hennie aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp het op die plaas Rust-mijn-ziel in die Jamestown-distrik grootgeword. Hy debuteer in 1963 met die kortverhaalbundel Een somermiddag en het sedertdien 18 kortverhaalbundels uitgegee asook verskeie beskouings, essays en samestellings van prosa.

Benewens vertalings van Bertold Brecht se werk het Aucamp ses digbundels gepubliseer. Die jongste, Vlamsalmander, verskyn in 2008.

Onder die talle literêre pryse wat Aucamp verower het, is die Hertzogprys (1982), die Fleur du Cap-prys (1987 en 2004), die Recht Malan-prys (1997), die ATKV-Veertjie-toekenning (2004) en die Afrikaans-Onbeperk-toekenning van die KKNK. In 2005 ontvang hy die Gustav Preller-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

 

 

Somerdwaasheid

 

Ek sny ‘n dik pampoensteel af

en maak vir my ‘n fluit,

en pluk ‘n groot pampoenblaar

om die somerson te stuit.

 

Teen twaalfuur hang my hoed verlep

en gee my fluit die gees,

maar wat, ek gee nie om nie,

môre sal ek slimmer wees.

 

Môre dra ek Pa se strooihoed

vol gate en al oud,

en sny vir my ‘n nuwe fluit

uit sagte wilgerhout.

 

 

Uit die see in die pan

 

‘n Wit boot soos ‘n huis

sit op die watervlak,

en heeldag vang die bootsman

vet visse wat hy bak.

 

En raak die visse skaarser

soek hy ‘n ander plek,

met swarter, dieper water

waar hy kolosse trek.

 

Só kry ons bootsman op ‘n dag

‘n walvis aan sy hoek –

en boot en bootsman, o genade,

is tot vandag toe soek.

 

© Hennie Aucamp. 2 gedigte, April 2011

 

 

Sterrereën

 

Poësie, wat is dit nou eintlik?

 

‘n Mededeling, ja,

dikwels ontsier deur struktuur –

en gedagtebreuke.

 

‘n Oorgehewelde droom, ja,

snel ervaar

en net halfpad begryp.

 

Maar soms,

danksy Athena en al die muses,

word poësie sublieme kommunie

tussen planete en gelykgestemdes

en sidder en ruis die heelal.

 

 

Maanwyser

 

Vanaand brand soos in vroeër tye

die maan weer soos ‘n lamp:

‘n reisiger hoef hierdie nag

geen voet of toon te stamp,

 

en kry hy dalk ‘n maanligwyser

– dié soort het ook bestaan –

kan blootsoog hy die ure lees

tot nog ‘n nag vergaan.

 

 

Mentor

 

Hy was die albatros om my nek.

 

Nou, in sy goedkoop greinhoutkis,

is hy onverskillig en verwyderd

en kan ek my versadig kyk

aan sy grys broue en hoë jukbene,

sy ingesonke mond,

sy stoppelken,

terwyl ek met my halsketting speel

en afgetrokke voel

hoe onder my vingerpunte glip,

een na die ander,

seevoëls uit elpebeen gekerf

en ingeryg op goud.

 

 

Plaassolder

 

“‘n Plaashuis moet ‘n solder hê,

waar stof soos meel oor alles lê” –

van wie dié reëls, en weet die spreker

dat myte juis in stof belê?

 

Dít daar gelate. Skryf maar op:

één sodawaterbottel, in ‘n korset van ogiesdraad;

één tregtergrammofoon, met ‘n paisleykleed gestop

teen die fanfare op ‘n plaat

 

wat hoeka nie meer speel

nie, sy rewolusies afgeloop;

één afpoot-ottoman, verskiete pruisiesblou,

van glans en plek-plek pluis gestroop.

 

Solders spel verleefde tyd:

‘n argeologie van triestigheid.

 

 

© Hennie Aucamp. Januarie 2010

 

 

Aan Barnie ‘n paar vrae

 

Weerskant van jou haakneus

was jou oë sienersblou:

Kan hulle, waar jy nou is, Barend,

‘n heideveld oorskou?

En groei daar sneeu-op-die-berge

in Saron aan die Anderkant?

En neem suurkanol oor en pypies

in die rante ná ‘n brand?

 

En is daar, soos destyds op Steenwerp,

elke aand die ou ritueel

waar jy, neem ek aan, regstellend,

nou sélf die voetwasser speel?

 

 

Deuskant Skerpioenpoort

 

Skerpioenpoort moet jy deur

op pad na die Doodsvallei,

en dit, op jou eie, sal smoor gaan,

want sê nou jy stommel of gly?

 

My vrees het kwalik meriete:

mens is, soos die spreekwoord ook sê,

net één dood skuldig, en mag dit

die een wees wat almal wil hê:

 

Oornag in jou slaap, aan jou hart,

of opgeneem in jou bloed – Warfarin! –

want só kan jy sonder omhaal

jou tweede lewe begin.

