karen de wet

Karen de Wet

Karen de Wet

Karen de Wet woon in Heidelberg aan die Suikerbosrand, maar het mens geword op Tuinplaas, Springbokvlakte en in die letterkunde en inligtingkunde studeer aan die Universiteit van Pretoria. Twee studies vind hieruit neerslag: ‘n oeuvrestudie oor Joan Hambidge se poësie (tot op daardie stadium!) onder die titel Ars poëtiese solipsisme: ‘n Padkaart van Joan Hambidge se poësie (MA, 1990) en Eiendoms Onbeperk: Die onvoltooide groot gesprek met DJ Opperman in die Afrikaanse poësie (1995) waarin ondersoek ingestel word na sisteemteoretiese netwerke en die intertekstuele neerslae en uitlopers daarvan in en deur die poësie. Sy gee klas in die Afrikaanse poësie aan die NWU (Vaaldriehoek), UP en ook vir ‘n salige semester as gasdosent aan die KUL (Leuven). Later werk sy as vryskut letterkundige en tree ook op as keurder, resensent en poësieredakteur (veral manuskrip ontwikkeling vir Protea, 2001-2008) en as beoordelaar vir poësiekompetisies (LitNet, Proteaprys, skool- en universiteitskompetisies). Sy tree op by Versindaba 2005 en by die Woordfees. Van haar gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme 3 (Krog en Schaffer, 2005), Honderd jaar later (JL Marais, 2005) en Groot Verseboek (Brink, 2008). Al wat oorbly is om Antjie Krog aan te haal: “Om te kan asemhaal, asemhaal, asemhaal / was taal nog nooit nutteloos of prutsel nie, maar al.”

 

navigasieliniaal

 

A pilot is never lost,

maybe sometimes a little unsure about his current position.

 

gebuk oor die papier, geboeid, verdiep, sit jy

met lyne wat strak en reguit onder jou hand uit gly.

koersvaste lyne omgekeerd in wit op die swart papier –

swart soos die lug bo die saterdagnagse see voor my.

 

die bewus afgemete orde, die feillose rigting van jou lyne

roep ou sepia skeepskaarte vol vergane name

in my op, die aaneengestringde stippels van sterrebeelde

met die blote oog uit die lug gehaal deur antieke hande:

 

orion se belt onder die boog om die heupe ingegord

die drie blink susters standvastig op ’n ry

die teenpool van jou noord: my suiderkruis se punt.

 

tussen die wilde flarde wolk met sterre aan mekaar gestik

kom meld jou vaste skale teen ononderhandelbare knope aan.


kyk, ‘n liniaal om mee te navigeer,

wat ek ontwerp. akkurate instrument vir as ek vlieg.

 

liniaal vir ‘n vlugkaart van vooraf vasgestelde skaal.

en op voorwaarde luister jy mooi, sien jy, mits …

– altyd die beslissende vereiste van voorwaarde by –

die loods moet, teen net mooi 90 knope konstant,

só moet hy aan die stuur in vlug kan bly.

 

en die tyd, ook die tyd keer jy om op sy kop.

die tyd dui nou – minute en sekondes se aftik lank

voor stop – die lengte, nie die duur nie,

van die reis se presies bepaalbare afstand aan. 

 

skaal, snelheid, afstand, tyd. wys jy my.

maar vanwaar sal die vlieënier dan sy rigting kry?

 

wag, ek teken nog

 

die honderdentagtig bene van ’n hele halfrond vol

sprei stelselmatig onder die fokus van jou oë uit:

navigasieliniaal om op te rig – vir dié in vlug.

met die gradeboog siamees versmelt onderaan

gehang – op pad na uitswel soos die halfpad vol,

half op pad na uitloop, najaarsmaan.

 

kyk, die gradeboog is vir rigting meet

ja, die ophaal van die koers waarop jy gaan, ek weet.

 

onder die lamp by jou tekentafel sit jy saans:

vindingryke vlieër in die ban van syfers en formules

– streng reëls wiskundige berekeninge

stromende rye vermenigvuldigingsom –

met voor oë net dit: uiteindelike blote stukkie

meetmiddel, met laser ingebrand op perspex of plastiek.

bereken, teken, bymekaar bring, bou:

rigtinggewende instrument om in die lug op te vertrou.

 

en vervlietend brand die heelal van ’n ster

skitterend in ’n blinkende boog laaste vertoon

bo die spieëlswart see voor my oë tot niet.

