H.J. Pieterse

Henning Pieterse

Henning Pieterse

H.J. (Henning) Pieterse is gebore op 8 Augustus 1960 in Wageningen, Nederland. Hy is eindredakteur van John Boje se ’n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (1989). Gedurende 1993–2003 is hy Hoofredakteur van Tydskrif vir Letterkunde. Vir sy debuutbundel, Alruin (1989), ontvang hy die Eugène Maraisprys en die Ingrid Jonkerprys. In 1998 verskyn ’n kortverhaalbundel, Omdat ons alles is en in 2000 ’n tweede digbundel, Die burg van hertog Bloubaard, waarvoor hy die Hertzogprys in 2002 ontvang. Hy ontvang in 2003 die SABC2-/Aardklopprys vir Dramatekste. In 2007 verskyn sy vertaling van Rilke se Duineser Elegien/Duino-elegieë. Pieterse is tans Professor en Hoof van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.  Luister na: Canto.Riku Lätti.Woorde:Henning Pieterse.   Hierdie snit kom uit die CD, In die begin was die woord [Produksie: Ronel Nel], wat gratis beskikbaar is by die meeste Protea Boekwinkels. 

 Artisjok

 

Laatnag vleg ‘n skielike ritseling

my stadig los

Uit swaar arms van my geliefde,

donker suster van my dood.

 

Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar

op my grasperk en plante neer.

Takke en blare ril nog waarskuwend

as ek deur die wind na my groentetuin beur.

 

My flitslig skok die grootste plant

wat haar lang, silwergrys blare vou,

ritselend toe, dig

om die geheime, pers, glinsterende vrug.

 

Raak my aan, asseblief,

raak my nie nou al aan nie.

Uit hierdie bitter grond gebore

tussen windhande wat my wil klief.

 

Ek vou die stingels versigtig weg,

pluk ‘n paar blare en proe,

huiwerig om my tong,

donkergroen, suursoet parfuum van die nag.

 

Net een maal het ek jou so sien lê

ná ‘n laatnagmaal van artisjok.

Jou hande was lig oor jou borste gevou,

jou bene terughoudend gekruis.

 

Laag vir laag het ek jou afgeskil

met n versigtige, moedelose tong,

tot by die diep, geheime, bitter vrug

wat weer terugtrek tussen jou dye.

 

Deur strelende hande van jou geliefde,

jou lokkende suster van die slaap

kon ek hoor: raak my aan, asseblief,

raak my nooit meer aan nie;

 

te lig om ‘n groen hart finaal te klief.

 

(Uit: Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg-Uitgewers)

 

 

 

Die derde elegie

 

Dit is een ding om vir die meisie te sing. Dis iets anders, helaas,

om te sing vir daardie verborge, skuldige riviergod van die bloed.

Haar kêrel wat sy van ver af herken, wat weet hy

self van die meester van lus wat dikwels uit eensaamheid,

voordat die meisie hom nog vertroos het, dikwels ook asof sy nie bestaan het nie,

ag, druipend van watter onkenbare dinge, sy goddelike kop

opgelig en die nag opgeroep het tot oneindige oproer?

O Neptunus van die bloed, o sy vreeslike drietand.

O die donker storm van sy bors uit die gekrulde trompetskulp.

Hoor hoe die nag haar uitguts en uithol. Julle sterre,

ontleen die minnaar sy verlange na die gelaat

van sy geliefde nie aan julle nie? Kom sy innige blik

in haar helder gesig nie uit die suiwer gesternte nie?

 

Ag, nóg jy, nóg sy moeder het vir hom

die boog van sy wenkbroue so vol verwagting gespan.

Nie vir jou, meisie wat hom aanraak, nie vir jou

het sy lippe gewelf tot ’n vrugbare uitdrukking nie.

Dink jy werklik jou ligte voetstap sou hom

so ontroer, jy wat soos ’n oggendbries wandel?

Sekerlik het jy sy hart laat skrik; maar ouer verskrikkings

het hom binnegestorm met die skok van jou sagte aanraking.

Roep hom … jy roep hom nie heeltemal uit sy donker geselskap nie.

Alte seker, hy wil, hy spring op; verlig kom hy

tot bedaring in jou heimlike hart en skep moed en wil wéés.

