fanie olivier
|
Fanie Olivier is gebore in Pretoria, word groot in die Kaap & leer skryf in Durban. Hy studeer Regte en Afrikaans op Stellenbosch en debuteer met gom uit die sipres. Verdere nagraadse studie volg in Utrecht, Nederland en hy promoveer op Potch. Hy doseer by die ou Universiteit van Natal en [eweneens] Durban-Westville, gee daarna onderwys op Graaff-Reinet en maak ‘n draai by die ou Skiereilandse Technikon. Kunsredakteur by Rapport vir drie jaar, en dan weer dosent by die [nou nog bestaande] Universiteit van Venda. Praktiseer ook om den brode daar as advokaat. Hy werk vir amper twee jaar by Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole en dan, die dood ter wille, weer as advokaat in Durban. Sedert einde 2007 terug by die nou nuwe Universiteit van KwaZulu-Natal, maar hy loop in Maart weer die Poolse paadjie terug. Publiseer naas die debuut vier ander bundels: om alleen te reis, paradysrigting van die wind, skimmellig en verklarings 1967-1987.Stel ‘n geleentheidsbundel of twee saam, en hou kers vas met Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy vertaal in 2009 JM Coetzee se Disgrace. |
Inhoud (1)
die son kom soel op vanoggend
die vlei is dood is leeggebrand
wonder
ek het gaan loop
ek het gehoop dat hierdie nuwe jaar
(sukkelboer)
hoe kon ek skynbaar groot alles dan so skeef verstaan?
het ek half weggesteek onder die stapels goor
die mure van jou stad tien jaar
eerste tree : bestek
staning bokant levubu
ek moet onthou: so veel is afgemeet
ek soek nog steeds besef ek nou
***
die son kom soel op vanoggend
in yl vlieswolke gaan weer onder
dis alledaags soos klokslag sonder
onderbreking dat mens dit vanselfsprekend
sien - nee, nie eers meer sien nie
behalwe as die muisvoëls in die appelkoosboom
raas die honde by die voorhek tjank miskien
en tog bly elke draaislag van die bol
wolke reën my oë ‘n nuwe wonder
so leef ‘n mens so maklik bot
draai wondere so ongemerk verby
aanvaar mens onnadenkend dit
wat jy elke dag verkry tot
op ‘n keer wanneer dit donker bly
kiewiete in die huis kom skuiling soek
teen koue pype later bars my oë verseg
om kleur te kry
soos nou; soos hier. soos dae
wat jy eenkant leef en ek verslae
besef hoe tenger is ‘n droom
hoe maklik skerf ek hierdie wonder
van ons saamweesslag, hoe neem ek
self die dagbreek van jou oë
die vinke van jou hande weg
——————————————
die vlei is dood is leeggebrand
die rietbos stoppels van ‘n droom
en boonop dreun kruiptrekkers daglank
die kontoere plat jong populiere om
wat sin gemaak het van die stroom.
hoe ver lê gister hoe stom
vandag hoe ononthoubaar daardie ander land.
dan net terloops ‘n oogknip raak jou hand
breek die groen deur die dun kors swart
en sing die hele vlei vol voëls in ‘n boom.
——————————————
wonder
dis seer
so ‘n somerdag op graaff-reinet
as ek die strate deur en weer
stilhou voor die huis agter die luike
met bougainvilleas in potte op die stoep.
verby die drumpel weet ek hoe dit lyk:
onthou ek die trappie waar was ons bed
die lang tuin met ‘n prieel en struike
hoor ek hoe jy van iewers roep
dat ek moet inkom om te eet.
ek het net daar gesit toe jy my hare stryk
en vra wat is verkeerd. hoe bot
hoe dom hoe gruwelik was ek:
‘n droogtesomer waarin alles vrek.
behalwe dat die prieel se wortels tot
diep onderkant die huis se fondament
en ver anderkant die erf se grense strek.
eet jy nog saans alleen of het jy
daar bolands heeltemal van my vergeet?
is iets hiervan tog nog bekend?
miskien
sal jy my kan vergewe dat ek lol
as jy die druiwe swaar en swart sien
hang, dalk inklim en soontoe uitry
om te kyk hoe lê die uitgedorde dam
van toe nou tot aan die wal se bokant vol.
