louis esterhuizen

 

12009789_10153204968121376_3700321066911140516_n

Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen behaal ’n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Van 2002 tot einde 2016 was hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Sdert Januarie 2017 is hy voltyds ‘n vryskutwerker wat as teksredakteur alle vorme van taalversorging en manuskripontwikkeling hanteer.

Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg.

Sy agtste digbundel wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis en word bekroon met die Protea Poësieprys vir 2011.  Die bundel was ook genomineer vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie (2011).

Hierna volg Amper elders (2012) en Die afwesigheid van berge (Human & Rousseau).

Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ’n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ’n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen is die inisieerder van die jaarlikse poësiefees Versindaba.

Vertalings/translations:

Nederlandse vertalings van Afrikaanse gedigte

English translations of some Afrikaans poems

Fotobeeld

 

 

By die harteenheid

                (Vergelegen, 2 Julie 2010)

 

 

Meteens is daar dié duif pik-pik teen die ruit van die waaksaal.

Wat reiernek hy so, wonder jy, wat soek hy hier in die pandemonium

van gekneusdes, elkeen met ‘n eie, gelapte hart?

 

Vermoed dan: met die sagte haas van morfienpote trippel hy haar

na buite waar die duiwedanser op haar wag –

 

Jy sien hom met sy lang jas en arms na weerskante gestrek.

Jy sien hom met ’n enkele gewrigaksie die duiwe na hom toe roep –

Ja, vanuit omliggende dakke, uit alle bome, die gefladder

 

wat twee-twee om hom tros en dan: woerts. Weer weg.

Bleekgeskrik hou jy haar hand stywer vas –

 

Moenie gaan nie, Hartlief, fluister jy by haar droom. Die korrels

in die sak waarmee hy jou lok

is verbeelde saad en lánkal muf verby.

Bly nog by my.

© Louis Esterhuizen. Julie 2010

 

Tema met veertien variasies
 

 

1

 

Om die dag te aanvaar. Met alles wat op hande mag wees.

Om die water te verdeel en deurgang te vind.

Sonder dat daar genoeg grond is om dit in te neem.

 

2

 

Soveel strominge is daar tussen mens en mens.

Droombewegings van ’n akkedisrivier in eerste lig.

 

3

 

Om die deur agter jou op knip te trek, deur die verloop

te bloei na ’n verbeelde kant op ’n ander oewer.

Rondom jou word die landskap

onder sirene byeengebring en jy vind

waar jy eindig, is waar jy begin het. By ’n deur

wat toegetrek word.

 

4

 

Soms val ’n druppel op die grond tussen julle.

Asof dit ’n afskeid wou wees. Om die dag te aanvaar.

Sonder waarborg of die toegewyde ywer

van grond

onder jou voete.

 

5

 

Terwyl die dag jou maak en breek

bly jou gedagtes by haar. Jy vou haar toe, snags,

en soggens is dit koud wanneer jy gaan.

Altyd vra sy na waar jy was

en hoekom die paaie nie meer

huistoe kring nie.

 

6

 

Jy verklee asof sy reeds op jou wag om haar alles te vertel.

Tog bly stilte danig met jou lyf. 

Help haar dan eerder om jou dors te wees.

 

7

 

Vele nagte sal jy nog met hierdie dae verwyl.

Met geure wat sy tussen die lakens vir jou gelos het.

 

8

 

n Stad wat snags van die oorkant bekyk word, is sy.

Met asemhaling brug julle na mekaar toe. Julle weet van niks.

Daarom moet jy jou vreugde liewers nie

by die deur los nie, jou glimlag. Laat haar eerder

jou lelie van dale wees.

 

9

 

Dadels wat grond toe reën.

Die pit wat soet gerol word in die mond.

Onkunde is ’n blom in die woestyn.

En julle weet. Niks.

 

10

 

Op die strand skryf n seun met skulpe. Hy formuleer

maniere om die sand te ontsyfer. Alles rol weg van hom.

Dit is die see se aard.

