Johan Swarts

Johan Swarts

Johan Swarts

Johan Swarts is in 1985 in George gebore, maar verhuis kort daarna saam met sy ouers na Bellville. Na matriek verwerf hy die grade B.A. Taal en Kultuur  en B.A. (Hons.) (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit van Stellenbosch. Tans doen hy navorsing vir ’n M.A.-graad wat fokus op Afrikaanse blogs en is hy verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, waar hy tutoriaalklasse vir eerstejaars aanbied. Sy poësie verskyn sedert 2005 gereeld in die Stellenbosse studentebundel Penseel. In 2007 neem hy deel aan By se poësieprojek, DigBy. Hy is ’n onafhanklike filmvervaardiger, vryskutskrywer, ’n blogger en die inisieerder en redakteur van Die Tydskrif-projek.

 

 

 

 

spyt

vanaand is ek bly ons bly

nie in Darfoer nie

bly jou bene is vleis

sonder skrapnel (vlamloos

jou vel) jou lippe klam

ons torso’s wondloos en warm

 

ek is bly ons oortromme staan nog

mortiere fluit nie deur die voordeur

en kinderverkragters met tering

beleër die voorstoep nie

 

ons hardloop kamer toe en ek lag

ons vlug nie ons gly oor die lakens

jou rug is roetloos en ek raak oorstelp

die enigste landmyne is die hond s’n

 

vanaand is ek bly ons bly

nie in Darfoer nie

maar spyt

dat jou klere nog nie afgebrand het nie.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

Bookmark and Share