——————————————
ek het gaan loop
om van my te vergeet en van ons te onthou
en hierdie dinge opgetel:
die maand sterf aan sy blare
terwyl die winter in sy bessies gloei
en lukwarte beginne swel
o liefste, my hart is ryp aan hoop
my neus roosvol van jou ver hare
(was hier ‘n station sou ek ‘n ruiker koop!
‘‘n tuin sou ek een steel ‘n veiling
‘n hele houer vol) nou
word dit lig die dag by jou berge aan die bloei
en wat ek opgetel het sit ek neer
op hierdie vel en in ‘n bruin koevert
jy weet dit nie - jy kan my immers nie vertrou -
maar ek voel hoe die dinge weer
van nuuts af vorm kry na jou toe groei
soms weifel ek word ek oor vroeër droogtes bang
- dit moet jy my vergewe soos ‘n vrou -
al het die soetreën daai seisoen besweer.
moet net nie twyfel nie: die bome vou
hul aan die herfstyd oop sodat die vrugte
later geel en wonderbaarlik aan die takke hang
——————————————
ek het gehoop dat hierdie nuwe jaar jou uit my weg sou strooi
maar met die roukeelkiewietskreeu begin die hart ontdooi
sodat ek in verdwaalde winterwolke weet hoe spoel
die eerste aande oor ons droogfontein vol rooi
——————————————
(sukkelboer)
ek hoor nog soms diepnag musiek
waarmee jou hande oor my hare gly
voel hoe iets opgroei in ‘n droom
onder jou vingers in die sagte klei
verken die landskap tot in die verskiet
soos dit met elke kwashaal vorm kry.
die oggend skuif die koel gordyn opsy:
weer was die uitvlug puur verniet,
wag nog ‘n afgeleefde dag op my:
die waterverf verstar tot bloekomboom
die stofdam daar was vroeër vlei
sonbesies neem eenvoudig oor by kriek.
wat is die oog van min, het jy
‘n slag, een keer, ver van hier, bely.
© fanie olivier. Uit: ou laaie [ongepubliseerde verse]; Jan. 2011
——————————————
hoe kon ek skynbaar groot alles dan so skeef verstaan?
ek meen die dinge is lank reeds van die baan
en nou moet ek ontdek ook jy
dans hierdie laaste dans met my voordat jy gaan
—————————————–
het ek die mure van jou stad tien jaar
beleër? die seë met my skippie ingevaar?
het ek jou iewers van ‘n ander lewe afgerokkel
terwyl ek, hoe onwetend, vuurhout vir ‘n oudag sprokkel?
het God - onthou jy hom nog uit die kinderkrans? -
gedink hy gee my, hoe agnosties, ook ‘n kans?
***
van al dié vrae het die jare se beloop
in al jou liefde my geleidelik gestroop:
weet ek beleg, of toeval of die donker son was toe ‘n seën:
jou naam, op stuk van sake, beteken immer(s) “helder een”
—————————————–
half weggesteek onder die stapels goor
papiere op die lessenaar lê jou spoor
op ‘n koevert geïnk in my kantoor
was jy self hier om my te kom bekoor?
het ek onwillig ‘n sien-kans dus verloor?
het ʼn boodskapper jou hierso ingetoor?
weer lees ek om wat jy sê te hoor,
hou ons koffie warm op die konfoor
—————————————–
eerste tree : bestek
geen valse vriend lê digterby nie:
amper in afrikaans is “byna”, “na aan”,
“omtrent” [nie soos ek en jy nie];
die grens dus nog nie oorskry nie
maar in nederlands is dit gedaan:
“maar net”, “nauwelijks” . maar verby.
soos die koeël deur die kerk
het dit geen keer nie. laat sy merk
op alles wat daarna gebeur, hierna.
ek probeer om te verstaan:
is daar skade om te beperk?
wil ek jou van hieruit vra.
