marius crous

Marius Crous

Marius Crous

Marius Crous is in 1965 gebore. Hy debuteer met die bundel Brief uit die kolonies (2003), waarvoor hy die Universiteit van Johannesburg se debuutprys ontvang. In 2006 verskyn sy tweede digbundel Aan ’n beentjie sit en kluif. Benewens ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf hy ook MA-grade in Afrikaans-Nederlands en Engels. Hy het die Kreatiewe Skryfkundekursus onder leiding van prof. Marlene van Niekerk voltooi.

Sy derde digbundel, Vol draadwerk, verskyn in 2012 by Protea Boekhuis. Hy is dosent in Afrikaans aan die Nelson Mandela Metropolitan.

 

PINK PISTOLS

 

Pick on someone your own caliber

 

die Pink Pistols word nie geslaan met baseball bats nie

word nie aangehou met afgesaagde haelgewere nie

die Pink Pistols is soos meisies met bra-pistole

hulle ken hul kalibers en ken hul koeëls

moffies met Armed gays don’t get bashed op hul t-hemde

word nie gekoggel of hul oë persblou geslaan nie

word nie in donker stegies keelaf gesny nie

word nie soos sissies vasgeketting aan wit heinings nie

dykes van hul bikes af

word nie met duck tape vasgedraai aan hul katels nie

vat aan `n Pink Pistol  en jy word deur die slape genaai met `n 9mm

die Pink Pistols leef die groot amerikaanse droom

van skiet eerste of jy word geskiet

hulle ken remington en magnum en winchester

chey tac en linebaugh en ruger

van brûe bou tussen die pistoolklubs en die stoombaddens

die Pink Pistols sit die skoot terug in die doodskoot

 

© Marius Crous. Jan. 2011

 

 

 

 

BLIND DATE

 

`n aand saam met jou

is soos ping pong

met klein balletjies

klein gaatjies

 

`n vinnige heen-en-weergesprek

so hol soos die plastiekklank

van die balletjie wat wip oor die net

 

dit word dwergtennis vir volwassenes

liliputerwimbledon met te veel sweet

 

wat my laat smag

na die rolspeletjies

van die rofstoeiers

met hulle tights en flat front speedos

wat mekaar vaspen

op `n harde vloer

op www raw

 

 

OBJEK (1990/2010)

 

selfs

twintig jaar later

raak ek nie moeg

om jou naam te noem of jou te sien nie

selfs

al klink dit vir my vriende

soos al 550 sonatas van scarlatti

op repeat

 

kluisenaar van die halfgesteentes

in `n dorp met `n straat

`n steengroef

`n straathoekkafee

 

na twintig jaar

se wigspel met die sterre

in die woestynlig

dobbel met die kabbala

of die streel van die vrouespleet

die lutherse duiwel by die agterdeur

van jou huis

stiller as die woestyn

is jy vrouloos

pa van twee

steeds

die seun met die esauslyf

 

© Marius Crous. Desember 2010

 

 

FOTO

Vir Tadzio

‘n foto van jou val uit everything about me is fake

die wange ingesuig deur die skedel

die oë reeds ter ruste gelê in die agterkop

my klein dorian

weg in die waai van `n vampier

se arm teen die sitplek van `n taxi

jaag jy soos die dampe uit jou sigarette

wat nog draal bo die as- en plantbakke

deur die stad van bloed aan die buffer

weet jy gaan nooit weer

met jou sak vol bottels vodka

my in die nag wakker maak

met die deuntjie wat jy op die buzzer speel

tog ek sal die profesie vervul

my mes steek

in die hart onder jou zoo york-hemp

op die foto met sy gesmeerde kleure

© Marius Crous. September 2010

 

 

 

NA ANGELA CARTER

daar was laasnag `n muis in die pophuis

haarskeerder gespeel met die barbiepop

`n plas pis en kuttels gelos

op die tapyt van oorskietlap

teen die kante van die spiraaltrap

sy stekelhare

tandmerke aan die teeservies

`n pop oopgebyt tussen die bene

hy’t sy vlooie agtergelaat in die dubbelbed

die matras uitgepluis en weggedra na sy nes

met sy snorbaarde oor alles getas

die tafeltjies en stoeltjies het hy omgetuimel

en met sy naels gekrap aan die gekantelde klerekas

alles terwyl die kind gedroom het van rooikappie

wat haar mantel laat lossny deur die jagter

en hom dit in die vuur laat gooi

van die ouma wat by die ooppenswolf uitklouter

in haar voorvingers vasgeknyp ‘n dooie muis se stert

 

 

© Marius Crous. September 2010

 

 

AVALON

 

Op die kop die klok van Glastonbury

Wat probeer om die mis te verdryf

Met sy stroewe stem

Net sy die gemantelde

Kan met die oopwaaier van haar hande

Die skippie soos `n skeur in grys lap

Die mis laat oopvou

Voor avalon

 

