karen de wet
|
Karen de Wet woon in Heidelberg aan die Suikerbosrand, maar het mens geword op Tuinplaas, Springbokvlakte en in die letterkunde en inligtingkunde studeer aan die Universiteit van Pretoria. Twee studies vind hieruit neerslag: ‘n oeuvrestudie oor Joan Hambidge se poësie (tot op daardie stadium!) onder die titel Ars poëtiese solipsisme: ‘n Padkaart van Joan Hambidge se poësie (MA, 1990) en Eiendoms Onbeperk: Die onvoltooide groot gesprek met DJ Opperman in die Afrikaanse poësie (1995) waarin ondersoek ingestel word na sisteemteoretiese netwerke en die intertekstuele neerslae en uitlopers daarvan in en deur die poësie. Sy gee klas in die Afrikaanse poësie aan die NWU (Vaaldriehoek), UP en ook vir ‘n salige semester as gasdosent aan die KUL (Leuven). Later werk sy as vryskut letterkundige en tree ook op as keurder, resensent en poësieredakteur (veral manuskrip ontwikkeling vir Protea, 2001-2008) en as beoordelaar vir poësiekompetisies (LitNet, Proteaprys, skool- en universiteitskompetisies). Sy tree op by Versindaba 2005 en by die Woordfees. Van haar gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme 3 (Krog en Schaffer, 2005), Honderd jaar later (JL Marais, 2005) en Groot Verseboek (Brink, 2008). Al wat oorbly is om Antjie Krog aan te haal: “Om te kan asemhaal, asemhaal, asemhaal / was taal nog nooit nutteloos of prutsel nie, maar al.” |
navigasieliniaal
A pilot is never lost,
maybe sometimes a little unsure about his current position.
gebuk oor die papier, geboeid, verdiep, sit jy
met lyne wat strak en reguit onder jou hand uit gly.
koersvaste lyne omgekeerd in wit op die swart papier –
swart soos die lug bo die saterdagnagse see voor my.
die bewus afgemete orde, die feillose rigting van jou lyne
roep ou sepia skeepskaarte vol vergane name
in my op, die aaneengestringde stippels van sterrebeelde
met die blote oog uit die lug gehaal deur antieke hande:
orion se belt onder die boog om die heupe ingegord
die drie blink susters standvastig op ’n ry
die teenpool van jou noord: my suiderkruis se punt.
tussen die wilde flarde wolk met sterre aan mekaar gestik
kom meld jou vaste skale teen ononderhandelbare knope aan.
kyk, ‘n liniaal om mee te navigeer,
wat ek ontwerp. akkurate instrument vir as ek vlieg.
liniaal vir ‘n vlugkaart van vooraf vasgestelde skaal.
en op voorwaarde luister jy mooi, sien jy, mits …
– altyd die beslissende vereiste van voorwaarde by –
die loods moet, teen net mooi 90 knope konstant,
só moet hy aan die stuur in vlug kan bly.
en die tyd, ook die tyd keer jy om op sy kop.
die tyd dui nou – minute en sekondes se aftik lank
voor stop – die lengte, nie die duur nie,
van die reis se presies bepaalbare afstand aan.
skaal, snelheid, afstand, tyd. wys jy my.
maar vanwaar sal die vlieënier dan sy rigting kry?
wag, ek teken nog
die honderdentagtig bene van ’n hele halfrond vol
sprei stelselmatig onder die fokus van jou oë uit:
navigasieliniaal om op te rig – vir dié in vlug.
met die gradeboog siamees versmelt onderaan
gehang – op pad na uitswel soos die halfpad vol,
half op pad na uitloop, najaarsmaan.
kyk, die gradeboog is vir rigting meet
ja, die ophaal van die koers waarop jy gaan, ek weet.
onder die lamp by jou tekentafel sit jy saans:
vindingryke vlieër in die ban van syfers en formules
– streng reëls wiskundige berekeninge
stromende rye vermenigvuldigingsom –
met voor oë net dit: uiteindelike blote stukkie
meetmiddel, met laser ingebrand op perspex of plastiek.
bereken, teken, bymekaar bring, bou:
rigtinggewende instrument om in die lug op te vertrou.
en vervlietend brand die heelal van ’n ster
skitterend in ’n blinkende boog laaste vertoon
bo die spieëlswart see voor my oë tot niet.
