joan hambidge

 

Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009).

Sy is ’n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad.Joan behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman - ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer.

Die Buigsaamheid van verdriet (2006) bevat ’n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

Luister na die video-greep hier van ‘n voorlesing van haar verse tydens Versindaba 2007 in Stellenbosch.

 

Die volgende tekste het sedert 1995 verskyn:

Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995.

Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad.1996.

Ewebeeld. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1997.

Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998.

Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001.

Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002.

Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004.

En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005.

Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2006.

Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad.2008.

Kladboek. Protea, Pretoria. 2008.

Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad.2009.

 

 

Fiona Coyne

 

Jy was ’n aksie-gedig,

altyd aan die beweeg,

reis, speel, terg, skerts:

Jy is die swakste skakel!

Tot ek verneem in ’n berig

op die internet vanuit ’n buitepos:

Aktrise neem haar eie lewe.

’n Voorblad kan so blaker,

sonder respek amplifiseer.

Ek google die internet,

vind vele skakels na jou:

van brilletjie-op-die-neus

tot ’n toegedoekte seer.

Jou aanwysings was perfek,

soos dit dié soort gedig betaam:

dood hier ’n blote-antitese,

‘n diskant of teenstem hees.

Presies om 8.40 vm gevind,

om 2 nm opgetel en afgetel

in die allerlaaste pantomime:

van lyf tot lyk. Van iets tot niks.

Van beweging tot volkome rus.

“Because I could not stop for Death

 He kindly stopped for me.”

 

© Joan Hambidge. Augustus 2010

 

Kamer 1621, Westin Chosan, Seoul
 

Om in ‘n vreemde hotel

wakker te word met herinneringe

nee, vergeefse vergete

of drome helder (soos)

die skoot van ‘n koppesneller

tydens ‘n geassisteerde selfmoord

(want drome is selfuitwissing,

jy word niks meer as ge-Kebble) verloor

ek die draad van my gedig

(want die skoot weier

om af te gaan)

en ja, die polisse gaan

beslis nie uitbetaal nie.

Daar sal geen sluitende vers

wees nie: net ‘n ewige gewonder:

hoe kon die moordenaar en vermoorde

ooit dink hulle sou spore doodvee?

Al het hulle in ‘n park saamgebid,

so help-my-god…

Ek syfer beleggings uit my data-bank

en hoop geen forensiese pataloog

sal ooit in ‘n kritiese outopsie

my laaste maal (Australia 2008 Goona Warra Shiraz

plus ‘n glossarium van literêre terme)

probeer ontleed nie.

 

 

© Joan Hambidge. Augustus 2010

 

 

Copla

 

die demone loop

weer soos snoek

vannag

 

nag breek oop:

‘n volmaaneier

 

die DVD-speler

mediteer saam

met die wekker

en die kerktoring

se dowwe slae

tel my uit

 

die demone loop

weer soos snoek

vannag

 

die dooies roep

na my in drome

ek tel my littekens

in ‘n mantra o ‘n mantra

“die demone loop

weer soos snoek

vannag”

 

hoor my

tussen lewe en dood,

slaap en wakker,

daar is geen genade

 

vir snoekvangers

soos ek

 

ja, demone loop

soos snoek

vannag

soos snoek

loop die demone

 

 

© Joan Hambidge. Augustus 2010

 

Via dolorosa

 

Die lydensweg

stap ek moeisaam

met my kamera op my rug;

verloor my groep

tussen stasie vyf en ses.

Ek dink my in

hoe U hierdie weg nou

sou sien:

“I got stoned in Jerusalem”

blaker ‘n T-hemp en verderaan

staan twee Jode en korswel

oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.

Veronika sou waarskynlik vandag

‘n wet-wipe aanbied en ek meen

iemand sou dink aan ‘n Red Bull

of dalk iets sterkers vir dié pad.

Iemand sou meen U doringkroon

is cool soos ‘n tatoe.

‘n Nonnetjie stap uiloog verby,

terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon

in die linkerhand

en sigaret in sy skewebek,

bewend boekevat.

En ek?

