johann lodewyk marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ’n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ’n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal.

Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ’n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek.

            Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort.  Marais se jongste digbundel Diorama verskyn in 2010 by Protea Boekhuis.

 

ELSAMERE

Joy Adamson-huis

 

Die koorsbome om die Naivashameer

staan penregop en klad hulle koelte

oor die tuiste van haar wat vermoor is,

sy wat op die kikoejoe van die werf

met die vuur van leeus gespeel, stomp-ape

uit die rotskoppies na haar aangelok

en bosveldvisvangers bewonder het.

In die sitkamer, met ‘n uitsig oor die meer,

het sy skilderye van stamlede

soos trofeë gehang, ‘n sebravel

oor die klipvloer gegooi en met George,

William en Bill ‘n geding gevoer,

maar buite roer die skrif van die ruigte

nog al die tyd teen die buitemure.

 

© Johann Lodewyk Marais. Maart 2011

 

*

 

THE YELLOW KIOSK

 

‘n Vis swem verby in die bloedrooi aand

en gemsbokhorings verleen hulle steun.

 

‘n Hiëna staan gestol en snuif aas

onder die skrefie maan aan ‘n boomtak.

 

‘n Bokkop hang skeef teen die buitemuur

en droom die nag deur sy dowwe oë.

 

© Johann Lodewyk Marais. Jan. 2011

 

*

 

FORT JESUS, MOMBASA

1593-

 

Aan die voet van die verhewe bouwerk

van João Batista Cairato

is skeepskanonne kriskras neergesit

om ‘n ogie oor die hawe te hou.

 

Agter koraalmure bied barakke,

wagkamers en ‘n sisterne skuilplek

vir die dapper seuns van Portugal

wat vir koning João ‘n ryk moet stig.

 

Met ‘n uitsig vanaf die borswering

sien Pedro Leitao de Gamboa

ver weg Muhammad Yusif bin Hassan

met ‘n bende volgelinge aankom.

 

Maar Portugese bloed was maklik af;

die sultan word ultiem ‘n seerower

en die bolwerk verwissel om die beurt

van verowerde na veroweraar.     

 

Graffiti van Portugees, Omaniet

en Swahili skilfer van die mure

by die bastions van St. Mathias,

Matheus, Alberto en Phelipe af.

                       

Waar opeenvolgende vlae gehys

en algou met geweld afgestroop is,

dring die wortels van ‘n tamarinde

van later jare diep in die grond in.

 

Agter my hou die gids aan met vertel,

terwyl ek lank deur ‘n geskutpoort kyk

hoe begelei die Keniase kuswag

‘n slu seerowerskip die hawe in.

  

© Johann Lodewyk Marais. Des. 2010

 

 

SLUIPMOORD

Nairobi, 1969

 

Die man van Rusinga, Tom Mboya,

is soos ‘n hond in Goewermentsweg

platgeskiet toe hy uit die apteek kom

met Alpha-Kiri vir ‘n droë vel.

 

O, kyk na die blink seun van die Luo

wat by die ingang agteroor gestort

en rustig en gelate gelyk het

vir Mohamed Amin, die fotograaf.

 

Onder sy mangoboom in Gatundu

het Jomo Kenyatta die begrafnis

noukeurig beplan en met ‘n beesstert

die vlieë van hom af weggewaai.

 

Huil julle harte uit vir die jong man

wie se stamgenote saamgeloop het

agter die stoet aan op pad na die meer

van waar hy te vroeg na sy vaders gaan.

 

By die modderhutte van Rusinga,

die eiland van trane, is sy doodkis

laat sak onder die gedreun van tromme

en die gebulk van duisend beeshorings.

 

© Johann Lodewyk Marais. November 2010 

 

*

 

KONING LEOPOLD II

 

Die bloedjong hertog van Brabant

dra uniform en ‘n baard

om bejaarde senatore

te wen vir sy sake en aard.

 

Die ondernemende koning

regeer die Kongo met ‘n sweep

en behou vanuit België

sy onbarmhartige greep.

 

Toe hy in Brussel te perd ry

na verminkte hande se boog

stapel op Antwerpen se kaai

rubber en ivoor hemelhoog.

 

© Johann Lodewyk Marais. Okt. 2010

 

 

 

IBN BATTútA               

                        1330

In ‘Aden seën hy die koopliede

uit Kinbáyat, Kawlam en Cálicút

en seil met ‘n jalba langs die kus af

via die stinkende Berberstad Zayla‘

waar kamele op straat geslag word

en verder suid tot by Moqdashaw.

 

In die hawe ontvang sumbuqe hom

en as gas van die qádi bring ‘n slaaf

skottels betelblare, pienangneute

en provisie uit die Shaykh se paleis.

Ná die jumaa stap hy onder sonkappe

met goue voëls versier na ‘n feesmaal.

 

Gelukkig is jy onder die stede,

Mombasá, want ook hier kom hy oornag

en van die ryke vis en piesangs eet.

Die vromes, eerlikes en opregtes

sien hy raak en bekyk die houtmoskees

voordat hy sy reis na Kulwá aanpak.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010

 

 

 

NELSON MANDELA

                       

Jare lank al weier u om te swig

by Mvezo oorkant die Mbashe.

Ek was u voete in hierdie gedig.

 

Hier het u voorvaders ‘n kraal gestig

en het u u heel eerste tree gegee.

Jare lank al weier u om te swig.

 

Bedags het u gedroom van stedelig

terwyl u drentel agter spikkelvee.

Ek was u voete in hierdie gedig.

 

Ver hiervandaan was iets duisters in sig

toe u leer van mense se bitter wee.

