jeanne goosen
|
Jeanne Goosen volg na haar skoolopleiding ’n paramediese rigting, maar het ook musiek- en dramaopleiding ontvang. In 1971 debuteer sy met die digbundel ’n Uil vlieg weg. Sy begin as verslaggewer by Perskor werk en word later die kunsredakteur by ’n Gautengse dagblad. Goosen het veertien boeke geskryf, wat poësie, essays, prosa en drama insluit. Sy het onder meer die volgende pryse gekry vir skeppende werk: Die M-Net en Rapportprys vir prosa, die Rapportprys vir drama, die CNA-prys vir prosa, ’n KKNK-toekenning vir skeppende Afrikaans en Athol Fugard se Helen Martens Fellowship. Sy het reeds vyf dramas en drie kabarette geskryf. Haar jongste digbundel Elders aan diens het in 2007 by Genugtig! Uitgewers verskyn. |
My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môore kry jy van soetpap en melk
My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.
My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007






