heilna du plooy

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy het in Bronkhorstspruit en Alberton grootgeword.  Sy studeer aan die PU vir CHO en aan UP. Na haar huwelik met Andries du Plooy woon sy 6 jaar in Durban, 11 jaar in Pretoria en sedert 1986 in Potchefstroom waar sy tans professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde  aan die Noordwes-Universiteit is.  Sy het ’n paar kortverhale in literêre tydskrifte gepubliseer asook ’n akademiese werk, Verhaalteorie in die twintigste eeu (Butterworth, 1986), en bydraes in verskeie versamelings van artikels en essays oor die Afrikaanse letterkunde. Sy het twee digbundels gepubliseer, naamlik Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003). 

Die donker binne en die donker buite

 

Met opgetrekte knieë sit die kind

en gril verruk vir elke nuk

van die wonderdiere wat hy uitdink:

 

‘n renoster met vlerke en ‘n vis met vier oë,

‘n waterskilpad met ‘n periskoop

en die stekeltongpadda is ‘n dik dubbeldoor.

 

Vlug van voet, van vlerk of vin,

skerp geklou en sterk gebou, kan almal

vreemd en verskriklik goed sien.

 

Die kind se droom is sonder grense.

Hy maak sy skrik met kreature mak

in ‘n wêreld wat uitdy onder sy wense.

 

Die vader sluit die hek en al die deure,

sit die vensters dig op knip,

daarna die buitelig en die sirene.

 

Van agter die hoekige raam

speur hy strak die tuin deur

vir wat in die skaduwee donkerlik roer:

 

die ene oog sodat sy seun kan speel,

weet hy sy drome het verstar, vereelt,

soos hande wat te veel swaar dinge dra.

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

 

 

Nanagvers 

 

Nanags wakker flits die helder beeld
van daardie dromerige kind.  Wat met
‘n piepklein gieter water op die varings
gooi.  Nat varings op die rooigeverfde
stoep. Die stoep in skaduwee.
En rondom
lê die sondeurdrenkte werf. 

 

Gebaken en geborge leef die kind in son
en sien. Soveel kleure op die miere
en die gruiserige grond.
Die kat se oop-
gekloofde swart en grasgroen oog. 
In hierdie klein en eindelose plek
herken die kind iets wonderliks
en dink dis doodgewoon. 

 

Ook in die nanag die gedagtes
oor die sterkes.  Dié wat so groot
kan doen.  Wat alles makmaak, alles tem.
Wat skik en herskik, dit wat was, wat is
en dit wat kom.  Dié wat die verste
einders klein en naby dink.  Hul lê
hul hand op elke afgeleë ding         
met swymelende eiesinnigheid
wat strak maak en beklem. 

 

Soms nanags glip daar dan
die sku en skitterende silwer vis
diep in die donker dam.
Daar ís iets klein en eindeloos.
Iets ís volkome rond.  ‘n Kind se oog
sien wonders in die grond. 

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

 

 

Herfs

 

Dit is die stilte, die stil en verregaande

lig van die herfs en die ongehoorde

stomheid in haar wat van die vrou ‘n pelgrim maak

wanneer sy sien die tuin word ‘n rooster

 

vol wimpels van lug en ooptes, die takke

verdigtings soos rag óm asem en ruimtes;

wanneer sy sien dis ‘n nuwe matriks

waardeur sy moet kyk en sy weet sy moet reis

 

verby die platane en die populiere langs die rivier,

onder die donker arms van die akkers deur

tot anderkant die brug oor die spoor

waar die vlakte oopspoel in stromende son:

 

teen die onbedagte gebrek aan gesprek

waarin sy telkens so onverhoeds tuiskom.

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

 

 

Lemoene I

 

Sy pluk lemoene in die tuin.

Hoeveel lemoene, vra die vrou,

kan ek in my hande hou?

 

Sy wil vir almal van die vrugte vat.

Hoeveel lemoene, wil sy vra,

kan mens in jou arms dra?

 

Buite die tuin waai ’n woedende wind.

Hoe ver gaan ek kom? dink die vrou,

en sy buig oor haar vrag soos oor ’n kind.

 

Een lemoen val, dan val daar meer.

Vir hoe lank, wonder die vrou,

kan mens so teen die wind in beur?

 

Jare daarna kom die vrou

weer te staan voor ’n boom.

Sy dink oor haar lewe soos oor ’n droom.

 

Sy gee nie meer om oor hoeveel nie.

Waarheen, vra sy nou, waarheen?

Lemoene is padkos. Die vrou pluk net een.

 

 

Lemoene II

 

Ga nu maar liggen liefste in de tuin

de lege plekken in het hoge gras, ik heb

altijd gewild dat ik dat was, een lege

plek voor iemand, om te blijven.

Rutger Kopland

 

Die kinders sou sy aan die hand moes neem,

dink sy wanneer die dwarrels duiwels draai

uit die vergange ouland en die sweem

van uitsig op die hoogtes haar verraai.

 

Die sagte kinders sal sy gou moet roep,

die tyd vir loop is klein en afgemeet,

maar in die leë plekke in lang gras

sal hulle rus en die lemoene eet.

 

Die vrugte sal sy oopbreek om te deel

en meededeel ver onder hoë wind.

Die son en hierdie aarde sal hul neem

en eet, uit bekers sap sal hulle drink.

 

Vertel dán, hart van vlees, die stilte opgeskort,

van somergroei wat in die winter vrugte word.

 

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

Bookmark and Share