lucie möller

Lucie Möller

Lucie Möller

Lucie Möller promoveer in 1987 aan die Universiteit van Natal met ’n proefskrif oor die inheemse tale se invloed op die naamgewing in Namibië. Vir die afgelope dertig jaar publiseer sy plaaslik en internasionaal boeke, artikels en referate oor naamgewing. Enkele titels is byvoorbeeld  A World of Names, Changing Place Names in Southern Africa, en Plekname in die verhale van Herman Charles Bosman.

Vanaf 1999 tot 2007 verskyn van haar gedigte op LitNet se PoësieNet en die Engelse PoetryNet. Van haar gedigte verskyn in versamelbundels en op die CD Klikspringer, saamgestel deur Ian Raper (2005).

Haar debuutbundel, Watermerke, verskyn in 2009 by Protea Boekhuis. ’n Groot deel van die gedigte het haar Bosveldplaas in die Waterberge as agtergrond, alhoewel die studies wat sy oor plekname in Suid-Afrika en Namibië onderneem het, die inspirasie tot ’n aantal ander verse was.

Naaldekoker

              Vir Johan, die fotograaf

 

 

Daar sit jou naaldekoker pas geland

tussen geel blare op ’n klip

in ‘n kloof met rotspoele

ingeprent op die voorblad,

 

sy siddervlug oor die kuile

net ‘n nabeeld op jou lens.

 

Sy blou lyf en deurskynvlerke

gigabyte nou op elke skerm:

aanhoudend, diafaan

die kuberruimte in. 

 

© Lucie Möller. Nov. 2009

 

 

 

Herfs en winter was af

 

en die stof van ‘n vroeë lentedraf

vloei in afvoerpype en geute weg

oor die plaveisel tot in die pad,

en my stoepie: dié versamelplek

van ewig laat verwaaide herfsblare

wat te lank nog wou klou

soos die gesponne goed in die hoek:

die kortkatrol van ‘n rooiviool                          

‘n hotnotsgod se goue kokonne.

 

En nóg het Augustuswinde skaars begin,

maar stilweg is ek tog bly

oor die effense son

wat my huis se suiderhoek

begin kruis, en die eerste tekens

aan die prieel:

lootstotende knoppe.

 

 

Kango

 

waar die waterige oog

terug eb deur die fyn vag

van varings en fynbos

in spelonke van die harsings in

 

is die kalkwond deursypel

tot poele op ‘n grotvloer

waarin druppels lig en silwerig

soos vislywe roer

met oë rond gebult

en blink teen die ragwerk

van ‘n druppende berg van bo.  

 

 

 

© Lucie Möller.  November 2009

 

 

Groentesop-legendes

 

Binne die wit porselein kom

skommel pak-choi

groentesop:

 

groen, geel en rooi peper-repe,

rissiepit en ryswyn

druis uit die wit kom.

 

Buite die blou wilgerblaar-patrone

vlug ‘n duiwepaar benoud

uit onder die brug.

 

 

© Lucie Möller

 

 

Rigtingwysers

 

waar die Suiderkruis kruis

is daar geen lig nie

net ’n duisternis tussen sterre

waarvan ligjare kruis

 

en vir ons die roete wys

na die verste punt van ‘n vasteland

waar ons ankers in seeslik sink

 

met dié rigsterre mik ons

na die diepste pool

van ’n donker hemel

se donker nis

 

die Suiderkruis hang

tussen twee pare sterre

waarvan ligjare kruis

 

 

© Lucie Möller

 

 

 

Salah al din                   

 

 

Op die Saraseen se stadsmuur

staan Salah al din

met sy hande gekruis

oor die simitaar.

 

Hy kyk met  skrefiesoë

en gesig skerp soos ’n meerkat

stip na die Weste.

 

Stof slaan op met die oostewind,

en perdespore van ongelowiges

en kruisvaders verwaai

van die laaste oase en duin.

 

In die tempeldeur tel hy 

’n staankruis van die vloer af

op en plaas dit terug

by die ark en altaar

 

van waar elke siel               

veilig gaan vertrek

na sy eie hawe.

 

 

 

© Lucie Möller

 

 

 

Sending van die Enola Gay

                 

’n Silwer

en skoon hemelruim

skyn deur newels en wolkevlies.

Aluminiumvlerke en verkennende staal

met letters en syfers: versluierde sendingmerk

stel tot presies heilige roeping die vlugvisier

vir die blitsige uitwissingswerk.