© Marius Crous. September 2010

 

 

Soms


soms gaan loop ek weer in die ou straat
jou straat ons straat
wag ek vir hek om oop te skuif
of kyk op na die kantgordyne

vuil siwwe wat bose drome vang

dalk hoor ek die klap van die balkondeur

dieselfde brak hardloop nog van voorhek

na syhek na voorhek oorkant die pad

uit die kombuise kom klokslag

die reuk van vleis

aangebrand

die twee uitlanders steeds by hul ontwerpersblombak

wydsbeen hurk oor jou tjor se olievlekke

`n vetgesmeerde swart model

partykeer laat ek die sleutels val

aspris sukkel ek met die slot

wens jy wou eenmaal kom om die draai

met ink aan jou vingers vir my waai

en alles sal weer wees soos dit moes

Van Stadensrivier

snags styg uit die oop keel

skor die stemme

van hulle wat kolk

in die suur van sy maag

vir altyd onverteerbare brokke

wat nooit tot uitspoel gaan kom

in die rivier se uitskotsloot

Callas Forever

                        Adoring Callas, I am admiring breakdown,

                        resistance, walkout, flight, feud.

                                                       – Wayne Koestenbaum

sy sien neer op parys uit haar hoë venster

word nie toegewuif gee geen encore

haar stem vasgekeer in die grammofoonplate

wat sy snags speel as deel van die ritueel

van rou oor haar stem en oor hom

vanaand is sy mimi die tering eis sy tol

medea wat haar kinders byeenraap

voor sy hulle soos vullis gooi oor die muur

tosca en die prinses wat nie wil rus nie

het sy maar gebly die vet griekse godin

sou haar stem nie soms klink

asof sy aan `n lekker suig in die kies

`n diva moet immer resoneer

`n honger vrou kan nie by wagner byhou nie

die japanese ewige bewakers van die etiket

sou nie soos tebaldi en haar vriende sis

toe sy met krakerige stem vir oulaas

`n lewe gely onder die kuns besing

© Marius Crous. April 2010

dharma

in die voue van die slaap was jy

‘n saffraansliert teen die wit

jy was ‘n monnik in ‘n grot

wat met jou lyf kon vuurmaak

kon vergeet ‘n honger na kos

laat jou ineenkramp soos die nag by tjoenda

jy kon met `n gebedewimpel

die aasvoëls nader lok

om jou lyf te skeur en vreet

voor jy verder draf as `n sneeutier

bodhisattva

in die kamer net die katel en die kadawer

want ek dwaal klaar op hierdie kaal vlak

tussen die laaste asem en die samekoek van vlieë

my lyf reeds ‘n vleismeul

wat sy opgemaalde oorskot opbring

lei my nie nou na die land met die kleur van rys

met lotussweet en koeie nie

want voor die laaste moderator nie sy asem insluk

soos ‘n boeddha nie

kan ek nie my sandale uitskop

onder die wildevye van nirvana nie

© Marius Crous. September 2009

UM SCHLIMME KINDER ARTIG ZU MACHEN

Na twee skilderye van Marlene Dumas

 

1.

ek onthou die nat van die blou en die rooi verf

aan my hande en oor my maag

onthou die kinderbybelblik van my moeder

sy oë wat kyk na die blou see op my maag

my hand die rooi boot wat vaar na die hawe

en ek onthou sy hande te onstuimig vir my see

sy boot te groot vir my hawe

sy mond wat kon vloek soos `n matroos

onthou hoe ek my lyf gesmeeer het met die verf

tussen my bene gaan grou het om sy boot daar uit te haal

gerol het oor my ma se bed die lakens gesmeer met verf

nou nog kwas ek as skilder met my vingers

oor die snymerke aan my maag en bene

steeds net toesmeer en toeverf

soos moeder my leer

2.