Jare lank al weier u om te swig.

 

Hulle – mý mense – het u selfs verplig

om na dié te luister wat op u skree.

Ek was u voete in hierdie gedig.

Toe u uit die donker kom na die lig

het u met ons nasie ‘n band gesmee.

Jare lank al weier u om te swig.

Ek was u voete in hierdie gedig.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010

 

 

 

REISIGERSBOOM

Ravenala madagascariensis

 

Met my aankoms by die hotel

word die geraamde skildery

van Marianne North by ontvangs

‘n teken dat ek weer tuis is.

 

Dié boom met blare uitgesprei

soos ‘n groot Chinese waaier

vang in sy oksels water op

waarmee hy reisigers verkwik.

 

Maar in my verbeelding reis ek

verder na ‘n warm eiland

waar ‘n lemur met sy spits bek

die waswit blomme binnedring.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Sept 2010

 

 

 

Heilige skrif

                        Mombasa

 

Die vrou wat onder die tamarinde

die Qur’ān sit en lees, keer my opsluit

wanneer ek buk en met my wysvinger

aan die mooi karakters voor haar wil raak.

Sy gru en hou haar hande beskermend

oor die letters wat vir haar heilig is.

“Elke ayat is wonders en tekens

en het net so uit die hemel gekom,”

sê sy en prewel Mohammed se gebod.

Ek verkyk my aan die boek en bemerk

die arabeskpatrone wat die son

deur die boomtakke en -blare teken.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Augustus 2010

 

 

 

DIE BREIN

 

Die grootte van die brein kan akkuraat

bepaal word deur droë kanariesaad

deur die tregter van die rugmurgkanaal                

te laat invloei tot elke hoek en draai                                

volgeloop het en mens dit gaan afweeg               

op ‘n haarfyn gekalibreerde skaal.                                   

Só beskryf Phillip V. Tobias dit.                          

Maar wat vermag ek met die afmetings               

van dié doodse skedelholte waar taal                              

wortelgeskiet het en ánder klanke

soos bewerkte klip deur ‘n spleet kan val?                                   

Of is spraak ‘n anatomiese kwaal?

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010

 

 

 

FOSSIELJAGTER

 

Gaan roep Kamoya Kimeu

in sy huis tussen die mielies

sodat hy die Turkanameer

se oewers deeglik kan bekyk

 

en op hierdie songebakte

gryslandskap die spore kan kry

van die eerste regop wese

wat ons aanmekaar wil las.

 

Kyk na Kamoya Kimeu

met sy oë stip op die grond

voor hom: hy soek ‘n beentjie hier,

‘n beentjie daar en, ja, siedaar!

 

Hier op die droë rivierwal

het ‘n soetdoringboom sowaar

gestam uit ‘n goed bewaarde,

klam Homo erectus-skedel.

 

Jy kan nou gerus huis toe gaan,

Kamoya Kimeu, dis laat

en ons gaan hierdie klong nog lank

van alle kante ondersoek.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010

 

 

 

OLIFANT

Loxodonta africana

 

“Kom ons laat die olifante met rus,”

stel sy voor ná die soveelste verwyt.

“Daaroor en oor die dood van Diana

het in gesprekke te veel bloed gevloei.

Ek het al gesien hoe olifante

bome en struike breek en hooghartig

oor die Wildtuin se paaie voortdrentel

sonder om ‘n enkele blaar te vreet.

Laat die jagters maar onder hulle maai!

Jammer om te sê,” gaffel sy na my,

“maar waarom moet húlle grootkop kry

en doen net wat hulle wil? Vergeet jy

al die mooi plante wat hulle verniel?

‘n Mansmens wat soos ‘n paparazzo

halflyf by sy venster uitgehang het

toe ek na die soveelste trop moes staar,

het byna in my motor vasgery.

Waarom olifante se lof trompet?”

 

 

© Johann Lodewyk Marais. November 2009

 

 

 

KOURIE

Cypraea mappa

 

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,

selfs die binnekant in detail verbeeld

en voor die leser se oë laat leef.

Ek het met verwondering geluister.

Tuis het ek die skulp in my hand geneem,

hom om en om gedraai en goed bekyk.

Hoe moet ek te werk gaan as ook ek

dié sieraad uit die see nou wil vereer?

Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek

om meer oor die oseane, vorm

en gedrag van dié boorling van Pemba

te lees voor ek ‘n woord op papier sit?

Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,

in sy binneste inkyk, notas maak

en sy samestelling deeglik vasstel?

Moet ek die man in Maputo loop pols

by wie ek hom vir ‘n hand vol munte

van die hoop voor sy voete gekoop het?

Of moet ek hom liewer teen my oor druk

en luister of hy self iets te sê het?

Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

 

 

 © Johann Lodewyk Marais.  Junie 2009

 

 

 

FRANSKRAAL

 

[V]er van elke Jan Rabie en sy maat.

                                                D.J. OPPERMAN

Op die strand

raak ek verstrooi

oor ‘n stuk Japannese net

met ‘n grootmalmok

in die maas verstrik.

 

Met my knipmes

wil ek die heerser van die wind

lossny vir my versameling,

maar die reuk van die dood

dryf my terug.

 

Verder weg tel ek op:

‘n meermin-se-beursie,

‘n seekomkommer,

‘n  lampskulp

en ‘n stuk spons.

 

Op ‘n rots sien ek

‘n man met ‘n visstok

afgeëts teen die melkhout

en gaan nader om te groet:

 

“Dr. Opperman, veronderstel ek?”

 

 

© Johann Lodewyk Marais. Junie 2009

Bookmark and Share