Ek kyk uit oor Jerusalem

op ‘n Sondag vér van huis en haard,

sluit my oë, tel ‘n klip op

digby Golgotha

en wens

ek kon hierdie steurnisse

uitwis soos ‘n raam

op my digitaal.

 

 

© Joan Hambidge. Mei 2010

 

 

Halifax

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Halifax

 

Om dekstoele reg te skuif

op die Titanic,

so was dit met ons.

Daardie RMS Titanic.

Die hoop van ons verhouding:

onsinkbaar, vir ewig,

op‘n transatlantiese vaart

tussen verskille soos gay/straight,

getroud/ongetroud,

hier/daar, naby/ver…

Toe sink ons relasie:

die ysberge van misverstande,

verskillende verwagtinge,

nuwe eise…

Daar was te min reddingsbote,

weet jy, en die kraak in die agterskipse

uitsettingsvoeg (dat jy eintlik mans begeer)

het óns nooiensvaart

van meet af aan beheer.

 

© Joan Hambidge. April 2010

 

 

 

 

Casa Battló

 

Webruimte: www.casabatllo.es Metro “Passeig de Gràcia” (Groen lyn,

L3) Calle Aragó-Rambla Catalunya uitgang. Casa Batlló

is slegs 30 sekondes se wandeling van die metro stop

as jy die korrekte uitgang neem..

Soek vir Calle Aragó-Rambla Catalunya

wanneer jy die uitgang verlaat.

 

 

 

 

 

 

 

La Sagrada Familia

Hierdie gedig is onder konstruksie

nes hierdie katedraal wat sedert 1882

nie klaargebou, gerekonstrueer

kan word nie, soos my gedig,

geloof dekonstrueer, immer op soek

na God-die-Vader, die Sin van Betekenis

op die aarde, só ook in die Hemel,

so help my God, hier in Barcelona,

digby die ruimte van aanbidding,

waar die torings die apostels voorstel,

en eendag geruite glas die vensters sal beskut.

So help haar God wanneer sy eendag

die aarde se uitgang verlaat dat die lewe

voltooid, afgesluit sal wees en nie soos Gaudí

se La Sagrada Familia beklodder nie.

 

© Joan Hambidge. April 2010

 

 

Dallas, Texas

Op die spoor van JFK, dáár waar die Zapruder

die kavalkade skiet, goewerneur John Connally voor,

Jacqueline agter, in Dealey Plaza: November 22, 1963.

Lee Harvey Oswald (“I’m the patsy”) deur Jack Ruby vermoor.

“Mr. President, you can’t say Dallas doesn’t love you,”

sê die goewerneursvrou en tussen raam 155 en 169 draai

almal eers na links dan na regs, behalwe die President.

Die skoot tussen raam 210 en 225 wys nie die bloed

of stukkies been nie: nog ‘n skoot slaan van agter.

Ene James Tague, die toevallige waarnemer, presies 162 m,

getref met ‘n opslagkoeël, en in die Parklandshospitaal

word John F. Kennedy deur dr. George Burkley dood verklaar.

‘n Rooms-Katolieke priester bedien die laaste sakramente.

In ‘n outopsie-verslag word elke wond presies opgeteken.

Lyndon B. Johnson in ‘n Airforce One in sy plek ingesweer.

Die 1961 Lincoln Continental limousine staan in die Henry Ford,

in Dearborn, Michigan, met die bevlekte pienk rok geberg.

Koeëls, die geweer, selfs die hospitaaltrollie en outopsieverslag

vir die toeris op uitstalling, met ‘n X gemerk op die plek

van die eerste slag. Die nes van die vermeende koppesneller

hier in Dallas, Texas lewensgetrou gerekonstrueer.

Glo my vry. Dit alles en nog meer. Op die spoor van JFK.

 

 

 

Istanboel

 

 

Ek vaar oor die Bosphorus

en betrag Bizantium en Konstantinopel.

Jou naam nou bedui glo: “in die stad”.

Stad van die sewe heuwels,

roep hulle jou in die volksmond,

flikflooiend met Asië en Europa.

Bekend aan almal.

