Kobus Lombard
|
Kobus Lombard is in 1952 in Waterval-Boven gebore en het as ’n aangenome kind – uit die Maria Klopper-kinderhuis – in Gobabis, Namibië grootgeword. Nadat hy matrikuleer in Windhoek aan die hoërskool Jan Möhr, voltooi hy sy verpligte diensplig in die SA Lugmag. Hy studeer in die handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en doen sy nagraadse studie in sielkunde deur UNISA. Sy loopbaan begin in Kaapstad en hy verhuis in 1980 terug na Namibië. Tans is hy werksaam by die Stadsraad van Windhoek as opleidingsbestuurder en is getroud met Zouna, gebore Joubert. Sy debuut bundel. ‘Geknipte naelstring’, word uitgegee deur Protea Boekhuis in 2001 waarvoor hy in 2003 die kortlys haal vir die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede bundel, ‘Tussen wysvinger en duim’ en sy derde bundel, ‘Vlerke vir my houteend’ verskyn onderskeidelik in 2005 en 2010, ook beide uitgegee deur Protea Boekhuis. |
Uitsoeklê
in die skoot van hierdie dorsland
kan julle my neerlê en telkens
as die blare van ’n geelhout ritsel
of ’n jakkals roep na sy maat
agter die kam van die verste duin
sal ek knus my beendere omdraai
om verder te rus
(Uit:Tussen wysvinger en duim, Protea Boekhuis 2005)
Wegskryf
hoe ver van jou tong
kan jy die bloed
van ’n oop wond proe
hoe ver van jou oog
kan die beeld
op jou geel vlek val
hoe ver van die sweepklap
kan jou pen se op en neer
met jou oortrom resoneer
skrywer
hoe ver van jou lyf
kan jy dit waag
sonder dat die leser
die doodsreuk kry
(Uit: Vlerke vir my houteend, Protea Boekhuis 2010)
Blinde geloof
hoe betwyfel jy die god
wat met moedersmelk
jou dors geles het
almal se god is goed
almal se god word kwaad
elke god het ’n hemel
elke god het ’n boek
dat jou moeder se melk
van die lewende God drup
bly helaas
’n kwessie van geloof
(Uit: Vlerke vir my houteend, Protea Boekhuis 2010)