ʼn valse vriend durf ek nie wees nie.
om ons onthalwe, asseblief, moet jy
die woord in afrikaans nie lees nie
ns. noudat ek dit so gadeslaan
- stomversigtig oor die eerste tree -
sien ek in asseblief is twee
uitkomste ingewerk
—————————————–
staning bokant levubu
ek koers uiteindelik boontoe los
die stad agter met sy hoop verdriet
- onthou: tog het ons eenmaal goud gevind -
verby die loom herinnering van warmbad
- soet klokke, vriende in ‘n bos -
en laat jou op die kaart al verder
weg as ek die langpad soos ʼn vrypad
vat, uitbundig weer ʼn kind.
om my ruik die grond na afrika, so vars
waar jy woon is daar, ek weet,
ook berge soos hier waar ek nou
tussen vreemde tonge tentpenne slaan,
sprokkel vir ʼn staningsvuur en dis verniet
of ek jou afskud of van jou vergeet
al is die laaste ballasmandjie klaar gepars
- hier, ontdek ek, lê jou spore in die sand
as dogtertjie hier waai die wind
jou hare teen my wang, groei jy stuk
vir soepel stuk uit deinings van die land
as ek ʼn ramkie had, sou ek hom sláán
—————————————–
ek moet onthou: so veel is afgemeet
by jou en ander is reeds ingebed
saam met jou huis wat tuin en fondamente het
ek maak my wys as ek so sluk
dis die stof wat in die stofpad staan
dis die somersweet
wat my oë laat traan
—————————————–
ek soek nog steeds besef ek nou
terwyl die winter uitslaan in die populiere
wat opstroom teen die berg se hang
in elke boom se fladdering na jou
verslae van die liefde kou
ek vergeefs die blare van ʼn vlier
om te vergeet op te hou verlang
raadpleeg die towenaars wat stil eenkant
woon en die met rusbanke
en geraamde dolosse van papier
weer en weer en met meer en meer
verslae van die liefde op versoek
sodat hulle pen in die hand
later kan rondblaai vir antwoorde
in een na die ander boek
dan grendel ek my dig as enigste verweer
êrens lê die hoëveld kaal trek vlae
reën die boland toe agter ‘n gordyn
miskien maak jy vir ander vuur
het jy lank reeds die koue pyn
besweer maar ek las nog met die seisoen se trae
gang aan my lappieskombers
soek van inkantasies die juiste woorde
pak nog aan my kaggel die verslae
van my liefde stomp vir stomp op rym
nog bly die dae klein die lang
nagte grypvoet aan die ruite
eendag weet ek breek somer buite
deur in bloeiselbome, in goëlgroen populiere
kom parstyd van die liefde bot in uitgestrekte boorde
© fanie olivier. Uit: ou laaie [ongepubliseerde gedigte]; Desember 2010
—————————————–
Sien ook vorige verse hier:
winterlandskap
ou vers
hy dink aan haar
Welgevonden
jy
ken ons mekaar dan nie
kierts bestaan gewoon net met regop
kom die môre, kom die middag
kom ek gee jou hierdie dag
my dae word by die dag steeds meer
‘n hele dag
dammiddag
[de silverenvloot]
ons het gedroom dat ons sou oudword saam
stad: september en desember
sal jy onthou hoe mooi ons was
by ‘n foto
so: jy sê jy is
vrybuiters – ‘n ballade
‘n gedig om mee te reis
“mijn vluchtgevoelig hart”
portret
be frugal
ongemerk
tuiskoms
geyk
vir maande lê my dorpie veilig
wanneer die winter
wanneer ek gaan
afwesig
eklips
aanhef 1 – 3
die kunstenaar kyk na sy model





