René Bohnen

 

René Bohnen

René Bohnen

René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny. Van haar verse is deur André P. Brink opgeneem in die “geblikte” Groot Verseboek. Gedigte verskyn ook in ander versamelings, o.a. As die son kom oogknip en Woordreise, asook in Tydskrif vir Letterkunde en Karapaks. René is deel van die Oopmond-span, wat opgetree het by Aardklop en Innibos. René Bohnen behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Sy tree ook as fasiliteerder op by kreatiwiteitswerkswinkels, by narratiewe terapiesessies, asook by spanbougeleenthede by die Universiteit van Johannesburg. As digter-fotograaf ondersoek René die verskillende moontlikhede van woord-beeldkuns. Haar tweede bundel, In die niks alom verskyn by Lapa in 2011. In 2017 verskyn Op die vingerpunte van die heelal by Naledi uitgewers.

mooi weer en warm

dit is hoe die aarde sterf

dit is hoe die dag doodbloei

hoe die lam en die leeu

steenkool word in die sneeu

skryf vir my uit istanbul

bel my uit ʼn sigeunerkaravaan

want ʼn engel is ontdek in die hagia sophia

onder mosaïek van die mohammedaan

maar ons huil teen die mure van jerusalem

verdeel die heilige tempel in twee

bind selfmoordbomme om ons lendene

ons stort kernafval in die see

ysbere vreet aan welpiekoppe

gletsers baar pruimbloeisels en rys

die kuikens verkool in hulle doppe

larwes krul om die suiderkruis

plaasvervangers

dit het teen die staalplafon gespat

vlekke gemaak op die grys

slaapkamermat

daar is spore in die spens

skewe sipresse en bedrukte bloekoms

hou wag

by die werwe van my vadere

driekophonde

speel in die dongas van my jeug

vlamtong

en toe hy die woord ukhahlamba

spreek

was daar vuur in

sy mond

 

berg

het hy gesê en

om

het die pieke geantwoord om

eggo

die amfiteater om

 

om

sing die wind in

grassade en die stertvere

van sakaboelas om

janfrederik, tiptol, om

aalwyne, waterval, die tugela om

en om bulk die beeste

met bruin stemme

wat wegsink in

rimpelklip

 

intaba yami, bid die paters

en die priesters in hul grotte, om

dans die bokbeelde

immer

om

in die sneeu op

die monnik se rug om

warrel psalms oor

die afgrondkrans by

cathedral peak en om

sjampanjekasteel

deur digter mis

om die vol alom

die ukhahlamba

om om om

 

(Gedigte uit : In die  niks alom, Lapa, 2011)

Bookmark and Share