julian de wette
|
Julian de Wette was byna 30 jaar lank in die buiteland voordat hy weer na Suid-Afrika teruggegeer het. Sedertdien is hy op Napier in die Overberg woonagtig. Tydens sy verblyf in die buiteland het hy sy studies afgehandel en was hy in diens van die Verendigde Nasies in onder andere New York, Windhoek, Londen, en Bonn. Sy eerste digbundel, Koning in die buiteland, is in 1976 uitgegee. In 1982 volg Verban: Verbinne en in 2002 Tussen duine gebore. |
Op Viljoenshof se stukkie rivier
Kyk hoe die visarend skielik die waters roer
‘n traerige in haar kloue gryp
uitreis bo die Breërivier
oor ‘n kwiksilwerding kom seëvier.
Meteens lê die troebel water weer stil –
fyn kreukels platgestryk –
verskerp deur die son lui die voël se gil.
Skaam is sy – selde kom die visarend weer
na waar die oog dit wil sien, waar die hart dit begeer.
Voordat ek die reuk van vis kan kry
verbeel ek my glad hoe die visarend vlie
van bo oor die wingerd tot digby die see
na die nes van takkies met mis vasgewerk
waar sy die angs op ‘n krans balanseer
haar arendjie voed vir die soveelste keer.
Uit: Versindaba 2006, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2005






