Hendrik J Botha

Hendrik J. Botha

Hendrik J. Botha is in 1958 gebore en word groot op Westonaria aan die Wes-Rand. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom en studeer daarna in die medisyne aan die Universiteit van Pretoria. In 1993 vestig hy hom in Bloemfontein en spesialiseer in narkose, waarna hy vanaf 1997 as narkotiseur praktiseer, eers in Klerksdorp en vanaf 2011 in Pretoria. In 2011 skryf hy in vir die M.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad, ’n graad wat hy onder leiding van Joan Hambidge in 2013 met lof behaal. Hy woon op ’n kleinhoewe aan die oostekant van Pretoria.

Hy debuteer in 2015 met die digbundel “Atropos”. Die titel word verduidelik in die gedig “Lotsbestemming” en verwys na die Griekse mitologie, terwyl die voorbladontwerp ten nouste daarmee saamhang. Zeus se drie dogters Clotho, Lachesis en Atropos beskik oor die mens se lewensdraad: Clotho spin die draad, Lachesis wys dit ewekansig toe en Atropos knip dit willekeurig af. Die gedigte word in ses afdelings verdeel met temas wat behandel word wat insluit herinneringe aan die jeug en verlede; verganklikheid, soos dit veral in die hospitaal ervaar word; liefdesgedigte; herinneringe aan ’n Namibiese plaas; en ’n sterfproses.

 

Epitaaf

 

Hier geen versoek vir liefde,

vriendskap of begrip.

Geen sug na lofprysings,

blomme of trane nie.

 

Net om in vrede

alleen gelaat te word,

met as nagedagte

miskien ’n pleidooi om genade.

 

*

 

Terugblik

Vir Mohammed, wie se van ek vergeet het om te vra

 

Op ’n binnelandse vlug

vra jy uit oor die bundel wat ek lees,

onthou dan verse uit jou kindertyd

in Afrikaans; gehate taal in donker dae.

 

Die skoonheid bly jou by.

Jy resiteer ná dertig jaar

“Muskietejag” en ek antwoord

onbeskroomd met “Winternag”.

 

Die spel word onderbreek:

gordels klik vas.

 

Dis tyd om neer te stryk.

 

*

 

Tevergeefs

 

Jou genetiese profiel laat jy ontleed,

neem supplemente,

teen elke kwint en kwaal;

eet gesond: veselryk, organies,

vermy rooivleis, vet en suiker.

 

Voor dagbreek staan jy op,

draf of trap fiets.

 

Alles uitgewerk om honderd-en-twintig

jaar te leef, loop jy jou vas

in ’n trompop skoot:

’n motorkaping tussen een en twee.

 

 

[Gedigte uit Atropos, Hendrik J Botha. Quellerie, 2015)

 

 

Bookmark and Share