jelleke wierenga
|
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het in 2009 by Protea Boekhuis verskyn. |
Die sondes van die vader
vir Helen Martins
As mens, tot pyn in staat, wil ek leef,
die uiterste mens, gesertifiseer mal.
– Wilma Stockenström *
Was jy maar dood Pa
respektabel kon ek jou begrawe
want dooies bly onder die kluite
en met vrot vleis slaap jy nie
newwermaaind
laat daar lig wees:
my politoerbliksonne glimlag geel
na die spieëls van harte en sterre
ontbrand tienduisende juwele lig
op plafonne mure kaste deure
saans steek ek die son aan
in my dosyne doppies glas
kaats die kleure oral
waar die gesplete hoef wag
maar te veel lig en kleur
kerf jou oë dof
om ’n leeftyd nog
die donker in te kyk
newwermaaind
laat daar lig wees:
die koplampe van die leeu weet
die uile dra dit in hul oë
die meerminne bewaar dit geskub
in hul sterte en die gasvroue
in die kleur van hul bottelrokke
die kamele herkou dit in hul hompe
elke kreatuur hier
die konings kamele die Kind
almal weet en
die toring van tyd
het tyd gehou van
die haan wat sy broek aftrek
sement is swaar
Pa swaar en glas
verpoeier die lig
ek lig die beker hoog
brandend na die Lig.
* Uit die gedig “Gesertifiseer”; Vir die bysiende leser, Wilma Stockenström. Reijger Uitgewers, 1970
© Jelleke Wierenga. Jan. 2011
Swart-wit skoolfoto
Nog taamlik vars van God af
skadu’s al onder jou oë:
Wangevoed van witbrood
en margarien met ’n botteltjie gekleur?
Tog, jou oë blink; donkerder
as vandag lyk hulle.
Was hulle blougroen?
Groenblou? Grougroen?
Stoot gal geel op
uiteindelik tot in die oë?
(Ma se oë het blouer
geword toe sy roep
die engele moet haar haal
maar jy was ook mos daar.)
Swart en reguit jou wenkbroue
nou dunner geboog
die mode neem jou onder hande
teen wil en weet
jou voorkop hoog en blink
met slim horinkies vol
van wil weet van wat
in die watte verpak is
jou hare skeefgeknip in geen styl nie
so was dit mos en sonwit punte
kort genoeg vir los wees
ferm weggevee met ’n knippie
die wit langmouhemp en kraag
hoe onprakties het Ma altyd gekla
moue opgerol halfpad teen die bo-arm
sterk en slank soos kind
en blou met wit speldekoppe
die oortrekrokkie met bootnek (is die hals genoem)
die sakkie links sonder sakdoek
o en die romp moes baie rygplooitjies hê
want dis selfgemaak en die moulose moue
sit knap as ek fyn kyk
sien ek aan die teenoorgestelde kant
van die sakkie stoot dit op of uit
maar dis so privaat en God weet
hoe het jy alles probeer wegskrop
wat skielik opstoot en uitgroei
oral skuldige skaam plekke
kón God maar nie ’n uitsondering maak nie?
sóú die wêreld wankel?
kón jy nie onder elf bly nie?
maar chauvinisties het Hy klaar gekies
vir Peter Pan sy eie soort
en Jesus was ’n man
Maria was maagdelik
Martha het bedien
maar hoor, kind, vandag gee ek jou
borsbelas absolusie vir jou opgroei
en deelname aan die goddelose
geslagtelike grap
dan verder:
vingertoppe gevou om die punt van ’n pen
oor ’n oop biblioteekboek:
hoe kon hulle jou so argeloos
poseer in die daad van doodsonde!
As agtergrond rye boeke
ag woorde woorde is daar
my kind wat grootmense eet
maar hulle word vet dom moeg
en depressief die of daardie
ses van die een
’n halfdosyn van die ander
vinkel of koljander
min of meer ongeveer
heen en weer
ons probeer
naastenby nietemin
en voorts:
jou neus knop téén die
fyn familielyn in toe al
en jy glimlag blink
toe-mond donkerlip.
My kind, hoe vol van weet
is jou horinkies al?
© Jelleke Wierenga. April 2010
Die dag breek
Die nagmasjinerie van paddas
en krieke wat kettingsaag
en die plons van
’n ster in die swart dam
’n saamgestelde geur van vars
vat kalm aan my gesig
vee die windklok
in die donker soet tyd
wat vinnig uitruis in die opgewektheid
van verbete voëls
die kraai van ’n uitgespaarde
haan en uit die grougeslaapte lakens
roer die monsters
na die lig.
