loftus marais

 

Loftus Marais

Loftus Marais

Loftus Marais is in 1982 gebore. Hy het in die Paarl grootgeword en het ’n MA-graad in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde (cum laude)  aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy verse is in Nuwe stemme 3, My ousie is ’n blom en Tydskrif vir letterkunde gepubliseer. In 2008 verskyn sy debuutbundel Staan in die algemeen nader aan vensters waarvoor hy die Eugéne Marais-prys, Universiteit van Johannesburg-debuutprys en Ingrid Jonker-prys ontvang het. As vryskutjoernalis het ’n hele paar letterkunde-artikels in verskeie publikasies onder sy naam verskyn. Hy het by NB Uitgewers in die Kaap gewerk, maar werk tans  weer op vryskutbasis. 

 

Hawe

 

kapenaar, leser, wieookal, só haal die geboude wêreld homself

uitmekaar

kyk daar: die laaikrane is die stad se enigste eerlike torings

gebeenterig maar ook kinderlik die kleure

van candy canes

besig met inpak of losmaak en die weeg van aankoms/vertrek

sonder drama

sonder die kitsch en stralende eindervaarwelle

van bv. o wee die betraande emigrante van weleer

(eerder die see se rand nes gehamerde staal)

slegs die sopperigste digter

sien die wuif van sakdoekies

in stukke plastieksakke gehaak aan die omheinings, want hierso

slyt en kraak die enorme dinge

            en enigiets kan geweeg, belas, gegee word

                        aan die geskuif van masjiene en getye

“Please note: This is a loading zone.       Parking

at own risk.”

            ’n stad wat uit homself uit verhuis:

kratte en bakke en tenks, trokke

is lego gestapel

sodat die laat kapitalisme homself êrens anders  

weer kan inmekaarsit

ja, die onderdele van stede in skure, maar hierso

blink dit nie, want die weelderigheid behoort

aan die see

tog ook net sóms lyk haar helder gegly van afstand

na iets belangriks, meestal net

’n tipe fondament

vir die hawe se geloof in vertikale:

lere

maste

spreiligte se pale

                        skaduweestrepe word breër en breër in riffelsink

en dan, hoe die wêreld hier klink

die klank van kettings, ’n roep, ’n roep, ’n toet, stoordeurgerammel

voëlgeluide vreemd soos die geknip van skêre

en die klap van water, asof die see so heeldag haarself

in die stad bly skink

en êrens lag ’n dokwerker

in hierdie plek van koue, souterige eggo’s

in hierdie plek van droogdok-, sleephelling-, kielkurwe-

akoestieke

                        apart van die dag sit ’n vispakker en rook

(teen waterpatrone op ’n baksteenmuur

langs turquoise bondels net)

                        sy’s oud, sy’s moeg, sy rol nou ’n tweede

                        verbeel ek my: haar hande wat bewe?

                        sy rook asof sy bydra tot die dofheid van die dag

want mis is ’n hawe se éérste element

en vandag, lig-lig mistig          soos in ’n foto          overexposed

stelasies in ’n onduidelikheid

maar kyk, die dwarsstawe moerbeknop, en gevlek, geskraapmerk, geroes

roes

godweet oral is roesblasies, soos herpes, hier

op die privates van die kaap

                        en die silwer krake in die vuilste ruite

en ook daai droewige pienk van gebleikte verkeersteken-

rooi, en onkruid in die verlede se tremgroewe …

spandeer ’n dag tussen die besonderhede van verweer

dit sal jou mal maak, skryf dit op, skryf dit op

want jirre daar kan iets bestaan

soos ’n blomkunde van getorringde tou-ente!

daar is buitebande teen die kaai en in een van hulle

lê ’n rob

in die draai van sy kop

is amper                        vermaak?

vermaak deur die bohaai van ’n hawe

voor hy perfek weer terugglip soos iets

wat vergeet word

maar dit            word weer opgeneem in die ritme van ’n trein in die verte

’n reëlmaat van slytasie

nes voetval wat sloof

oor ’n betonvlak vol slik, en stukke draad

seemeeue, en ’n boei, oopgekraak

’n dokwerker loop huistoe … daarteenoor                

vérder, ’n verkrimping in die rigting van daai atlantiese blootheid

’n front              ’n horison verdik                         tot blouer blou lae

en ’n windjie en ’n rilling

deur die grander bote

se kleurvolle vlae

 

 

 

© Loftus Marais. Sept. 2010

 

 

 

Kloofstraat, perspektief

 

vir Kabous

 

kloofstraat eindig in ’n kerktoring geraam deur ’n flatblock

maar hoe om te begin? het ’n straat as ’n enkele ding

enige sin? bo die gelaste sypaadjies sit balkonne, houers

van ’n laaste bietjie intieme ruimte, rustig, tussen

straatligte en kragpale en diefwering en pilare:

’n stad, vertikaal in ’n soort barcode vertaal, alleen

op ’n hoek trap ’n man sy sigaret met ’n frons

asof hy álles bedink, die gegons van verkeer

en karre se metaal buig die son tot ’n flits,

’n straat wat ervaring kan fokus tot ’n punt

soos ’n kerktoring, kyk, hier word elke kleur

geadverteer, en ’n winkelpop bekyk niks

vanuit ’n boutique, klere-reklame wat sê

 “be unique”, en dan ’n kar se alarm:

’n stuk musiek op één aparte noot

en dis ook hoe dit hoort, want

vanmiddag is kloofstraat

’n teenargument

in teer en sement,

wat jy afstap

is ’n anti-

landskap

 

 

© Loftus Marais. Maart 2010

 

 

 

aan die fontein in ons flatblock se quad

Vir Inge en James

 

tussen geparkeerde karre en twee stelle trappe

ingedruk, koi-loos, jy

met geen klaarblyklike doel behalwe versiering

 

jy, ’n reus se bidet, jou sement gekraak

slik-verdik en gorrelend, drinkplek vir hawelose katte

met een vuil vlegsel lig wat val, jou rimpels

weerkaats almal bewend en grys: eternal youth, ha!

betesda sal haar vir jou skaam

 

jou geklots laat mens vroegoggend dink dit reën

jy het ’n geringe stem vir een van jou soort –

o, die refreine van pissende gerubyne

klein herrysende atlantisse sis kaskades

ganse operettes van borrels in parke!

maar jy, jy besig jou met murmelary

 

ek’s verbaas: ’n muntstuk op jou bodem

van een of ander dwaas, maar

ek moet ook seker dankbaar wees vir jou

in ’n tyd van beknopte bestaan:

tussen studente-flats:

ons muwwe afgodsbeeld van water

herskryf tog daagliks duidelik teen die mure

‘n vryhandgedig in die helderste lig

 

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

 

Bookmark and Share