Maar eiesoortig in jou aard:

jou basaars, baddens, moskees,

kerke, paleise, praal,

die hele santekraam, waar

Jood, Christen, Mohammedaan

toe en nou vertoef. Vasilevousa Polis,

Koningin van Stede:

ja, jy is ‘n vrou. Ligtekooi.

Versluierd, ondeurdringbaar…

(dalk ook wispeltreurig?)

In die Kerk van St. Redder in Chora

snap ek bykans iets van jou:

ágter elke waarneming skuil

‘n ander betekenis óf ingebedde teks,

(jy is ‘n vrou met ‘n verlede)

‘n fresko of mosaïek.

Jy oorweldig my, flirteer met my,

neem my terug na William Empson

se Seven types of Ambiguity

(“They that have power…”, aldus Shakespeare)

veral na daardie vrou wat skryf oor die tussenstand

en dít wat buite besegging lê:

Julia Kristeva.

 

 

© Joan Hambidge. Maart 2010

 

 

Acapulco

 

Ek vlug na jou mitiese, verdroomde ruimte

uit Mexiko-stad met sy geweld en vuil lug.

Hittig is jy waar ek skuilhou in ‘n retro-hotel

en my kinderdae speel voor my af soos ‘n huisfilm.

Ek ruik die sweet en chloor van die swembad,

‘n man lag uitbundig, ‘n vrou breek ‘n glas

en die asbak met ‘n Asteekse simbool, is vol.

Die film breek, maar niemand sit die lig aan nie.

In die donker hou die kinders kajuitraad.

In die kamer langsaan klim ‘n vrou die piramide

van ekstase, terwyl die man kennelik terug-

hou vir ‘n finale swenk oor die corniche

in Acapulco (wat anders as in die Peter Stuyvesant-

advertensie) my terugneem na waar ek nie wil wees nie.

 

© Joan Hambidge. Maart 2010

 

 

 

San Francisco

‘n pomo-fantasie

 

Go West!

Oor die Golden Gate vir 2,7 km presies

(Together) We will go our way

verby Alcatraz, die Transamerica-gebou

(Together) We will leave someday

in die vorm van ‘n piramide

(Together) Your hand in my hands

ry ons op die kabelkar

(Together) We will make our plans

terwyl ons droom van ‘n lewe saam

(Together) We will fly so high

in ‘n stad met vryhede en gay-regte

(Together) We will start life new

waar ons geluk sal vind….

(Together) This is what we’ll do

 

L’envoi

 

Die lirieke van die Village People

het ons aangepas én geskaai:

en kortstondig – glo my vry –

die San Andreas-fout vermy.

 

© Joan Hambidge. Maart 2010

 

 

 

Dublin

Baile Åtha Cliath

Obedientia Civium Urbis Felicitas

 

Dubh Linn

oftewel swart poel

neem my terug na my jeug

in ‘n plattelandse biblioteek tydens

‘n wintervakansie waar ek, tussen

Skylla en Karybdis, elke verwysing

naspeur in Ulysses. Al agtien episodes

met nougesette aandag via Stuart Gilbert

op ‘n literêre speurtog. Leopold Bloom en Molly

se sekstoneel en Stephen Dedalus as Telemachus.

Die lewe ‘n nagmerrie waarvan ek probeer ontwaak.

No. 7 Eccles-straat ruik na gebraaide varkniertjies.

Waar is Paddy Dignam se graf in Glasnevin?

In Burton se restaurant wag ‘n verbeelde glas wyn.

Ek is die sikloop, al wandelend, struikelend,

weer ek Lydia Douce en Mina Kennedy af.

“Says I”, “says I”, “says I”. In Ithaca

voorspel ‘n waarsêer ‘n lewe-op-vlug.

Poësie spruit uit die banale, ‘n blote opstel

van lysies: van uitstel kom aftel…

‘n Latter-day Odusseus, nie Penelope nie?

Ek ryloop deur die strate van Dublin

op die roete van Joyce en mý bewussynstroom

neem my terug na dáárdie ruimte:

jong optekenaar van woorde ónwetend hoe

‘n gedig ‘n Ou Mutual-dagboek oopmaak

vol verlore, vergete skribbels.

