johann de lange

 

Johann de Lange
Johann de Lange     Foto: Edrea Cloete

Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonker-prys ontvang. Daarop volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986) en Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang. Daarna volg Nagsweet (1990), Vleiswond (1993), Wat sag is vergaan (1995) en Die algebra van nood (2009).

In 1997 stel hy Soort soek soort saam, ’n bundel gay kortverhale uit die laaste honderd jaar, en saam met Antjie Krog in 1998 ’n bloemlesing erotiese poësie, getiteld Die dye trek die dye aan. De Lange ontvang  die Pankratorprys in ’n internasionale poësiekompetisie van  UNESCO vir sy gedig “Skerpskutter” en ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”). Sy vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn in verskeie publikasies, onder meer in The heart in exile: South African poetry in English 1990–1995 (1996) en The lava of this land: South African Poetry 1960–1996 (1997). Vertalings van Wilma Stockenström se gedigte verskyn in 2007 as The wisdom of water.

 

 

Op ‘n eiland

And the ports have names for the sea

W.H. Auden

met apologie aan Karel Schoeman

 

Dit is ‘n lang reis van Piréus

na die eiland. Die skip is oud

& lendelam, sukkel traag

van hawe na hawe, vertoef

soms terwyl die son neerbrand,

 

totdat die fluit weer blaas

& die reis voortgesit word.

Hawens, stadjies, eilande dryf verby,

blou bergkamme teen die lug,

vensters flits boodskappe terug.

 

Daar is eilande

wat deur geen mens bereik is nie,

wit strande deur geen voet betree,

helder fonteine waarvan niemand

ooit gedrink het nie.

 

Daar is streke

op geen kaart vasgelê, kuste

waaraan nooit ‘n naam gegee is nie,

waar geen oor die roep van voëls

of die slag van branders hoor nie,

 

afstande ongemeet

& dieptes ongepeil –

o ja, daar is eilande

& dit is ‘n lang reis

van die eiland na Piréus.

 

 

Google Golgota

 

Sondagmiddag in Kaapstad

& ek kry ‘n sms van Joan

uit Jerusalem: Ek loop nou

die via dolorosa.

Was vandag U sterfdag

sou ons U volg

 

op twitter, mekaar sms

of vir laas u profiel

op Facebook besoek, spyt

ons het nie eerder

gevra dat u ons byvoeg

as vriend. Elke blogger

 

agter sy rekenaar

besig met sy Golgota-scoop.

Die pers sal kameras

& mikrofone in u gesig druk

vir ‘n sound bite, of advies

oor global warming, duisende

 

websites opgaan in u Naam, promosies,

boek- & filmregte. Advertensieflitse:

Hoe kry ons daardie kleed

weer witter as sneeu?

Regoor die aarde sal kort

oorsigte oor u lewe uitgesaai word,

 

onderbreek met terugflitse

na die smal stegies,

die keistene waaroor U moeisaam vorder,

nuushelikopters oorhoofs.

Joan, stuur my asb ‘n 8 megapixel foto,

‘n poskaart of brief in Sy handskrif,

 

of ‘n repie van sy kleed, ek begeer

iets om op eBay te adverteer.

 

© Johann de Lange. Feb. 2010

 

 

 

 

 

 

 

 

Brompton cocktail

 

Dokter, skink vir ons

‘n skeut skokiaan,

 

jou elikser teen die pyn

van gaan & heengaan,

 

die mengelmoes

van alkohol, coke

 

& heroïen wat soes-

erig behaag. Krabbel

 

neer jou voorskrif,

jou soera vir die farmaseut.

 

Staan nader, my geliefdes,

slaan gade my gelaat:

 

so verwissel mens laaste-

lik staat met staat.

 

 

etienne leroux

 

jou laaste boek sou eindig met ‘n dood

maar is deur jou eie onderbreek:

wat oorbly is die algebra van nood

 

in  ‘n tyd van vigs & oorlog, hongersnood

van designer drugs & die diskoteek

wou jy jou laaste boek eindig met ‘n dood

 

laatnag met jou manuskrip & potlood

om jou die smal rûe van jou biblioteek

het jy stilweg jou algebra van nood

 

opgeteken, elke woord genadebrood

optimisties oor die heling van draaksteek

wou jy jou laaste boek eindig met ‘n dood

 

op hierdie vasteland van die kanniedood

van broodbome & kikoejoekweek

aangedryf deur die algebra van nood

 

was daar nog soveel om te sê, hoe snood

die tyd ook was, of hoe droog die streek

onverbiddelik is die algebra van nood:

die laaste boek eindig met jou dood

 

 

Naakte ster

 

‘n Naakte ster-kwartet

gestroop van wat hul het

aan gekoesterde kokon

van kosmiese gas & oerstof

 

dans om mekaar

in die Nebula van Orion,

onthul in die fel

ultraviolet- & kalklig

 

van groter sterre naberby

wat titanies groei;

wat stof & steen van mindere

ligte verorber,

 

‘n kosmiese plasenta

waarsonder geen ster

na behore & in omvang

kan groei & boei.