Maar het hy homsélf ooit laat ontkiem?

Moeder, jy het hom klein gemaak, dit was jý wat hom begin het;

vir jou was hy nuut, voor sy ontluikende oë

het jy die vriendelike wêreld gesprei en die vreemde afgeweer.

Waar, ag, heen is die jare, toe jy hom maklik

met jou slank gestalte teen golwende chaos beskerm het.

Jy het baie so vir hom verberg; die kamer, verdag in die nag,

het jy onskadelik gemaak, uit jou hart vol toevlug

het jy mensliker ruimte gevoeg by sy ruimte in die nag.

Nie in die donkerte nie, nee, in jou intiemer aanwesigheid

het jy die naglig gesit, en dit het vriendskaplik geskyn.

Nêrens ’n gekraak wat jy nie glimlaggend verklaar het nie,

asof jy lank reeds geweet het wanneer die vloer so sou maak …

En hy het geluister en is gesus. Sóveel het jou verskyning

sagaardig vermag; hoog in sy mantel gehul

het sy noodlot agter die hangkas getree, en in die voue van die gordyn

het sy onrustige toekoms, wat hom maklik verberg, gepas.

 

En hy self, soos hy daar gelê het, verlig, terwyl hy

onder slaperige ooglede die soetheid van jou ligte silhoeët proe

toe dit oplos in die smaak van voorslaap –:

het gelyk soos ’n beskermde … Maar binne-in, wie

het binne-in hom die vloede van herkoms afgeweer en teëgehou?

Ag, daar was geen behoedsaamheid in die slapende nie; slapend,

maar in koorsagtige drome: hóé het hy hom laat gaan.

Nuut en sku nog, hoe was hy reeds verstrik,

in die voortkronkelende ranke van die innerlike gebeure

reeds tot patrone in mekaar gestrengel, tot wurgende wasdom, tot dierlik

agtervolgende vorme. Hoe het hy hom daaraan oorgegee – . Hy het liefgehad.

Hy het sy innerlike liefgehad, sy innerlike wildernis,

hierdie oerwoud in hom, op wie se stom verval

sy hart liggroen gebloei het. Hy het liefgehad. Dit verlaat, by

sy eie wortels uit gegaan na die magtige oorsprong,

waar sy klein geboorte alreeds oorleef is. Beminnend

het hy afgedaal in die ouer bloed, in die klowe

waar die Verskriklike gelê het, nog sat gevreet aan die voorvaders. En elke

verskrikking het hom geken, vir hom geknipoog, byna vertroulik.

Ja, die Vreeslike het geglimlag … Selde

het jý so sag geglimlag, Moeder. Hoe kon hy

dit nié liefhê, omdat dit vir hom geglimlag het nie? Voor jou

het hy dit liefgehad, want, reeds toe jy hom gedra het,

was dit opgelos in die water wat die ontkiemende laat dryf.

 

Kyk, ons bemin nie soos die blomme, vir ’n

enkele jaar nie; wanneer ons liefhet,

styg onheuglike sap in ons arms omhoog. O meisie,

weet dit: dat ons nie die toekomstige een in ons bemin het nie,

maar dit wat ontelbaar broei; nie ’n afsonderlike kind nie,

maar die voorvaders wat soos puinhope van ’n gebergte

in ons dieptes rus; maar die droë rivierbedding

van vroeëre moeders –; maar die hele

klanklose landskap onder ’n bewolkte of

helder noodlot –: dit, meisie, het jou voorgespring.

 

En jy self, wat weet jy hiervan? Jy het oertyd

opgeroep in jou minnaar. Watter gevoelens

het opgewoel uit versonke wesens. Watter

vrouens het jou daarom gehaat. Watter duister mans

het jy aangehits in al die are van die jongeling? Dooie

kinders wou na jou toe kom … O saggies, saggies,

doen vir hom ’n liewe, betroubare takie, – lei hom

nader aan die tuin, wees vir hom ’n teenwig

in die nagte …

Bedwing hom …

 

 

(Uit : Rainer Maria Rilke se Duineser Elegien:/ Duino-elegieë, Protea Boekhuis, 2007,

opgeneem in Versindaba 2007, Protea Boekhuis, 2007)

Bookmark and Share