Pilare van wysheid en denke

swig in versmorende puin

gebolwerpte wolke stol

as die gewraakte

droom spat

tot rook

stof

en

as.

 

 

 

Inkkol              

 

aan die pen

bo die inkpot hang   

 

vol donker, blink verwagting

’n druppel swart  ink:

 

Sal hy vloei 

in fyn sillabiese lyne,

 

of  kom lê

in brëer kalligrafie

 

verdroog en stol

op ’n wit kimono in Kyoto

 

of hurk met die inkswart rawe

in ’n herfsgeel tuin

 

en versmelt met die teerpad

in ’n nagswart Nagasaki.

 

 

 

Kaartkamer

 

Ek volg jou met die trap af kelder toe.

Terwyl ek huiwer in die deur, sluit jy slotte oop,

lig die deksel van die kaartkabinet.

 

Ons soek ou name op verslete kaarte,

blaai deur voorlopige verkenningstogte

van ’n voorlaaste bewind, in die kantlyn

gemerk met rooi ink: “Restricted/Beperk”.

 

Op dié geklassifiseerde weergawes,

voor die afknak van verpulwerde hoeke,

en al die versluierde grensoorgange, toegange,

tussen brokkies inligting, kry ons uiteindelik

’n sleutel, ’n spoor vernuftig gekamoefleer.

 

Waar jy oor die staallaaie van kabinette buk,

sien ek hoe span jou rugspiere stram;

snak iets in my keel.

 

Jy kom weer regop, sprei die landsplooie

op kaarte oop, vee dit plat met jou kalm hande:

oorlogstuig oor bruin duine.

Jy wys my hoe bereken mens plasing in vierkante:

grade, minute, sekondes;

afstand en rigting, belyning van hoogtes, isobare:

peiling van ’n entiteit.

 

Ek begin spoorsny met jou vinger

oor die vergeelde kaarte van ons land;

voel hoe die blouaarriviere in jou hande opvloei

oor jou gebrande voorarms tot in jou nek,

en die rooi en blou strepe van jou das, skuins

soos ’n vlag, in my oë weerkaats

en wapper in die storms.

 

Ons beplan reise en bepaal roetes

oor bergreekse en passe, toegerus

verken ons terreine. Jy maak my wys

dat ’n plek sonder naam geen betekenis dra nie;

sy plasing sonder kalibrering of aanwysers,

nie eers op Google.earth gevind kan word nie,

hoe mens sélf soek kan raak sonder naam.

 

Dis in dié kaartkamer dat ek sien

hoeveel reise, roetes en riviere vloei nie

noodwendig na bestemmings, of mond uit in die see nie,

maar verwaad in panne en vleie en leegtes in,

gegordel en omsoom deur lyfbande

riete, pluimsade en verboste ruigtes,

bandeliere vol plofbare begin- en eindpunte

waardeur soveel bloed nog sou vloei.

 

Alle bekende en opgetekende legendes sou ons faal,

en die ken van ons plekke en hulle name

sou nooit weer vir ons helder word hierna nie,

asof alles net afgelees is in vlugtige verkenning,

vervloeibare en verbleekte ink

op ’n kaart in ’n kaartkamer.

 

 

 

© Lucie Möller

 

 

 

Dermsnaardans

 

Hy het naglug in sy longe,

sterre hou op flonker

as hy sy oë lig vir die dans

teen die honger

wat hom por en dryf:

 

            bring die lewer, bring die hart,

            bring die hele bok saam,

            ek hou vir jou die soet makataan.

 

Sy voete stamp sand tot as en stof;

trap lig oor die blomgeel maranka

op soek na die tsamma en soet karkoer

wat sy ranke rag

oor die hele woestyn.

 

Hy dans vanaand sy velskoene voos

in die dans van die dermsnaardans

bo teen die hoogste duin.

 

            Hy het rook in sy longe,

            sy oë traan:

            sy oë sap uit soos ryp makataan.

 

Hy skuifelpas oor die laaste kruin,

sy spiere en senings boog oop,

sy snare span

tot sy skouers ruk en sak

met die swaar makataan.

 

Met die dermsnaardans

sweet sy lyf nie meer

dit syg in die sand

 

            want daar is ryp in sy longe,

            sy oë ys wit,

            sy hart bars oop

            soos die ryp makataan.

 

 

 

© Lucie Möller

Bookmark and Share