© Karen de Wet. April 2010
33 Winery Road
vir hk 11/11/2002
In die gekaapte stad van wind en verwagting kom jy my
teen skemer haal om al met Winery Road langs te ry na
die 33ste breedtegraad suid waar ons die noordelike kreeftegang
vannag vir die steenbok se hoë fluitroep uit die klowe sal verruil
as jy drieendertig word langs die binnehof se fontein terwyl
ons voor die berg se hooghartige oog uit lang suiltjies
breekbare glas spaanse pelgrimscava stadig sit en proeend drink.
Jy gee vir my jou naam aan. En bly diep deur die nanag
soos hartklop van leef aan die lag. Miskien,
sê jy later, en vee die verf van jou Pierrot-gesig,
is hierdie teater, en ons in die kollig.
© Karen de Wet. 2004
altlied
vir Griet
dis die geel kombuis met die kroegstoeltjies in
en die gemmerkleur kat met die stert wat swiep
dis ’n afgrond se stilte wat die nanag in verdiep.
dis die voëltjie-oë vrou wat met skraal skouers staan
en die tyd met haar hande soos deur ’n tregter laat gaan,
dis die gedempte groen glim van jong suurlemoen
en die onsigbare wit rook van ’n kers sonder vlam
dis die gestadigde draal van ’n woordelose psalm.
die vrou begin resoneer. soos menstrueer.
huiweringloos en helder en diep.
in ’n altlied. ’n oerlied. vanuit been en van bloed.
en daar kom die man met die skewe arm aan
kom suutjies en gewoon dit net sê:
Jy sing omdat jou hart nie kan gaan lê.
© Karen de Wet. 2004
die see is ’n man
geagte a. krog,
(wat antjie samuels is. antjie somers.
antjie afrika. antjie als alreedsgesê.)
ja, jy’s reg, die see is ’n man,
dié kon ek jou ook sê.
oor ek dit ook weet –
by cape vidal gesien. en jare gelede al.
self. en bloedstollend alleen.
en tot in die murg van brein (daar ís so iets) ingegrein:
dat die see breed en bulky is.
breed gebors. en bonkig. en nors.
soos man.
en nou kom staan jy dit kliphard en sê
asof mens alleenreg op so ’n openbarende waarneming sou kon hê.
en in elk geval: glasgroen is van lánk al af
my woord vir die kleur van oorhellende dungeslyte brander,
vir die deursigtige, seepglad geslypte bottelstuk van water
en toe ék lank terug
speletjies maak met die name van konsonante
wat skuur soos frikatief en lispel soos lateraal,
het literator dit teruggestuur.
so, nou kom jy (weer, en weer, en weer – soos die jagse kater)
wys (en boonop in volkleur)
dat jy tot op die been van elke enkele liewe blote letter kan ontman.
ek is die swye opgelê.
en ek búlk daarvan.
Antjie Krog – “die see is ’n man”; en “liefdeswoord” uit Kleur kom nooit alleen nie.
© Karen de Wet. 2004
Herfsbrief
vir Abraham
Die vrou gaan sit teen smiddags daar
waar ’n strepie son haar skouers kan vang
– want die asem van die wind is dun –
gaan sit in stilte en afsondering
tussen skaduwees en son: die melodie van gesang.
En skielik is hy by.
Hallo, sê sy gewoon vir hom.
Oor hy onopvallend soos hoort bloot aangeloop kom.
kyk, sê sy, kyk die herfs
het deur die naweek aangereën gekom –
die verbleikte smal blare van die kanferfoelieblom
lê nat en oopgevou: formeel versende kennisgewings
wat gladgereën en geel berig oor die seisoen se wentelings.
kyk, die dae raak omhang met ’n helderheid:
een van eerbied en een van onbevangendheid
en tog is dit ook reeds koud
(met ’n verbete klam koue soos wat uit graftes opslaan
middeleeus en deurdringend soos groenspaan)
in hierdie heldere herfs
hierdie singende seisoen
waarvan die toonaard bly meng en moduleer
van elegie na rapsodie na …
Ja, dit is so, hierdie herfs staan nog in sluiers gevou,
dink die skrywende vrou
sy voel reeds die waarskuwing van voorwêrelde
die gerugte gedra vanaf veraf ysvelde
deur ’n middernagse wind wat wild in die strate hou.
