Jolyn Phillips

Jolyn Phillips

Jolyn Phillips het grootgeword in Gansbaai in die Wes-Kaap. Sy is ‘n Mandela Rhodes beurshouer en verwerf die MA in Kreatiewe Skryfkuns by UWK. Radbraak (H&R, 2017) is Jolyn Phillips, kortverhaalskrywer van Tjieng tjang tjerries, se digdebuut in Afrikaans. In dié digbundel verbrokkel sy taal, draai sy die rug op haar vel-taal, pleeg sy ‘radbraak’ op haar eie taal.

Dit is die enigste medium wat sy het, maar sy breek dit, sy vernuwe dit, sy ‘ont’taal dit. Phillips is ’n nuwe stem in Afrikaans – by tye liries maar deurgaans skreiend en ook uitdagend. Volgens die bekroonde digter Petra Müller is Radbraak ’n ‘klein aardbewing van ’n bundel. Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.’

my ma in C-majeur

.

sy het net haar stem

wat uit haar hande sing

die nette stitch

do

re

mi

fa

never-ending

so

la

ti

do

sing sy uit haar hande

my ma laat my dink aan see-majeur

sonder sharps of flats

die maklikste die mooiste

omdat dit so skoon is

sy fluit die vis tot byt

haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son

vir die golwe want haar seun fluit êrens

sy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar

.

[Uit: Radbraak, Human & Rousseau, 2017]

.

Bookmark and Share