 

So wentel ek, lieferd,

al skraler & meer obskuur,

vry van al die ballas

waaruit jy gedy.

 

 ©  Johann de Lange. November 2009 [3 verse]

 

 

 

 

Die G-string van Paganini

 

Paganini, weet ons almal,

het – aan sátan, vir róém –

sy siel verkwansel & nié

sleg vir homself gedoen:

hy het selde tyd of geld verkwis

 

op ’n power waagstuk.

Dus: ’n leeftyd lank dans álmal

(ook mev. Paganini)

op die keper beskou

na sy viool.

 

Hy & mevrou was glo

dikwels haaks: vroue vrek

oor hom al was hy skreeu-

lelik: hy had die voordeel

van onberispelike tegniek.

 

Nes Liszt, sy enigste

Kompetisie, is hy op 17

deur ‘n stinkryk adelvrou

van Bologna ontvoer

& vir drie jaar hok-

geslaan: seksslaaf

in haar chateaux.

Liszt het nie so lank gehou.

 

Vir haar het P. die kitaar,

nes die kittelaar mirakelagtig

baasgeraak, & haar toe

versaak. ’n Sigeuner

wat gehore begoël

met kitaar & viool.

 

En Liszt? Dié skinder maar

listig dat P. sy vrou vermoor

& haar derm gedroog

& tot perfeksie gespan

het: ’n G-stringsnaar

vir sy besete viool.

 

 

 

Verstekeling

vir Henning

 

Dood is die verstekeling

in die ribbes van dié boot

wat ons met elke tog

deur ongekaarte waters stoot.

 

 

 

Brandwind

 

Buite wring die brandwind elke leksel vog

uit struike & die wintergras. In die slot,

agter singel & grendel, skuil my woorde.

Waar is jy vannag?

Sonder jou

om teen aan te aai, wentel ek

ver & klein in ‘n melkweg se waai.

 

 

 

Inkeer

 

Die branders trek gespierd

donker nette van skemer die binne-

land in; ’n swerm vinke kwetter-

swenk omlaag in tuimelende toonlere.

 

 

 

© Johann de Lange. Augustus 2009

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Klaaglied vir Ralph (1960–2002)

 

Al wat oorbly, is ek en jy

as die aarde tuimel & die res verdwyn.

Johannes Kerkorrel

 

I

Die wattel is ’n dors boom

die wattel is ’n nors boom

& sy wortels grawe diep

die wattel is ’n vreemdeling

nie my of jou se tiep

Die wattel is ’n skuilboom

die wattel is ’n huilboom

hy bly voortdurend dors

’n wattel is die vreemdeling

wat platsak uit ons drome dros

 

 

II

Vry na Ingrid Jonker

 

Ek het gehoor, Dinsdagnag, jy is dood.

Hoe daag die anderkant

wat jy besing het,

hoe daag die verskriklike uur,

hoe raak die bos stil, die klein geveerdes

wat jy bemin het, hoe val

die geel bloeisels van die wattel,

hoe gaan die dag oor die berge

huis toe, hoe lui die windklok

van die sterre. Die voetpaadjies

van Botrivier & Kleinmond

dra swaar aan jou voetval:

was daar sonlig op jou hande,

was daar bloed?

Ek het gehoor, verlede nag, jy is dood,

& sien jou weer sit

op my rusbank

in jeans & ’n swart t-shirt

’n joint & rol met rustige vingers,

met oë wat die droefheid van die wêreld drink.

Ek het gedroom daar’s ’n einde aan die blou lug

& akkoorde sterf weg.

Daar’s ’n einde, & die einders los op

soos ’n far-out acid trip,

daar’s ’n einde waar alles vibreer

anderkant woorde, waar ons kwantumflikkers is,

niks meer. Daar’s ’n einde

en die einde het jou ontroof

van alles wat jou getraak het,

van alles waarin jy wou glo,

tot jy oplaas net ’n laaste rooi vloed

voel klop het agter geslote oë.

 

 Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Bookmark and Share