joan hambidge
|
Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009). Sy is ’n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad.Joan behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman - ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2006) bevat ’n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.
Luister na die video-greep hier van ‘n voorlesing van haar verse tydens Versindaba 2007 in Stellenbosch.
Die volgende tekste het sedert 1995 verskyn:
Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995. Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995. Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad.1996. Ewebeeld. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1997. Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998. Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998. Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000. Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001. Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002. Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004. En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005. Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2006. Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2008. Kladboek. Protea, Pretoria. 2008. Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad.2009. |
Fiona Coyne
Jy was ’n aksie-gedig,
altyd aan die beweeg,
reis, speel, terg, skerts:
Jy is die swakste skakel!
Tot ek verneem in ’n berig
op die internet vanuit ’n buitepos:
Aktrise neem haar eie lewe.
’n Voorblad kan so blaker,
sonder respek amplifiseer.
Ek google die internet,
vind vele skakels na jou:
van brilletjie-op-die-neus
tot ’n toegedoekte seer.
Jou aanwysings was perfek,
soos dit dié soort gedig betaam:
dood hier ’n blote-antitese,
‘n diskant of teenstem hees.
Presies om 8.40 vm gevind,
om 2 nm opgetel en afgetel
in die allerlaaste pantomime:
van lyf tot lyk. Van iets tot niks.
Van beweging tot volkome rus.
“Because I could not stop for Death
He kindly stopped for me.”
© Joan Hambidge. Augustus 2010
Om in ‘n vreemde hotel
wakker te word met herinneringe
nee, vergeefse vergete
of drome helder (soos)
die skoot van ‘n koppesneller
tydens ‘n geassisteerde selfmoord
(want drome is selfuitwissing,
jy word niks meer as ge-Kebble) verloor
ek die draad van my gedig
(want die skoot weier
om af te gaan)
en ja, die polisse gaan
beslis nie uitbetaal nie.
Daar sal geen sluitende vers
wees nie: net ‘n ewige gewonder:
hoe kon die moordenaar en vermoorde
ooit dink hulle sou spore doodvee?
Al het hulle in ‘n park saamgebid,
so help-my-god…
Ek syfer beleggings uit my data-bank
en hoop geen forensiese pataloog
sal ooit in ‘n kritiese outopsie
my laaste maal (Australia 2008 Goona Warra Shiraz
plus ‘n glossarium van literêre terme)
probeer ontleed nie.
© Joan Hambidge. Augustus 2010
Copla
die demone loop
weer soos snoek
vannag
nag breek oop:
‘n volmaaneier
die DVD-speler
mediteer saam
met die wekker
en die kerktoring
se dowwe slae
tel my uit
die demone loop
weer soos snoek
vannag
die dooies roep
na my in drome
ek tel my littekens
in ‘n mantra o ‘n mantra
“die demone loop
weer soos snoek
vannag”
hoor my
tussen lewe en dood,
slaap en wakker,
daar is geen genade
vir snoekvangers
soos ek
ja, demone loop
soos snoek
vannag
soos snoek
loop die demone
© Joan Hambidge. Augustus 2010
Via dolorosa
Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ‘n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
‘n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ‘n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ‘n tatoe.
‘n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ‘n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ‘n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ‘n raam
op my digitaal.
© Joan Hambidge. Mei 2010
Halifax
Halifax
Om dekstoele reg te skuif
op die Titanic,
so was dit met ons.
Daardie RMS Titanic.
Die hoop van ons verhouding:
onsinkbaar, vir ewig,
op‘n transatlantiese vaart
tussen verskille soos gay/straight,
getroud/ongetroud,
hier/daar, naby/ver…
Toe sink ons relasie:
die ysberge van misverstande,
verskillende verwagtinge,
nuwe eise…
Daar was te min reddingsbote,
weet jy, en die kraak in die agterskipse
uitsettingsvoeg (dat jy eintlik mans begeer)
het óns nooiensvaart
van meet af aan beheer.
© Joan Hambidge. April 2010
Casa Battló
Webruimte: www.casabatllo.es Metro “Passeig de Gràcia” (Groen lyn,
L3) Calle Aragó-Rambla Catalunya uitgang. Casa Batlló
is slegs 30 sekondes se wandeling van die metro stop
as jy die korrekte uitgang neem..
Soek vir Calle Aragó-Rambla Catalunya
wanneer jy die uitgang verlaat.
La Sagrada Familia
Hierdie gedig is onder konstruksie
nes hierdie katedraal wat sedert 1882
nie klaargebou, gerekonstrueer
kan word nie, soos my gedig,
geloof dekonstrueer, immer op soek
na God-die-Vader, die Sin van Betekenis
op die aarde, só ook in die Hemel,
so help my God, hier in Barcelona,
digby die ruimte van aanbidding,
waar die torings die apostels voorstel,
en eendag geruite glas die vensters sal beskut.
