m m walters
|
M.M. Walters is in 1930 op Moorreesburg gebore en matrikuleer aan die Hoër Jongenskool Wellington. Hy studeer aan die Universiteite van Kaapstad en Suid-Afrika en doseer Afrikaans en Nederlands aan die Graaff-Reinetse en Paarlse Onderwyskolleges en die Universiteit van Kaapstad. Walters woon in Simonstad. Sy eerste gedigte is in Standpunte gepubliseer en later saamgevat in die bundel Cabala, waarvoor hy die Eugène Marais-, Ingrid Jonker- en W.A. Hofmeyr-prys ontvang. Daarna volg nog vyf digbundels waarvan die laaste een Satan ter Sprake is. Walters publiseer verskeie dramas, waaronder Die vroue van Kores en Die wingerdstok sal rank en die bundel satiriese essays, Saturae. Benewens vertalings uit Vergilius, publiseer Walters ook Shi-ching: Liedereboek (2003), ‘n keur uit die Chinese poësieskat, en Aki no kure: Herfsskemering (2006) uit die Japannese digkuns. Walters publiseer ook drie koffietafelboeke met gedigte en foto’s uit die streke van die Swartland en Weskus. Die jongste bundel Braille-briewe, verskyn by Protea Boekhuis in 2011.
|
die planete soekend in hul baan:
Iewers moet ‘n sterreweg loop
waarlangs die mens kan huis toe gaan.
Maar tevergeefs: Die pad bly toe,
al word hy eeue lank al stof gebid
deur wiggelaars wat “sterrekundig”
toe-oog in hul torings sit.
Bínnetoe, mense, jul moet bínnetoe,
jul kyk in leë beloftes vas.
Die padkaart-praatjies wat jul volg,
kan net maar in die verbeelding pas.
Soek bínnetoe, diep in die éie oog
se donker onbekende agterin:
dis waar die mens se heimwee
en sy sterredroom begin.
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007
(Verse van MM Walters is deur die woordekunstenaar, Johann Nel, tydens Versindabas voorgelees.)