 

© Hennie Aucamp. Oktober 2009

 

 

Die Koorwedstryd

‘n kinderversie

 

Al die paddas in die park

gorrel teen verkoue

met pekelwater en anys:

só bly die stem behoue.

 

Kom die Groot Eisteddfod

ding hulle lustig mee

met ander kore in die buurt

om die Stadsraad se Trofee.

 

Elke koor sing twee maal,

iets vrooms, en dan iets guitigs;

oor een ding is die jutse eens:

hou links verby iets stuitigs.

 

Die Parkspan hop tevrede

terug na hul waterplas

waar bekers onder modder

nog altyd veilig was.

 

© Hennie Aucamp. September 2009

 

 

“Fatima”

 

Haar oë loer oor haar jasjmak,
en is duidelik omlyn met swart;
wag laer af daar ‘n glimlag
wat oopgedoek wil tart? 

 

 

“Boesman – I.D.”

 

Sy handdruk teen ‘n rotswand
wou nooit ‘n grot versier;
bevestig bloot, en oor en oor:
eenmaal was ek lyflik hier. 

 

 

Onder die sand

‘n Nama-oorlewering

 

Die Here had min van sy dinge oor

toe hy die Richtersveld gemaak het;

net sand en klippers

en witgatbome.

 

En toe Hy afkyk in die leegte

wat Hy geskep het,

het Hy baie bedroef geword,

en sy trane

het diep in die sand geval,

die een na die ander:

elkeen ‘n diamant.

 

 

Digterlike remedie

 

Digters het altoos

dwaalbos gerook

en jantwak oor ‘n misvuur

tot tinkture verkook.

 

Beelde gaan kop toe

okkult surreëel:

dis hoe digters en sjamane

bestaansbreuke heel.

 

© Hennie Aucamp. Julie, 2009.

 

 

Die eensame wasgoedpennetjie

 

Dertien wasgoedpennetjies

sit op ‘n wasgoeddraad,

een van die wasgoedpennetjies

is sonder lewensmaat.

 

Hy treur en sug maar skielik

wip ‘n sprinkaan op die draad.

“Ook ek,” sê juffrou Sprinkaan,

“is sonder lewensmaat.

 

“Ek kan nie altyd by jou sit nie,

ek moet tog vlieg en eet,

maar as ek op ‘n toer is,

mag jy my nooit vergeet.”

 

Nou sit die eenkant pennetjie

gelukkig en verloof,

en raai, sy sprinkaan-nooientjie

het hom ‘n blaar beloof.

 

 

Sonnet vir Topsi Venter

 

Die kleureoordaad van ‘n najaar

vind sy weg na haar altaar,

‘n skoon geskropte tafel waarop geel

en knaloranje smeul:

 

‘n mandjie kwepers, ‘n boerpampoen,

en as ‘n skerp aksent, die vermiljoen

van bessies, en bruin, vol klossies aarde,

bospaddastoele, en prei met bleekwit baarde.

 

Uit elke kleur damp reeds ‘n geur,

maar alchemié móét nog gebeur

in pot en pan, bo vlam en vuur,

hoe lank ómtowering ook mag duur.

 

Die priesteres staan stil opsy:

weer is ‘n dis volmaak berei.

 

 

Nature morte

by ‘n akwarel van Jan Voerman [1890]

 

Die ware stillewe

word nie opgestel nie:

dit wag reeds vir sy kunstenaar.

 

Dinge

– blomme, visse, brood –

ontmoet mekaar astraal in die tyd,

word aangeraak deur die ligval

op ‘n bepaalde uur;

ruil energieë uit

en sluit ‘n stil verbond:

en so ontstaan ‘n skildery.

 

Soos díe stillewe:

uit ‘n gemmerpot

– verdigte aarde –

ontspring ‘n bos kappertjies,

put uit díe pot hul geel

en reik uit sy donkerblou glasuur

na hoër lugte

en staan verheerlik teen die lig.

 

Die ware stillewe is ‘n essay:

altyd metafisies, altyd

deurtrokke van sterflikheid.

 

 

Flikker, flakker sterretjie

            ‘n sterfliedjie

 

Flikker, flakker sterretjie

jou lig word aans gedoof:

probeer met elke selletjie

vir laas die Ruimte loof –

 

die groot heelal, die hemeltrans,

met sterre om jou, soms verskans,

wat net soos jy aanhoudend wiel

op soek na ‘n sentrale Siel.

 

Flikker, flakker sterretjie

jou battery is oud;

en straks is jy geskiedenis

en word ons wêreld skielik koud.

  

© Hennie Aucamp. Junie, 2009.

 

 

Drieankerbaai

 

‘n Koue wind het opgesteek

en vul die baai met mis

tot dit jou lyk of meeue

bloot dobbervlokke is.

 

Was hul die aand teenwoordig,

kop onder vlerk gesteek,

toe Ingrid deur die wiere beur

en haar as offer breek?

 

Hoe kon hul weet, met oë toe,

skuimvlokke wat ook meeue is?

Die see stoot slissend oor die sand:

‘n Selfmoord is skoon uitgewis.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Bookmark and Share