 

© Karen de Wet. April 2010

 

 

33 Winery Road 

vir hk  11/11/2002

 

In die gekaapte stad van wind en verwagting kom jy my

teen skemer haal om al met Winery Road langs te ry na

die 33ste breedtegraad suid waar ons die noordelike kreeftegang

vannag vir die steenbok se hoë fluitroep uit die klowe sal verruil

as jy drieendertig word langs die binnehof se fontein terwyl

ons voor die berg se hooghartige oog uit lang suiltjies

breekbare glas spaanse pelgrimscava stadig sit en proeend drink.

Jy gee vir my jou naam aan. En bly diep deur die nanag

soos hartklop van leef aan die lag. Miskien,

sê jy later, en vee die verf van jou Pierrot-gesig,

is hierdie teater, en ons in die kollig.

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

altlied

            vir Griet

           

dis die geel kombuis met die kroegstoeltjies in
en die gemmerkleur kat met die stert wat swiep

dis ’n afgrond se stilte wat die nanag in verdiep.


dis die voëltjie-oë vrou wat met skraal skouers staan

en die tyd met haar hande soos deur ’n tregter laat gaan,

dis die opgediepte klanke van ’n baie ou lied.  

dis die gedempte groen glim van jong suurlemoen

en die onsigbare wit rook van ’n kers sonder vlam

dis die gestadigde draal van ’n woordelose psalm.

 

            die vrou begin resoneer. soos menstrueer.

            huiweringloos en helder en diep.

            in ’n altlied. ’n oerlied. vanuit been en van bloed.

 

            en daar kom die man met die skewe arm aan

            kom suutjies en gewoon dit net sê:

            Jy sing omdat jou hart nie kan gaan lê.

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

die see is ’n man

 

geagte a. krog,

(wat antjie samuels is. antjie somers.

antjie afrika. antjie als alreedsgesê.)

 

ja, jy’s reg, die see is ’n man,

dié kon ek jou ook sê.

oor ek dit ook weet –

by cape vidal gesien. en jare gelede al.

self. en bloedstollend alleen.

en tot in die murg van brein (daar ís so iets) ingegrein:

 

dat die see breed en bulky is.

breed gebors. en bonkig. en nors.

soos man.

 

en nou kom staan jy dit kliphard en sê

asof mens alleenreg op so ’n openbarende waarneming sou kon hê.

 

en in elk geval: glasgroen is van lánk al af

my woord vir die kleur van oorhellende dungeslyte brander,

vir die deursigtige, seepglad geslypte bottelstuk van water

 

en toe ék lank terug

speletjies maak met die name van konsonante

wat skuur soos frikatief en lispel soos lateraal,

het literator dit teruggestuur.

 

so, nou kom jy (weer, en weer, en weer – soos die jagse kater)

wys (en boonop in volkleur)

dat jy tot op die been van elke enkele liewe blote letter kan ontman.

 

ek is die swye opgelê.

en ek búlk daarvan.

 

Antjie Krog – “die see is ’n man”; en “liefdeswoord” uit Kleur kom nooit alleen nie.

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

 

 

Herfsbrief

            vir Abraham

 

Die vrou gaan sit teen smiddags daar

waar ’n strepie son haar skouers kan vang

– want die asem van die wind is dun –

gaan sit in stilte en afsondering

tussen skaduwees en son: die melodie van gesang.

 

En skielik is hy by.

Hallo, sê sy gewoon vir hom.

Oor hy onopvallend soos hoort bloot aangeloop kom.

 

kyk, sê sy, kyk die herfs

het deur die naweek aangereën gekom –

die verbleikte smal blare van die kanferfoelieblom

lê nat en oopgevou: formeel versende kennisgewings

wat gladgereën en geel berig oor die seisoen se wentelings.

 

kyk, die dae raak omhang met ’n helderheid:

een van eerbied en een van onbevangendheid

en tog is dit ook reeds koud

(met ’n verbete klam koue soos wat uit graftes opslaan

middeleeus en deurdringend soos groenspaan)

in hierdie heldere herfs

hierdie singende seisoen

 

waarvan die toonaard bly meng en moduleer

van elegie na rapsodie na …

 

Ja, dit is so, hierdie herfs staan nog in sluiers gevou,

dink die skrywende vrou

sy voel reeds die waarskuwing van voorwêrelde

die gerugte gedra vanaf veraf ysvelde

deur ’n middernagse wind wat wild in die strate hou.

