gilbert gibson

 

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.

 

Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met  die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.

 Luister na ‘n video-greep van Gibson se voorlesing tydens Versindaba 2007.

 

 

anatomieles

 

my hart groei in jou liggaam

ingekiem soos ’n oorlog.

 

my organe lê in jou, bevlees

omhul deur logiese liefde

gekuis ontbeen van vel en spier

my longe lê in jou soos ’n gelate

my nier onwillig gekoester deur insnydings.

 

soos oor riviere is my

vingers aan jou hande vas, my mond

oor jou dooie gesig gesper. en so

veilig soos ’n loopgraf teen

die kant van die kop luister leweloos

my oor. my hart lê in jou liggaam,

van liefde en bloed uitstedig.

en die hart groei, in sterfte, uiteraard

ook welig.

 

 

 

 

 

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007
Bookmark and Share