So help haar God wanneer sy eendag
die aarde se uitgang verlaat dat die lewe
voltooid, afgesluit sal wees en nie soos Gaudí
se La Sagrada Familia beklodder nie.
© Joan Hambidge. April 2010
Dallas, Texas
Op die spoor van JFK, dáár waar die Zapruder
die kavalkade skiet, goewerneur John Connally voor,
Jacqueline agter, in Dealey Plaza: November 22, 1963.
Lee Harvey Oswald (“I’m the patsy”) deur Jack Ruby vermoor.
“Mr. President, you can’t say Dallas doesn’t love you,”
sê die goewerneursvrou en tussen raam 155 en 169 draai
almal eers na links dan na regs, behalwe die President.
Die skoot tussen raam 210 en 225 wys nie die bloed
of stukkies been nie: nog ‘n skoot slaan van agter.
Ene James Tague, die toevallige waarnemer, presies 162 m,
getref met ‘n opslagkoeël, en in die Parklandshospitaal
word John F. Kennedy deur dr. George Burkley dood verklaar.
‘n Rooms-Katolieke priester bedien die laaste sakramente.
In ‘n outopsie-verslag word elke wond presies opgeteken.
Lyndon B. Johnson in ‘n Airforce One in sy plek ingesweer.
Die 1961 Lincoln Continental limousine staan in die Henry Ford,
in Dearborn, Michigan, met die bevlekte pienk rok geberg.
Koeëls, die geweer, selfs die hospitaaltrollie en outopsieverslag
vir die toeris op uitstalling, met ‘n X gemerk op die plek
van die eerste slag. Die nes van die vermeende koppesneller
hier in Dallas, Texas lewensgetrou gerekonstrueer.
Glo my vry. Dit alles en nog meer. Op die spoor van JFK.
Ek vaar oor die Bosphorus
en betrag Bizantium en Konstantinopel.
Jou naam nou bedui glo: “in die stad”.
Stad van die sewe heuwels,
roep hulle jou in die volksmond,
flikflooiend met Asië en Europa.
Bekend aan almal.
Maar eiesoortig in jou aard:
jou basaars, baddens, moskees,
kerke, paleise, praal,
die hele santekraam, waar
Jood, Christen, Mohammedaan
toe en nou vertoef. Vasilevousa Polis,
Koningin van Stede:
ja, jy is ‘n vrou. Ligtekooi.
Versluierd, ondeurdringbaar…
(dalk ook wispeltreurig?)
In die Kerk van St. Redder in Chora
snap ek bykans iets van jou:
ágter elke waarneming skuil
‘n ander betekenis óf ingebedde teks,
(jy is ‘n vrou met ‘n verlede)
‘n fresko of mosaïek.
Jy oorweldig my, flirteer met my,
neem my terug na William Empson
se Seven types of Ambiguity
(“They that have power…”, aldus Shakespeare)
veral na daardie vrou wat skryf oor die tussenstand
en dít wat buite besegging lê:
Julia Kristeva.
© Joan Hambidge. Maart 2010
Acapulco
Ek vlug na jou mitiese, verdroomde ruimte
uit Mexiko-stad met sy geweld en vuil lug.
Hittig is jy waar ek skuilhou in ‘n retro-hotel
en my kinderdae speel voor my af soos ‘n huisfilm.
Ek ruik die sweet en chloor van die swembad,
‘n man lag uitbundig, ‘n vrou breek ‘n glas
en die asbak met ‘n Asteekse simbool, is vol.
Die film breek, maar niemand sit die lig aan nie.
In die donker hou die kinders kajuitraad.
In die kamer langsaan klim ‘n vrou die piramide
van ekstase, terwyl die man kennelik terug-
hou vir ‘n finale swenk oor die corniche
in Acapulco (wat anders as in die Peter Stuyvesant-
advertensie) my terugneem na waar ek nie wil wees nie.
© Joan Hambidge. Maart 2010
San Francisco
‘n pomo-fantasie
Go West!
Oor die Golden Gate vir 2,7 km presies
(Together) We will go our way
verby Alcatraz, die Transamerica-gebou
(Together) We will leave someday
in die vorm van ‘n piramide
(Together) Your hand in my hands
ry ons op die kabelkar
(Together) We will make our plans
terwyl ons droom van ‘n lewe saam
(Together) We will fly so high
in ‘n stad met vryhede en gay-regte
(Together) We will start life new
waar ons geluk sal vind….
(Together) This is what we’ll do
L’envoi
Die lirieke van die Village People
het ons aangepas én geskaai:
en kortstondig – glo my vry –
die San Andreas-fout vermy.