 

11

 

En hy weet nie waar hy hawe gaan vind

tussen gister en

wat hy nog gaan wees nie.

 

12

 

Niks behoort aan jou nie.

Nie eens die woorde waarmee jy die water heg nie.

 

13

 

Miskien is die liefde dan net ’n verstelling

in frekwensie, om die naald ’n aks

na links te draai en meteens musiek te vind. Helder

te midde van distorsie. Want hier waar jy

ontbreek, word jy gerig

deur die wete

dat sý jou opvangs wil wees.

En jou verloop.

 

14

 

In weerwil van –

 

 

© Louis Esterhuizen. Oktober 2009

[Uit: Wat die water onthou, Protea Boekhuis, 2010]

Weerkaatsings

 

Stad van lig en water. Van ruimte, lig en water.

Stad – op pilare gebalanseer – wat kniediep

in eie refleksies bly staan. Stad van brûe en kanale.

Van fietse, brûe en kanale.

Stad met ’n linie van huise teenoor mekaar

opgestel: vensters wat noodberigte

na mekaar toe

kaats –

 

Stad van lig en water. Van bome, lig en fietse.

Stad met kerktorings sonder klokke, bome

sonder voëls. Waar is jou musiek? Die musikante

op die Leidseplein: wat het geword,

waar is hulle dan nou? Al wat hier te hore is,

saans, is fietse wat nooit ophou

klingel nie –

 

Stad van lig en water. Van stilte, lig en sirkels.

Stad – om kerke genetwerk – wat dromerig

in name bly naklink: Damrak, Spui en Amstelveen.

Nieuwmarkt en Oude Schans. Gelate,

soos die stem wat haltes

aankondig op ’n tram. Stad van

blomme, ruimte

en geur –

 

Soos ’n klip deur water sink jy

deur die geheue stadig

ondertoe, na dieptes wat jy helaas

selde indien ooit

reflekteer

 

in jou moeë spieël van mis

en verbeelde vloei.

 

 

© Louis Esterhuizen. April 2009.

 

 

 

Sirkelgang

 

Party sê dié stad is die duimafdruk van God

wat konsentries ingegroef lê teen die stinkende Ij.

Ander reken weer dis eerder Dante se simbool

 

vir die hel wat jou deur etlike dwaalstrate heen

lei na waar die hoop kniediep in flou water staan.

Party sê dié stad is die duimafdruk van God

 

met ’n ingedykte vervlegting van waterkanale

wat kapsie maak teen die tyd se ontydige verloop.

Ander reken weer dis eerder Dante se sirkels

 

wat jou verlei om dieper in te dwaal na waar

aanwysing en verbod iets is wat nouliks bestaan.

Party sê dié stad is die duimafdruk van God

 

wat deurstraal is met lig en die elegansie

van verdraagsaamheid te midde van oude gang.

Ander reken weer dis eerder Dante se tekens

 

waarmee die mot ingereken word by die vlam –

’n heuningpot van selftevredenheid en eigenwaan

wanneer daar gesê word

dié stad is die duimafdruk van God, rygdrade

 

waarmee jy rigting vind

en verloor

 

 

© Louis Esterhuizen. April 2009.

 

Repos Ailleurs

Skuins na drie is dit en jy staan

buite ’n opstal in die Wamakersvallei,

terwyl Wellington iewers

agter die horison in opgedamde lig

verwater. Duskant die hoogte na links

sukkel ’n motor douvoordag reeds

teen Bainskloof se stiltes in, en kyk:

die sterre is rosyne

wat tydsaam by die donker

ingevou word. Nietemin, skuins

na drie is dit, en jy

luister na die volgehoue gedruis

van stromende water

uit al die klowe om ’n afgeleefde huis,

die honde se onsekere geblaf

wanneer die rooi oog van ’n eerste vliegtuig

suidwaarts flikker. Maar jy, steeds droom

jy noord vanuit die wamaker se vallei.

Asof jy Piet Retief is, kompleet

met skaaf en tuig. En waens wat wag.

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

 

 

Bookmark and Share