So sit die vrou en brief skryf daar
in die holte van die dagende herfs
sit sy gekoester daar en skryf
van die lied in die lug en die sang in haar lyf
(van die geel strale son versigtig soos vingers
van die voorlopige herfs skugter soos kinders)
en met ’n naklank wat syferend deur die voorjaar bly swerf.
© Karen de Wet. 2004
jan rabie (“liefelike radyse in die hande”) is dood
buite skif die son
bloedrooi en syferend deur
die smal skeurtjie van skalpelwond
in die magnesium verligte swart vel
van swael en van wolk.
lê die slaughter-beelde van Ondaatje en lees
midde die dreigende teenwoordigheid van donderweer
waarvan die klank versmelt met die verskrikking
van slagoffers wat, asof gekruisigd, met bridge nails
in ou teer vasgenael gelaat word. dit bewoon my steeds. en
janrabie (“liefelike radyse in die hande,” so iets, sê Gert lank terug) isdood.
dis die nag van die ooms.
dis die era van verval.
dis die dae van verset (en vergeet).
(en hoogdrawende absolute nie vergeef nie.)
met haar hare wat argeloos oor haar skouers val
wild en ongetemd aan die groei.
soos radyse. soos rape. soos liane.
(en iewers sou rawe ook hier in moes kon kom.
die roofsugtige voëls met die geel gepunte
die vlymskerp lemme van skinderende
bekke – en veragtelik al asende.)
wat teen die einde nog net plek
vir die lafhartige after thought laat:
(cope jy nog? met my? met my?
hy doen nie. hy doen nie. weet sy.)
© Karen de Wet. 2004
Mount Sheba
Hier ry die lug die berge bloots
en stoot die mis melkerig wit
op uit die aarde se deinende skoot,
boog die koepel van die nag in ’n sterlose git.
Hier drup die waterval smôrens yl stoppels
baard teen die kloof se gladde hellings wang
as die loerie se koeëlronde druppels
klank, nat gesmeer soos oog, aan die stilte kom hang.
Die heelal word hier ‘n onmeetlikheid van bloue lug
‘n op-galop rit oor die berg se blootsgeryde rug.
© Karen de Wet. 2004
van die miskende lover (sukkelende musiekstudent, soos dit is)
aan die afgetrede (dog steeds hooghartige) virtuose violis
ek moet weer vir jou kindbriewe skryf.
en hierdie keer oor Kolya.
oor ’n kind wat ’n oorskulp raak kan vat,
wat van sprokies aan die slaap kan raak –
tot jy hom ’n besetter sien salueer en jou rug op hom keer.
’n klein russiese seuntjie wat die tsjeggiese woorde
van die sopraan se begrafnislied
(dag in en dag uit kremasies moes bywoon
waar jy skamele brood en fluitende tee
met kerkmusiek vir die ontslapenes verdien)
in ’n yl kinderstemmetjie sing
(seunstemmetjie, fluisterende seunsopraan)
as hy terug na die eie toe moet gaan
en in die enorme anonieme buik
van ’n vliegtuig slegs die wasem van ’n handafdruk
teen die klein blokkie dubbele laag perspexruit
(soos die versugting na telefoniese slaaptyd verhaal)
vir jou agter kan laat –
maar eers wanneer jy dit nie meer kan sien nie.
daar waar jy in die dolleë vertreksaal
stokalleen tsjegs met jou viool en trots praags staan.
in die doodse stilte met net jou viool,
en penorent soos afgewysde strykstok, staan.
net staan.
© Karen de Wet. 2004
Sitges
In die son, een spierwit wintersondag in Spanje
Allerheilige dag van naeltjies, olywe en rosyne,
Todos dos Santos van ou vroutjies in swart
met blomme in selofaan geklem: vooroor
op die steil en uitgetrapte klippepad na bo
waar lang en uitskuif aluminiumlere
teen die kalkommuurde kerkhof vol grafskrifte
en die vergulde letters van vergane name
woordeloos wit en skadulos staan en wag;
in die son op die een November van koelte en wind
en daglang bemin deur die deinende groen skuim
van die eindeloos speelse see
het ek op Sitges se nat klein mondjie kaalbaaistrand
van jou naam vergeet.
(geweet, geweet)
En die maan was wit. En het afgenerf.
Soos nael. Soos die swartgat duike
in die wit melkweg van ou emaljeverf.
© Karen de Wet. 2004






