johann de lange

 

Johann de Lange
Johann de Lange     Foto: Edrea Cloete

Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonker-prys ontvang. Daarop volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986) en Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang. Daarna volg Nagsweet (1990), Vleiswond (1993), Wat sag is vergaan (1995) en Die algebra van nood (2009).

In 1997 stel hy Soort soek soort saam, ’n bundel gay kortverhale uit die laaste honderd jaar, en saam met Antjie Krog in 1998 ’n bloemlesing erotiese poësie, getiteld Die dye trek die dye aan. De Lange ontvang  die Pankratorprys in ’n internasionale poësiekompetisie van  UNESCO vir sy gedig “Skerpskutter” en ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”). Sy vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn in verskeie publikasies, onder meer in The heart in exile: South African poetry in English 1990–1995 (1996) en The lava of this land: South African Poetry 1960–1996 (1997). Vertalings van Wilma Stockenström se gedigte verskyn in 2007 as The wisdom of water.

 

Gedigte is op versoek van Johann de Lange verwyder. – Red.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Klaaglied vir Ralph (1960–2002)

 

Al wat oorbly, is ek en jy

as die aarde tuimel & die res verdwyn.

Johannes Kerkorrel

 

I

Die wattel is ’n dors boom

die wattel is ’n nors boom

& sy wortels grawe diep

die wattel is ’n vreemdeling

nie my of jou se tiep

Die wattel is ’n skuilboom

die wattel is ’n huilboom

hy bly voortdurend dors

’n wattel is die vreemdeling

wat platsak uit ons drome dros

 

 

II

Vry na Ingrid Jonker

 

Ek het gehoor, Dinsdagnag, jy is dood.

Hoe daag die anderkant

wat jy besing het,

hoe daag die verskriklike uur,

hoe raak die bos stil, die klein geveerdes

wat jy bemin het, hoe val

die geel bloeisels van die wattel,

hoe gaan die dag oor die berge

huis toe, hoe lui die windklok

van die sterre. Die voetpaadjies

van Botrivier & Kleinmond

dra swaar aan jou voetval:

was daar sonlig op jou hande,

was daar bloed?

Ek het gehoor, verlede nag, jy is dood,

& sien jou weer sit

op my rusbank

in jeans & ’n swart t-shirt

’n joint & rol met rustige vingers,

met oë wat die droefheid van die wêreld drink.

Ek het gedroom daar’s ’n einde aan die blou lug

& akkoorde sterf weg.

Daar’s ’n einde, & die einders los op

soos ’n far-out acid trip,

daar’s ’n einde waar alles vibreer

anderkant woorde, waar ons kwantumflikkers is,

niks meer. Daar’s ’n einde

en die einde het jou ontroof

van alles wat jou getraak het,

van alles waarin jy wou glo,

tot jy oplaas net ’n laaste rooi vloed

voel klop het agter geslote oë.

 

 Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Bookmark and Share