Klokkespel
Here van al die dinge
wat nie meer is nie
en wat hulle vat
los die kerkklokke Here en beier
die mense kerk toe tot in lengte van dae
laat hulle doop en dood en diens
en Pinkster en Pase vir die vale
vir die klokke
om klanke te klepel
vir my:
en ek sal opspring en uit die lug
vlug die klanke lig
en in my wieletjieskoffer
op die solder stop:
en wanneer ek weer seer
oor verby en vergeet
sal ek opgaan en ’n oor
kerkklokklanke ooprits.
Onversoenbare verskille
Wanneer die skille soos pampoene
van jou oë afpit
en elke vers killer word
en geen soen
’n brug baar
tussen ver en ver
en on- voor alles voegsel …
dan skei die liefde oor
onversoenbare verskille.
© Jelleke Wierenga. November 2009
Weet ik veel hoe poëzie eruit moet zien
sê Tom Lanyone
en ek sê: Tom, beste jongen,
ek sta’ versteld
want hier is dit ook so
ongesteld:
vir ritme en beryming
bestudeer ek my handleiding
Huppel en sy maats deur W.O. Kühne
byvoorbeeld:
Huppel-huppel saam met die wind,
trippel-trippel, Huppelkind.
asook:
Die wêreld is ’n ronde bol,
van binne is hy hol.
En in die middel, vol gevare,
lê die Land van Wol en Hare!
vir moribunde metafore verdroef ek my
in The book of disquiet van Fernando Pessoa
net één bladsy op ’n slag
’n mens moet oorleef
om te eet
wat formele vormvaste verslikheid betref:
aan ’n jambe kan ek my toon bestamp
van versvoete het ek geen verstand
enjambement? ’n peperment
oor twee of meer reëls in jou tande gesement?
hoe meet ’n mens metrum?
lám-tie-tie, dám-tie-tie,
dóé-doe my líéf-ste-tjie
innig en sag
vir driestemmige dameskoor of -trio?
(sy’s van haar wysie af
sê die bure met die
brakkende blaffe)
oor die algemeen:
van die puur van die tuur
van die litera verstaan ek ongeveer
dat dit gliterators en doktorre oplewer.
Aanmatigend téén die gode
se Grieks
stem ek my in
op my muterende muse ek vermoed
sy’s nou ’n medium met oranje
rimpellippe en ’n witraambril
sy noem my darlinks en leetle one;
ook: toe my tong tamaai
uit die bottel plof
(’n genie maak ’n plan met petrol)
prop dit my reg
op my resitasiereseptor
(individueel anders geleë
op elke kop) en borrel
woorde soos gemmerbier
op plop pop
(gemmer gis giftige
humeure uit lewers
uit en borrel humor in:
’n gratis wenk vir die resensent);
daar’s nog ’n muse
ek vermoed dis my guru
(gee, u are u)
wat vermaan: dit gaan
om eggo nie ego nie
maar verbrands:
my dierbare derdegraadse wonde
smeul nog op die been en
’n stukkie vel wil ’n mens oor ’n
ek óók trek.
Dis alles maar
so in die loop (terloops)
om te sê: ek sê maar
soos ek (merk die toepaslike blokkie/s):
[ ] gebek
[ ] gebrek
[ ] ek
is.
© Jelleke Wierenga. Mei 2009.
vir bb
intieme anonieme vriend,
vir hierdie oomblik onder jou hand
klop-klop my vier diepkamers
en in my lang bloedgange omhels ek
jou versuipte donker engel
in die swart wyn of asyn
wat uit jou vyf vriende
hondsgetrou drup en soms
stol tot drolle rol
ek in ontsettende vreugde
in jou woordtorinkie dig
dooldraai ek lig:
dít is die ondenkbare verskil: die sig
in en uit, want jou woordsaad skiet
soos sterre met sterte
in hierdie geknelde land
vou jou leë vertel-vel vér oop
en wyd wapper die tapyt
waarop ek hop vir ’n trip en ’n half
deur ’n duisend-en-een nagte
vir hierdie oomblik, vir altyd,
Woordvoël, sug en snak
jou vlugverslag
die oë op my vlerke oop
Uit: Bloot mens. Protea Boekhuis, 2009