© Joan Hambidge. Maart 2010
Dublin
Baile Åtha Cliath
Obedientia Civium Urbis Felicitas
Dubh Linn
oftewel swart poel
neem my terug na my jeug
in ‘n plattelandse biblioteek tydens
‘n wintervakansie waar ek, tussen
Skylla en Karybdis, elke verwysing
naspeur in Ulysses. Al agtien episodes
met nougesette aandag via Stuart Gilbert
op ‘n literêre speurtog. Leopold Bloom en Molly
se sekstoneel en Stephen Dedalus as Telemachus.
Die lewe ‘n nagmerrie waarvan ek probeer ontwaak.
No. 7 Eccles-straat ruik na gebraaide varkniertjies.
Waar is Paddy Dignam se graf in Glasnevin?
In Burton se restaurant wag ‘n verbeelde glas wyn.
Ek is die sikloop, al wandelend, struikelend,
weer ek Lydia Douce en Mina Kennedy af.
“Says I”, “says I”, “says I”. In Ithaca
voorspel ‘n waarsêer ‘n lewe-op-vlug.
Poësie spruit uit die banale, ‘n blote opstel
van lysies: van uitstel kom aftel…
‘n Latter-day Odusseus, nie Penelope nie?
Ek ryloop deur die strate van Dublin
op die roete van Joyce en mý bewussynstroom
neem my terug na dáárdie ruimte:
jong optekenaar van woorde ónwetend hoe
‘n gedig ‘n Ou Mutual-dagboek oopmaak
vol verlore, vergete skribbels.
© Joan Hambidge. Feb. 2010
Londen
You find no man, at all intellectual, who is willing to leave London.
No, Sir, when a man is tired of London, he is tired of life; for there is in London all that life can afford.
- Samuel Johnson
Lowonidonjon,
oftewel rivier te wyd om beheer
te word. In 1666 verswelg ‘n vuur
jou hart. Jy oorleef, word herbou,
beleef plae, oorloë, invalle, sterftes.
Dog gryp jy my nooit aan nie. Ek vertoef
net hier, beskou jou bakens soos die Teems, Westminster,
Buckingham Paleis, te veel om op te noem.
Jy is en was net ‘n deurgang na ander stede,
en route na Dublin, Glasgow, Wenen. A meal ticket.
Vergewe my! Dit gaan in die eerste (en laaste) instansie
om my, nie jou nie. Ek staan nie in Mexiko
en verlang na Granada nie; ek besing nie Petticoat Lane
in ‘n kil stad met ‘n Tube wat vér en wyd strek nie.
(En onder draai die duiwels, nes Jack the Ripper, rond.)
Ek haat jou Cockney-klanke, jou dubbeldekker-busse,
jou afstandelikheid, jou meewarigheid, jou hovaardigheid.
An Englishman in New York se voet!
Maar wag. Daar is wel iets wat jou bó
ander verhef (behalwe vir vreemde klanke en kleure):
Madame Tussauds.
Nabootsing, kloning, ewebeelde.
Hier staan ek, ‘n besoeker aan die huis van afgelope passie,
verbygegane liefde; “Die verhale van Hofman” speel,
maar daar is geen lewe meer.
Hier neem jy my terug na die bloubaardkamer,
na al die wasbeelde van my verlore, verdrietige verbintenisse.
Gelukkig word my kop – nes die Madame s’n - nie afgekap.
Jou afstandelikheid so gedenk!
Kervansaray
‘n Klein vuurhoutjieboksie
kervansaray international holiday courts
verpak met herinneringe en indrukke.
In soveel stede ‘n memento versamel:
verslaande seep uit Havana, ‘n opvou-tandeborsel
uit Acapulco se Zen-hotel, ‘n tandepasta-buisie uit Kyoto.
Ek speel Alice in Wonderland: word groter en kleiner
voor al die reisdeure in my geheue.
Eens het ek in my trane verdrink: ‘n beierende klok
van afskeid, verwerping, die einde van ‘n verhouding
het die reis aangevuur. Die gemmerkat se glimlag draal.
Op ‘n laatsomermiddag ry ek Edinburgh binne,
staan verwonderd voor ‘n pienk skynsel van ‘n stad
se sonsondergang in ligte laaie.
Nou is dit die binne-reis en wete: al my indrukke
is verbeeld in só ‘n klein vuurhoutjieboksie.
© Joan Hambidge. Feb. 2010
Via dolorosa
Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ‘n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
‘n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ‘n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ‘n tatoe.
‘n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ‘n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ‘n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ‘n raam
op my digitaal.
© Joan Hambidge. Mei 2010







