Ilse van Staden

Ilse van Staden

Ilse van Staden

Ilse van Staden is in 1972 in Pretoria gebore, maar het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Van 1997 tot 2005 praktiseer sy voltyds as veearts. Sedertdien is sy deeltyds veearts en deeltyds skrywer. Haar debuutbundel Watervlerk (2003) ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonke-pryse. Sy het onlangs haar  B.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.

Haar tweede digbundel, Fluisterklip, het in 2008 by Lapa verskyn.

  

 

dun nerwe

 

 

daar is dae
die vygies vermom as sidderende sterre
brommers teen die binneruit
en vet miswurms wat opkrul in kompos

daar is dae
van spitvurke deur erdwurms
halfgevrete voëls op die beddegoed
die volmaan nog naak op die horison
en verleëdae met dun nerwe
wat nietemin deur dorings loop
blomme kyk
sonne plant
oor heinings geselsies aanknoop

dae wat nag-in duur
hoe dún is hul nerwe nie

 

 

patrone van stilte

 

 

waarom mure plekke van stilte is.
waarom stiltes patrone maak op matte.
die skemer duur en duur deur geel glasruite
geriffelde lig in glas gestol

die skemer raak swaar en stil.
die mure onder my hande weef en spin
patrone van matte op die stiltes buite
die lig sterf stadig in toiings van wolke

wolke wat plekke van stilte is.
mure en ruite sluit dig teen die donker
lig is die nag se lê hierbinne
hier op die stiltes van ou tapyte.

 

 

© Ilse van Staden. Maart 2010

 

 

 

ruigte

 

 

ek het die ruigtes nie verlaat nie

die koningsblou skoenlappers flikkerend sien dans

pas de deux en walse

om van die pofadders nie te praat nie

die reën vol skuiwergate na die son

maar roetes onbeplan en wisselend

boonop in ’n onbekende taal

eenhorings wat skuil agter stamme

wit en ruiterloos en bang

 

ek het die kompas van my voete gevolg

soos dowwe suggesties van rym

maar in strikke en moerasse

die riglyne telkens verloor

teen ou mure van ruïnes gebots

verward, verweer en blind

die braille-geskrifte in rots donker nageboots

 

ek het die liane deur my ribbes gevleg

’n tapisserie van onwaarskynlikheid

met lussies waaraan lugballonne bo bome dryf

aan toevallige verbygangers ’n waarskuwing

’n brief van my verblyf

 

en soms het ek op die rand van die ruigte

my vingers uitgesteek na son en lig

en die tinteling van aanraking gevoel

soos hoendervleis teen my ruggraat af

 

:die tastende snorbaarde van ’n gedig

 

 

©  Ilse van Staden. Augustus 2009.

 

 

mooi blou blom

 

vanoggend bibberende gebede:

 

somers oninhaalbaar verby

ononderbroke blou soos donderweer

verhef bo daknokke, bo bome van eenderse vere

geen ontkenning van die vlug nie

 

die dood is ’n hoë C

houtkapper wat sketter

se onverskrokke aria deur die leë lug

’n sonkol gesplits deur spieëls

brokkelende verbygang

 

die dood is ’n mooi blou blom

van onverwylde woordloosheid

die tong sterf dadelik af

en stilte land soos vlinders

op blou kelkblare

 

die dood is ’n afdwaalwoord

wat koggel in ’n kelk van kleure

in spieëls onspelbaar verwring

en jy vermoed

verlossing is verloorbaar ver

 

’n blom lê buite

 

by die buitedeur verwilderde voëls

uit bome verdwaal

 

 

©  Ilse van Staden. Mei 2009.

 

 

Fluisterklip

 

 

Die fluisterklip lê vanselfsprekend

ver en alleen die veld in

ver en stil

want die grondonthou is swaar

 

soos eeue en soos woorde.

 

Wees stadig en wees stil

met die veldgras teen jou vel,

taalloos soos vroeër

 

moet geen woord rep nie.

 

Die fluisterklip roep suutjies soos wind

jou stil haart fluisterend nader.

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

Bookmark and Share