Louis Jansen van Vuuren

 

Louis Jansen van Vuuren

Louis Jansen van Vuuren is twee-en-sestig jaar gelede in Middelburg, in die ou Transvaal gebore. Van vroeg reeds het hy sy belangstelling in skilderkuns laat geld en so skryf hy hom reeds in standerd sewe in by Hoërskool Middelburg se kunsklas. Na skool het hy hom as kunsstudent ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch. Na sy studies het Louis etlike omswerwinge na die buiteland onderneem en met sy terugkeer na Suid Afrika vir dertien jaar as kunsdosent aan die Universiteit Stellenbosch betrokke gewees alvorens hy ‘n pos as dosent in grafiese ontwerp by die Universiteit van Kaapstad se Michaelis Kunsskool in die Tuine aanvaar het.

Sy lewe neem hierna nuwe wendings en hy aanvaar in 1987 die geleentheid om by die Cité Internationale Des Arts in Parys te gaan werk en te studeer. Die liefdesverhouding met Parys en die Franse verdiep en word die grondslag om ‘n paar jaar later maklik deur immigrasie in ‘n nuwe Franse land te kan stap.

Sy betrokkenheid met die bevordering van die kunste word ‘n nuwe fokus in sy lewe en gedurende 1988 word Louis verkies tot die voorsitter van die Suid Afrikaanse Kunsverening in Kaapstad en ook tot die Raad van Trustees van die SA Nasionale Kunsmuseum. Sy eie kunsloopbaan word, om verskeie redes, effe agtertoe geskuif en gedurende hierdie tyd ontmoet hy Hardy Olivier, wat ‘n groot rol begin speel met die administrasie van Louis se persoonlike kunsloopbaan. Sedert 1999 lewe en werk Louis Jansen van Vuuren voltyds in Frankryk. 

Louis se debuutbundel Tempermes verskyn in 2010 by Queillerie uitgewers.

(Uittreksel verwerk uit Anet Pienaar-Vosloo se biografiese skets van Louis Jansen van Vuuren soos dit verskyn op die amptelike webblad. )

 

 

Agape

 

Die droom vou weids

uit die donker oop –

pinsbek dagbreekuur.

Die landskap sing van

blou bieseroeibosse.

In die koelgewaaide skadu

van die helder baldakyn

voer ek jou lippe

soet ronde korrels

barlienkadruif,

granaat en vy.

Beheks deur purper kruike

koue ambrosyn

sweer ons gierig trou.

 

Venus lag hierop

hardop,

laat haar aandster bibber.

Appelmotte vlieg benepe rond,

maraboe sluk die spikkelslang

en ons gaan lê belief

waar die bergpruim blom.

 

 

 Nikolaas

 

Ons klouter teen die modderdam se wal,

‘n honderd suignat kinderspore.

 

Twee mans wat op die stasie wag –

die trein na die noorde trek mos eerste

die trein na die suide net daarna.

 

Om jou weer te vind sou ek te ver moes reis –

diepste soutsee wat ons eilande maak.

Om jou weer te vind sou ek ‘n plan moes maak –

hiernatoe en daarnatoe, ek het besig gebly.

 

Bleekperd se ruiter het die boodskap gebring,

woorde wat seil soos ‘n slang.

Nou is jy grys gepoeierde as:

vaal vierkantjie-boks, net jou naam daarop.

 

In die breekblou van die winternag,

in die skitterskoon van ‘n lentedag

noem ek jou naam

 

 

 Elizabeth-serenade

 

Jou neurieliedjies van godsgenade

vou lawend om my oop:

ambergeel origami-rosies

kleurvolle botsels klank

kind vol vreesverlange –

skuiling soek tussen kussing en boek

 

Nou is jy weg en die lied het gaan staan

saam met die klok

teen die voorhuismuur.