in sy nek voel hy

haar binneboudjies sag  haar broekie

pienk soos die melkskommel op die tafel

in pak en das is hy handeviervoet op sy sokkies

sy kap kaalvoet in sy sye

knyp haar bene oop en toe

om hom aan te hits

sy kla uitgelate

perdjie die hare in jou nek krap my

perdjie dit kielie teen my snuifie

 ©  Marius Crous. Augustus 2009

FETISJ

na `n mms van a

aan boord is sy onderbroek

gegaps uit die wasgoedmandjie

vir jou `n suurstofmasker

tuis sal jy die kleinnood

delikate papirus met fyn inskripsies

oopvou en betas met jou vingers

dalk sjirurgiese handskoene koop

vir die hantering van die artefak

argeoloog van die liefde

jy sal die naat neus

wat tussen sy twee boude

was probeer sin maak

uit die tekens

nagelaat aan die voorpant

dié skat gaan jy bewaar

toegeseël in plastiek

vir die behoud van sy aroma

tussen jou sertifikate en horlosies

©  Marius Crous. Julie 2009

VYF JAAR

ons sal seker ook oor vyf jaar

vergaar om die tafel en probeer onthou

van watter poeding

watter koeldrank

watter flieks

en watter musiek

jy hou

gaan ons nog onthou

hoe jou stem klink

toe jy nog vuig praat

laat staan nog hoe jy kon soen

kan `n mens die lyf en die brein

so maklik fnuik

herprogrammeer

om die patrone van ‘n samesyn

lyn vir lyn uit te kan vee

die sintuie ewe flus vergeet

hoe jou tong smaak jou heupe

hoe jou oë was

jou oorlobbe ruik

vyf jaar terug

©  Marius Crous. Julie 2009       

BREIN

waar in die brein

daardie okkerneut of oopgesnyde sampioen

sit die setel van die snuf  aan leerstewels

die oproep van `n moeder se waan

om soos `n rukkerige ou rolprent

oor en weer te kyk

waar slaap die onderbewussyn soos `n skone

lyf met `n six pack in `n rooi speedo

waar die fyn lyntjie in die harsings

tussen kak-op-straat en mond-afvee

ek soek die karnavaleske krioel van serotonien

in die spysverteringskanaal

wil hul conga line volg tot by die neurone

op die rubberige brein soek

na die knop vir die rededele

waar sou die groefies en gleufies

saamplooi vir die maak van rympies

die brein bloei by die aanhoor van musiek

hoe sal hy gloei en glim

ooppof en afblaas by die eerste liefdesblik

wil graag die skedelpan oopsaag

sien hoe die brein oplos en vergeet

hoe om sy mens se naam te skryf

wanneer die skemergebiede die brein oorvat

om te lewe `n spel met skadu’s word

©  Marius Crous. Julie 2009

OUTOPSIE

I

met die valslag moes die subjek

ten gronde gaan teen 120 m.p.h.

met impakslag moes die aorta losskeur

moes die ribbe die hart en longe aan flarde sny

II

jy lê op die tafel van vlekvrye staal

onder die skerp lig soos ‘n dooie kuiken

afvlerk en met vliese oor jou oë

III

hoe kry ek afstand om jou lyf te kan dissekteer

IV

die splinterbeen het die aorta afgesny

in die linkerhand ineengekramp

‘n spesimen vir jou sketsversameling

‘n brok van dassie

V

op die kombuistafel wil ek jou vanaand dissekteer

wil soek na tekens in en aan jou lyf

van god se vraatsug

hy het jou weggevat

hy het jou vermoor die skerpbekaasvoël

VI

sny my potlood nie so in die murg in

soos sy skalpel nie

VII

ek kan nie jou kadawer oopsny nie

wil nie jou lyf volmaak soos ‘n vintage model

met ystersaag en koevoet skend

kan ‘n mens jou beminde se gesig

middeldeur saag

soos ‘n sjef jou messe slyp

die hart teen ‘n 45 grade-hoek reep

vir carpaccio?

hoe in godsnaam kan ek jou borskas

waarop ek kon kom en lê en slaap

oopkraak soos ‘n slaaikop?

is dit lykskending om te ruik

aan jou niere en milt soos rubber?

VIII

jy word ingestoot op ‘n waentjie

in ‘n lokaal koud en wit en klinies soos ‘n ontwerperswoonstel

jou gesig en lyf bedek onder ‘n laken

‘n objek om te bewonder met die oog van ‘n kunskoper

ek tree nader uit die donker hoek waar ek skuil

langs die metaalkas met sy vele deure en knippe

altyd toe-oog aan die slaap

soos ‘n barbier gryp die lykskouer die laken

aan twee punte vas en lig hom

langs hom op die waentjie lê sy lemme uitgepak

dis nie jou lyf en jou gesig wat daar lê so sonder bloed

dis nie jou oë daardie wat eens langs my was op die kussing

sulke lippe opgepof en rooi met rowe het ek nooit gesoen

oor daardie bleek en blou borskas nooit gestreel

ek wil bystaan en die lem se snit volg deur die vel

hoor hoe die saag die borsbeen oopkraak

ek wil inkyk by die lyf

as die klampe hom oopbuig

ek wil die soet stank van jou binnegoed ruik

of my vingers druk in jou sponsagtige organe

wat vrot word in die holtes van jou lyf

opgefrommel lê jou geslag op jou bobeen

aan hom gaan ek nie nou lek of suig

aan hom raak nie

ek sien daar groei nog haarstoppels op jou tone

om jou enkels raak die hare al hoe yler

in die grond sal jou hare seker welig uitloop

soos dit was die eerste keer toe ek jou ontmoet

ek gryp die hand van die lykopenaar vas

ek beur saam met die lem deur die lae van jou vel

die outopsis loer oor sy bril

hy lei my na die anagram

wat jy gebêre het in jou lewer hart en milt

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

Bookmark and Share