mumtaz

op my krytblik

hy lag vir my

hy kan nie glo ek weet van die tas nie

“My daughter loves exotic things.”

hy gee vir my ’n geldjie soos ’n blommetjie

met ’n gaatjie in die middel

“A lucky coin for a curious girl.”

en mamma kyk na my en wag

met haar groot oë en maag

“Wat sê jy vir die oom?”

ek kyk na my krytblik en sê

vertel nog van die tas mahaal

 

 

Die kokerboom by die swembad

 

Nadat die verplante Italiaanse vakmanne

die huis fyn genis en gladgepleister agtergelaat het,

nadat die stootskrapers met oorverdowende gebare

die aarde in die agterplaas opgeskeur het,

(Hulle gaan ’n swembad kry! Hoe luuks!)

is die leidam van ouds (waarna die eienaar

steeds verlang) vervang, gesuiwer vir genot:

die chloorwatersop te sterk vir paddavis,

tietsuier en snot-alg, ’n bafta hersenskim

van Hoëveldlug ondermaans gevang.

En net langs die pomp

(’n patent wat die Titanic nie kon red nie,

maar bestand is teen voorstedelike verweer)

het hy ’n kokerboompie geplant as ’n grap,

’n verwysing na sy droë hinterland.

Die pomp moes vervang word, sy hart verswak,

te oud vir die tyd waarin hy hom nou bevind het,

maar die kokerboom staan sy man

teen agtergrondsbeelde van vooruitgang,

al het ’n kuifkophoutkapper ’n nes gebeitel uit sy stam.

 

(Uit: Skryn, Emma Bekker. Protea Boekhuis, 2015)

 

Bookmark and Share