Vir my laaste totsiens

was jy reeds in jou dood –

liedlose lippe, effens te rooi

 

Tyd wys my ‘n blaaikaart vol goed:

Hoefspykers en die doringkroon

‘n leërskare wat jubel en sing

ook hoe om my pad weer te vind

na jou liedjies se sus en die man vol droom

gefrommel tussen kussing en soek

 

 

Hangkas

 

op geskaafde en gedweilde

dennehoutplanke

langs ‘n hangkas

wat pleit om klere

staan twee pare skoene

met sole wat slyt

agtergeblewe

gespes

soos jou beloftes

gebreek

 

 

Donker oksel

 

Ek het jou uit die badkuip sien klim:

donker oksels, heuningdou,

swingel vlottend wakker,

die wieling van die water

wat jou lyf se sediment soos

stuifsand spoel.

 

Die eerste skimpskoot knoop die deken oop,

kapkatel en skommelklip.

Jou nat gestalte

bibber oor my honger lyf,

ek hoor ‘n duisend klaroene skel,

sien jou krom en stuip en kom.

 

Bokbaaivygie, disseldoring

hoor jy ook die roofmeeu roep?

 

 

Aandgogga

 

‘n Maanmot pulwer deur my venster,

tak-tak teen die lamp se linneskerm –

perlemoerpoeierprente

lê stil teen die skemerwit plafon.

Sy laat vir my ‘n boodskap

vol vreemde talkumwoorde

wat fluweelgloei in die nag.

 

Quod scripsi, scripsi

 

 

Winterballade

‘n hooglied

 

Ek soek na jou tussen winterboomskelette daar waar kuifreiers roep

Waar het my alombeminde heengegaan die hoeksteen van my hart?

 

Ek sien jou skim in koue kuile water wat glas maak in die wintermaan

Ek sing vir jou ‘n roeplied uit ‘n boek met asbloublaaie

 

My sielsbeminde het by my poort verbygeloop na ‘n koue wintertuin

op soek na die eerste bloedpruimbotsels, verslete maankalfjas oor sy skouers

 

Om die helder hoof hang ‘n mirtekrans, bekroon met balroosblomme

wat jubel in die westewind

Daar sing ‘n koor van mossie, vink en tortel

 

Jy is my spuwende fontein vol sagte wateranemone, ‘n grag van

lewende water wat uit ‘n doopvont vloei

Jou lippe is die lotusblom wat oopskulp in gesang

 

In my gekweste hande roer my bidsnoer stil wyl ek bedelsmeek om

 groot genade,

dat jy terugkom uit die donker wintertuin

 

Draai terug o beminde, dan berei ek vir jou festyn van liefdesvreugde

‘n Tafel vol silwer skottels sedersade, viskuite uit die weskusdieptes

en ‘n raapkoek uit die toringstad

 

As jy my hart teen sterlig hou sal jy die watermerke sien,

jou naam staan daar duidelik in nege goudbladletters opgeskryf

 

My geliefde is ‘n ysterhek wat deur ‘n duisend hamerhale op die aambeeld

uitgetemper is

Die kuras wat die hart behoed is in patrone ryk versilwer en met ‘n

toorwoord uitgraveer

 

In jou hande word ek ‘n trompie wat vir jou vingers ghommaliedjies speel

Jou voete wil ek lawe met koel kalbasmelk en die gegeurde olie van ‘n

bokbaaivygie

 

Jou oë is topaas salmanders wat kamma koggel in die skemer,

jou mond is ‘n purper gulpvy wat oopbars net vir my

 

(Gedigte uit: Tempermes, Louis Jansen van Vuuren,  Queillerie Uitgewers, 2011)

 

 

Selim die Voortreflike

 

Hy kom rokend uit die badkuip op:

gesalfde Kalief van Bagdadstad,

arms, bors en lende

glim met olie van die muskushert.

In sy donker omphalos ster ‘n goue druppel

amber, bergamot en wit jasmyn.

 

Van Kreta het sy gekom

met ‘n helse see-eskader:

maste van goud en seder,

bleek prinses in kurkuma-geel gewade.

Sy vou haar wimpers smagtend toe,

lig die stene-sluier van haar gesig af weg.

 

              ***

 

Met opgehewe letselhande

hou ek na jou toe uit

‘n oopgevoude muskusroos-

my doepa teen die breek van val.

 

© Louis Jansen van Vuuren (Uit: Tempermes, Queillerie Uitgewers, 2010)

 

 

 

Bookmark and Share