gert vlok nel

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel is van  Beaufort-Wes. Hy is een van die bekendste Afrikaanse sanger-digters.  Sy musiek, en veral sy woorde, is vol patos en spreek tot die onderdrukte heimwee in iedereen. Sy debuutbundel, om te lewe is onnatuurlik ontvang in 1995 die  Ingrid Jonker-prys vir uitstaande debuutwerk.

In 1998 volg hy die bundel op met ’n CD  om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet en ’n woord-en-musiekproduksie met dieselfde titel by die KKNK. Die produksie beland binne die eerste dag aan die bopunt van die beste-produksielys. Sy CD asook die vertoning besorg aan hom ’n onmiddellike kultus-aanhang, wat in die jare wat daarop volg net groei. Hy is onder meer die skrywer van die liedjie Beautiful in Beaufort-Wes wat al deur meer as vyftien kunstenaars opgeneem is, die mees bekende daarvan dié van Theuns Jordaan.

’n Tweede bundel is later gepubliseer met die lirieke van die liedjies op die CD en hy het ook ’n saamgestelde bundel met onder meer Robert Bolton en Tertius Kapp gepubliseer. Hy is al verskeie kere na Nederland genooi vir poësie- en musiekfeeste. Walter Stokman, die bekroonde Nederlandse regisseur het ’n dokumentêr, Beautiful in Beaufort-Wes gemaak met Gert as die hoof-fokus.  Dis benoem vir ’n Gouden Kalf-toekenning en binne die eerste week wat dit op TV verskyn het is daar bykans 4000 musiek CD’s bestel. 

Sy musiek word dikwels vergelyk met dié van Bob Dylan en JJ Cale.

 

Luister na: Woorde & stem: Gert Vlok Nel: In die begin was die woord

(Hierdie CD, In die begin was die woord, produksie deur Ronel Nel, is gratis beskikbaar by die meeste Protea Boekwinkels.)

 

 

die dag toe hulle vir Donkie Viviers

 

jou ma is dood.

by die skool.

het hy sy tas.

sy kop.

gespoeg.

& geskreeu.

& afgehol oor die groen velde van die rugby.

die totempale.

die busstoor, die hut van die vermoorde opsigter.

die xhosa-grassnyer, briljant & kru, dormant.

(sy vrou bo in die linnekamer, dom & sku, verreken.)

die wagtende ouers in motorige motors, latent.

die intriges op baisiekels, berekend.

verby bomerige bome.

toe verby my (& toe verby jou).

verby die gedig.

deur die na buite toe oop hek.

verby elsa wat haar eerste maandstonde in die biologieklas.

af in die lig straat.

verby die regop grafte.

daai een wat oos kyk.

die wat wes.

bo-oor huise strate poskantoor kerk.

die laaste stasie op die planeet, beaufort-wes.

inner inner in die skemer in.

tot in sy peperboomste peperboom.

in sy agteryardste agteryard.

& die laat-middag het chroom geword.

& trein wat ysig fluit.

 

Uit: om te lewe is onnatuurlik, Tafelberg, 1993

 

 

die koms van Ligia

 

Ligia bel en sê sy kom

en ek moet op die kerktrappies wag

om te wys waar is my huis, ons

bly langs die kerk êrens, i klein groen huisie nommer ses.

Ligia bel en sê sy kom môre

Ma & Pa sê ek sy’s portugees

rooms-katoliek en donker & lig & lieg ineen

oor sewe seë het sy gekom, môre kom sy

na ons klein pistachio-huisie nommer ses

 

Uit: om te lewe is onnatuurlik, Tafelberg, 1993

 

 

 

 

 

Ek kan nie meer slaap nie,

Nie meer lag nie

Nie meer iets vir jou sing nie

Nooit ooit weer vir my soen nie

En mooi mooi mooi was jou woorde ook

Terwyl jy menthol sigarette rook

En daai sweet sweet dinge vir my sê

Terwyl jy sweet sweet in my arms lê

En die presiese woorde het ek presies vergeet

Ek onthou net die rook en die sweet in beaufort-wes

En jou kaal liggaam onder ʼn koel summer cotton dress

Nie meer slaap nie, nie meer lag nie

Nie meer iets vir mekaar doen nie

Nooit ooit weer vir jou soen nie

En dis miskien soos ʼn storie uit die huisgenoot

Maar jy’t een aand skielik vir my weggestoot

En in die rear view mirror jou gesig gekyk

En gesê “miskien moet ek gelukkiger lyk

Daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie

En ek het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf

En soos ʼn roeiboot in die rivier af dryf

En kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie

Nie meer iets ooits reg doen nie

Nooit ooit weer vir jou soen nie

En die laaste herinnering waaroor ek sing

Is toe ek en jy moltrein aan en aan in die nag in ry

Tot an-der-kant die ding dong gong

Van die breakfast waiter in die gang verby

En dit was my wake up call my life

Jy’t gesê wees asseblief lief vir my

Maar ek het gedroom hoe ons in beaufort-wes gaan woon

En ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie,

Nie meer so iets doen nie

Nooit ooit weer vir jou soen

Nie meer slaap nie, nie

Meer lag nie, nie

Meer  so iets doen, nie

Nooit ooit weer vir jou soen

 

 

[Teks geskryf tydens Gert Vlok Nel se deelname aan

 Poetry International Festival Rotterdam 2002.]

Bookmark and Share