 

 

© Joan Hambidge. Feb. 2010

 

Londen

You find no man, at all intellectual, who is willing to leave London.

No, Sir, when a man is tired of London, he is tired of life; for there is in London all that life can afford.

- Samuel Johnson

 

 

Lowonidonjon,

oftewel rivier te wyd om beheer

te word. In 1666 verswelg ‘n vuur

jou hart. Jy oorleef, word herbou,

beleef plae, oorloë, invalle, sterftes.

Dog gryp jy my nooit aan nie. Ek vertoef

net hier, beskou jou bakens soos die Teems, Westminster,

Buckingham Paleis, te veel om op te noem.

Jy is en was net ‘n deurgang na ander stede,

en route na Dublin, Glasgow, Wenen. A meal ticket.

Vergewe my! Dit gaan in die eerste (en laaste) instansie

om my, nie jou nie. Ek staan nie in Mexiko

en verlang na Granada nie; ek besing nie Petticoat Lane

in ‘n kil stad met ‘n Tube wat vér en wyd strek nie.

(En onder draai die duiwels, nes Jack the Ripper, rond.)

Ek haat jou Cockney-klanke, jou dubbeldekker-busse,

jou afstandelikheid, jou meewarigheid, jou hovaardigheid.

An Englishman in New York se voet!

Maar wag. Daar is wel iets wat jou bó

ander verhef (behalwe vir vreemde klanke en kleure):

Madame Tussauds.

Nabootsing, kloning, ewebeelde.

Hier staan ek, ‘n besoeker aan die huis van afgelope passie,

verbygegane liefde; “Die verhale van Hofman” speel,

maar daar is geen lewe meer.

Hier neem jy my terug na die bloubaardkamer,

na al die wasbeelde van my verlore, verdrietige verbintenisse.

Gelukkig word my kop – nes die Madame s’n - nie afgekap.

Jou afstandelikheid so gedenk!

 

 

Kervansaray

‘n Klein vuurhoutjieboksie

kervansaray international holiday courts

verpak met herinneringe en indrukke.

In soveel stede ‘n memento versamel:

verslaande seep uit Havana, ‘n opvou-tandeborsel

uit Acapulco se Zen-hotel, ‘n tandepasta-buisie uit Kyoto.

Ek speel Alice in Wonderland: word groter en kleiner

voor al die reisdeure in my geheue.

Eens het ek in my trane verdrink: ‘n beierende klok

van afskeid, verwerping, die einde van ‘n verhouding

het die reis aangevuur. Die gemmerkat se glimlag draal.

Op ‘n laatsomermiddag ry ek Edinburgh binne,

staan verwonderd voor ‘n pienk skynsel van ‘n stad

se sonsondergang in ligte laaie.

Nou is dit die binne-reis en wete: al my indrukke

is verbeeld in só ‘n klein vuurhoutjieboksie.

 

 

© Joan Hambidge. Feb. 2010

 

 

 

Via dolorosa

 

Die lydensweg

stap ek moeisaam

met my kamera op my rug;

verloor my groep

tussen stasie vyf en ses.

Ek dink my in

hoe U hierdie weg nou

sou sien:

“I got stoned in Jerusalem”

blaker ‘n T-hemp en verderaan

staan twee Jode en korswel

oor ‘n sokkertelling ‘n dag terug.

Veronika sou waarskynlik vandag

‘n wet-wipe aanbied en ek meen

iemand sou dink aan ‘n Red Bull

of dalk iets sterkers vir dié pad.

Iemand sou meen U doringkroon

is cool soos ‘n tatoe.

‘n Nonnetjie stap uiloog verby,

terwyl ‘n Ortodokse Jood selfoon

in die linkerhand

en sigaret in sy skewebek,

bewend boekevat.

En ek?

Ek kyk uit oor Jerusalem

op ‘n Sondag vér van huis en haard,

sluit my oë, tel ‘n klip op

digby Golgotha

en wens

ek kon hierdie steurnisse

uitwis soos ‘n raam

op my digitaal.

 

 

© Joan Hambidge. Mei 2010

 

 

 

 

Bookmark and Share