mari grobler
|
Mari Grobler is op Uitenhage gebore waar sy steeds woon. Sy het een dogter, Cecily, ’n musiekonderwyseres.
Mari het Grafiese Kuns studeer. Sy het reeds twaalf boeke, waaronder jeugwerke, kinderboeke, romans en digbundels by verskillende uitgewers gepubliseer. Heelwat van haar werk het ook in versamelbundels verskyn. Drie van haar boeke word in skole gebruik. Sy het onder meer twee ATKV-toekennings vir haar kinderboeke ontvang. Haar digbundel, Eggo’s in bewolkte water, het in 2004 by Protea Boekhuis verskyn |
Koningin Hatshepsut se inkopielys (1500 v.C.)
Amon-Ra se tempelruïnes
staan nog steeds by al-Bahri
met die swerftog na Punt op die mure gekerf:
Vyf groot skepe vertrek uit Coptor
gelei deur die edelman, Nehsi.
Die ekspedisie se terugkeer
bring pypkaneel, mirre, ivoor, ebbehout;
wierook, ooggrimering, luiperdvelle;
ape, honde, inboorlinge;
kinders en Emu se goud –
om die Egiptiese koningin
wat nié met min tevrede is nie,
tot minsaamheid te amuseer.
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006




