johan myburg

Johan Myburg

Johan Myburg

Johan Myburg het in 1984 met Vlugskrif gedebuteer en tien jaar later met Kontrafak die Eugène Marais-prys verower.

Kamermusiek verskyn in 2008 by Lapa. Die kamer vorm in dié bundel die sentrale ruimte waarbinne handeling afspeel. Maar die kamer sluit ook die ruimtes verby die leefruimte in. In die kamer word optekening van reise tot poësie getransformeer.

In 2017 verskyn Uittogboek, ’n hoogtepunt in die digter se oeuvre. Dit is ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower. Uittogboek is in 2018 bekroon met die ATKV-Prys vir Poësie.

Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kunste.

 

Nagwaak

 

Ek gaan slaap, word nanag wakker met ’n bejaarde oor

veel ouer as my gesig. ’n Behaarde skulp soos ’n koolblaar

sprei oor die sloop. Dié oor hoor in ’n ander register, ander goed

as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in ’n sleutelgat

die knip van ’n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbraak

en betreding – dis nie die trilling van stewel in stiebeuel

van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril

nie – die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese

wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:

om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.

Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip

die vasdraai die pad wat eindig in ’n slop.

 

Uit: Uittogboek, Johan Myburg, Protea Boekhuis, 2017.

 

 

Of rage and remembrance

Simfonie no. 1, John Corigliano

Die deur maak oop op ’n party

aan huis van ’n galante paar.

Musiek dra gaste deur ’n portaal,

deur etlike vertrekke waar

mense ritmies dans, bolangs

gesprekke voer, uitgelate lag,

koketterig flankeer; deur skuifdeure

tot buite in die nag,

tot op die terras waar uitgelate

gaste – dié wat om die dood

ongenooid bly – skaduwerig

teen mure beweeg soos groot

akkedisse. Dieper in die tuin

is ’n klavier besig om veraf en flou

die hunkerende melodie

van Albeniz se tango te onthou.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

Bookmark and Share