 

So sit die vrou en brief skryf daar

in die holte van die dagende herfs

sit sy gekoester daar en skryf

van die lied in die lug en die sang in haar lyf

(van die geel strale son versigtig soos vingers

van die voorlopige herfs skugter soos kinders)

 

en met ’n naklank wat syferend deur die voorjaar bly swerf.

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

jan rabie (“liefelike radyse in die hande”) is dood

 

buite skif die son

bloedrooi en syferend deur

die smal skeurtjie van skalpelwond

in die magnesium verligte swart vel

van swael en van wolk.

 

lê die slaughter-beelde van Ondaatje en lees

midde die dreigende teenwoordigheid van donderweer

waarvan die klank versmelt met die verskrikking

van slagoffers wat, asof gekruisigd, met bridge nails

in ou teer vasgenael gelaat word. dit bewoon my steeds. en

 

janrabie (“liefelike radyse in die hande,” so iets, sê Gert lank terug) isdood.

 

dis die nag van die ooms.

dis die era van verval.

dis die dae van verset (en vergeet).

(en hoogdrawende absolute nie vergeef nie.)

 

met haar hare wat argeloos oor haar skouers val

wild en ongetemd aan die groei.

soos radyse. soos rape. soos liane.

(en iewers sou rawe ook hier in moes kon kom.

die roofsugtige voëls met die geel gepunte

die vlymskerp lemme van skinderende

bekke – en veragtelik al asende.)      

 

wat teen die einde nog net plek

vir die lafhartige after thought laat:

(cope jy nog? met my? met my?

hy doen nie. hy doen nie. weet sy.)

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

Mount Sheba

 

Hier ry die lug die berge bloots

en stoot die mis melkerig wit

op uit die aarde se deinende skoot,

boog die koepel van die nag in ’n sterlose git.

 

Hier drup die waterval smôrens yl stoppels

baard teen die kloof se gladde hellings wang

as die loerie se koeëlronde druppels

klank, nat gesmeer soos oog, aan die stilte kom hang.

 

Die heelal word hier ‘n onmeetlikheid van bloue lug

‘n op-galop rit oor die berg se blootsgeryde rug. 

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

van die miskende lover (sukkelende musiekstudent, soos dit is)

aan die afgetrede (dog steeds hooghartige) virtuose violis

 

ek moet weer vir jou kindbriewe skryf.

en hierdie keer oor Kolya.

oor ’n kind wat ’n oorskulp raak kan vat,

wat van sprokies aan die slaap kan raak –

tot jy hom ’n besetter sien salueer en jou rug op hom keer.

’n klein russiese seuntjie wat die tsjeggiese woorde

van die sopraan se begrafnislied

(dag in en dag uit kremasies moes bywoon

waar jy skamele brood en fluitende tee

met kerkmusiek vir die ontslapenes verdien)

in ’n yl kinderstemmetjie sing

(seunstemmetjie, fluisterende seunsopraan)

as hy terug na die eie toe moet gaan

en in die enorme anonieme buik

van ’n vliegtuig slegs die wasem van ’n handafdruk

teen die klein blokkie dubbele laag perspexruit

(soos die versugting na telefoniese slaaptyd verhaal)

vir jou agter kan laat –

maar eers wanneer jy dit nie meer kan sien nie.

daar waar jy in die dolleë vertreksaal

stokalleen tsjegs met jou viool en trots praags staan.

in die doodse stilte met net jou viool,

en penorent soos afgewysde strykstok, staan.

net staan.

 

© Karen de Wet. 2004

 

 

 

 

Sitges

 

In die son, een spierwit wintersondag in Spanje

 

            Allerheilige dag van naeltjies, olywe en rosyne,

            Todos dos Santos van ou vroutjies in swart

            met blomme in selofaan geklem: vooroor

            op die steil en uitgetrapte klippepad na bo

            waar lang en uitskuif aluminiumlere  

            teen die kalkommuurde kerkhof vol grafskrifte

            en die vergulde letters van vergane name

            woordeloos wit en skadulos staan en wag;

 

in die son op die een November van koelte en wind

en daglang bemin deur die deinende groen skuim

van die eindeloos speelse see

 

het ek op Sitges se nat klein mondjie kaalbaaistrand

van jou naam vergeet.

 

(geweet, geweet)

 

En die maan was wit. En het afgenerf.

Soos nael. Soos die swartgat duike

in die wit melkweg van ou emaljeverf.

 

© Karen de Wet. 2004

 

Bookmark and Share